HANDELINGE 7:20-60

HANDELINGE 7:20-60 Die Boodskap (DB)

“In daardie tyd is Moses gebore. En wat ’n mooi baba was hy nie! Sy pa en ma het hom drie maande lank in hulle huis weggesteek en versorg. Maar uiteindelik moes hulle ook van hom afstand doen. Hulle het hom toe in ’n mandjie in die Nylrivier gaan sit. Gelukkig het die dogter van die farao hom in die Nyl gekry en hom toe soos haar eie seun grootgemaak. Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik. “Toe Moses sowat 40 jaar oud was, het hy op ’n dag besluit om besoek af te lê by sy eie mense, die Israeliete. Daar het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van hulle slaan. Dit het hom so kwaad gemaak dat hy die man op die plek doodgemaak het. Moses het gedink dat sy volksgenote sou besef dat hy aan hulle kant was, maar hy het hom lelik misgis. Die volgende dag toe hy weer daar opdaag, het hy op twee Israeliete afgekom wat met mekaar baklei. Hy het vrede tussen hulle probeer maak. ‘Julle is dan broers. Vir wat slaan julle mekaar so?’ het hy hulle gevra. “Die een wat die bakleiery begin het, het Moses weggestamp en gesê: ‘Jy’s ’n mooi een om te praat! Wie het jou as skeidsregter oor ons aangestel? Jy kom speel hier baas terwyl jy self gister ’n Egiptenaar doodgemaak het. Gaan jy my nou ook doodmaak?’ “Moses het groot geskrik toe hy hoor wat die man sê. Hy het besef dat almal binnekort sou weet wat hy met die Egiptenaar gedoen het. Daarom het hy toe uit Egipte padgegee en as ’n vreemdeling in die land Midian gaan bly. Daar het hy getrou en die pa van twee seuns geword.” “Veertig jaar later, terwyl Moses in die woestyn by die berg Sinai was, het ’n engel van die Here in ’n brandende doringbos aan hom verskyn.Moses kon sy oë nie glo toe hy dit sien nie. Hy het nader gestap om mooi te sien wat aangaan. Toe praat die Here skielik uit die brandende bos: ‘Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Toe Moses dit hoor, het hy geskrik en sy oë styf toegeknyp. Hy was te bang om na God te kyk. Die Here sê toe vir hom: ‘Betoon respek vir My! Trek jou skoene uit, want jy staan op heilige grond. Jy is in die teenwoordigheid van die lewende God! “‘Ek weet van al die lyding wat my mense in Egipte moet verduur. Ek hoor hoe hulle My smeek dat Ek hulle moet bevry. Daarom het Ek besluit om hulle uit daardie land weg te vat. Jy is die man wat dit vir My moet gaan doen. Maak jou gereed! Want Ek wil hê jy moet Egipte toe gaan.’ “Dieselfde Moses wat vroeër deur sy eie mense verwerp is, is nou deur God self as hulle leier en redder aangewys. Dit alles het daar by die brandende doringbos begin waar hy God se stem gehoor het. “Moses het die Israeliete daarna uit Egipte weggelei. In Egipte, by die Rooisee en ook in die woestyn het hy 40 jaar lank die een groot wonderwerk na die ander gedoen. “Dit is hierdie selfde Moses wat op ’n dag vir die Israeliete gesê het: ‘God sal eendag ’n boodskapper net soos ek uit julle midde laat voortkom.’ “Dit is ook Moses wat op die berg Sinai met die engel van die Here gaan praat het. Daarna het hy God se wil aan ons voorvaders in die woestyn bekendgemaak. Hy het al hierdie woorde wat lewe gee by die Here self ontvang en dit aan hulle almal gaan meedeel. Maar ons voorvaders het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het begin terugverlang na die tyd in Egipte en by Aäron gaan kerm: ‘Maak asseblief vir ons ’n paar gode wat ons met ons eie oë kan sien en wat voor ons kan uittrek. Hierdie Moses wat ons uit Egipte laat trek het, het verdwyn.’ “Hulle het toe vir hulle ’n afbeelding van ’n kalf gemaak en allerhande offers daarvoor gebring. Hulle was baie trots op hulle mooi handewerk. God was egter baie kwaad daaroor, maar Hy het hulle laat aangaan met hulle sondes. Hy het toegelaat dat hulle elke nuwe god aanbid waarvan hulle te hore gekom het. Hulle het presies gedoen wat die Here later deur een van die profete gesê het: ‘Dit is tog nie vir My dat julle daar in die woestyn allerhande offers gebring het nie. Nee, gedurende daardie 40 jaar was julle te besig om aanbiddingsplekke vir ander gode te bou. Afgode soos Molog en Refan was toe belangriker as Ek. Julle het allerhande mooi versiersels aan julle lywe gedra om daardie gode gelukkig te maak. Julle kon nie voorbly om neer te buig voor elke nuwe afgod wat julle in die hande gekry het nie. Ek gaan julle daaroor straf: Ek gaan julle tot anderkant Babilon as gevangenes laat wegvoer.’” “Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het. “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was. Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie. Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou. “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê: ‘Die hemel is my troonsaal. Daar regeer Ek. Die aarde is slegs die rusplek vir my voete. Hoe sal julle dan ooit vir My ’n huis kan bou wat groot genoeg is? Kan julle regtig vir My ’n rusplek oprig waar Ek sal wil bly? Nee, julle kan nie. Ek het dit in elk geval klaar gedoen. Ek het vir Myself ’n hemelse woning gebou.’” Stefanus het daarna vir die Joodse Raad gesê: “Julle klomp hardekoppe. Julle dra miskien die teken van die besnydenis aan julle liggaam, maar julle harte en julle koppe is nog glad nie besny nie. Julle doen net mooi niks wat God vir julle sê om te doen nie. Julle luister nie na die Heilige Gees se stem nie. Julle maak presies net soos al julle voorgeslagte. “Dink net wat julle voorvaders met die Here se boodskappers aangevang het. Hulle het elkeen vervolg en doodgemaak wat dit gewaag het om met hulle oor die Messias, oor God se Gestuurde, te praat. Julle is niks anders as hulle nie. Is dit dan nie julle spul wat Christus vermoor het toe Hy na ons toe gekom het nie? “Julle was so gelukkig om God se wet uit die hand van sy engele te ontvang. Maar julle het nooit so ver gekom om te doen wat die wet sê nie.” Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie, want hy kon tot binne-in die hemel sien. Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom staan. Toe sê hy hardop: “Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens. Hy staan op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.” Na hierdie woorde het daar chaos losgebars. Party van die raadslede het hulle ore toegedruk omdat hulle nie verder na Stefanus se woorde wou luister nie. Ander het opgespring en op hom afgestorm. Hulle het hom gegryp en uitgesleep tot buitekant die stadsmure. Daar het hulle hom met klippe begin gooi. Party van die mans het hulle hemde uitgetrek sodat hulle Stefanus nog makliker onder die klippe kon steek. Hulle het ’n jongman met die naam Saulus gevra om hulle klere op te pas. Terwyl die klippe op Stefanus neergereën het, het hy gebid: “Here Jesus, neem my nou na U toe.” Toe het hy op sy knieë neergeval en hard uitgeroep: “Here, moenie dié sonde teen hierdie mense laat tel nie! Vergeef hulle.” Dit was Stefanus se laaste woorde. Hy het daarna inmekaargesak en is daar op die plek dood. Toe dit gebeur, het Saulus al die klipgooiers gaan gelukwens met die moord wat hulle gepleeg het.

