Handelinge 5:1-16

Handelinge 5:1-16 AFR20

'n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira 'n stuk grond verkoop, maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net 'n gedeelte gebring en aan die voete van die •apostels neergelê. •Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het? Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het. Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe. Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus het vir haar gevra: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” En sy het geantwoord: “Ja, vir soveel.” Daarop sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.” Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe. En groot vrees het die hele •gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval. Deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. Hulle was almal eensgesind bymekaar in die Pilaargang van Salomo. Van die res van die volk het niemand dit egter gewaag om by die gelowiges aan te sluit nie, alhoewel die volk hoë agting vir hulle gehad het. Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg – 'n menigte mans en vroue. Die gevolg was dat die mense die siekes op die strate bly uitdra en op bedmatjies en slaapmatte neergelê het, sodat wanneer Petrus verbykom, selfs net sy skaduwee op een van hulle kon val. Ook uit die dorpe in die omgewing van Jerusalem het skares saamgestroom en hulle siekes en mense wat deur •onrein geeste geteister is, gebring, en hulle is almal genees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid