HANDELINGE 22:17-30
HANDELINGE 22:17-30 Bybel vir almal (ABA)
“Toe het ek teruggegaan na Jerusalem. Ek was besig om in die tempel te bid, toe het ek iets gesien, dit was soos in 'n droom. Ek het vir Christus gesien. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gou maak en jy moet vinnig weggaan uit Jerusalem, want die mense van Jerusalem sal nie glo wat jy vir hulle wil vertel van My nie.’ En ek het vir Hom gesê: ‘Here, hulle weet self dat ek na al die sinagoges gegaan het, hulle weet dat ek die mense gevang het en geslaan het, die mense wat in U geglo het. En Stefanus was u getuie. Toe die mense vir Stefanus doodgemaak het, het ek self daar gestaan en ek het gesê hulle doen reg. Ek het ook die klere opgepas van die mense wat hom doodgemaak het.’ “En Christus het vir my gesê: ‘Jy moet nou gaan, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene toe.’ ” Die Jode het tot hier geluister na wat Paulus sê. Toe het hulle hard begin skree en hulle het gesê: “Julle moet hom wegvat en doodmaak! Iemand soos hy mag nie lewe nie!” Hulle het niks gehou van wat Paulus gesê het nie, hulle het geskree en hulle het party van hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi. Die hoof-offisier het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus na die soldate-kamp neem en hulle moet hom met 'n sweep slaan totdat hy sê wat hy verkeerd gedoen het. Die hoof-offisier wou weet hoekom die Jode so geskree en geraas het teen Paulus. Die soldate het begin om Paulus met toue vas te maak. Die offisier het by hulle gestaan, en Paulus het vir hom gesê: “Ek is 'n Romeinse burger. Julle mag my nie met 'n sweep slaan nie, want 'n regter het my nog nie ge-oordeel nie.” Toe die offisier hoor wat Paulus sê, het hy vir die hoof-offisier gaan sê: “Wat gaan jy nou doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.” Die hoof-offisier het vir Paulus kom vra: “Is jy 'n Romeinse burger?” Paulus het geantwoord: “Ja.” Die hoof-offisier het vir Paulus gesê: “Ek moes baie geld betaal om 'n Romeinse burger te word.” Maar Paulus het gesê: “Ek is 'n Romeinse burger vandat ek gebore is.” Die soldate wat Paulus met 'n sweep wou slaan, het dadelik teruggestaan, en die hoof-offisier was ook bang, want die hoof-offisier het besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy vir Paulus laat vasbind het. Die hoof-offisier wou weet hoekom die Jode vir Paulus beskuldig het. Daarom het hy die volgende dag vir Paulus uit die tronk laat kom. Toe het die hoof-offisier gesê die hoëpriester en die hele Joodse Raad moet 'n vergadering hou. Hy het vir Paulus na die Joodse Raad geneem en hy het vir Paulus voor hulle laat staan.
HANDELINGE 22:17-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in 'n verrukking van sinne gekom en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie. En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan; en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het. En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene. Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so 'n mens, want hy behoort nie te lewe nie! En terwyl hulle so skreeu en hulle klere afgooi en stof in die lug werp, het die owerste oor duisend bevel gegee dat hy in die kamp gebring moes word, en gesê dat hulle hom met géselslae moes ondersoek, sodat hy kon weet om watter rede hulle so teen hom uitroep. En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om 'n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel? Toe die hoofman oor honderd dit hoor, gaan hy dit aan die owerste oor duisend vertel en sê: Pas op wat u gaan doen, want hierdie man is 'n Romein. En die owerste oor duisend het gekom en hom gevra: Sê vir my of jy 'n Romein is? En hy antwoord: Ja. Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir 'n groot som verkry! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte. Daarop het die wat hom sou ondersoek, hom dadelik laat staan; en die owerste oor duisend het ook gevrees, omdat hy nou wis dat hy 'n Romein was en hy hom geboei het. EN die volgende dag wou hy met sekerheid weet waarvan hy deur die Jode beskuldig was; en hy het hom van sy boeie losgemaak en bevel gegee dat die owerpriesters en hulle hele Raad moes vergader; en hy het Paulus afgebring en voor hulle laat staan.
HANDELINGE 22:17-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het. En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.’ Toe het die Here vir my gesê: ‘Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.’ ” Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So 'n man behoort nie te bly lewe nie!” Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegesel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het. Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?” Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.” Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord Paulus. Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.” En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.” Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het. Omdat die kommandant presies te wete wou kom wat die Jode teen Paulus het, het hy die volgende dag bevel gegee dat die priesterhoofde en die hele Joodse Raad bymekaar moet kom. Hy het Paulus laat haal en voor hulle gebring.
