KOLOSSENSE 1:19-29
KOLOSSENSE 1:19-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde dade het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is. Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos. Maar dan moet julle aanhou glo. Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. Hierdie Goeie Nuus is aan almal onder die son verkondig. En ek, Paulus, het hiervan ’n dienaar geword. Ek is nou bly dat ek tot julle voordeel kan swaarkry. Ek is bly dat ek die deel van Christus se vervolging wat nog oorbly, kan help dra. Ek verduur dit in mý liggaam tot voordeel van sý liggaam, die kerk. Ek is ’n dienskneg van dié kerk. God het my die verantwoordelikheid gegee om aan julle sy volle boodskap bekend te maak. Hierdie boodskap was vir eeue en geslagte lank ’n geheim, maar nou het God dit aan sy eie mense bekendgemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe wonderlik die heerlikheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die geheim is: Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel. Juis Hom verkondig ons! Ons doen dit deur elke mens te waarsku en met alle moontlike wysheid te onderrig. So wil ons graag elke mens in ’n volmaakte verhouding met Christus voor God laat staan. Hiervoor werk en stry ek met Christus se krag wat magtig in my aan die werk is.
KOLOSSENSE 1:19-29 Bybel vir almal (ABA)
Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle. Voorheen was julle ver van God, julle was God se vyande en julle het slegte dinge gedink en gedoen. Maar nou het God julle verander. Die Seun het 'n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel. Maar dan moet julle aanhou glo, julle geloof moet baie sterk wees. Toe julle die goeie boodskap gehoor het, het God vir julle gehelp om seker te wees van die dinge wat julle glo, en nou moet julle aanhou om seker te wees. Al die mense in die wêreld het die goeie boodskap gehoor, die goeie boodskap wat ek moet bring. Ek is bly dat ek nou swaarkry, want dit is vir júlle dat ek swaarkry. Christus het swaargekry, en nou kry ek swaar. Ek maak Christus se swaarkry klaar. Ek kry swaar vir die kerk, die kerk wat Christus se liggaam is. Dit was God se plan dat ek vir die kerk moet werk. Hy het vir my die werk gegee om vir julle alles te sê wat Hy vir julle wil sê. Mense het voorheen nooit geweet van die boodskap oor Christus nie. Maar nou het God dit vertel vir almal wat aan Hom behoort. God wou hê almal wat aan Hom behoort, moet sy boodskap ken. God wou hê hulle moet weet van die groot wonderwerk dat die boodskap oor Christus by die heidene moes kom, 'n boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Julle wat heidene is, moet nou weet dat Christus ook in julle is, en daarom kan julle seker wees dat julle ook by God, die Koning, sal wees. Ons preek oor Christus en ons gebruik al ons wysheid om al die mense te waarsku en vir hulle te leer. Ons wil hê hulle moet almal aan Christus behoort en hulle moet alles doen wat God wil hê. Daarvoor werk ek baie hard, want God gee vir my die krag om dit te doen.
KOLOSSENSE 1:19-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; waarvan ek 'n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.
KOLOSSENSE 1:19-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak. Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.
KOLOSSENSE 1:19-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van •Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die •kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy •heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.
KOLOSSENSE 1:19-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want dit het die Vader behaag dat die hele volheid in Hom sou woon; En nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis, deur Hom alles met Homself te versoen; deur Hom, sê ek, of dit dinge op die aarde of dinge in die hemel is. En julle, wat eens vervreemd en vyande in julle gemoed was deur bose werke, maar nou het Hy versoen; In die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en onberispelik en onberispelik voor sy oë te stel; As julle in die geloof gegrond en vas bly, en julle nie laat afwyk van die hoop van die evangelie wat julle gehoor het en wat verkondig is aan elke skepsel wat onder die hemel is nie; waarvan ek Paulus 'n bedienaar gemaak is; wat nou vir julle bly is in my lyding en wat agter die verdrukkinge van Christus is, in my vlees vervul ter wille van sy liggaam, dit is die gemeente. Waarvan ek 'n dienaar gemaak is, volgens die bedeling van God wat aan my gegee is vir julle, om die woord van God te vervul; Selfs die verborgenheid wat van eeue en geslagte verborge was, maar nou aan sy heiliges openbaar gemaak is. Aan wie God sou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is; wat Christus in julle is, die hoop van die heerlikheid: Hom verkondig ons deur elke mens te waarsku en elke mens in alle wysheid te leer; sodat ons elke mens volmaak kan stel in Christus Jesus: Waartoe ek ook arbei en stry volgens sy werking, wat kragtig in my werk.
KOLOSSENSE 1:19-29 Die Boodskap (DB)
God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie. Ek loop nie met ’n lang gesig rond oor al die swaarkry en lyding wat my oorgekom het nie. Inteendeel, ek is bly daaroor, want julle vind ook baat daarby. Julle weet hoe Christus vervolg is. Wel, hierdie vervolging teen Hom het nog glad nie opgehou nie. Ek self loop nog net so onder fisieke vervolging deur. Vir die kerk, die liggaam van Christus, doen ek dit. Met alles wat ek het, werk ek vir die evangelie. God self het my daarvoor aangestel. Op my skouers rus die verantwoordelikheid om die boodskap van God van begin tot end aan julle te verduidelik. God het ’n geheim gehad. Baie eeue en geslagte lank het niemand geweet wat dit is nie. Maar die geheim is nou bekend. God het besluit om aan sy eie mense die geheim te vertel. Hulle weet nou hoe ongelooflik wonderlik hierdie geheim is, veral vir nie-Jode. Die geheim is dit: Christus is vir almal, ook vir julle. Op Hom kan julle met vertroue staatmaak. Hy sal vir julle die wonderlike dinge gee wat ’n mens net by God kan kry. Die inhoud van ons verkondiging gaan juis oor Christus. Ons praat reguit met almal oor Hom en leer hulle alles wat hulle van God en hulleself af moet weet. Ek wil hê dat elke mens die goddelike doel in sy lewe moet bereik. Dit is alleen moontlik deur ’n intieme verhouding met Christus. Daarvoor gee ek alles. Ek werk hard en doelgerig daarvoor soos iemand wat in ’n resies alles uithaal. Die krag om dit te doen kom van Jesus af.