HANDELINGE 7:20-60 Bybel vir almal (ABA)

In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was baie mooi. Sy ouers het drie maande lank goed vir hom gesorg. Toe het hulle hom buite neergesit. Die farao se dogter het hom gekry en sy het hom aangeneem en grootgemaak soos haar eie seun. Moses het al die wysheid van die Egiptenaars geleer, hy het geleer om die regte dinge te sê en te doen. “Toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit gaan met sy mense, die Israeliete. Hy sien toe 'n Egiptenaar wat besig was om slegte dinge te doen aan 'n Israeliet. Moses het die Israeliet gehelp, hy het die Egiptenaar gestraf en hy het hom doodgeslaan. Moses het gedink dat die Israeliete sal verstaan dat God hom wil gebruik om hulle te red. Maar hulle het dit nie verstaan nie. Die volgende dag het Moses gekom by twee Israeliete wat baklei. Hy wou hulle help om vrede te maak. Hy sê toe: ‘Vriende, julle altwee is Israeliete. Hoekom baklei julle met mekaar?’ Maar die een wat die probleem begin het, het vir Moses weggestamp en gesê: ‘ Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees? Nou wil jy vir my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het.’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug. Hy het 'n vreemdeling geword in die land Midian. Daar het hy die pa geword van twee seuns. “Daar het 40 jaar verbygegaan. Toe het 'n engel aan Moses verskyn in die woestyn by Sinai-berg. Die engel was in die vlamme van 'n bos wat gebrand het. Moses was verbaas oor wat hy gesien het. Hy het nader gegaan om te kyk wat dit is, en toe hoor hy die stem van die Here wat sê: ‘ Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het begin bewe en hy was te bang om na die bos te kyk. Toe sê die Here vir hom: ‘ Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’ “Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos. Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank wonderwerke en tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn. Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘ God sal 'n profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal 'n profeet wees, soos ek.’ Dit is hý, Móses, wat by ons voorvaders was in die woestyn. Hy het met hulle gepraat wanneer hulle bymekaargekom het. Moses was ook op Sinai-berg by die engel. Daar het die engel met Moses gepraat, en daar het Moses die boodskap gekry wat vir ons die ware lewe gee. Maar ons voorvaders wou nie luister na Moses nie. Hulle wou nie hoor wat hy sê nie, en hulle het verlang na Egipte. Hulle het vir Aäron gesê: ‘ Maak vir ons gode wat vir ons verder kan lei. Want ons weet nie wat met Moses gebeur het nie, Moses wat ons uitgelei het uit Egipte.’ Toe het hulle 'n beeld van 'n kalf gemaak, en hulle het offers gebring vir die afgod. Hulle was baie bly oor die beeld wat hulle met hulle hande gemaak het en hulle het feesgevier. Maar God het hulle gelos, Hy het hulle nie meer gekeer wanneer hulle die sterre wou aanbid nie. Dit is wat geskryf is in die boek van die profete: “ Mense van Israel, het julle vir My brand-offers en ander offers gebring toe julle 40 jaar lank in die woestyn was? Nee, julle het nie! Julle het die tent van Molek saamgeneem en die ster van julle god Refan. Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid. Daarom sal Ek julle wegstuur tot anderkant Babilon. “Ons voorvaders het die tent en die tien gebooie wat daarin was, by hulle in die woestyn gehad. God het vir Moses gesê om die tent te maak. Dit moes dieselfde lyk soos die tent wat God vir Moses gewys het. Ons voorvaders het hierdie tent gekry en hulle het dit in hierdie land ingebring. Dit het gebeur toe Josua die land oorwin en gevat het. God het die volke wat daar woon, weggejaag sodat ons voorvaders daar kon woon. Die tent het in die land gebly tot in die tyd toe Dawid gelewe het. God was goed vir Dawid, en Dawid het vir God gevra of hy vir Hom 'n woonplek kan bou sodat Jakob se nageslag daar vir God kan dien. Maar dit was Dawid se seun Sálomo wat 'n tempel gebou het vir God. Maar God wat in die hoogste hemel woon, woon nie in tempels nie, want dit is mense wat tempels bou. Dit is wat die profeet sê: “Die Here sê: Die hemel is my troon, die aarde is die plek waarop Ek my voete sit. Dink julle dat julle vir Mý 'n huis kan bou waar Ek kan woon? Dit sê die Here. Dink julle dat daar 'n plek is waar Ek moet rus? Ek het alles gemaak met my eie hande. “Julle is hardkoppig! Julle dink in julle hart soos die heidene dink, en julle wil nie luister nie. Julle stry altyd teen die Heilige Gees. Julle doen dieselfde wat julle voorvaders gedoen het. Julle voorvaders het slegte dinge gedoen aan al die profete. Julle voorvaders het die mense doodgemaak wat gesê het dat die Regverdige sal kom. En nou het júlle Hom verraai en vermoor. Julle is die mense wat die wette van God gekry het. God het die engele gebruik om dit vir julle te gee. Maar julle was nie gehoorsaam aan God se wette nie.” Toe die Joodse Raad hierdie dinge hoor, het hulle baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het op hulle tande gebyt, want hulle was baie kwaad vir Stefanus. Maar die Heilige Gees was in Stefanus. Stefanus het reguit opgekyk na die hemel, en hy het gesien dat God Koning is. Hy het ook vir Jesus gesien wat staan op die belangrikste plek langs God. Toe sê Stefanus: “Kyk, ek sien dat die hemel oop is en ek sien die Seun van die mens wat staan op die belangrikste plek langs God.” Maar die Joodse Raad het hard geskree en hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor nie. Hulle het almal saam na Stefanus toe gehardloop en hulle het hom uitgejaag tot buite die stad. Toe het hulle begin om hom met klippe te gooi. En die getuies het hulle bo-klere neergesit by die voete van 'n jongman, sy naam was Saulus. En terwyl die Joodse Raad vir Stefanus met klippe gooi, het Stefanus gebid en gesê: “Here Jesus, neem my gees.” Toe het hy op sy knieë geval en hy het hard geskree: “Here, die mense maak my dood, maar U moenie vir hulle straf oor hierdie sonde nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.

HANDELINGE 7:20-60 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak. En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek; en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as 'n owerste en regter oor ons aangestel? Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie? En Moses het op hierdie woord gevlug en 'n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het. En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur. Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos. Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister. Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer toe hulle vir Aäron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly. Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel? Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer. Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het. En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid wat genade gevind het voor God en gevra het om 'n woonplek vir die God van Jakob te verkry. En Salomo het 'n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie? Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie! En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Maar hulle het met 'n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van 'n jongman met die naam van Saulus. En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.

HANDELINGE 7:20-60 Afrikaans 1983 (AFR83)

In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad. “Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore. “Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’ “Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen. Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’ “Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel. Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het hom verontagsaam en na Egipte terug verlang. Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Die gevolg was dat hulle destyds 'n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van 'n kalf en daaraan offers gebring het en feesgevier het tot eer van hulle eie handewerk. Maar God het Hom van hulle afgewend en hulle laat begaan om die sterre te aanbid, soos daar geskrywe staan in die boek van die profete: “Was dit vir My, Israel, dat julle brandoffers en ander diereoffers gebring het gedurende die veertig jaar in die woestyn? Nee! Julle het die tent van Molek saamgeneem en die ster van julle god Refan. Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon wegstuur. “Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel: “Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here. Watter soort huis sal julle tog vir My bou of watter plek as my rusplek? Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie? “Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook. Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor. Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie.” Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus. Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe.

HANDELINGE 7:20-60 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. “ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het. “Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Dit is aan hom wat ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie. Hulle het hom verwerp en in hulle harte na Egipte teruggedraai toe hulle vir Aäron gesê het, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit die land Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe het hulle in daardie dae 'n beeld van 'n kalf gemaak, en aan dié afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle oor hulle handewerk verheug. Maar God het Hom van hulle weggekeer en hulle daaraan uitgelewer om die leërskare hemelliggame te aanbid, soos daar geskryf staan in die profete: “ ‘Het julle ooit vir My slagoffers en ander offers gebring gedurende die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Nee, julle het die tent van Moleg saamgedra, en die ster van julle god Refan, beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon laat wegvoer.’ “Die Tent met die Getuienis het by ons voorvaders in die woestyn gestaan, presies soos Hy wat met Moses gepraat het, hom beveel het om dit volgens die model te maak wat hy gesien het. En op hulle beurt het ons vaders dit ontvang, en saam met Josua het hulle dit in die land ingebring wat hulle verower het van die nasies wat God tot in die tyd van Dawid voor ons vaders uitgedryf het. Dawid het guns by God gevind, en gevra dat hy 'n tabernakel vir die huis van Jakob kon oprig. Maar dit was Salomo wat 'n huis vir Hom gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: “ ‘ Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank vir my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’ “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!” Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van 'n jong man bekend as Saulus. En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Hy het op sy knieë geval en met 'n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap.

HANDELINGE 7:20-60 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In watter tyd is Moses gebore en hy was buitengewoon mooi en het drie maande lank in die huis van sy vader onderhou; En toe hy uitgewerp is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom vir haar eie seun versorg. En Moses was geleerd in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en in dade. En toe hy veertig jaar oud was, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek. En toe hy sien dat een van hulle onreg ly, het hy hom verdedig en die verdrukte gewreek en die Egiptenaar verslaan. Want hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand sou red, maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy homself aan hulle geopenbaar terwyl hulle gestry het, en sou hulle weer eensgesind het deur te sê: Menere, julle is broers; waarom maak julle mekaar verkeerd? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom weggestoot en gesê: Wie het jou 'n owerste en regter oor ons aangestel? Sal jy my doodmaak soos jy gister die Egiptenaar gedoen het? Toe het Moses gevlug vir hierdie woord, en hy was 'n vreemdeling in die land Madian, waar hy twee seuns verwek het. En toe veertig jaar verby was, het daar aan hom in die woestyn van die berg Sina verskyn 'n engel van die Here in 'n vuurvlam in 'n doringbos. Toe Moses dit sien, was hy verwonderd oor die gesig; en toe hy nader kom om dit te aanskou, het die stem van die Here tot hom gekom: en gesê: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses gebewe en dit nie durf kyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy staan, is heilige grond. Ek het gesien, ek het die ellende van my volk gesien wat in Egipte is, en ek het hulle gekerm gehoor en afgekom om hulle te red. En kom nou, Ek sal jou na Egipte toe stuur. Hierdie Moses wat hulle verwerp het deur te sê: Wie het jou 'n owerste en 'n regter aangestel? dieselfde het God gestuur om 'n heerser en 'n verlosser te wees deur die hand van die engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Hy het hulle uitgelei nadat Hy wonders en tekens gedoen het in Egipteland en in die Rooi See en in die woestyn veertig jaar lank. Dit is daardie Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: 'n Profeet sal die Here julle God vir julle verwek uit julle broers soos ek; Hom sal julle hoor. Dit is hy wat in die gemeente in die woestyn was saam met die engel wat met hom gespreek het op die berg Sina, en by ons vaders, wat die lewendige woorde ontvang het om aan ons te gee. Aan wie ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie, maar hom van hulle weggestoot en in hulle harte teruggekeer het na Egipte, en vir Aäron gesê: Maak vir ons gode om voor ons uit te gaan, want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgod 'n offer gebring en hulle verheug oor die werke van hul eie hande. Toe het God omgedraai en hulle oorgegee om die leër van die hemel te aanbid; Soos geskrywe is in die boek van die profete, o huis van Israel, het julle aan My geslagte diere en slagoffers gebring in die tyd van veertig jaar in die woestyn? Ja, julle het die tabernakel van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid; en Ek sal julle wegvoer na Babel. Ons vaders het die tabernakel van die getuienis in die woestyn gehad, soos Hy dit bepaal het toe hy met Moses gespreek het, dat hy dit moes maak volgens die manier wat hy gesien het. Wat ook ons vaders wat daarna gekom het, saam met Jesus ingebring het in die besitting van die heidene, wat God voor die aangesig van ons vaders verdryf het tot in die dae van Dawid; wat genade gevind het voor God en begeer het om 'n tabernakel vir die God van Jakob te vind. Maar Salomo het vir hom 'n huis gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie; soos die profeet sê, Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank; watter huis sal julle vir My bou? spreek die Here: of wat is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie? Julle hardnekke en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders, so doen julle. Watter van die profete het julle vaders nie vervolg nie? en hulle het die wat tevore van die koms van die Regverdige te kenne gegee het, gedood; van wie julle nou die verraaiers en moordenaars was: wat die wet deur die beskikking van engele ontvang het en dit nie onderhou het nie. Toe hulle hierdie dinge hoor, is hulle in die hart gesny, en hulle het op hulle tande op hom gekners. Maar hy, wat vol van die Heilige Gees was, het stip na die hemel opgekyk en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan, en gesê: Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens staan aan die regterhand van God. Toe het hulle met 'n groot stem uitgeroep en hul ore toegestop en eendragtig op hom aangehardloop. En hulle het hom uit die stad uitgegooi en hom gestenig, en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van 'n jongman wie se naam Saul was. En hulle het Stefanus gestenig terwyl hy God aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees. En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie. En toe hy dit gesê het, het hy aan die slaap geraak.

HANDELINGE 7:20-60 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“In dié tyd is Moses gebore, en hy was besonder mooi. Sy ouers het hom drie maande lank tuis versorg. Toe hulle hom uiteindelik buite aan sy lot moes oorlaat, het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het met woord en daad presteer. “Op 40-jarige leeftyd het hy besluit om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Tydens sy besoek het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van die Israeliete aanrand, en hy het die slagoffer gaan help. Tydens sy vergelding het hy die Egiptenaar doodgemaak. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom gestuur het om hulle te verlos, maar hulle het nie. “Toe hy die volgende dag weer daar kom, kry hy twee Israeliete wat baklei. Hy het probeer vrede maak, en sê: ‘Manne, julle is tog volksgenote! Hoekom maak julle mekaar seer?’ “Maar die een wat die oorsaak van die bakleiery was, stamp Moses eenkant toe en sê vir hom om hulle uit te los. ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak? Wil jy my ook vermoor, soos jy gister die Egiptenaar vermoor het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en as uitlander in die land Midian gaan woon. Dáár het hy die pa geword van twee seuns. “’n Engel het 40 jaar later in die woestyn by Sinaiberg in die vlam van ’n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses het dit gesien en gewonder wat aangaan. Toe hy nadergaan om dit te bekyk, kom die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders – die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses was só bang dat hy gebewe het; hy het dit nie gewaag om te kyk nie. “En die Here het vir hom gesê: ‘Trek jou sandale uit, want jy staan op gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek inderdaad gesien. Ek het hulle hulpgeroep gehoor. Hier is Ek nou om hulle te red. Kom, Ek stuur jou nou Egipte toe.’ Só, deur die engel wat in die brandende doringbos aan hom verskyn het, het God juis hóm as leier en redder na die Israeliete toe gestuur, dieselfde Moses vir wie die Israeliete verwerp het en toegesnou het: ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak?’ So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Dit het gepaardgegaan met baie wonders en tekens wat hy oor die verloop van 40 jaar in Egipte, die Rooisee en in die woestyn gedoen het. “Hierdie selfde Moses het vir die volk Israel gesê: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom.’ Dit is dieselfde Moses wat, toe die volk as gemeente daar in die woestyn was, as tussenganger opgetree het tussen ons voorouers en die engel wat op Sinaiberg met hom gepraat het. Hy het lewende woorde ontvang om aan ons oor te dra. “Ons voorouers het hom egter geïgnoreer, en hulle wou teruggaan Egipte toe. Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat ons kan lei, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Hulle het toe ’n kalf-afgodsbeeld gemaak en aan dié afgod offers gebring. Hulle was baie ingenome met wat hulle gedoen het. Maar God het sy rug op hulle gedraai en hulle laat begaan. Hulle het die son, die maan en die sterre as hulle gode gedien! So staan dit in die boek van die profete geskryf: ‘Was dit vir Mý dat julle die offers gebring het gedurende die 40 jaar in die woestyn, Israel? Nee! Julle het net oë en ore gehad vir julle afgode: die heiligdom van Molek, en die stergod Refan, die beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal Ek julle as gevangenes ver weg stuur tot anderkant Babilon.’ “Ons voorgeslag het die tabernakel by hulle in die woestyn gehad. Dié tabernakel is gemaak presies volgens die plan wat God aan Moses gewys het. Jare later, toe Josua die gevegte aangevoer het teen die volke wat God uit die land verdryf het, het hulle die tabernakel saamgeneem na hulle nuwe land toe. Daar is dit gebruik tot in die tyd van koning Dawid. “Dawid het God se genade ervaar, en het gevra vir die voorreg om ’n tempel vir die huis van Jakob te bou. Dit was egter Salomo wat die tempel vir God gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in mensgemaakte plekke nie. Soos die profeet dit stel: ‘Die hemel is my troon, en die aarde is my voetbank. Enige tempel wat julle vir My bou, skiet ver tekort,’ sê die Here. ‘Kan julle ’n blyplek vir My bou? ‘Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?’ “Julle hardkoppiges! In julle harte is julle nie-Jode. Julle is doof vir die woord van God! Moet julle alewig die Heilige Gees weerstaan? Maar julle voorouers het dit gedoen, en julle doen dit nou ook! Noem een profeet vir wie julle voorouers nie vervolg het nie! Hulle het selfs dié doodgemaak wat die koms van die Regverdige voorspel het – die Messias wat julle uitgelewer en vermoor het. Júlle het die wet van God nié uitgeleef nie, alhoewel julle dit deur bemiddeling van engele ontvang het.” Die Joodse leiers was woedend oor Stefanus se aanklag, en hulle het hulle woede gewys. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het aanhou opkyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien. Hy het Jesus in die regeerposisie reg langs God sien staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel óóp en die Seun van die Mens in die regeerposisie reg langs God staan!” Toe het hulle hulle ore toegedruk en hom doodgeskreeu. Soos een man het hulle op hom afgestorm. Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ’n jong man met die naam Saulus neergesit. Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy gebid: “Here Jesus, ontvang my gees.” Hy het op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Met hierdie woorde het hy gesterf.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid