HANDELINGE 9:20-31

HANDELINGE 9:20-31 Bybel vir almal (ABA)

en hy het dadelik in die sinagoges begin preek oor Jesus. Hy het gesê: “Hierdie Jesus is die Seun van God.” Al die mense wat vir Saulus gehoor praat het, was baie verbaas en hulle het gesê: “Is Saulus die man wat in Jerusalem probeer het om die mense dood te maak wat vir Jesus aanbid? Is hý die man wat hiernatoe gekom het om vir die mense wat vir Jesus aanbid, te vang en na die priesterleiers toe te neem?” Maar Saulus het beter en beter gepreek vir die Jode wat in die stad Damaskus woon en hy het só goed verduidelik dat Jesus die Christus is, dat hulle nie vir hom kon antwoord nie. Ná 'n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak, maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak. Maar mense wat ook gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in 'n groot mandjie laat afsak deur 'n venster in die stad se muur. Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy 'n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie. En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie. Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak. Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur. Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het 'n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo.

HANDELINGE 9:20-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is. En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hý nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie? Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is. En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring. En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring; maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in 'n mandjie te laat afsak. En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel was nie. Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het. En hy het saam met hulle in- en uitgegaan in Jerusalem en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak. En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur. En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.

HANDELINGE 9:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is. Almal wat dit gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie? En het hy nie ook hierheen gekom om hulle gevange te neem en voor die priesterhoofde te bring nie?” Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na verloop van tyd het die Jode saamgesweer om Saulus te vermoor, maar hy het van hulle plan te hore gekom. Dag en nag was hulle by die stad se poorte op die uitkyk om hom dood te maak. Maar sy medegelowiges het hom een nag geneem en in 'n mandjie laat afsak deur 'n opening in die stadsmuur. Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie. Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur. In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.

HANDELINGE 9:20-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die •Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verstom en het gevra: “Is hy nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, probeer uitroei het, en hierheen gekom het om hulle geboeid na die leierpriesters te neem nie?” Saulus het egter al hoe meer krag ontvang, en die Jode wat in Damaskus woon, verwar deur te bewys dat Jesus die Christus is. Maar nadat 'n hele paar dae verloop het, het die Jode saamgespan om hom dood te maak. Saulus het egter van hulle komplot te hore gekom. Hulle het die stadspoorte dag en nag dopgehou, sodat hulle hom kon doodmaak, maar sy dissipels het hom in die nag gaan haal en hom deur 'n opening in die muur in 'n mandjie laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel is nie. Barnabas het hom egter gaan haal en na die •apostels geneem, en vir hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het, dat Hy met hom gepraat het en hoe hy in Damaskus met vrymoedigheid in die Naam van Jesus gepreek het. Saam met hulle het hy in Jerusalem gekom en gegaan en met vrymoedigheid in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Helleniste gepraat en geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak. Maar toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Caesarea geneem en na Tarsus weggestuur. Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem.

HANDELINGE 9:20-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dadelik het hy Christus in die sinagoges verkondig dat Hy die Seun van God is. Maar almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê; Is dit nie Hy wat die wat hierdie Naam aangeroep het in Jerusalem omgebring het en met die doel hierheen gekom het om hulle geboeid na die owerpriesters toe te bring nie? Maar Saul het sterker geword en die Jode wat in Damaskus gewoon het, in die war gebring deur te bewys dat dit juis Christus is. En nadat baie dae verby was, het die Jode raad gehou om hom dood te maak. Maar hulle wag was bekend van Saul. En hulle het die poorte dag en nag dopgehou om hom dood te maak. Toe het die dissipels Hom in die nag geneem en Hom in 'n mandjie by die muur laat afsak. En toe Saul in Jerusalem aankom, het hy probeer om hom by die dissipels aan te sluit; maar hulle was almal bang vir hom en het nie geglo dat hy 'n dissipel was nie. Maar Barnabas het hom geneem en na die apostels gebring en aan hulle vertel hoe hy die Here op die pad gesien het en dat hy met hom gespreek het en hoe hy vrymoediglik in Damaskus gepreek het in die Naam van Jesus. En hy was saam met hulle wat in Jerusalem in- en uitgegaan het. En hy het met vrymoedigheid in die Naam van die Here Jesus gespreek en teen die Grieke getwis, maar hulle het gegaan om Hom dood te maak. En toe die broers dit hoor, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus gestuur. Toe het die gemeentes in die hele Judéa en Galilea en Samaria rus en is opgebou; en wandel in die vrees van die Here en in die vertroosting van die Heilige Gees, is vermeerder.

HANDELINGE 9:20-31 Die Boodskap (DB)

Saulus het by die Joodse aanbiddingsplek daar in Damaskus ingestap en vir die mense vertel dat Jesus die Seun van God is. Almal wat hom hoor praat het, was baie verbaas. “Wat gaan nou aan? Is hy nie die man wat in Jerusalem verwoesting gesaai het onder almal wat in daardie Jesus glo nie? Hy het dan juis hierheen gekom om hulle te vang sodat hulle voor die hoëpriester aangekla kan word,” het hulle vir mekaar gesê. Hierdie opmerkings het Saulus nie van stryk gebring nie. Die Here was by hom met sy groot krag. Saulus het die Jode later skoon deurmekaargepraat. Hy het vir hulle gewys dat Jesus regtig die Messias is, die Een vir wie God gestuur het om ons sondes weg te vat. Die Jode het later besluit om Saulus dood te maak, maar gelukkig het hy daarvan te hore gekom. Om seker te maak dat Saulus nie ontsnap nie, het hulle toe die stad se hekke dag en nag laat oppas. Die gelowiges het ’n slim plan gemaak. Een nag het hulle Saulus in ’n groot mandjie gesit en hom oor die stadsmuur laat afsak. Daarna het Saulus teruggegaan Jerusalem toe. Daar het hy probeer om by die kerk aan te sluit, maar die gelowiges was skrikkerig vir hom. Hulle het gedink hy gee net voor dat hy glo. Barnabas het egter gesien Saulus se geloof in Jesus is eg. Hy het hom jammer gekry en hom toe aan die apostels gaan voorstel. Barnabas het hulle vertel hoe die Here aan Saulus verskyn en met hom gepraat het. Hy het ook vertel dat Saulus nie bang was om in Damaskus vir die mense te sê dat Jesus die Here is nie. Daarna het Saulus in die openbaar saam met hulle rondgestap. Oral waar hy gekom het, het hy met ander mense oor Jesus gepraat. Kort voor lank het Saulus egter moeilikheid gekry met ’n groep Griekssprekende Jode. Hulle het niks gehou van wat hy gesê het nie. Hulle het toe besluit om hom dood te maak. Toe die gelowiges daarvan te hore kom, het hulle hom dadelik uit die stad weggevat. Hulle is haastig met hom Sesarea toe. Van daar af het Saulus per skip na Tarsus vertrek. Daarna het daar ’n tydperk van vrede in die kerk aangebreek. Dwarsdeur Judea, Galilea en Samaria het mense in groot getalle by die kerk aangesluit. Gelowiges se vertroue in die Here het sterker geword. Hulle almal het ook groot eerbied vir die Here gehad. En hulle het al hoe meer bewus geword van die bystand en troos van die Heilige Gees in hulle lewe.

HANDELINGE 9:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy het Jesus dadelik in die sinagoges begin verkondig – dat Hy die Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie dié man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem vervolg het nie? Dis mos presies waarvoor hy hierheen gekom het: om hulle geboei voor die priesterhoofde te bring!” Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en het die Damaskus-Jode in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na etlike dae het dié Jode saamgesweer om Saulus te vermoor. Hulle komplot het egter aan Saulus uitgelek. Dag en nag het hulle die stad se poorte dopgehou om hom te vermoor. Maar sy volgelinge het hom in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het planne beraam om hom te vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom Sesarea toe gevat en hom van daar na Tarsus toe weggestuur. Die kerk het deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad. Die gelowiges is opgebou en het in ontsag vir die Here geleef, en hulle is deur die Heilige Gees versterk. Op hierdie manier het hulle getalle aangegroei.