Handelinge 9:20-31

Handelinge 9:20-31 AFR20

en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die •Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verstom en het gevra: “Is hy nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, probeer uitroei het, en hierheen gekom het om hulle geboeid na die leierpriesters te neem nie?” Saulus het egter al hoe meer krag ontvang, en die Jode wat in Damaskus woon, verwar deur te bewys dat Jesus die Christus is. Maar nadat 'n hele paar dae verloop het, het die Jode saamgespan om hom dood te maak. Saulus het egter van hulle komplot te hore gekom. Hulle het die stadspoorte dag en nag dopgehou, sodat hulle hom kon doodmaak, maar sy dissipels het hom in die nag gaan haal en hom deur 'n opening in die muur in 'n mandjie laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel is nie. Barnabas het hom egter gaan haal en na die •apostels geneem, en vir hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het, dat Hy met hom gepraat het en hoe hy in Damaskus met vrymoedigheid in die Naam van Jesus gepreek het. Saam met hulle het hy in Jerusalem gekom en gegaan en met vrymoedigheid in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Helleniste gepraat en geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak. Maar toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Caesarea geneem en na Tarsus weggestuur. Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid