HANDELINGE 8:1-13
HANDELINGE 8:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou. Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit. Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dieselfde stad was daar 'n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” Hy het 'n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor 'n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.
HANDELINGE 8:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur. Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi. Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou. Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi. Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers. Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.” Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het. Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur.
HANDELINGE 8:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Saulus het gedink dit is reg dat hulle vir Stefanus vermoor het. Op daardie dag het die Joodse leiers begin om baie slegte dinge te doen aan die kerk in Jerusalem. Al die gelowiges het gevlug na plekke in Judea en Samaria. Maar die apostels het in Jerusalem gebly. Daar was manne wat lief was vir die Here en wat Hom gedien het soos Hy wil hê. Hierdie manne het vir Stefanus begrawe. En hulle het baie gehuil en getreur oor hom. Saulus het probeer om die gemeente dood te maak. Hy het in die huise ingegaan en hy het mans en vroue weggesleep en in die tronk gegooi. Die gelowiges wat gevlug het, het oral die goeie boodskap gebring. Filippus het na 'n stad in die provinsie Samaria gegaan. Hy het vir die mense die boodskap oor Christus gebring. Toe die mense hoor wat hy preek, en toe hulle die tekens sien wat hy doen, het hulle almal saam goed geluister na die dinge wat Filippus gesê het. Baie mense het onrein geeste in hulle gehad, en die geeste het hard geskree wanneer hulle uit die mense uitgaan. En baie mense wat lam en kreupel was, het gesond geword. Die mense van daardie stad was baie bly. Daar het 'n man in die stad gewoon, sy naam was Simon. Hy kon toor en die mense van Samaria het gedink hy doen wonderlike dinge. Simon het self gesê dat hy baie belangrik is. Al die mense, die kinders en die grootmense, het ook gedink dat hy baie belangrik is. Hulle het gesê: “Hierdie man is die Krag van God, die mense noem hom ‘Die Groot Krag van God.’ ” Hulle het gedink dat Simon baie belangrik is omdat hy 'n lang tyd getoor het en die mense het gedink dat dit wonderlik is. Maar toe het Filippus gekom en hy het die goeie boodskap gebring dat God Koning is, die boodskap oor die Naam van Jesus Christus. Toe het die mense vir Filippus begin glo, en hulle is gedoop, die mans én die vroue. Simon het self ook begin glo. Nadat hy gedoop is, het hy die hele tyd by Filippus gebly. Hy het die tekens en wonderwerke gesien wat gebeur het, en hy was baie verbaas.
HANDELINGE 8:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. En godvresende manne het Stéfanus begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe. Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig. En Filippus het afgekom in 'n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met 'n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad. En 'n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God. En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle 'n geruime tyd deur sy towerye verbyster het. Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.
HANDELINGE 8:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Saul het met sy dood ingestem. En in daardie tyd was daar 'n groot vervolging teen die gemeente wat in Jerusalem was; en hulle was almal verstrooi in die streke van Judéa en Samaria, behalwe die apostels. En vrome manne het Stefanus na sy begrafnis gedra en oor hom gerou. Wat Saul betref, hy het die gemeente verwoes deur in elke huis in te gaan en mans en vroue te vang en hulle in die tronk oorgegee. Daarom het die wat verstrooi was, oral gegaan om die woord te verkondig. Toe het Filippus afgegaan na die stad Samaria en Christus aan hulle verkondig. En die volk het eendragtig ag gegee op die dinge wat Filippus gespreek het, toe hulle gehoor en die wonderwerke gesien het wat hy gedoen het. Want onrein geeste het uit baie wat met hulle beset was, uitgekom wat met groot stem geroep het, en baie wat verlam was en kreupel was, is genees. En daar was groot blydskap in daardie stad. Maar daar was 'n sekere man met die naam van Simon, wat voorheen in dieselfde stad towery gebruik het en die mense van Samaria betower het deur te sê dat hy 'n groot man was. Op wie almal ag geslaan het, van die kleinste tot die grootste, en gesê: Hierdie man is die groot krag van God. En hulle het na hom gekyk, omdat hy hulle lankal met towerye betower het. Maar toe hulle Filippus geglo het wat die dinge verkondig aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus, is hulle gedoop, mans sowel as vroue. Toe het Simon self ook geglo, en toe hy gedoop is, het hy by Filippus gebly en hom verwonder toe hy die wonders en tekens aanskou wat gebeur het.
HANDELINGE 8:1-13 Die Boodskap (DB)
Stefanus se dood was net die geleentheid waarop die godsdienstige leiers in Jerusalem gewag het. Hulle het nou met mag en mening onder die gelowiges in die stad ingeklim en hulle oral begin vervolg. Dit het veroorsaak dat die gelowiges in alle rigtings dwarsdeur Judea en Samaria gevlug het. Omtrent net die apostels het in Jerusalem agtergebly. Stefanus is intussen begrawe deur ’n paar mans wat God met groot toewyding gedien het. Hulle was hartseer oor sy dood. Saulus was daarop uit om die kerk heeltemal uit te roei. Hy het van huis tot huis gegaan en elke gelowige man en vrou wat hy in die hande kon kry, hardhandig laat vang en in die tronk gestop. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het nie opgehou om oor Jesus te praat nie. Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word. Gou-gou was daar sommer groot opgewondenheid in die stad oor al die wonderlike dinge wat Filippus gedoen het. Daar het ook ’n towenaar in die stad gebly met die naam Simon. ’n Lang tyd al het hy die inwoners in vervoering gehad met sy towery. Simon het vir hulle vertel dat hy ’n baie magtige man is wat oor besondere kragte beskik. Oud en jonk het kort voor lank geglo hy is ’n god. Oral waar hulle hom op straat sien loop het, het hulle vir mekaar gesê: “Kyk, daar is daardie groot kragman van God.” Almal het Simon op die hande gedra. Filippus het alles kom verander. Toe hy met die mense begin praat oor God se nuwe wêreld wat met Jesus se koms aangebreek het, het baie mense tot bekering gekom. Filippus moes omtrent bontstaan om almal te doop wat in Jesus begin glo het. Selfs Simon het tot geloof gekom en hom laat doop. Hy het oral agter Filippus aangestap, stom van verbasing oor al die groot dinge wat hy gedoen het.
HANDELINGE 8:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Saulus het saamgestem met die teregstelling van Stefanus. ’n Hewige vervolging van die kerk in Jerusalem het daardie dag begin. Al die gelowiges, behalwe die apostels, het uitgewyk na die gebiede van Judea en Samaria. (Godvresende mense het Stefanus begrawe en hulle het baie oor hom getreur.) Saulus het die kerk oral probeer vernietig. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vroue laat uitsleep en in die tronk laat sit. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het so ver as wat hulle gegaan het, die Goeie Nuus verkondig. Filippus het byvoorbeeld na die stad Samaria gegaan en hulle van Christus vertel. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy boodskap geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dié stad het ’n man met die naam Simon al vir jare lank die inwoners met sy toorkunste beïndruk. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders was. Almal, van die geringstes tot die belangrikstes, het na hom verwys as: “Die Grote, die Krag van God.” Hulle het hom baie ernstig opgeneem, juis vanweë sy toorkunste. Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop. Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het.