Nadat ons ons van hulle weggeskeur het, het ons weggevaar, reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag na Rodos gevaar, en daarvandaan na Patara. Daar het ons 'n skip gevind wat na Fenisië sou oorvaar, aan boord gegaan en weggevaar. Ons het binne sig van Ciprus gekom, maar dit aan ons linkerkant gelaat in ons verbyvaart na Sirië, en by Tirus aan wal gegaan, omdat die skip se vrag daar afgelaai sou word. Ons het die dissipels opgesoek en sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het onder leiding van die Gees vir Paulus gesê om nie na Jerusalem te gaan nie. Nadat ons die tyd daar deurgebring het, het ons vertrek en verder gereis. Almal, ook hulle vroue en kinders, het ons tot buitekant die stad begelei. Ons het op die strand gekniel en gebid. Nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord van die skip gegaan, terwyl hulle na hulle huise teruggekeer het.
Ons het ons reis van Tirus beëindig met ons aankoms by Ptolemaïs. Daar het ons die broers gaan groet en 'n dag lank by hulle oorgebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Caesarea aangekom. Ons het na die huis gegaan van die evangelis Filippus, een van die sewe, en by hom tuisgegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat oor die gawe van profesie beskik het. Terwyl ons 'n hele paar dae daar oorgebly het, het 'n sekere profeet met die naam Agabus uit Judea daar aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, en sy eie voete en hande daarmee vasgebind, en gesê: “So sê die Heilige Gees, ‘Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.’ ” Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike mense Paulus gesmeek om nie na Jerusalem op te gaan nie. Daarop het Paulus geantwoord: “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus. ” Omdat hy hom nie laat oorreed het nie, het ons geswyg en net gesê: “Laat die wil van die Here geskied.”
Ná hierdie dae het ons gereedgemaak en na Jerusalem opgegaan. Van die dissipels uit Caesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons geneem na Mnason, 'n man uit Ciprus, en lank reeds 'n dissipel, by wie ons sou tuisgaan.
Met ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang. Die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus gegaan. Al die ouderlinge was ook teenwoordig. Nadat Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God deur sy bediening onder die heidene gedoen het. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir hom gesê: “Jy sien, broer, hoeveel derduisende onder die Jode tot die geloof gekom het, en hulle beywer hulle almal vir die wet. Oor jou is vertel dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om afvallig te wees van Moses deur aan hulle te sê dat hulle nie hulle kinders hoef te besny en nie volgens die gebruike hoef te leef nie. Wat staan ons te doen? Hulle sal beslis hoor dat jy hier is. Doen dan wat ons vir jou sê. Hier is vier manne by ons wat 'n gelofte afgelê het. Neem hulle saam, laat jou saam met hulle reinig, en betaal vir hulle die koste om hulle koppe te laat skeer. Dan sal almal weet dat daar niks steek in wat van jou vertel word nie, maar dat jy self ook in gehoorsaamheid aan die wet leef. Wat betref die nie-Jode wat gelowig geword het, het ons besluit, en hulle skriftelik laat weet, dat hulle hulle moet onthou van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is, en van hoerery.” Toe het Paulus die manne saamgeneem, en die volgende dag saam met hulle die reiniging ondergaan. Daarna het hy die tempelterrein binnegegaan om die voltooiing van die dae van die reiniging aan te kondig, die dag wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.
Toe die sewe dae van die reiniging amper verstreke was, het Jode uit Asië hom op die tempelterrein gesien en die hele skare in oproer gebring. Hulle het hom gegryp en geskreeu: “Manne, Israeliete, kom help! Hier is die man wat oral vir almal dinge leer wat teen die volk en die wet en hierdie plek gerig is. Hy het boonop Grieke in die tempelterrein ingebring en hierdie heilige plek ontheilig! ” Want hulle het vir Trofimus, die Efesiër, voorheen saam met Paulus in die stad gesien, en gedink dat hy hom in die tempelterrein ingebring het. Die hele stad was in rep en roer, en daar het 'n samedromming van die volk ontstaan. Hulle het Paulus gegryp en hom uit die tempelterrein gesleep, en die poorte is dadelik gesluit. Terwyl hulle probeer het om hom dood te maak, het die berig dat die hele Jerusalem in oproer is die chiliarg van die kohort soldate bereik. Hy het onmiddellik met soldate en die centurio op hulle afgestorm. Toe hulle die chiliarg en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan. Daarop het die chiliarg nader gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Toe het hy navraag gedoen oor wie Paulus was en wat hy gedoen het. Sommige in die skare het een ding geskreeu en ander weer iets anders. Toe hy vanweë die rumoer nie sekerheid kon kry nie, het hy beveel dat Paulus na die kwartiere geneem word. Toe Paulus by die trappe kom, moes hy weens die geweld van die skare deur die soldate gedra word, want die volksmassa het agter hulle aan geloop en geskreeu: “Weg met hom!”
Net toe hulle Paulus by die kwartiere wou inbring, sê hy vir die chiliarg: “Is dit my geoorloof om iets vir u te sê?” Die chiliarg antwoord: “Ken jy Grieks? Is jy dan nie die Egiptenaar wat kort gelede 'n opstand gelei en vierduisend manne van die Sikariërs na die woestyn uitgelei het nie?” Maar Paulus antwoord: “Ek is 'n Joodse man, afkomstig van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n nie te onbelangrike stad nie. Ek versoek u: Laat my toe om die volk toe te spreek.” Hy het dit toegelaat, en Paulus het op die trappe gaan staan en 'n handgebaar gemaak vir die volk. Toe het 'n groot stilte neergedaal en hy het hulle in die Hebreeuse taal toegespreek