HANDELINGE 23:11-35

HANDELINGE 23:11-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.” Die volgende dag het die Jode 'n komplot teen Paulus gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Daar was meer as veertig mense wat so saamgesweer het. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: “Ons het 'n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.” Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel. Toe laat Paulus een van die kapteins roep en sê vir hom: “Vat hierdie jongman asseblief na die kommandant toe, want hy het 'n boodskap vir hom.” Hy vat hom toe na die kommandant toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my laat roep en my gevra om hierdie jongman na u toe te bring. Hy het iets om vir u te sê.” Die kommandant vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant en vra vir hom: “Wat is dit wat jy my wil vertel?” Hy het geantwoord: “Die Jode het saamgesweer om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, sogenaamd om sy saak noukeuriger te ondersoek. U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.” Die kommandant sê toe vir hom: “Moet vir niemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het hom toe laat gaan. Die kommandant het toe twee kapteins geroep en hulle beveel: “Maak twee honderd soldate, sewentig perderuiters en twee honderd spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand na Sesarea toe te vertrek. Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.” Toe skrywe hy 'n brief met die volgende inhoud: “Van Claudius Lisias. “Aan die hooggeagte goewerneur Feliks. “Groete. “Die Jode het hierdie man gevang en hulle het op die punt gestaan om hom dood te maak toe ek met my soldate ingegryp en hom gered het, omdat ek te wete gekom het dat hy 'n Romeinse burger is. Omdat ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, het ek hom voor hulle Raad gebring. Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie. Toe aan my meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee is, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Vir sy aanklaers het ek gesê om hulle klagte aan u voor te lê.” Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan en self teruggekeer kaserne toe. Die ruitery het in Sesarea aangekom, die brief aan die goewerneur afgelewer en Paulus aan hom oorhandig. Hy het die brief gelees en vir Paulus gevra van watter provinsie hy afkomstig is. Toe hy hoor dat hy van Silisië af kom, het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom.” Daarna het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes bewaak moet word.

HANDELINGE 23:11-35 Bybel vir almal (ABA)

Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en Hy het vir Paulus gesê: “Jy moenie moedeloos word nie! Jy het nou vir die mense in Jerusalem van My vertel. So moet jy ook vir die mense in Rome van My gaan vertel.” Daardie oggend het die Jode 'n geheime plan gemaak om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê: “God is ons getuie en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het!” Dit was meer as 40 mense wat daardie geheime plan gemaak het. Hulle het na die priesterleiers en die ouderlinge gegaan en vir hulle gesê: “Ons het gesê God moet ons getuie wees en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het. Daarom moet julle en die Joodse Raad vir die hoof-offisier 'n boodskap stuur en sê hy moet vir Paulus na julle toe bring. Julle moet lieg en sê dat julle vir Paulus nog baie meer vrae wil vra om seker te maak of hy verkeerd gedoen het. Ons is gereed, ons sal vir Paulus doodmaak voordat hy by julle is.” Maar die seun van Paulus se suster het gehoor dat die mans langs die pad wil wegkruip en dat hulle dan vir Paulus wil doodmaak. Daarom