Handelinge 5:1-16

Handelinge 5:1-16 ABA

Daar was 'n man, sy naam was Ananias. Sy vrou se naam was Saffira. Hulle het ook 'n stuk grond verkoop. Ananias het 'n deel van die geld vir homself gehou. Sy vrou het geweet dat hy die geld gehou het. Toe het Ananias die geld gebring wat oorgebly het en hy het dit vir die apostels gegee. Petrus het vir hom gesê: “Ananias, hoekom het jy geluister na die Satan? Hoekom het jy gesê hy mag oor jou hart regeer? Hoekom het jy vir die Heilige Gees gelieg? Want jy het gemaak of jy al die geld bring, maar jy het 'n deel van die geld vir jouself gehou. Die grond was altyd jou grond. En nadat jy dit verkoop het, kon jy met die geld maak wat jy wou. Hoekom het jy besluit om hierdie verkeerde ding te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, jy het vir Gód gelieg.” Toe Ananias dit hoor, het hy gesterf en op die grond geval. En almal wat hiervan gehoor het, het baie bang geword. Die jongmanne het toe gekom, hulle het hom toegedraai en hom uitgedra en gaan begrawe. Ná omtrent drie uur het Ananias se vrou daar aangekom. Sy het nie geweet wat gebeur het nie. Petrus sê toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond verkoop vir soveel geld soos Ananias gesê het?” Sy sê toe: “Ja, dit is hoeveel geld ons gekry het.” Petrus het vir haar gesê: “Hoekom het jy en jou man saam besluit om die Gees van die Here te toets? Kyk, die jongmanne wat jou man begrawe het, staan hier by die deur en hulle sal jou ook uitdra.” Sy het dadelik gesterf en sy het by Petrus se voete op die grond geval. Toe die jongmanne inkom en sien dat sy dood is, het hulle haar uitgedra en hulle het haar by haar man begrawe. Die hele gemeente en almal wat dit gehoor het, het baie bang geword. Die Here het die apostels baie tekens en wonderwerke laat doen by die mense. En al die gelowiges het baie maal bymekaargekom in die Pilaargang van Salomo. Die ander mense was 'n bietjie bang om saam met die gelowiges te aanbid. Maar hulle het die gelowiges gerespekteer. Later het die Here meer en meer mense laat kom om saam met die gemeente te aanbid, mense wat in Hom glo. Daar was baie mans en vroue. Die mense van Jerusalem het die siek mense uitgedra tot buite in die strate. Daar het hulle die siek mense neergesit op slaapmatte en beddens. Hulle het gehoop dat Petrus sal verbykom en dat sy skaduwee op een van die siek mense sal val. Baie mense het ook van die stede rondom Jerusalem gekom. Hulle het hulle siek mense gebring en ook die mense wat onrein geeste in hulle gehad het, en die Here het hulle almal gesond gemaak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid