“Toe ek ná my terugkeer na Jerusalem besig was om in die tempelterrein te bid, het ek in geestesvervoering geraak. Ek het Hom gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’ Toe het ek gesê, ‘Here, hulle weet dat dit ek is wat diegene wat in U glo, in die tronk laat gooi en in die •sinagoges laat slaan het. En toe die bloed vergiet is van Stefanus, u getuie, het ek self goedkeurend bygestaan en die boklere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’ En Hy het vir my gesê, ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene.’ ”
Tot op hierdie punt het hulle na sy woorde geluister, maar toe hulle stemme verhef en uitgeroep: “Vat 'n man soos hierdie weg van die aarde af, want hy behoort nie te bly leef nie!” Terwyl hulle so skreeu, en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi, het die chiliarg beveel dat Paulus in die kwartiere ingebring word. Hy gee toe opdrag dat hy onder geseling ondervra word, sodat hy kon vasstel om watter rede hulle so teen hom skreeu. Maar toe hulle hom al uitgestrek het met die rieme, sê Paulus vir die centurio wat daar staan: “Is dit julle geoorloof om 'n Romeinse burger te gesel, en dit sonder 'n verhoor?” Toe die centurio dit hoor, gaan hy na die chiliarg, meld dit aan en sê: “Wat is u van plan om te doen? Want hierdie man is 'n Romein!”
Die chiliarg gaan toe na Paulus en vra hom: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord hy. Toe sê die chiliarg: “Ek het hierdie burgerskap teen 'n groot som geld bekom.” Daarop antwoord Paulus: “En ek deur geboorte.” Diegene wat gereed gestaan het om hom te ondervra, het hom daarom dadelik met rus gelaat, en ook die chiliarg het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is, en dat hy hom laat boei het.
Die volgende dag het hy, omdat hy sekerheid wou kry oor waarvan Paulus deur die Jode aangekla word, hom vrygelaat en beveel dat die leierpriesters en die hele Sanhedrin moes vergader. Hy het Paulus laat inbring en hom voor hulle laat staan.