HANDELINGE 7:17-38
HANDELINGE 7:17-38 Bybel vir almal (ABA)
“Die tyd het gekom dat God sou doen wat Hy vir Abraham belowe het. Die Israeliete het toe al klaar 'n groot volk geword in Egipte, hulle was baie mense. 'n Ander man het later koning geword in Egipte. Hy het nie vir Josef geken nie. Hierdie koning het 'n skelm plan gemaak teen ons volk. Hy het slegte dinge gedoen aan ons voorvaders. Hy het gesê hulle moet hulle babas buite neersit sodat die babas kan sterf. In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was baie mooi. Sy ouers het drie maande lank goed vir hom gesorg. Toe het hulle hom buite neergesit. Die farao se dogter het hom gekry en sy het hom aangeneem en grootgemaak soos haar eie seun. Moses het al die wysheid van die Egiptenaars geleer, hy het geleer om die regte dinge te sê en te doen. “Toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit gaan met sy mense, die Israeliete. Hy sien toe 'n Egiptenaar wat besig was om slegte dinge te doen aan 'n Israeliet. Moses het die Israeliet gehelp, hy het die Egiptenaar gestraf en hy het hom doodgeslaan. Moses het gedink dat die Israeliete sal verstaan dat God hom wil gebruik om hulle te red. Maar hulle het dit nie verstaan nie. Die volgende dag het Moses gekom by twee Israeliete wat baklei. Hy wou hulle help om vrede te maak. Hy sê toe: ‘Vriende, julle altwee is Israeliete. Hoekom baklei julle met mekaar?’ Maar die een wat die probleem begin het, het vir Moses weggestamp en gesê: ‘ Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees? Nou wil jy vir my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het.’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug. Hy het 'n vreemdeling geword in die land Midian. Daar het hy die pa geword van twee seuns. “Daar het 40 jaar verbygegaan. Toe het 'n engel aan Moses verskyn in die woestyn by Sinai-berg. Die engel was in die vlamme van 'n bos wat gebrand het. Moses was verbaas oor wat hy gesien het. Hy het nader gegaan om te kyk wat dit is, en toe hoor hy die stem van die Here wat sê: ‘ Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het begin bewe en hy was te bang om na die bos te kyk. Toe sê die Here vir hom: ‘ Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’ “Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos. Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank wonderwerke en tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn. Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘ God sal 'n profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal 'n profeet wees, soos ek.’ Dit is hý, Móses, wat by ons voorvaders was in die woestyn. Hy het met hulle gepraat wanneer hulle bymekaargekom het. Moses was ook op Sinai-berg by die engel. Daar het die engel met Moses gepraat, en daar het Moses die boodskap gekry wat vir ons die ware lewe gee.
HANDELINGE 7:17-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met 'n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte, totdat daar 'n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie. Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak. En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek; en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as 'n owerste en regter oor ons aangestel? Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie? En Moses het op hierdie woord gevlug en 'n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het. En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur. Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos. Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister. Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
HANDELINGE 7:17-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei. 'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad. “Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore. “Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’ “Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen. Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’ “Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel.
HANDELINGE 7:17-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. “ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het. “Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
HANDELINGE 7:17-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe die tyd van die belofte wat God aan Abraham beloof het, nader kom, het die volk in Egipte gegroei en vermeerder, Totdat 'n ander koning opgestaan het wat Josef nie geken het nie. Hy het listig gehandel met ons familie, en ons vaders kwaad gesmee, sodat hulle hul jong kinders verdryf het, sodat hulle nie sou lewe nie. In watter tyd is Moses gebore en hy was buitengewoon mooi en het drie maande lank in die huis van sy vader onderhou; En toe hy uitgewerp is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom vir haar eie seun versorg. En Moses was geleerd in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en in dade. En toe hy veertig jaar oud was, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek. En toe hy sien dat een van hulle onreg ly, het hy hom verdedig en die verdrukte gewreek en die Egiptenaar verslaan. Want hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand sou red, maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy homself aan hulle geopenbaar terwyl hulle gestry het, en sou hulle weer eensgesind het deur te sê: Menere, julle is broers; waarom maak julle mekaar verkeerd? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom weggestoot en gesê: Wie het jou 'n owerste en regter oor ons aangestel? Sal jy my doodmaak soos jy gister die Egiptenaar gedoen het? Toe het Moses gevlug vir hierdie woord, en hy was 'n vreemdeling in die land Madian, waar hy twee seuns verwek het. En toe veertig jaar verby was, het daar aan hom in die woestyn van die berg Sina verskyn 'n engel van die Here in 'n vuurvlam in 'n doringbos. Toe Moses dit sien, was hy verwonderd oor die gesig; en toe hy nader kom om dit te aanskou, het die stem van die Here tot hom gekom: en gesê: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses gebewe en dit nie durf kyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy staan, is heilige grond. Ek het gesien, ek het die ellende van my volk gesien wat in Egipte is, en ek het hulle gekerm gehoor en afgekom om hulle te red. En kom nou, Ek sal jou na Egipte toe stuur. Hierdie Moses wat hulle verwerp het deur te sê: Wie het jou 'n owerste en 'n regter aangestel? dieselfde het God gestuur om 'n heerser en 'n verlosser te wees deur die hand van die engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Hy het hulle uitgelei nadat Hy wonders en tekens gedoen het in Egipteland en in die Rooi See en in die woestyn veertig jaar lank. Dit is daardie Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: 'n Profeet sal die Here julle God vir julle verwek uit julle broers soos ek; Hom sal julle hoor. Dit is hy wat in die gemeente in die woestyn was saam met die engel wat met hom gespreek het op die berg Sina, en by ons vaders, wat die lewendige woorde ontvang het om aan ons te gee.
HANDELINGE 7:17-38 Die Boodskap (DB)
“Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly. ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het. Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word. “In daardie tyd is Moses gebore. En wat ’n mooi baba was hy nie! Sy pa en ma het hom drie maande lank in hulle huis weggesteek en versorg. Maar uiteindelik moes hulle ook van hom afstand doen. Hulle het hom toe in ’n mandjie in die Nylrivier gaan sit. Gelukkig het die dogter van die farao hom in die Nyl gekry en hom toe soos haar eie seun grootgemaak. Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik. “Toe Moses sowat 40 jaar oud was, het hy op ’n dag besluit om besoek af te lê by sy eie mense, die Israeliete. Daar het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van hulle slaan. Dit het hom so kwaad gemaak dat hy die man op die plek doodgemaak het. Moses het gedink dat sy volksgenote sou besef dat hy aan hulle kant was, maar hy het hom lelik misgis. Die volgende dag toe hy weer daar opdaag, het hy op twee Israeliete afgekom wat met mekaar baklei. Hy het vrede tussen hulle probeer maak. ‘Julle is dan broers. Vir wat slaan julle mekaar so?’ het hy hulle gevra. “Die een wat die bakleiery begin het, het Moses weggestamp en gesê: ‘Jy’s ’n mooi een om te praat! Wie het jou as skeidsregter oor ons aangestel? Jy kom speel hier baas terwyl jy self gister ’n Egiptenaar doodgemaak het. Gaan jy my nou ook doodmaak?’ “Moses het groot geskrik toe hy hoor wat die man sê. Hy het besef dat almal binnekort sou weet wat hy met die Egiptenaar gedoen het. Daarom het hy toe uit Egipte padgegee en as ’n vreemdeling in die land Midian gaan bly. Daar het hy getrou en die pa van twee seuns geword.” “Veertig jaar later, terwyl Moses in die woestyn by die berg Sinai was, het ’n engel van die Here in ’n brandende doringbos aan hom verskyn.Moses kon sy oë nie glo toe hy dit sien nie. Hy het nader gestap om mooi te sien wat aangaan. Toe praat die Here skielik uit die brandende bos: ‘Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Toe Moses dit hoor, het hy geskrik en sy oë styf toegeknyp. Hy was te bang om na God te kyk. Die Here sê toe vir hom: ‘Betoon respek vir My! Trek jou skoene uit, want jy staan op heilige grond. Jy is in die teenwoordigheid van die lewende God! “‘Ek weet van al die lyding wat my mense in Egipte moet verduur. Ek hoor hoe hulle My smeek dat Ek hulle moet bevry. Daarom het Ek besluit om hulle uit daardie land weg te vat. Jy is die man wat dit vir My moet gaan doen. Maak jou gereed! Want Ek wil hê jy moet Egipte toe gaan.’ “Dieselfde Moses wat vroeër deur sy eie mense verwerp is, is nou deur God self as hulle leier en redder aangewys. Dit alles het daar by die brandende doringbos begin waar hy God se stem gehoor het. “Moses het die Israeliete daarna uit Egipte weggelei. In Egipte, by die Rooisee en ook in die woestyn het hy 40 jaar lank die een groot wonderwerk na die ander gedoen. “Dit is hierdie selfde Moses wat op ’n dag vir die Israeliete gesê het: ‘God sal eendag ’n boodskapper net soos ek uit julle midde laat voortkom.’ “Dit is ook Moses wat op die berg Sinai met die engel van die Here gaan praat het.
HANDELINGE 7:17-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Soos die tyd dat God sy belofte aan Abraham sou vervul, nadergekom het, het ons volk in Egipte tot ’n groot getal aangegroei. ’n Nuwe koning, wat niks van Josef geweet het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom. Hierdie koning het ’n slinkse plan teen ons mense beraam en ons voorouers verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat sodat hulle sou sterf. “In dié tyd is Moses gebore, en hy was besonder mooi. Sy ouers het hom drie maande lank tuis versorg. Toe hulle hom uiteindelik buite aan sy lot moes oorlaat, het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het met woord en daad presteer. “Op 40-jarige leeftyd het hy besluit om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Tydens sy besoek het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van die Israeliete aanrand, en hy het die slagoffer gaan help. Tydens sy vergelding het hy die Egiptenaar doodgemaak. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom gestuur het om hulle te verlos, maar hulle het nie. “Toe hy die volgende dag weer daar kom, kry hy twee Israeliete wat baklei. Hy het probeer vrede maak, en sê: ‘Manne, julle is tog volksgenote! Hoekom maak julle mekaar seer?’ “Maar die een wat die oorsaak van die bakleiery was, stamp Moses eenkant toe en sê vir hom om hulle uit te los. ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak? Wil jy my ook vermoor, soos jy gister die Egiptenaar vermoor het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en as uitlander in die land Midian gaan woon. Dáár het hy die pa geword van twee seuns. “’n Engel het 40 jaar later in die woestyn by Sinaiberg in die vlam van ’n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses het dit gesien en gewonder wat aangaan. Toe hy nadergaan om dit te bekyk, kom die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders – die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses was só bang dat hy gebewe het; hy het dit nie gewaag om te kyk nie. “En die Here het vir hom gesê: ‘Trek jou sandale uit, want jy staan op gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek inderdaad gesien. Ek het hulle hulpgeroep gehoor. Hier is Ek nou om hulle te red. Kom, Ek stuur jou nou Egipte toe.’ Só, deur die engel wat in die brandende doringbos aan hom verskyn het, het God juis hóm as leier en redder na die Israeliete toe gestuur, dieselfde Moses vir wie die Israeliete verwerp het en toegesnou het: ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak?’ So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Dit het gepaardgegaan met baie wonders en tekens wat hy oor die verloop van 40 jaar in Egipte, die Rooisee en in die woestyn gedoen het. “Hierdie selfde Moses het vir die volk Israel gesê: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom.’ Dit is dieselfde Moses wat, toe die volk as gemeente daar in die woestyn was, as tussenganger opgetree het tussen ons voorouers en die engel wat op Sinaiberg met hom gepraat het. Hy het lewende woorde ontvang om aan ons oor te dra.