Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur. Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi. Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou. Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi. Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers. Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.” Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het. Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur.
Lees Handelinge 8
Deel
Vergelyk alle weergawes: Handelinge 8:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's