HANDELINGE 22:17-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Toe ek ná my terugkeer na Jerusalem besig was om in die tempelterrein te bid, het ek in geestesvervoering geraak. Ek het Hom gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’ Toe het ek gesê, ‘Here, hulle weet dat dit ek is wat diegene wat in U glo, in die tronk laat gooi en in die •sinagoges laat slaan het. En toe die bloed vergiet is van Stefanus, u getuie, het ek self goedkeurend bygestaan en die boklere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’ En Hy het vir my gesê, ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene.’ ” Tot op hierdie punt het hulle na sy woorde geluister, maar toe hulle stemme verhef en uitgeroep: “Vat 'n man soos hierdie weg van die aarde af, want hy behoort nie te bly leef nie!” Terwyl hulle so skreeu, en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi, het die chiliarg beveel dat Paulus in die kwartiere ingebring word. Hy gee toe opdrag dat hy onder geseling ondervra word, sodat hy kon vasstel om watter rede hulle so teen hom skreeu. Maar toe hulle hom al uitgestrek het met die rieme, sê Paulus vir die centurio wat daar staan: “Is dit julle geoorloof om 'n Romeinse burger te gesel, en dit sonder 'n verhoor?” Toe die centurio dit hoor, gaan hy na die chiliarg, meld dit aan en sê: “Wat is u van plan om te doen? Want hierdie man is 'n Romein!” Die chiliarg gaan toe na Paulus en vra hom: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord hy. Toe sê die chiliarg: “Ek het hierdie burgerskap teen 'n groot som geld bekom.” Daarop antwoord Paulus: “En ek deur geboorte.” Diegene wat gereed gestaan het om hom te ondervra, het hom daarom dadelik met rus gelaat, en ook die chiliarg het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is, en dat hy hom laat boei het. Die volgende dag het hy, omdat hy sekerheid wou kry oor waarvan Paulus deur die Jode aangekla word, hom vrygelaat en beveel dat die leierpriesters en die hele Sanhedrin moes vergader. Hy het Paulus laat inbring en hom voor hulle laat staan.
HANDELINGE 22:17-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur dat, toe ek weer in Jerusalem aangekom het, terwyl ek in die tempel gebid het, ek in beswyming was; En hy het vir my sien sê: Maak gou en gaan gou uit Jerusalem uit, want hulle sal u getuienis aangaande my nie aanneem nie. En ek het gesê: Here, hulle weet dat ek die wat in U geglo het, in elke sinagoge opgesluit en geslaan het. En toe die bloed van u martelaar Stefanus vergiet is, het ek ook bygestaan en ingestem met sy dood en die klere bewaar van die wat hom gedood het. En hy het vir my gesê: Gaan weg, want Ek sal jou ver hiervandaan na die heidene toe stuur. En hulle het hom gehoor gegee aan hierdie woord, en toe hul stem verhef en gesê: Weg met so 'n man van die aarde af, want dit is nie gepas dat hy sou lewe nie. En terwyl hulle uitroep en hulle klere uitgooi en stof in die lug gooi, Die owerste owerste het bevel gegee dat hy in die kasteel ingebring moes word, en beveel dat hy deur géseling ondersoek moes word; sodat hy sou weet waarom hulle so teen hom geroep het. En terwyl hulle hom met rieme gebind het, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit jou geoorloof om 'n man wat 'n Romein en onveroordeeld is, te gésel? Toe die hoofman oor honderd dit hoor, het hy gegaan en dit aan die owerste owerste vertel en gesê: Pas op wat jy doen, want hierdie man is 'n Romein. Toe kom die owerste oor duisend en sê vir hom: Sê vir my, is jy 'n Romein? Hy het gesê: Ja. En die owerste owerste het geantwoord: Met 'n groot bedrag het ek hierdie vryheid verkry. En Paulus sê: Maar ek is vrygebore. Hulle het toe dadelik weggegaan van hom wat hom moes ondersoek; en die owerste oor duisend was ook bevrees, nadat hy geweet het dat hy 'n Romein was en omdat hy hom gebind het. Die volgende dag, omdat hy die sekerheid sou kry waarom hy deur die Jode aangekla is, het hy hom van sy bande losgemaak en die owerpriesters en hulle hele raad bevel gegee om te verskyn, en Paulus afgebring en voor hulle gestel.
HANDELINGE 22:17-30 Die Boodskap (DB)
“Daarna het ek na Jerusalem teruggekeer. Terwyl ek daar in die tempel besig was om te bid het die Here skielik op ’n bonatuurlike manier aan my verskyn. Ek het Hom met my eie twee oë gesien. Hy het vir my gesê: ‘Gee baie vinnig pad uit Jerusalem! In hierdie stad sal niemand luister na wat jy oor My sê nie.’ “Ek het die Here geantwoord: ‘Maar, Here, hierdie mense ken my. Hulle weet hoe ek vroeër almal wat in U glo in die tronk gegooi en in die sinagoges laat slaan het. Ja, selfs toe Stefanus, u getuie, hier in Jerusalem vermoor is, het ek gestaan en toekyk. Ek was baie bly oor sy dood. Ek het dan selfs die klere opgepas van daardie spul wat hom onder die klippe gesteek het.’ “Terwyl ek nog besig was om vir die Here te vertel hoekom ek eintlik in Jerusalem moes aanbly, het Hy vir my gesê: ‘Genoeg! Gee nou dadelik pad! Ek stuur jou ver weg uit Jerusalem uit. Jy moet nou na mense toe gaan wat nie aan die Joodse volk behoort nie.’” Tot hiertoe het die skare geduldig na Paulus geluister. Toe hulle egter hoor hoe hy sê dat die Here hom uit Jerusalem weggestuur het, het hulle hulle bloedig vererg. “Weg met hom. Hy verdien nie om te leef nie!” het hulle begin skree. Sommige van hulle het sommer hulle klere begin uittrek omdat hulle hom onder die klippe wou steek. Ander mense het uit verontwaardiging stof in die lug opgegooi, want hulle het gedink Paulus het lasterlike dinge teen God gesê. Die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen het gesien dat dinge handuit begin ruk. Daarom het hy sy soldate beveel om Paulus na die Romeinse kaserne toe terug te vat. Hy het ook vir hulle gesê om Paulus ’n ordentlike drag slae te gee. Die bevelvoerder wou hom op dié manier aan die praat kry sodat hy kon agterkom hoekom die skare hom uitgejou het. Toe die soldate Paulus met toue begin vasmaak sodat hulle hom kon slaan, het hy vir ’n Romeinse kaptein wat daar gestaan het, gevra: “Is dit wat u nou doen wettig? Mag u ’n Romeinse burger lyfstraf gee sonder ’n verhoor?” Die kaptein het dadelik na die bevelvoerder gegaan en vir hom gesê: “U moet mooi dink wat u met hierdie man doen. Weet u, hy is ’n Romeinse burger.” Die bevelvoerder het na Paulus toe gestap en vir hom gevra: “Sê my, is jy regtig ’n Romeinse burger?” “Ja!” het Paulus geantwoord. “Wel, ek is ook ’n Romeinse burger,” het die bevelvoerder gesê. “Ek het dit vir ’n groot bedrag geld gekoop.” “Ek het myne nie gekoop nie. Ek is as ’n Romeinse burger gebore,” het Paulus geantwoord. Daarna het hulle Paulus losgemaak. Die Romeinse bevelvoerder het groot geskrik omdat hy ’n Romeinse burger sonder verhoor aangehou en hom amper lyfstraf gegee het. Die volgende dag het die Romeinse bevelvoerder die hele Joodse Raad bymekaargeroep. Hy wou vasstel waarom die Jode so kwaad vir Paulus was. Daarom het hy Paulus uit die tronk laat haal en hom na die Joodse Raad gevat.
HANDELINGE 22:17-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek is terug Jerusalem toe, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek ’n buitengewone geestelike ervaring gehad. Ek het die Here gesien en Hy het vir my gesê: ‘Maak gou! Gee dadelik pad uit Jerusalem. Hierdie mense sal verseker nie jou getuienis oor My aanvaar nie.’ “Toe het ék teëgestribbel: ‘Maar, Here, hulle weet dat ék die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, gearresteer en laat slaan het. En toe u getuie Stefanus vermoor is, het ek self hulle ondersteun. Ek het sy moordenaars se klere opgepas!’ Toe sê die Here vir my: ‘Gáán! Ék wil jou ver weg stuur, na die nie-Joodse nasies toe.’” Die skare het na hom geluister tot op hierdie punt, en toe het hulle uit een mond begin skreeu: “Weg van die aarde af met so ’n vent! Só iemand behoort verseker nie te bly lewe nie!” Hulle het aanhou skreeu, hulle bo-klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. Die offisier oor duisend man het Paulus toe die kaserne laat inbring en bevel gegee dat hy gegésel moes word om hom sy misdaad te laat bely. Die offisier wou agterkom hoekom die skare Paulus so uitgejou het. Hulle het hom klaar met rieme vasgebind gehad vir die géseling toe Paulus vir die offisier oor honderd man wat daar naby staan, vra: “Is dit wettig dat julle ’n Romeinse burger gésel, en boonop nog sonder verhoor?” Die offisier oor honderd man gaan toe na die offisier oor duisend man en vra: “Wat is u van plan om te doen? U moet besef hierdie man is ’n Romeinse burger!” Die offisier oor duisend man gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, ís jy ’n Romeinse burger?” “Ja,” het Paulus geantwoord. “Ek is ook een,” het die offisier oor duisend man gereageer, “en hierdie burgerreg het my ’n klomp geld gekos!” “Maar ék is as ’n burger gebore!” het Paulus gesê. Die soldate wat hom moes gésel om hom te laat praat, het hom dadelik laat staan, en selfs die offisier oor duisend man het bang geword toe hy besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy hom vir die géseling laat vasbind het. Die offisier oor duisend man het die volgende dag sy boeie laat afhaal en die priesterhoofde en die hele Joodse Raad vir ’n vergadering opgeroep. Hy het Paulus laat inbring, want hy wou agterkom presies waaroor hy deur die Jode aangekla was.