HANDELINGE 22:1-16

HANDELINGE 22:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Geagte broers en vaders, luister na my verdediging teenoor julle oor hierdie saak.” Toe hulle hoor dat hy hulle in Aramees toespreek, het hulle nog stiller geword. Hy gaan toe voort: “Ek is ’n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, en hier in Jerusalem het ek grootgeword en my opvoeding by Gamaliël gekry. Aan sy voete het ek geleer om ons Joodse wet streng na te kom. Ek het ’n kampvegter vir God geword, net soos julle almal vandag is. Ek het jag gemaak op ‘Die Pad’ tot die dood toe. Mans én vroue het ek gearresteer en in tronke laat stop. “Só kan selfs die hoofpriester vir my getuig, en die hele Joodse Raad. Van hulle het ek selfs briewe aan ons volksgenote in Damaskus gekry om ook dáár hierdie mense te gaan arresteer en vir strafoplegging Jerusalem toe te bring. “Juis toe ek op pad was, sommer naby Damaskus, het daar teen die middag skielik ’n sterk lig uit die hemel om my gestraal. Ek het op die grond neergeval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Meneer?’ het ek gereageer. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir Mý wat jy vervolg.’ Die mense saam met my het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my praat nie. “Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan Damaskus binne, en dáár sal alles wat God bepaal het dat jy moet doen, aan jou meegedeel word.’ “Ek is deur my reisgenote Damaskus aan die hand binnegelei, want die helder lig het gemaak dat ek niks kon sien nie. ’n Man met die naam Ananias het daar gebly. Hy het nougeset volgens die Joodse wet gelewe, en by al die Jode dáár ’n goeie naam gehad. Hy het na my toe gekom, by my kom staan en vir my gesê: ‘Saul, broer, sién weer!’ En oombliklik is my sig herstel en het ek hom gesien! “Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, en om die Regverdige te sien en Hom te hoor praat. Jy sal inderdaad vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas. Jy het mos sy Naam aangeroep.’

HANDELINGE 22:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê.” Toe hulle hoor dat hy Hebreeus praat, het hulle nog stiller geword. Hy gaan toe voort: “Ek is 'n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so 'n kampvegter vir God soos julle almal vandag is. Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop. Dit kan die hoëpriester en die hele Joodse Raad bevestig. Van hulle het ek selfs bekendstellingsbriewe aan die Joodse broers in Damaskus gekry om ook daar hierdie mense in hegtenis te gaan neem en Jerusalem toe te bring om gestraf te word. “Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik 'n sterk lig uit die hemel op my gestraal. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 'n Sekere Ananias, 'n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’

HANDELINGE 22:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Paulus het gesê: “Vriende, julle moet luister na wat ek wil sê, ek wil vir julle verduidelik dat ek niks verkeerd gedoen het nie.” Toe die Jode hoor dat Paulus in Hebreeus met hulle praat, het hulle nog stiller geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek is 'n Jood en ek is gebore in die stad Tarsus in Silisië, maar ek het grootgeword hier in Jerusalem. Ek was 'n student van Gamaliël en ek het al die streng wette van ons voorouers geleer. Ek was baie gehoorsaam aan God, soos julle almal wat vandag hier is, ook gehoorsaam is aan Hom. Ek het slegte dinge gedoen aan ‘ Die Pad,’ ek het probeer om hulle dood te maak. Ek het mans en vroue laat vang en laat vasbind en ek het hulle in die tronk laat sit. Die hoëpriester en die hele Joodse Raad sal kan sê ek praat die waarheid. Hulle het ook vir my briewe gegee wat ek na die Jode in Damaskus geneem het. Ek het na Damaskus gegaan om die gelowiges te vang en hulle terug te bring na Jerusalem sodat die Joodse Raad hulle kan straf. “Ek was besig om na Damaskus te gaan en ek was naby Damaskus. Toe dit omtrent middag was, het daar skielik 'n groot lig uit die hemel op my geskyn. Ek het op die grond geval. Toe hoor ek Iemand vra vir my: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My?’ Ek het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus van Nasaret. Jy doen slegte dinge aan My.’ “Die mense wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die Persoon gehoor wat met my gepraat het nie. Ek het gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Jy moet opstaan en jy moet na Damaskus gaan. Daar sal iemand vir jou alles sê wat Ek wil hê jy moet doen.’ “Die lig was so skerp dat ek nie kon sien nie. Daarom het die mense wat saam met my gegaan het, my hand geneem en hulle het my gelei tot in Damaskus. “Ananias het in Damaskus gewoon. Hy was lief vir die Here, hy het die Here gedien soos die Here wil hê. Ananias het alles gedoen wat die wette sê, en al die Jode wat in Damaskus woon, het geweet dat hy 'n goeie man is. Ananias het na my toe gekom en hy het by my kom staan. Hy het vir my gesê: ‘Saul, vriend, jy moet weer sien!’ Dadelik kon ek weer sien en ek het na hom gekyk. Ananias het vir my gesê: ‘Die God van ons voorouers het jou gekies om te weet wat Hy wil doen. Hy het jou ook gekies om die Regverdige te sien en sy eie stem te hoor. Ja, God het jou gekies, want jy moet vir al die mense gaan vertel van die dinge wat jy gesien en gehoor het. Jy moenie langer wag nie. Jy moet nou opstaan. Jy moet jou laat doop en jy moet bid tot Christus. Dan sal Hy jou sondes wegneem.’

HANDELINGE 22:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

BROEDERS en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle! En toe hulle hoor dat hy hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê: Ek is 'n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee, soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik 'n groot lig uit die hemel my omstraal, en ek het op die grond geval en 'n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg. En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie. En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen. Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom. En 'n sekere Ananías, 'n vroom man volgens die wet, wat 'n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want jy sal vir Hom by al die mense 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

HANDELINGE 22:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê.” Toe hulle hoor dat hy Hebreeus praat, het hulle nog stiller geword. Hy gaan toe voort: “Ek is 'n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so 'n kampvegter vir God soos julle almal vandag is. Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop. Dit kan die hoëpriester en die hele Joodse Raad bevestig. Van hulle het ek selfs bekendstellingsbriewe aan die Joodse broers in Damaskus gekry om ook daar hierdie mense in hegtenis te gaan neem en Jerusalem toe te bring om gestraf te word. “Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik 'n sterk lig uit die hemel op my gestraal. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 'n Sekere Ananias, 'n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’

HANDELINGE 22:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle.” Toe hulle hoor dat hy in die Hebreeuse taal met hulle praat, het hulle nog stiller geraak. Hy sê toe: “Ek is 'n Joodse man, gebore in Tarsus in Silisië, maar het grootgeword in hierdie stad. Ek is opgevoed aan die voete van Gamaliël – streng volgens die wet van die voorvaders. Ek is net so 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg deur mans sowel as vroue te boei en in die tronk te gooi, soos die hoëpriester en die hele Raad van Familiehoofde oor my kan getuig. Van hulle het ek selfs briewe aan die broers gekry, en na Damaskus gegaan om die mense daar as gevangenes na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. “ Terwyl ek egter nog op pad was en Damaskus genader het, het daar teen die middaguur skielik 'n helder lig uit die hemel rondom my geskyn. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ En ek het gevra, ‘Wie is U, Here?’ Hy het my geantwoord, ‘Ek is Jesus van Nasaret wat jy vervolg.’ Die mense wat by my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek, ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê, ‘Staan op en gaan na Damaskus. Daar sal alles vir jou gesê word wat jou opgedra is om te doen.’ Omdat ek vanweë die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle aan die hand gelei, en so het ek in Damaskus aangekom. “'n Sekere Ananias, 'n vroom man volgens die wet, en een oor wie al die Joodse inwoners goeie getuienis gelewer het, het na my gekom, en voor my kom staan en gesê, ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik kon ek hom sien. Toe het hy gesê, ‘Die God van ons vaders het jou uitverkies om sy wil te ken, om die Regverdige te sien en om die stem uit sy mond te hoor, want jy sal voor alle mense vir Hom 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom aarsel jy nog? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy sy Naam aanroep.’

HANDELINGE 22:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Manne, broers en vaders, luister na my verdediging wat ek nou aan julle stel. (En toe hulle hoor dat Hy in Hebreeuse taal met hulle spreek, het hulle des te meer stilgebly; en Hy sê:) Ek is waarlik 'n man wat 'n Jood is, gebore in Tarsus, 'n stad in Silicië, maar tog grootgeword in hierdie stad aan die voete van Gamaliël, en geleer volgens die volmaakte wyse van die wet van die vaders, en was ywerig vir God, soos julle almal vandag is. En ek het op hierdie manier vervolg tot die dood toe, deur mans sowel as vroue te bind en in gevangenisse oor te lewer. Soos ook die hoëpriester vir my getuig en die hele eiendom van die ouderlinge; van wie ek ook briewe aan die broeders ontvang het en na Damaskus gegaan het om die wat daar geboeid was, na Jerusalem te bring om gestraf te word. En dit het gebeur dat, terwyl ek my reis gemaak het en teen die middag naby Damaskus gekom het, skielik het daar uit die hemel 'n groot lig rondom my geskyn. En ek het op die grond geval en 'n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En ek antwoord: Wie is U, Here? En hy sê vir my: Ek is Jesus, die Nasaret, wat jy vervolg. En die wat saam met my was, het waarlik die lig gesien en bevrees geword; maar hulle het nie die stem gehoor van Hom wat met my gespreek het nie. En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus; en daar sal jou vertel word van alles wat jou bestem is om te doen. En toe ek vanweë die heerlikheid van daardie lig nie kon sien nie, toe ek gelei is deur die hand van die wat by my was, het ek in Damaskus gekom. En ene Ananías, 'n vroom man volgens die wet, met 'n goeie verslag van al die Jode wat daar gewoon het, Het na my gekom en gaan staan en vir my gesê: Broer Saul, sien jou aan. En in dieselfde uur het ek na hom opgekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou uitverkies, dat jy sy wil sou ken en die Regverdige sou sien en die stem van sy mond sou hoor. Want jy sal sy getuie wees vir al die mense van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom vertoef jy? staan op en laat jou doop en was jou sondes af, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

HANDELINGE 22:1-16 Die Boodskap (DB)

“Vriende, luister asseblief mooi na wat ek nou vir julle wil sê. Ek wil graag ook my kant van die saak stel.” Die mense was verbaas toe hulle agterkom dat Paulus Hebreeus praat. ’n Mens kon ’n speld hoor val. Almal het doodstil na hom geluister. “Ek is ook ’n Jood. Ek is in Tarsus in Silisië gebore. Ek het my opleiding in die wet van Moses hier in Jerusalem ontvang. My leermeester was rabbi Gamaliël. Ek is streng volgens al die tradisies en gebruike van ons voorouers grootgemaak. Van jongs af wou ek net doen wat God van my vra. Julle verstaan mos wat ek sê. Julle wil mos ook net doen wat God van julle vra? “Toe ek op ’n dag te hore kom van hierdie nuwe spul mense wat in Jesus glo, was ek so kwaad dat ek hulle wreed begin vervolg het. Ek het die mans en vroue wat al hierdie dinge oor Hom geglo het, laat vang en in die tronk gestop. Vra maar vir die hoëpriester en al die leiers van ons volk as julle my nie glo nie. Hulle weet baie goed dat ek die waarheid praat. Immers, dit is hulle wat my skriftelike toestemming gegee het om Damaskus toe te gaan om die Christene daar te vang. My plan was om hulle dan hierheen terug te bring sodat hulle hier in Jerusalem verhoor kon word.” “Toe ek naby Damaskus kom, het ’n helder lig uit die hemel in die middel van die dag skielik op my begin skyn. Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval het. Ek hoor toe Iemand vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?’ “‘Wie is U, Here?’ het ek dadelik gevra. ‘Dit is Ek, Jesus van Nasaret! Jy is besig om My te vervolg.’ “Die mense wat saam met my op pad na Damaskus was, het ook die lig uit die hemel gesien. Hulle het baie bang geword. Hulle kon egter nie Jesus se stem hoor nie. “Ek vra toe benoud vir Jesus: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Hy sê toe: ‘Staan dadelik op en gaan Damaskus toe. Binnekort sal iemand daar vir jou kom sê wat jy moet doen.’ “Die skerp lig het gemaak dat ek glad nie kon sien toe ek opstaan nie. Die ander mense moes my die stad inlei. “Daar in Damaskus het ’n godsdienstige man gebly wat alles gedoen het wat in die wet van die Here geskryf staan. Sy naam is Ananias. Al die Jode in die stad het net goeie dinge oor hom gesê. Hy het na my toe gekom, sy arm om my geslaan en gesê: ‘Saulus, my broer, jy sal van nou af weer kan sien.’ Op daardie oomblik het my oë oopgegaan. Ek kon Ananias duidelik voor my sien staan. “Ananias het goeie nuus vir my gehad. ‘Weet jy,’ het hy gesê, ‘die God vir wie ons voorouers ook al gedien het, het ’n spesiale taak vir jou. Hy het jou persoonlik uitgekies sodat jy sy reddingsplan vir die wêreld kan ken. Daarom was jy so gelukkig om Jesus te sien en om te hoor hoe Hy met jou praat, want Hy is die Een vir wie God na ons toe gestuur het om ons te red. “‘Noudat jy Hom persoonlik ontmoet het, moet jy vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het.Moenie langer tyd verspil nie. Staan gou op sodat jy gedoop kan word. Al jou sondes sal dan afgewas word omdat jy in die Here glo en sy Naam aanroep.’”