Handelinge 22:1-16

Handelinge 22:1-16 AFR20

“Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle.” Toe hulle hoor dat hy in die Hebreeuse taal met hulle praat, het hulle nog stiller geraak. Hy sê toe: “Ek is 'n Joodse man, gebore in Tarsus in Silisië, maar het grootgeword in hierdie stad. Ek is opgevoed aan die voete van Gamaliël – streng volgens die wet van die voorvaders. Ek is net so 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg deur mans sowel as vroue te boei en in die tronk te gooi, soos die hoëpriester en die hele Raad van Familiehoofde oor my kan getuig. Van hulle het ek selfs briewe aan die broers gekry, en na Damaskus gegaan om die mense daar as gevangenes na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. “ Terwyl ek egter nog op pad was en Damaskus genader het, het daar teen die middaguur skielik 'n helder lig uit die hemel rondom my geskyn. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ En ek het gevra, ‘Wie is U, Here?’ Hy het my geantwoord, ‘Ek is Jesus van Nasaret wat jy vervolg.’ Die mense wat by my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek, ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê, ‘Staan op en gaan na Damaskus. Daar sal alles vir jou gesê word wat jou opgedra is om te doen.’ Omdat ek vanweë die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle aan die hand gelei, en so het ek in Damaskus aangekom. “'n Sekere Ananias, 'n vroom man volgens die wet, en een oor wie al die Joodse inwoners goeie getuienis gelewer het, het na my gekom, en voor my kom staan en gesê, ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik kon ek hom sien. Toe het hy gesê, ‘Die God van ons vaders het jou uitverkies om sy wil te ken, om die Regverdige te sien en om die stem uit sy mond te hoor, want jy sal voor alle mense vir Hom 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom aarsel jy nog? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy sy Naam aanroep.’