het hy na die soldate-kamp gegaan, en hy het vir Paulus gaan sê wat die mans wil doen. Toe het Paulus een van die offisiere geroep en hy het vir die offisier gesê: “Jy moet hierdie jongman na die hoof-offisier neem, want hy wil iets vir die hoof-offisier vertel.” Die offisier het toe die jongman geneem en hy het hom na die hoof-offisier gebring. En die offisier het vir die hoof-offisier gesê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en hy het vir my gevra om hierdie jongman na jou toe te bring, want die jongman wil iets vir jou vertel.” Die hoof-offisier het die jongman se hand geneem en hy het hom 'n entjie verder weggeneem sodat hulle alleen kon wees. Hy het toe vir die jongman gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil vertel?” Die jongman het geantwoord: “Die Jode het bymekaargekom en hulle het 'n geheime plan gemaak. Hulle sal vir jou vra om vir Paulus môre na die Joodse Raad te neem. Hulle sal lieg en sê hulle wil vir Paulus nog meer vrae vra om seker te maak of hy verkeerd gedoen het. Maar jy moenie doen wat hulle vra nie. Meer as 40 manne lê en wag om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê God moet hulle getuie wees en Hy moet hulle straf as hulle iets eet of drink voordat hulle vir Paulus doodgemaak het. Daardie mans is nou gereed om dit te doen, hulle wag nou dat jy vir Paulus na die Joodse Raad laat gaan.” Die hoof-offisier het vir die jongman gesê dat hy mag teruggaan huis toe. Hy het ook vir hom gesê: “Jy moenie vir iemand sê dat jy al hierdie dinge vir my vertel het nie!” Toe roep die hoof-offisier twee offisiere en hy sê vir hulle: “Julle moet vir 200 soldate sê hulle moet gereedmaak sodat julle vanaand nege-uur na die stad Sesarea kan gaan. Daar moet ook 70 soldate saamgaan wat op perde ry en 200 soldate wat met spiese veg. Julle moet ook perde saamneem sodat Paulus op hulle kan ry en julle moet hom veilig neem tot by goewerneur Feliks.” En die hoof-offisier het 'n brief vir Feliks geskryf. Hy het geskryf: Ek, Claudius Lisias, skryf hierdie brief vir jou, geagte goewerneur Feliks. Ek stuur groete! Die Jode het hierdie man gevang en hulle wou hom doodmaak. Maar ek het gehoor dat hy 'n Romeinse burger is, en daarom het ek met soldate gegaan en ons het hom gaan red. Ek wou uitvind hoekom die Jode hom beskuldig het. Daarom het ek hom na die Joodse Raad gestuur. Ek het uitgevind hulle beskuldig hom dat hy nie doen wat die Joodse wette sê nie. Dit is dinge waaroor die Jode baie stry. Maar hy het niks gedoen waaroor 'n mens hom moet doodmaak of in die tronk moet gooi nie. Iemand het vir my kom sê dat die Jode 'n geheime plan gemaak het teen hom. Daarom het ek hom dadelik na jou toe gestuur. En ek het vir die Jode wat hom beskuldig, gesê hulle moet na jou toe gaan en hulle moet sê wat hy verkeerd gedoen het. Die soldate het toe gedoen wat die hoof-offisier vir hulle gesê het. Toe dit nag was, het hulle vir Paulus na die stad Antipatris geneem. Die volgende dag het hulle die soldate wat op perde gery het, verder saam met Paulus laat gaan, en die ander soldate het teruggegaan na Jerusalem, na die soldate-kamp toe. Toe die soldate wat op perde gery het, in Sesarea kom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en hulle het vir Paulus voor die goewerneur laat staan. Die goewerneur het die brief gelees en hy het vir Paulus gevra van watter provinsie hy kom. Toe die goewerneur hoor dat Paulus van die provinsie Silisië kom, het hy vir Paulus gesê: “Ek sal wag totdat die Jode kom wat jou beskuldig, dan sal ek luister na wat hulle sê en wat jy sê, en dan sal ek besluit of jy verkeerd gedoen het.” En hy het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus toesluit in die paleis wat Herodes gebou het.

HANDELINGE 23:11-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig. EN toe dit dag geword het, het sommige van die Jode saamgespan en hulleself vervloek deur te sê dat hulle nie sou eet of drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. En daar was meer as veertig wat hierdie sameswering gemaak het. Hulle het na die owerpriesters en die ouderlinge gegaan en gesê: Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie. Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen. En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom. Maar die seun van Paulus se suster het van die hinderlaag gehoor, en hy het gekom en in die kamp gegaan en dit aan Paulus vertel. En Paulus het een van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Bring hierdie jongman by die owerste oor duisend, want hy het iets om aan hom te vertel. Daarop neem hy hom saam en bring hom by die owerste oor duisend en sê: Die gevangene, Paulus, het my na hom geroep en versoek om hierdie jongman na u te bring, omdat hy iets het om aan u te sê. Daarop vat die owerste oor duisend hom by die hand en gaan eenkant toe en vra: Wat het jy om aan my te vertel? En hy sê: Die Jode het ooreengekom om u te versoek om Paulus môre af te bring na die Raad asof hulle iets noukeurigers omtrent hom wil verneem. Laat u dan nie deur hulle oorhaal nie, want meer as veertig man van hulle lê hom voor wat hulleself vervloek het om nie te eet of te drink totdat hulle hom omgebring het nie. En nou is hulle gereed en wag op u toestemming. En die owerste oor duisend het die jongman laat gaan en hom bevel gegee: Vertel aan niemand dat jy dit aan my bekend gemaak het nie. En hy het twee van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Hou tweehonderd soldate gereed om na Cesaréa te gaan, en sewentig ruiters en tweehonderd lig gewapende manne, teen die derde uur van die nag. En sorg vir pakdiere, dat hulle Paulus daarop kan sit en veilig na Felix, die goewerneur, oorbring. En hy het 'n brief geskrywe met ongeveer hierdie inhoud: Claudius Lísias aan die hoogedele goewerneur Felix: Groete! Toe hierdie man wat deur die Jode gevang is, op die punt gestaan het om deur hulle omgebring te word, het ek met die soldate bygekom en hom gered, omdat ek verneem het dat hy 'n Romein is. Maar omdat ek te wete wou kom wat die oorsaak was waarom hulle hom beskuldig, het ek hom na hulle Raad afgebring en uitgevind dat hy beskuldig word oor twisvrae van hulle wet, maar dat hy nie aangeklaag word van iets wat die dood of boeie verdien nie. En omdat aan my meegedeel is dat daar deur die Jode 'n komplot teen die man sou gesmee word, het ek hom meteens na u gestuur en ook sy beskuldigers gelas om wat hulle teen hom het, voor u te sê. Vaarwel! En die soldate het Paulus geneem soos hulle beveel is, en hom in die nag na Antípatris gebring. En die volgende dag het hulle die ruiters met hom verder laat gaan en self na die kamp teruggekeer. En dié het in Cesaréa gekom en die brief aan die goewerneur afgegee en ook Paulus voor hom gestel. En die goewerneur het die brief gelees en gevra uit watter provinsie hy was; en toe hy verneem dat hy uit Cilícië was, sê hy: Ek sal jou in verhoor neem wanneer jou beskuldigers ook aangekom het. Toe gee hy bevel dat hy in die paleis van Herodes bewaak moes word.

HANDELINGE 23:11-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.” Die volgende dag het die Jode 'n komplot teen Paulus gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Daar was meer as veertig mense wat so saamgesweer het. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: “Ons het 'n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.” Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel. Toe laat Paulus een van die kapteins roep en sê vir hom: “Vat hierdie jongman asseblief na die kommandant toe, want hy het 'n boodskap vir hom.” Hy vat hom toe na die kommandant toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my laat roep en my gevra om hierdie jongman na u toe te bring. Hy het iets om vir u te sê.” Die kommandant vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant en vra vir hom: “Wat is dit wat jy my wil vertel?” Hy het geantwoord: “Die Jode het saamgesweer om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, sogenaamd om sy saak noukeuriger te ondersoek. U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.” Die kommandant sê toe vir hom: “Moet vir niemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het hom toe laat gaan. Die kommandant het toe twee kapteins geroep en hulle beveel: “Maak twee honderd soldate, sewentig perderuiters en twee honderd spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand na Sesarea toe te vertrek. Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.” Toe skrywe hy 'n brief met die volgende inhoud: “Van Claudius Lisias. “Aan die hooggeagte goewerneur Feliks. “Groete. “Die Jode het hierdie man gevang en hulle het op die punt gestaan om hom dood te maak toe ek met my soldate ingegryp en hom gered het, omdat ek te wete gekom het dat hy 'n Romeinse burger is. Omdat ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, het ek hom voor hulle Raad gebring. Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie. Toe aan my meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee is, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Vir sy aanklaers het ek gesê om hulle klagte aan u voor te lê.” Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan en self teruggekeer kaserne toe. Die ruitery het in Sesarea aangekom, die brief aan die goewerneur afgelewer en Paulus aan hom oorhandig. Hy het die brief gelees en vir Paulus gevra van watter provinsie hy afkomstig is. Toe hy hoor dat hy van Silisië af kom, het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom.” Daarna het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes bewaak moet word.

HANDELINGE 23:11-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê: “Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig. ” Teen dagbreek het die Jode 'n komplot gesmee, en hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. Daar was meer as veertig mense wat aan hierdie sameswering deelgeneem het. Hulle het na die leierpriesters en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het 'n eed gesweer om niks te eet totdat ons Paulus doodgemaak het nie. Rig júlle nou, saam met die Sanhedrin, 'n versoek aan die chiliarg om Paulus na julle te bring onder die voorwendsel dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is gereed om hom om die lewe te bring nog voor hy hier aankom.” Die seun van Paulus se suster het egter van die hinderlaag gehoor. Hy het na die kwartiere gegaan, toegang verkry en vir Paulus daarvan vertel. Paulus het een van die centurio's laat roep en gesê: “Neem hierdie jong man na die chiliarg, want hy het iets om hom te vertel.” Hy het hom toe saamgeneem, na die chiliarg gebring en gesê: “Die gevangene, Paulus, het my laat roep en gevra om hierdie jong man na u te bring, omdat hy iets het om aan u mee te deel.” Die chiliarg het hom aan die hand gevat, eenkant toe geneem en gevra: “Wat is dit wat jy my wil vertel?” Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te versoek dat u Paulus môre na die Sanhedrin moet laat bring onder die voorwendsel dat hulle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Moet u nie deur hulle laat oortuig nie, want meer as veertig van hulle manne gaan hom voorlê in 'n hinderlaag. Hulle het hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle hom om die lewe gebring het nie. Hulle staan reeds gereed, en wag net op u instemming.” Die chiliarg het die jong man toe laat gaan, nadat hy hom beveel het: “Moet niemand vertel dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.” Daarna het hy twee van sy centurio's laat roep en gesê: “Kry tweehonderd soldate gereed, saam met sewentig perderuiters en tweehonderd spiesvegters, sodat hulle teen die derde uur van die nag na Caesarea kan gaan. En sorg dat rydiere beskikbaar is, sodat hulle Paulus daarop kan vervoer en veilig na die prokurator Feliks kan bring.” Toe skryf hy 'n brief met die volgende inhoud: “Claudius Lisias aan die hooggeagte prokurator Feliks: Gegroet! “Hierdie man is deur die Jode gegryp, en hulle was op die punt om hom dood te maak, toe ek en my soldate daarop afgekom en hom gered het, omdat ek verneem het dat hy 'n Romeinse burger is. Aangesien ek die rede wou vasstel waarom hulle hom beskuldig het, het ek hom na hulle Sanhedrin gebring en vasgestel dat hy beskuldig word op grond van twispunte oor hulle wet, maar dat die aanklag teen hom niks inhou wat die dood of gevangenskap verdien nie. En toe ek meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee word, het ek hom dadelik na u gestuur. Ek het ook sy aanklaers beveel om hulle saak teen hom aan u voor te lê. ” Die soldate het Paulus toe saamgeneem soos hulle beveel is, en hom gedurende die nag na Antipatris gebring. Die volgende dag het hulle die perderuiters met hom laat saamgaan, en toe na die kwartiere teruggekeer. Toe hulle in Caesarea aankom, het hulle die brief aan die prokurator oorhandig en Paulus voor hom laat verskyn. Nadat Feliks die brief gelees het, het hy Paulus gevra uit watter provinsie hy afkomstig is, en toe hy verneem dat hy uit Silisië is, het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers opdaag.” Hy het toe beveel dat Paulus in Herodes se pretorium bewaak word.

HANDELINGE 23:11-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy in Jerusalem van My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig. En toe dit dag geword het, het sommige van die Jode saamgespan en hulleself onder 'n vloek verbind en gesê dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie. En hulle was meer as veertig wat hierdie sameswering gemaak het. En hulle het by die owerpriesters en die ouderlinge gekom en gesê: Ons het onsself onder 'n groot vloek gebind, dat ons niks sal eet voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Julle dan nou saam met die Raad beduie aan die owerste owerste dat hy hom môre na julle afbring, asof julle iets volmaakter aangaande hom wil vra; en ons, of hy ooit nader kom, is gereed om hom dood te maak. En toe die seun van Paulus se suster hoor dat hulle loer, het hy gegaan en in die kasteel ingegaan en dit aan Paulus vertel. Toe roep Paulus een van die hoofman oor honderd na hom en sê: Bring hierdie jongman na die owerste owerste, want hy het iets om hom te sê. Hy het hom toe geneem en na die owerste owerste gebring en gesê: Die gevangene Paulus het my na hom geroep en my gebid om hierdie jongman na jou toe te bring wat iets het om vir jou te sê. Daarop gryp die owerste oor duisend hom aan die hand en gaan alleen saam met hom opsy en vra hom: Wat het jy om my te sê? En hy sê: Die Jode het ooreengekom om jou te begeer dat jy Paulus môre in die Raad sou afbring, asof hulle hom nog beter sou raadpleeg. Maar jy gee nie aan hulle oor nie, want meer as veertig man van hulle lê en wag vir hom wat hulleself met 'n eed verbind het dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie; en nou is hulle gereed en kyk na 'n belofte van jou. Toe het die owerste oor duisend die jongman laat vertrek en hom bevel gegee: Pas op dat jy aan niemand vertel dat jy hierdie dinge aan my te kenne gegee het nie. En hy het twee honderdmanne na hom geroep en gesê: Maak twee honderd soldate gereed om na Cesaréa te gaan, en ruiters sestig en tien en tweehonderd spiesmanne, teen die derde uur van die nag; En voorsien vir hulle diere, dat hulle Paulus kan aansit en hom veilig na Felix, die goewerneur, kan bring. En hy het 'n brief op hierdie manier geskryf: Claudius Lisias stuur 'n groet aan die voortreflikste goewerneur Felix. Hierdie man is van die Jode geneem en moes deur hulle doodgemaak word; toe het ek met 'n leër gekom en hom gered, omdat ek verstaan het dat hy 'n Romein was. En toe ek die oorsaak geweet het waarom hulle hom beskuldig het, het ek hom na hulle raad gebring. Wie ek gesien het dat hy beskuldig word van vrae van hulle wet, maar dat hy niks opgelê is wat die dood of boeie verdien nie. En toe daar aan my meegedeel is dat die Jode die man gewag het, het ek dadelik na jou gestuur en sy aanklaers bevel gegee om ook voor jou te sê wat hulle teen hom het. Vaarwel. Toe het die soldate, soos hulle beveel is, Paulus geneem en hom in die nag na Antipatris gebring. Die volgende dag het hulle die perderuiters verlaat om saam met hom te gaan en na die kasteel teruggekeer. Toe hulle in Cesaréa kom en die brief aan die goewerneur oorhandig het, het hulle Paulus ook voor hom gestel. En toe die goewerneur die brief gelees het, het hy gevra van watter provinsie hy was. En toe hy verstaan dat hy van Cilicië was; Ek sal na jou luister, sê hy, wanneer jou beskuldigers ook kom. En hy het beveel dat hy in Herodes se regslokaal bewaar moes word.

HANDELINGE 23:11-35 Die Boodskap (DB)

Daardie nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie moedeloos word nie. Jy was ’n goeie getuie vir My hier in Jerusalem. Jy sal dit ook nog in Rome doen.” Die volgende oggend het ’n sekere groepie Jode besluit om Paulus dood te maak. So vasbeslote was hulle om dit te doen dat hulle ’n belofte voor God afgelê het dat hulle niks sou eet of drink voordat Paulus dood was nie. Meer as 40 mans het hierdie belofte gemaak. Daarna het hulle na die godsdienstige leiers van die Jode toe gegaan en vir hulle gesê: “Ons het ’n plegtige belofte voor God afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Ons plan is: u as Joodse Raad moet die bevelvoerder van die Romeine amptelik versoek om Paulus weer voor u te laat verskyn. Sê vir hom u wil Paulus se saak verder ondersoek. Los die res vir ons. Ons sal sorg dat die man dood is voordat hy ’n voet naby u raadsaal sit.” Paulus se suster se seun het van die komplot teen hom te hore gekom. Hy het dadelik na die Romeinse kaserne gegaan en Paulus daarvan vertel. Paulus het toe een van die kapteins nader geroep en vir hom gesê: “U moet hierdie jongman asseblief dadelik na die bevelvoerder toe neem. Hy het iets belangriks om vir hom te sê.” Dadelik het die kaptein Paulus se susterskind na die Romeinse bevelvoerder geneem en gesê: “Daardie gevangene, Paulus, het my gevra om hierdie man na u toe te bring. Hy het iets op sy hart waarvan u moet weet.” Die bevelvoerder het die jongman eenkant toe geneem en hom gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil sê?” “Die Jode het besluit om u te vra om Paulus môre weer na die Joodse Raad te laat kom,” het Paulus se susterskind geantwoord. “Hulle maak asof hulle sy saak nog verder wil ondersoek. U moet onder geen omstandighede toelaat dat Paulus soontoe gaan nie. Dit alles is deel van ’n set om hom dood te maak. ’n Groep van oor die 40 mans het ’n belofte afgelê dat hulle niks sal eet of drink voordat hy dood is nie. Hulle is van plan om Paulus op pad na die Joodse Raad voor te lê en dood te maak. Hulle wag net dat u toestemming gee dat hy soontoe kan gaan.” Na hierdie woorde het die bevelvoerder die jongman huis toe laat gaan. “O ja, moet onder geen omstandighede vir iemand anders hiervan vertel nie,” het hy bygevoeg. Die bevelvoerder het twee van sy kapteins nader geroep: “Julle moet dadelik 200 soldate gereed kry om na Sesarea te gaan. Sorg ook dat 70 ruiters en 200 lig gewapende soldate teen nege-uur vanaand reg is om hulle te vergesel. Maak ook seker dat daar ’n paar esels is om Paulus en al sy bagasie te vervoer. Ons moet sorg dat hy veilig by goewerneur Feliks aankom.” Die bevelvoerder het ook ’n brief aan Feliks geskryf wat soos volg gelui het: Van: Claudius Lisias Aan: Feliks, ons hooggeagte goewerneur Ek groet u! Ek het hierdie man onlangs uit die hande van die Jode gered. Dit was nadat hulle hom daar in die tempel gevang het en op die punt was om hom dood te maak. Toe ek hoor dat hy ’n Romeinse burger is, het ek soldate gestuur om hom te red. Ek wou vasstel wat hy verkeerd gedoen het. Daarom het ek hom na hulle hoogste godsdienstige raad toe geneem. Toe kom ek agter dat dit oor die een of ander godsdienstige verskil tussen hom en hulle gaan. Hulle het hom beskuldig dat hy hulle wet oortree. Hy het dus nie iets gedoen wat tronkstraf of die doodstraf verdien nie. Kort daarna is ek in kennis gestel dat die Jode agteraf besluit het om hom dood te maak. Daarom het ek hom ter wille van sy eie veiligheid so gou moontlik na u toe gestuur. Ek het ook sy aanklaers laat weet dat hy nou in u sorg is. Hulle moet hulle saak teen hom voor u kom stel. Groete. Die soldate het Paulus daardie selfde nag nog na Antipatris toe geneem. Die volgende dag het hulle na hulle kaserne in Jerusalem teruggekeer, terwyl die ruiters hom verder vergesel het. Toe die ruiters in Sesarea aankom, het hulle hulle bevelvoerder se brief aan die goewerneur oorhandig. Hulle het Paulus ook aan sy sorg toevertrou. Nadat Feliks die brief deurgelees het, het hy Paulus gevra uit watter Romeinse provinsie hy kom. “Silisië,” het Paulus geantwoord. Daarop het Feliks vir Paulus gesê: “Ek sal jou saak verhoor sodra jou aanklaers hier opdaag.” Hy het sy soldate beveel om Paulus intussen in Herodes se paleis op te sluit.

HANDELINGE 23:11-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Net soos jy hier in Jerusalem oor My getuig het, só moet jy ook in Rome doen.” Toe dit dag word, het die Jode ’n komplot gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie. Meer as 40 mense het só saamgesweer. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed verbind om nie aan iets te proe totdat ons Paulus dood het nie. Julle en die Joodse Raad moet die offisier oor duisend man laat weet dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom voor sy aankoms permanent uit die weg te ruim.” Paulus se susterskind het egter gehoor van die hinderlaag. Hy is na die kaserne toe en het by die barakke ingekom en Paulus ingelig. Paulus roep toe een van die offisiere oor honderd man en sê vir hom: “Vat hierdie jong man na die offisier oor duisend man toe, want hy het iets om aan hom te rapporteer.” Hy vat hom toe na die offisier oor duisend man toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te rapporteer.” Die offisier vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant toe en vra vir hom: “Wat is dit wat jy aan my wil rapporteer?” Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, kwansuis om sy saak noukeuriger te ondersoek. U moet u nie deur hulle laat oorreed nie, want meer as 40 mans uit hulle geledere lê hom voor om hom te vermoor. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom permanent uit die weg geruim het nie. Hulle is gereed en wag nou net vir instemming van u kant af.” Die offisier het hom toe dié opdrag gegee: “Moenie vir iemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het die jong man laat gaan. Die offisier oor duisend man het toe twee van die offisiere oor honderd man geroep en hulle beveel: “Maak 200 soldate, 70 perderuiters en 200 spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand Sesarea toe te vertrek. Sorg dat daar rydiere vir Paulus is, en bring hom veilig by goewerneur Feliks.” Toe skryf hy hierdie brief: Claudius Lisias skryf aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete! Hierdie man is deur die Jode gearresteer en hulle was op die punt om hom te vermoor toe ek met my eenheid ingegryp het. Omdat ek agtergekom het dat hy ’n Romeinse burger is, het ek hom in beskerming geneem. Ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, en het hom daarom voor hulle Raad gebring. Ek het bevind dat die klag gaan oor twispunte in verband met hulle wet, verseker nie ’n klag wat die dood of tronkstraf verdien nie. Toe ek verneem het daar is ’n komplot teen die man, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Sy aanklaers het ek aangesê om hulle klagte teen hom aan u voor te lê. Die soldate het ooreenkomstig hulle opdrag vir Paulus gevat en hom dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle teruggekeer kaserne toe terwyl die berede soldate met hom Sesarea toe is. Toe hulle in Sesarea aankom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en Paulus aan hom oorhandig. Hy het die brief gelees en Paulus gevra van watter provinsie hy is. Hy hoor toe dat hy van Silisië af kom. “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom,” het die goewerneur gesê. Toe het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes onder arres gehou word.