Handelinge 7:17-38

Handelinge 7:17-38 AFR20

“Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. “ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het. “Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee.