Handelinge 7:20-60

Handelinge 7:20-60 AFR20

In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. “ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het. “Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Dit is aan hom wat ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie. Hulle het hom verwerp en in hulle harte na Egipte teruggedraai toe hulle vir Aäron gesê het, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit die land Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe het hulle in daardie dae 'n beeld van 'n kalf gemaak, en aan dié afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle oor hulle handewerk verheug. Maar God het Hom van hulle weggekeer en hulle daaraan uitgelewer om die leërskare hemelliggame te aanbid, soos daar geskryf staan in die profete: “ ‘Het julle ooit vir My slagoffers en ander offers gebring gedurende die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Nee, julle het die tent van Moleg saamgedra, en die ster van julle god Refan, beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon laat wegvoer.’ “Die Tent met die Getuienis het by ons voorvaders in die woestyn gestaan, presies soos Hy wat met Moses gepraat het, hom beveel het om dit volgens die model te maak wat hy gesien het. En op hulle beurt het ons vaders dit ontvang, en saam met Josua het hulle dit in die land ingebring wat hulle verower het van die nasies wat God tot in die tyd van Dawid voor ons vaders uitgedryf het. Dawid het guns by God gevind, en gevra dat hy 'n tabernakel vir die huis van Jakob kon oprig. Maar dit was Salomo wat 'n huis vir Hom gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: “ ‘ Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank vir my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’ “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!” Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van 'n jong man bekend as Saulus. En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Hy het op sy knieë geval en met 'n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 7:20-60

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid