Handelinge 7:20-60

Handelinge 7:20-60 ABA

In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was baie mooi. Sy ouers het drie maande lank goed vir hom gesorg. Toe het hulle hom buite neergesit. Die farao se dogter het hom gekry en sy het hom aangeneem en grootgemaak soos haar eie seun. Moses het al die wysheid van die Egiptenaars geleer, hy het geleer om die regte dinge te sê en te doen. “Toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit gaan met sy mense, die Israeliete. Hy sien toe 'n Egiptenaar wat besig was om slegte dinge te doen aan 'n Israeliet. Moses het die Israeliet gehelp, hy het die Egiptenaar gestraf en hy het hom doodgeslaan. Moses het gedink dat die Israeliete sal verstaan dat God hom wil gebruik om hulle te red. Maar hulle het dit nie verstaan nie. Die volgende dag het Moses gekom by twee Israeliete wat baklei. Hy wou hulle help om vrede te maak. Hy sê toe: ‘Vriende, julle altwee is Israeliete. Hoekom baklei julle met mekaar?’ Maar die een wat die probleem begin het, het vir Moses weggestamp en gesê: ‘ Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees? Nou wil jy vir my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het.’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug. Hy het 'n vreemdeling geword in die land Midian. Daar het hy die pa geword van twee seuns. “Daar het 40 jaar verbygegaan. Toe het 'n engel aan Moses verskyn in die woestyn by Sinai-berg. Die engel was in die vlamme van 'n bos wat gebrand het. Moses was verbaas oor wat hy gesien het. Hy het nader gegaan om te kyk wat dit is, en toe hoor hy die stem van die Here wat sê: ‘ Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het begin bewe en hy was te bang om na die bos te kyk. Toe sê die Here vir hom: ‘ Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’ “Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos. Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank wonderwerke en tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn. Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘ God sal 'n profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal 'n profeet wees, soos ek.’ Dit is hý, Móses, wat by ons voorvaders was in die woestyn. Hy het met hulle gepraat wanneer hulle bymekaargekom het. Moses was ook op Sinai-berg by die engel. Daar het die engel met Moses gepraat, en daar het Moses die boodskap gekry wat vir ons die ware lewe gee. Maar ons voorvaders wou nie luister na Moses nie. Hulle wou nie hoor wat hy sê nie, en hulle het verlang na Egipte. Hulle het vir Aäron gesê: ‘ Maak vir ons gode wat vir ons verder kan lei. Want ons weet nie wat met Moses gebeur het nie, Moses wat ons uitgelei het uit Egipte.’ Toe het hulle 'n beeld van 'n kalf gemaak, en hulle het offers gebring vir die afgod. Hulle was baie bly oor die beeld wat hulle met hulle hande gemaak het en hulle het feesgevier. Maar God het hulle gelos, Hy het hulle nie meer gekeer wanneer hulle die sterre wou aanbid nie. Dit is wat geskryf is in die boek van die profete: “ Mense van Israel, het julle vir My brand-offers en ander offers gebring toe julle 40 jaar lank in die woestyn was? Nee, julle het nie! Julle het die tent van Molek saamgeneem en die ster van julle god Refan. Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid. Daarom sal Ek julle wegstuur tot anderkant Babilon. “Ons voorvaders het die tent en die tien gebooie wat daarin was, by hulle in die woestyn gehad. God het vir Moses gesê om die tent te maak. Dit moes dieselfde lyk soos die tent wat God vir Moses gewys het. Ons voorvaders het hierdie tent gekry en hulle het dit in hierdie land ingebring. Dit het gebeur toe Josua die land oorwin en gevat het. God het die volke wat daar woon, weggejaag sodat ons voorvaders daar kon woon. Die tent het in die land gebly tot in die tyd toe Dawid gelewe het. God was goed vir Dawid, en Dawid het vir God gevra of hy vir Hom 'n woonplek kan bou sodat Jakob se nageslag daar vir God kan dien. Maar dit was Dawid se seun Sálomo wat 'n tempel gebou het vir God. Maar God wat in die hoogste hemel woon, woon nie in tempels nie, want dit is mense wat tempels bou. Dit is wat die profeet sê: “Die Here sê: Die hemel is my troon, die aarde is die plek waarop Ek my voete sit. Dink julle dat julle vir Mý 'n huis kan bou waar Ek kan woon? Dit sê die Here. Dink julle dat daar 'n plek is waar Ek moet rus? Ek het alles gemaak met my eie hande. “Julle is hardkoppig! Julle dink in julle hart soos die heidene dink, en julle wil nie luister nie. Julle stry altyd teen die Heilige Gees. Julle doen dieselfde wat julle voorvaders gedoen het. Julle voorvaders het slegte dinge gedoen aan al die profete. Julle voorvaders het die mense doodgemaak wat gesê het dat die Regverdige sal kom. En nou het júlle Hom verraai en vermoor. Julle is die mense wat die wette van God gekry het. God het die engele gebruik om dit vir julle te gee. Maar julle was nie gehoorsaam aan God se wette nie.” Toe die Joodse Raad hierdie dinge hoor, het hulle baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het op hulle tande gebyt, want hulle was baie kwaad vir Stefanus. Maar die Heilige Gees was in Stefanus. Stefanus het reguit opgekyk na die hemel, en hy het gesien dat God Koning is. Hy het ook vir Jesus gesien wat staan op die belangrikste plek langs God. Toe sê Stefanus: “Kyk, ek sien dat die hemel oop is en ek sien die Seun van die mens wat staan op die belangrikste plek langs God.” Maar die Joodse Raad het hard geskree en hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor nie. Hulle het almal saam na Stefanus toe gehardloop en hulle het hom uitgejaag tot buite die stad. Toe het hulle begin om hom met klippe te gooi. En die getuies het hulle bo-klere neergesit by die voete van 'n jongman, sy naam was Saulus. En terwyl die Joodse Raad vir Stefanus met klippe gooi, het Stefanus gebid en gesê: “Here Jesus, neem my gees.” Toe het hy op sy knieë geval en hy het hard geskree: “Here, die mense maak my dood, maar U moenie vir hulle straf oor hierdie sonde nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 7:20-60

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid