HANDELINGE 5:1-16

HANDELINGE 5:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira 'n stuk grond verkoop, maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net 'n gedeelte gebring en aan die voete van die •apostels neergelê. •Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het? Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het. Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe. Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus het vir haar gevra: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” En sy het geantwoord: “Ja, vir soveel.” Daarop sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.” Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe. En groot vrees het die hele •gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval. Deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. Hulle was almal eensgesind bymekaar in die Pilaargang van Salomo. Van die res van die volk het niemand dit egter gewaag om by die gelowiges aan te sluit nie, alhoewel die volk hoë agting vir hulle gehad het. Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg – 'n menigte mans en vroue. Die gevolg was dat die mense die siekes op die strate bly uitdra en op bedmatjies en slaapmatte neergelê het, sodat wanneer Petrus verbykom, selfs net sy skaduwee op een van hulle kon val. Ook uit die dorpe in die omgewing van Jerusalem het skares saamgestroom en hulle siekes en mense wat deur •onrein geeste geteister is, gebring, en hulle is almal genees.

HANDELINGE 5:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar was egter ook ’n sekere man, Ananias, wat saam met sy vrou, Saffira, ’n eiendom verkoop het. Hy het met die medewete van sy vrou van die verkoopprys vir hulleself gehou en net ’n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. Petrus sê toe: “Ananias, hoekom het jy jou deur Satan laat omhaal? Jy het vir die Heilige Gees gelieg toe jy ’n deel van die geld teruggehou het. Die grond was joune om te verkoop of nie. En selfs ná jy dit verkoop het, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Hoe kon jy so iets doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” Toe Ananias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterf. Almal wat hiervan gehoor het, het groot geskrik. ’n Paar jong mans het hom toegedraai en gaan begrawe. Omtrent drie ure later het sy vrou ingekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus vra haar toe: “Het julle die grond vir hierdie bedrag verkoop?” “Ja,” het sy geantwoord, “dit was die bedrag.” Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle twee saamgesweer om die Gees van die Here te toets? Net hier buite die deur is die jong mans wat jou man begrawe het, en hulle gaan jou ook uitdra.” Onmiddellik het sy by sy voete neergeval en gesterf. Toe die jong mans inkom en sien sy is dood, het hulle haar by haar man gaan begrawe. Die hele gemeente het groot geskrik en al die ander wat hiervan gehoor het, het net so geskrik. Die apostels het baie tekens en wonders onder die volk gedoen. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in dié deel van die tempel wat as die Pilaargang van Salomo bekend staan. Niemand anders het dit sommer gewaag om by hulle aan te sluit nie, al het almal hoë agting vir hulle gehad. Al meer mense het in die Here geglo, groot getalle mans en vroue. Mense het selfs siekes op draagbare en bedmatjies in die straat uitgedra sodat wanneer Petrus verbyloop, sy skaduwee dalk op party van hulle kon val. Skares mense het van die dorpe rondom Jerusalem af gekom en siekes en mense gebring wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

HANDELINGE 5:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man, sy naam was Ananias. Sy vrou se naam was Saffira. Hulle het ook 'n stuk grond verkoop. Ananias het 'n deel van die geld vir homself gehou. Sy vrou het geweet dat hy die geld gehou het. Toe het Ananias die geld gebring wat oorgebly het en hy het dit vir die apostels gegee. Petrus het vir hom gesê: “Ananias, hoekom het jy geluister na die Satan? Hoekom het jy gesê hy mag oor jou hart regeer? Hoekom het jy vir die Heilige Gees gelieg? Want jy het gemaak of jy al die geld bring, maar jy het 'n deel van die geld vir jouself gehou. Die grond was altyd jou grond. En nadat jy dit verkoop het, kon jy met die geld maak wat jy wou. Hoekom het jy besluit om hierdie verkeerde ding te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, jy het vir Gód gelieg.” Toe Ananias dit hoor, het hy gesterf en op die grond geval. En almal wat hiervan gehoor het, het baie bang geword. Die jongmanne het toe gekom, hulle het hom toegedraai en hom uitgedra en gaan begrawe. Ná omtrent drie uur het Ananias se vrou daar aangekom. Sy het nie geweet wat gebeur het nie. Petrus sê toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond verkoop vir soveel geld soos Ananias gesê het?” Sy sê toe: “Ja, dit is hoeveel geld ons gekry het.” Petrus het vir haar gesê: “Hoekom het jy en jou man saam besluit om die Gees van die Here te toets? Kyk, die jongmanne wat jou man begrawe het, staan hier by die deur en hulle sal jou ook uitdra.” Sy het dadelik gesterf en sy het by Petrus se voete op die grond geval. Toe die jongmanne inkom en sien dat sy dood is, het hulle haar uitgedra en hulle het haar by haar man begrawe. Die hele gemeente en almal wat dit gehoor het, het baie bang geword. Die Here het die apostels baie tekens en wonderwerke laat doen by die mense. En al die gelowiges het baie maal bymekaargekom in die Pilaargang van Salomo. Die ander mense was 'n bietjie bang om saam met die gelowiges te aanbid. Maar hulle het die gelowiges gerespekteer. Later het die Here meer en meer mense laat kom om saam met die gemeente te aanbid, mense wat in Hom glo. Daar was baie mans en vroue. Die mense van Jerusalem het die siek mense uitgedra tot buite in die strate. Daar het hulle die siek mense neergesit op slaapmatte en beddens. Hulle het gehoop dat Petrus sal verbykom en dat sy skaduwee op een van die siek mense sal val. Baie mense het ook van die stede rondom Jerusalem gekom. Hulle het hulle siek mense gebring en ook die mense wat onrein geeste in hulle gehad het, en die Here het hulle almal gesond gemaak.

HANDELINGE 5:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra 'n eiendom verkoop, en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en 'n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. En 'n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het. En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.

HANDELINGE 5:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar daar was ook 'n sekere man, Ananias, en sy vrou, Saffira, wat 'n eiendom verkoop het. Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys vir hulleself agtergehou en net 'n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. Petrus sê toe vir hom: “Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou? Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.” Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword. 'n Paar van die jonges het nader gekom, hom toegedraai en gaan begrawe. Omtrent drie uur later het sy vrou daar aangekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus vra toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?” “Ja,” sê sy, “vir soveel.” Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.” Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die jongmanne het ingekom, gesien sy is dood, en haar by haar man gaan begrawe. Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword. Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val. Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

HANDELINGE 5:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar 'n sekere man met die naam van Ananias het saam met sy vrou Saffira 'n besitting verkoop, En hy het 'n deel van die prys teruggehou, terwyl sy vrou ook daarvan kennis geneem het, en 'n sekere deel gebring en dit aan die voete van die apostels neergelê. Maar Petrus sê: Ananias, waarom het Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en 'n deel van die grondprys terug te hou? Terwyl dit oorgebly het, was dit nie joune nie? en nadat dit verkoop is, was dit nie in u eie krag nie? waarom het jy hierdie ding in jou hart beraam? jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. Toe Ananias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en die gees opgegee, en groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. En die jongmanne het opgestaan, hom opgewikkel en uitgedra en hom begrawe. En dit was omtrent drie uur daarna, toe sy vrou, wat nie geweet het wat gebeur het, ingekom het nie. En Petrus antwoord haar: Vertel my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. Toe sê Petrus vir haar: Hoe het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur en sal jou uitdra. Toe val sy dadelik voor sy voete neer en gee die gees op; en die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en haar by haar man begrawe. En groot vrees het oor die hele gemeente gekom, en oor almal wat hierdie dinge gehoor het. En deur die hande van die apostels is baie tekens en wonders onder die volk gedoen; (en hulle was almal eendragtig in Salomo se voorportaal. En van die ander het niemand vermag om hom by hulle aan te sluit nie, maar die volk het hulle groot gemaak. En gelowiges is des te meer by die Here bygevoeg, menigtes van mans sowel as vroue.) Sodat hulle die siekes op die strate uitgebring en op beddens en rusbanke neergelê het, sodat ten minste die skaduwee van Petrus wat verbygaan, sommige van hulle kan oorskadu. Daar het ook 'n menigte uit die stede rondom na Jerusalem gekom en siekes en die wat deur onrein geeste geplaag was, gebring, en almal is genees.

HANDELINGE 5:1-16 Die Boodskap (DB)

Ananias en Saffira, ’n egpaar in die gemeente, het ook ’n stuk grond verkoop. Ananias het ’n deel van die wins in sy sak gesteek en die res vir die apostels gevat. Hy het gemaak asof hy al die geld aan hulle gegee het. Sy vrou, Saffira, het ook geweet van sy skelmstreek. Petrus het egter dwarsdeur hom gesien. “Hoekom het jy toegelaat dat Satan ’n houvas op jou kry?” het hy vir Ananias gevra. “Jy het vir die Heilige Gees gelieg deur ’n deel van die geld vir jouself te hou terwyl jy gemaak het asof jy alles aan ons kom gee het. Dit is tog jou grond. Toe jy dit verkoop het, kon jy met die wins gemaak het net wat jy wou. Hoekom was jy so skelm? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God self.” Na Petrus hierdie woorde gesê het, het Ananias daar op die plek dood inmekaargesak. ’n Klomp jongmans het hom kom toedraai en weggedra om begrawe te word. Hierdie nuus het gou onder die mense versprei. Hulle het toe baie bang geword vir God. Sowat drie ure later het Saffira daar opgedaag, salig onbewus van wat met haar man gebeur het. Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.” Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.” Net daar het Saffira reg voor Petrus inmekaargesak. Sy was op die plek dood. Die jongmans het haar uitgedra en by haar man gaan begrawe. Hierdie gebeurtenis het die hele gemeente met groot ontsag vir God vervul. Ander mense buite die gemeente wat daarvan gehoor het, het ook baie bang geword vir Hom. Die apostels het intussen voortgegaan om die een groot wonderwerk na die ander te doen. Die gemeente het gereeld by die Pilaargang van Salomo in die tempel bymekaargekom. Ander mense het raakgesien dat hulle baie vir mekaar omgee en dat hulle groot eerbied vir God het. Dit het hulle baie beïndruk. Tog was die ander mense bang om daar by die tempel by hulle aan te sluit. Hulle was bang vir die reaksie van die godsdienstige leiers. Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap.Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid