Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê: “Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig. ”
Teen dagbreek het die Jode 'n komplot gesmee, en hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. Daar was meer as veertig mense wat aan hierdie sameswering deelgeneem het. Hulle het na die leierpriesters en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het 'n eed gesweer om niks te eet totdat ons Paulus doodgemaak het nie. Rig júlle nou, saam met die Sanhedrin, 'n versoek aan die chiliarg om Paulus na julle te bring onder die voorwendsel dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is gereed om hom om die lewe te bring nog voor hy hier aankom.”
Die seun van Paulus se suster het egter van die hinderlaag gehoor. Hy het na die kwartiere gegaan, toegang verkry en vir Paulus daarvan vertel. Paulus het een van die centurio's laat roep en gesê: “Neem hierdie jong man na die chiliarg, want hy het iets om hom te vertel.” Hy het hom toe saamgeneem, na die chiliarg gebring en gesê: “Die gevangene, Paulus, het my laat roep en gevra om hierdie jong man na u te bring, omdat hy iets het om aan u mee te deel.” Die chiliarg het hom aan die hand gevat, eenkant toe geneem en gevra: “Wat is dit wat jy my wil vertel?” Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te versoek dat u Paulus môre na die Sanhedrin moet laat bring onder die voorwendsel dat hulle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Moet u nie deur hulle laat oortuig nie, want meer as veertig van hulle manne gaan hom voorlê in 'n hinderlaag. Hulle het hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle hom om die lewe gebring het nie. Hulle staan reeds gereed, en wag net op u instemming.” Die chiliarg het die jong man toe laat gaan, nadat hy hom beveel het: “Moet niemand vertel dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.”
Daarna het hy twee van sy centurio's laat roep en gesê: “Kry tweehonderd soldate gereed, saam met sewentig perderuiters en tweehonderd spiesvegters, sodat hulle teen die derde uur van die nag na Caesarea kan gaan. En sorg dat rydiere beskikbaar is, sodat hulle Paulus daarop kan vervoer en veilig na die prokurator Feliks kan bring.” Toe skryf hy 'n brief met die volgende inhoud:
“Claudius Lisias
aan die hooggeagte prokurator Feliks:
Gegroet!
“Hierdie man is deur die Jode gegryp, en hulle was op die punt om hom dood te maak, toe ek en my soldate daarop afgekom en hom gered het, omdat ek verneem het dat hy 'n Romeinse burger is. Aangesien ek die rede wou vasstel waarom hulle hom beskuldig het, het ek hom na hulle Sanhedrin gebring en vasgestel dat hy beskuldig word op grond van twispunte oor hulle wet, maar dat die aanklag teen hom niks inhou wat die dood of gevangenskap verdien nie. En toe ek meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee word, het ek hom dadelik na u gestuur. Ek het ook sy aanklaers beveel om hulle saak teen hom aan u voor te lê. ”
Die soldate het Paulus toe saamgeneem soos hulle beveel is, en hom gedurende die nag na Antipatris gebring. Die volgende dag het hulle die perderuiters met hom laat saamgaan, en toe na die kwartiere teruggekeer. Toe hulle in Caesarea aankom, het hulle die brief aan die prokurator oorhandig en Paulus voor hom laat verskyn. Nadat Feliks die brief gelees het, het hy Paulus gevra uit watter provinsie hy afkomstig is, en toe hy verneem dat hy uit Silisië is, het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers opdaag.” Hy het toe beveel dat Paulus in Herodes se pretorium bewaak word.