HANDELINGE 21:1-40

HANDELINGE 21:1-40 Bybel vir almal (ABA)

Paulus en ons het totsiens gesê vir die ouderlinge van die stad Efese, en toe het ons weggeseil met die skip. Ons het reguit geseil tot by die eiland Kos. Die volgende dag het ons tot by die eiland Rodos geseil en toe tot by die stad Patara. In Patara het ons 'n skip gekry wat na die land Fenisië sou seil. Ons het op die skip geklim en weggeseil. Ons het verder geseil en ons kon die eiland Siprus sien. Ons het nog verder geseil en ons het regs verby Siprus geseil tot by Sirië. Ons het by die stad Tirus afgeklim, want die mense moes daar die goed aflaai wat op die skip was. Ons het die gelowiges in Tirus gaan soek en ons het sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het vir Paulus gesê die Heilige Gees het gesê hy moenie na Jerusalem gaan nie. Toe die sewe dae verby was, het ons uit die stad gegaan om verder te gaan. Al die gelowiges, ook hulle vrouens en kinders, het saam met ons uit die stad gegaan. Ons het op die strand gekniel en gebid. Toe het ons mekaar gegroet en ons het op die skip geklim. Die gelowiges het teruggegaan huis toe. Ons het van Tirus verder met die skip geseil en ons het by die stad Ptolemaïs gekom. Ons het die gelowiges daar gegroet en ons het een dag lank by hulle gebly. Die volgende dag het ons verder gegaan en ons het by die stad Sesarea gekom. Daar het ons na die huis van Filippus gegaan en ons het by hom gebly. Hy was een van sewe leiers wat die goeie boodskap van God in Sesarea gebring het. Filippus het vier dogters gehad, hulle was nog nie getroud nie. Die vier dogters was profete. Ons het 'n lang tyd daar gebly. Terwyl ons daar was, het 'n profeet van Judea daar aangekom. Sy naam was Agabus. Agabus het na ons toe gekom en hy het Paulus se belt gevat. Agabus het sy eie hande en voete met die belt vasgebind en gesê: “Die Heilige Gees sê die Jode in Jerusalem sal die man wat altyd hierdie belt dra, só vasbind. En hulle sal hom dan vir die heidene gee.” Toe ons hoor wat Agabus sê, het ons en die gelowiges wat daar woon, vir Paulus ernstig gevra om nie na Jerusalem te gaan nie. Toe sê Paulus: “Wat doen julle nou? Julle huil en julle maak my hartseer! Ek is gereed om te gaan. Die mense kan my vang in Jerusalem, dit maak nie saak nie. Ja, ek is ook gereed om in Jerusalem te sterf vir die Naam van die Here Jesus.” Paulus wou nie luister na wat ons vir hom sê nie, en daarom het ons stilgebly. Ons het net gesê: “Ons bid dat die Here sal doen wat Hy wil doen.” Nadat hierdie tyd verby was, het ons gereedgemaak om na Jerusalem te gaan. Party van die gelowiges van Sesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons in Jerusalem gebring na die huis van Mnason. Mnason het voorheen op die eiland Siprus gewoon en hy het lank gelede 'n gelowige geword. Ons het by hom in Jerusalem gebly. Toe ons in Jerusalem aankom, was die gelowiges daar baie bly om ons te sien. Die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan. Al die ouderlinge was daar. Paulus het hulle gegroet en toe het hy alles vertel wat God gedoen het, en hoe hy God se werk by die heidene gedoen het. Toe hulle hoor wat Paulus sê, het hulle God geprys. En hulle het vir Paulus gesê: “Vriend, jy weet daar is duisende Jode wat in Christus glo, en hulle is almal baie gehoorsaam aan die wette. Party mense het vir hulle gesê dat jy vir al die Jode wat by die heidene woon, sê hulle moenie doen wat in Moses se wette geskryf is nie. Hulle sê dat jy sê daardie Jode moenie hulle kinders besny nie en hulle moenie soos Jode lewe nie. “Ons weet nou nie wat om te doen nie. Die Jode wat in Christus glo, sal hoor dat jy na Jerusalem gekom het. Dit is seker! Jy moet nou maak soos ons vir jou sê. Hier is vier mans by ons, hulle het 'n gelofte gemaak. Wanneer hulle vir hulle laat reinig, dan moet jy ook vir jou laat reinig. En jy moet betaal sodat hulle al hulle hare kan laat afskeer. Dan sal almal weet die dinge is nie waar wat mense oor jou sê nie. Hulle sal weet dat jy self ook reg lewe en doen wat die wette sê. Maar ons het 'n brief geskryf vir die heidene wat in Christus glo. Ons het vir hulle geskryf dat ons besluit het dat hulle nie afgod-offervleis moet eet nie, hulle moet ook nie bloed eet of iets eet wat verwurg is nie, en hulle moenie onsedelik lewe nie.” Paulus het toe gesê die mans moet saam met hom gaan. Die volgende dag het hy homself laat reinig saam met hulle. Toe het hy ingegaan in die tempel. Hy het daar vir almal gesê hoe lank hy en die vier mans hulle sal laat reinig. Hy het ook gesê op watter dag dit verby sal wees en wanneer elkeen van hulle 'n offer sal bring. Die sewe dae wat Paulus en die vier mans hulle laat reinig het, was amper verby. Toe het Jode wat van die provinsie Asië gekom het, vir Paulus in die tempel gesien. Hulle het so geskree dat almal in die tempel kwaad geword het vir Paulus en hulle het vir Paulus gevang. Hulle het hard geskree en gesê: “Israeliete, julle moet kom help! Hier is die man wat oral vir almal dinge leer wat teen ons volk is, en wat ook teen ons wette en teen die tempel is. Hy het ook Grieke ingebring in die tempel en so het hy hierdie gewyde plek onrein gemaak.” Die Jode uit Asië het so gesê, want hulle het voorheen gesien dat Trofimus saam met Paulus in Jerusalem is. Trofimus was 'n Griek van die stad Efese. Daarom het hulle gedink Paulus het vir Trofimus saamgebring na die tempel. Almal in die stad het kwaad geword en die mense het na die tempel gehardloop. Hulle het vir Paulus gegryp en hulle het hom uit die tempel gesleep. Die mense by die tempel het die tempel se deure dadelik toegemaak. Die Jode het probeer om vir Paulus dood te maak. Maar iemand het vir die hoof-offisier van die Romeinse soldate gaan sê dat al die mense van Jerusalem kwaad is en dat hulle baie raas. Die hoof-offisier het dadelik vir sy soldate en offisiere gesê hulle moet saam met hom kom, en hulle almal het na die tempel gehardloop. Toe die Jode die hoof-offisier en die soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan. Die hoof-offisier het nader geloop en hy het vir sy soldate gesê hulle moet vir Paulus 'n gevangene maak. Hy het ook vir Paulus laat vasbind met twee kettings. Die hoof-offisier het vir die Jode gevra wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het. Party Jode het iets geskree en party Jode het iets anders geskree. Hulle het so baie geraas dat die hoof-offisier nie kon uitvind wat regtig gebeur het nie. Daarom het hy vir sy soldate gesê hulle moet vir Paulus neem na die plek waar die soldate woon. Hulle het gekom tot by die trappe. Die mense was baie kwaad vir Paulus en hulle het so baie aan hom gestamp dat die soldate vir Paulus moes dra. Die mense wat saamgegaan het, het die hele tyd geskree en gesê: “Maak hom dood!” Die Romeinse soldate het vir Paulus na die soldate-kamp geneem. Toe hulle daar aankom, vra Paulus vir die hoof-offisier: “Mag ek iets sê?” Die hoof-offisier het gesê: “Ek hoor jy kan Grieks praat. Ek weet nou jy is nie die Egiptenaar wat 'n tyd gelede 'n klomp mense opstandig gemaak het en toe 4 000 manne na die woestyn geneem het nie, die manne wat teen die Romeine wou veg.” Paulus het vir hom gesê: “Nee, ek is 'n Jood. Ek kom van die stad Tarsus in die provinsie Silisië. Ek woon in Tarsus, dit is 'n belangrike stad! Ek vra mooi vir jou: Mag ek asseblief met die mense praat?” Die hoof-offisier het gesê Paulus mag met die mense praat. Toe het Paulus op die trappe gaan staan en hy het met sy hand vir die mense gewys hulle moet stilbly. Dit het baie stil geword en Paulus het in Hebreeus met hulle gepraat.

HANDELINGE 21:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat ons ons van hulle losgeskeur het, het ons afgevaar en reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag by Rhodus en daarvandaan by Pátara. En ons het 'n skip gevind wat na Fenícië sou oorseil, en daarop gegaan en afgevaar. En toe ons Ciprus in die gesig gekry het en dit aan die linkerhand laat lê het, het ons na Sírië gevaar en by Tirus aangekom, want daar sou die skip sy vrag aflaai. En nadat ons die dissipels gevind het, het ons daar sewe dae gebly; en hulle het vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie. Maar toe ons die dae uitgebly het, het ons vertrek en op reis gegaan, terwyl almal, met vroue en kinders, ons tot buitekant die stad begelei; en ons het op die strand neergekniel en gebid. En nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord gegaan, en hulle het teruggegaan huis toe. Maar ons het die seereis van Tirus af voltooi en by Ptolemáis gekom; en ons het die broeders gegroet en een dag by hulle gebly. En die volgende dag het ons, die geselskap van Paulus, vertrek en in Cesaréa aangekom; en ons het ons intrek geneem in die huis van Filippus, die evangelis, wat een van die sewe diakens was, en by hom gebly. En hy het vier ongetroude dogters gehad wat die profetiese gawe besit het. En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het 'n sekere profeet met die naam van Ágabus van Judéa afgekom. En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dít spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer. En toe ons dit hoor, het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie. Maar Paulus het geantwoord: Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus. Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons tevrede en het gesê: Laat die wil van die Here geskied! En ná hierdie dae het ons vir die reis klaargemaak en na Jerusalem opgegaan. En sommige van die dissipels van Cesaréa het ook saam met ons gegaan en ons by 'n sekere Mnason van Ciprus gebring, 'n ou dissipel, by wie ons sou tuis gaan. En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig. En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het. En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet. En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie. Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het. Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat 'n gelofte gedoen het; neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou. Wat egter die gelowiges uit die heidene betref, het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery. Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word. Maar toe die sewe dae byna verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare oproerig gemaak en die hande aan hom geslaan en geskreeu: Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig. Want hulle het vantevore Trófimus, die Efésiër, in die stad by hom gesien en gedink dat Paulus hom in die tempel gebring het. Toe kom die hele stad in beweging, en daar was 'n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit. En onderwyl hulle probeer om hom dood te maak, het 'n berig die owerste oor duisend van die leërafdeling bereik dat die hele Jerusalem in oproer was. En hy het meteens soldate en hoofmanne oor honderd geneem en afgehardloop na hulle; en toe hulle die owerste oor duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan. Daarop kom die owerste oor duisend nader en neem hom gevange en gee bevel dat hy met twee kettings geboei moet word; en hy het gevra wie hy was en wat hy gedoen het. En onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskreeu. En omdat hy weens die rumoer geen sekerheid kon verkry nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word. En toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die geweld van die skare. Want die menigte van die volk het gevolg en geskreeu: Weg met hom! En net toe hy in die kamp gebring sou word, vra Paulus die owerste oor duisend: Is dit my geoorloof om iets vir u te sê? En hy sê vir hom: Ken jy Grieks? Is jy dan nie die Egiptenaar wat 'n tyd gelede oproer gemaak het en die vierduisend rowers na die woestyn uitgelei het nie? En Paulus antwoord: Ek is 'n Joodse man van Tarsus, 'n burger van geen onvermaarde stad in Cilícië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek. En toe hy dit toegelaat het, gaan Paulus op die trappe staan en wink met die hand vir die volk. En nadat daar 'n groot stilte gekom het, het hy hulle in die Hebreeuse taal toegespreek en gesê

HANDELINGE 21:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat ons swaar van hulle afskeid geneem het, het ons aan boord gegaan. Ons het reguit koers gehou en by die eiland Kos aangekom. Die volgende dag het ons Rodos bereik en daarvandaan by Patara aangekom. Daar het ons 'n skip gekry wat na Fenisië toe sou vaar, en ons het aan boord gegaan en weggevaar. Ons het Siprus in sig gekry en is aan die suidekant daarvan verby Sirië toe. In Tirus, waar die skip sy vrag moes aflaai, het ons afgeklim. Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Maar toe die sewe dae verby was, het ons verder gereis, en hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid en van mekaar afskeid geneem. Daarna het ons aan boord gegaan, en hulle het omgedraai huis toe. Van Tirus af het ons die seereis voortgesit na Ptolemaïs toe. Daar het ons die gelowiges gegroet en 'n dag by hulle gebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het die evangelis Filippus, een van die sewe , opgesoek en by hom tuis gegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat die gawe besit het om te profeteer. Nadat ons reeds 'n hele paar dae daar was, het daar 'n profeet met die naam Agabus van Judea af aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, sy eie hande en voete daarmee vasgebind en gesê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.” Toe ons dit hoor, het ons en die mense daar vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. Toe antwoord Paulus: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe.” Toe ons hom nie kon oorreed nie, het ons daarin berus en gesê: “Laat die wil van die Here geskied.” Na 'n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek. Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds 'n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan. By ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang. Die volgende dag het ons saam met Paulus na Jakobus toe gegaan. Al die ouderlinge was daar teenwoordig. Paulus het hulle gegroet en in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie. “Wat moet ons nou doen? Hulle sal beslis te hore kom dat jy hier is. Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat 'n gelofte afgelê het. Neem hulle saam met jou vir die reinigingshandeling en betaal die koste daarvan, sodat hulle hulle hare kan laat afsny. Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou. Ons het tog al vir die gelowiges wat vroeër heidene was, laat weet van ons besluit dat hulle nie vleis wat aan 'n afgod geoffer is, en bloed en 'n dier wat verwurg is, moet eet nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy.” Die volgende dag het Paulus die manne geneem en die reinigingshandeling saam met hulle verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee op watter dag die reiniging verby sou wees, wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word. Toe die sewe dae van die reiniging byna om was, het Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel gesien. Hulle het die hele skare aangehits en vir Paulus gegryp. “Israeliete, kom help!” het hulle geskreeu. “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.” Hulle het dit gesê omdat hulle vantevore vir Trofimus van Efese saam met Paulus in die stad gesien het en gedink het dat Paulus hom in die tempel in geneem het. Die hele stad het in beroering gekom. Die mense het saamgedrom, vir Paulus gegryp en hom uit die tempel uitgesleep. Die deure is dadelik agter hulle toegesluit. Die mense wou hom net doodmaak. 'n Boodskap is toe na die kommandant van die Romeinse garnisoen toe gestuur dat die hele Jerusalem in oproer is. Hy het onmiddellik met soldate en offisiere na die oproer toe gehardloop. Toe die skare die kommandant en sy soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan. Die kommandant het na Paulus toe gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Daarna het hy probeer vasstel wie die man is en wat hy gedoen het. Die skare het so deurmekaar geskreeu dat hy in die lawaai nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Hy het toe beveel dat Paulus na die kaserne toe gevat moet word. By die trap van die kaserne het die gepeupel so saamgedrom dat die soldate Paulus moes dra, want al die mense het agterna geloop en geskreeu: “Weg met hom!” Net voor hulle Paulus die kaserne wou inbring, sê hy vir die kommandant: “Mag ek u iets vra?” Daarop sê die kommandant: “Ken jy Grieks? Dan is jy nie die Egiptenaar wat 'n rukkie gelede in opstand gekom en met vier duisend terroriste die woestyn in getrek het nie?” Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is 'n Jood van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.” Die kommandant het ingewillig, en Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die mense gewys om stil te bly. Toe dit baie stil geword het, het hy hulle in Hebreeus toegespreek.

HANDELINGE 21:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat ons ons van hulle weggeskeur het, het ons weggevaar, reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag na Rodos gevaar, en daarvandaan na Patara. Daar het ons 'n skip gevind wat na Fenisië sou oorvaar, aan boord gegaan en weggevaar. Ons het binne sig van Ciprus gekom, maar dit aan ons linkerkant gelaat in ons verbyvaart na Sirië, en by Tirus aan wal gegaan, omdat die skip se vrag daar afgelaai sou word. Ons het die dissipels opgesoek en sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het onder leiding van die Gees vir Paulus gesê om nie na Jerusalem te gaan nie. Nadat ons die tyd daar deurgebring het, het ons vertrek en verder gereis. Almal, ook hulle vroue en kinders, het ons tot buitekant die stad begelei. Ons het op die strand gekniel en gebid. Nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord van die skip gegaan, terwyl hulle na hulle huise teruggekeer het. Ons het ons reis van Tirus beëindig met ons aankoms by Ptolemaïs. Daar het ons die broers gaan groet en 'n dag lank by hulle oorgebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Caesarea aangekom. Ons het na die huis gegaan van die evangelis Filippus, een van die sewe, en by hom tuisgegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat oor die gawe van profesie beskik het. Terwyl ons 'n hele paar dae daar oorgebly het, het 'n sekere profeet met die naam Agabus uit Judea daar aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, en sy eie voete en hande daarmee vasgebind, en gesê: “So sê die Heilige Gees, ‘Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.’ ” Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike mense Paulus gesmeek om nie na Jerusalem op te gaan nie. Daarop het Paulus geantwoord: “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus. ” Omdat hy hom nie laat oorreed het nie, het ons geswyg en net gesê: “Laat die wil van die Here geskied.” Ná hierdie dae het ons gereedgemaak en na Jerusalem opgegaan. Van die dissipels uit Caesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons geneem na Mnason, 'n man uit Ciprus, en lank reeds 'n dissipel, by wie ons sou tuisgaan. Met ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang. Die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus gegaan. Al die ouderlinge was ook teenwoordig. Nadat Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God deur sy bediening onder die heidene gedoen het. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir hom gesê: “Jy sien, broer, hoeveel derduisende onder die Jode tot die geloof gekom het, en hulle beywer hulle almal vir die wet. Oor jou is vertel dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om afvallig te wees van Moses deur aan hulle te sê dat hulle nie hulle kinders hoef te besny en nie volgens die gebruike hoef te leef nie. Wat staan ons te doen? Hulle sal beslis hoor dat jy hier is. Doen dan wat ons vir jou sê. Hier is vier manne by ons wat 'n gelofte afgelê het. Neem hulle saam, laat jou saam met hulle reinig, en betaal vir hulle die koste om hulle koppe te laat skeer. Dan sal almal weet dat daar niks steek in wat van jou vertel word nie, maar dat jy self ook in gehoorsaamheid aan die wet leef. Wat betref die nie-Jode wat gelowig geword het, het ons besluit, en hulle skriftelik laat weet, dat hulle hulle moet onthou van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is, en van hoerery.” Toe het Paulus die manne saamgeneem, en die volgende dag saam met hulle die reiniging ondergaan. Daarna het hy die tempelterrein binnegegaan om die voltooiing van die dae van die reiniging aan te kondig, die dag wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word. Toe die sewe dae van die reiniging amper verstreke was, het Jode uit Asië hom op die tempelterrein gesien en die hele skare in oproer gebring. Hulle het hom gegryp en geskreeu: “Manne, Israeliete, kom help! Hier is die man wat oral vir almal dinge leer wat teen die volk en die wet en hierdie plek gerig is. Hy het boonop Grieke in die tempelterrein ingebring en hierdie heilige plek ontheilig! ” Want hulle het vir Trofimus, die Efesiër, voorheen saam met Paulus in die stad gesien, en gedink dat hy hom in die tempelterrein ingebring het. Die hele stad was in rep en roer, en daar het 'n samedromming van die volk ontstaan. Hulle het Paulus gegryp en hom uit die tempelterrein gesleep, en die poorte is dadelik gesluit. Terwyl hulle probeer het om hom dood te maak, het die berig dat die hele Jerusalem in oproer is die chiliarg van die kohort soldate bereik. Hy het onmiddellik met soldate en die centurio op hulle afgestorm. Toe hulle die chiliarg en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan. Daarop het die chiliarg nader gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Toe het hy navraag gedoen oor wie Paulus was en wat hy gedoen het. Sommige in die skare het een ding geskreeu en ander weer iets anders. Toe hy vanweë die rumoer nie sekerheid kon kry nie, het hy beveel dat Paulus na die kwartiere geneem word. Toe Paulus by die trappe kom, moes hy weens die geweld van die skare deur die soldate gedra word, want die volksmassa het agter hulle aan geloop en geskreeu: “Weg met hom!” Net toe hulle Paulus by die kwartiere wou inbring, sê hy vir die chiliarg: “Is dit my geoorloof om iets vir u te sê?” Die chiliarg antwoord: “Ken jy Grieks? Is jy dan nie die Egiptenaar wat kort gelede 'n opstand gelei en vierduisend manne van die Sikariërs na die woestyn uitgelei het nie?” Maar Paulus antwoord: “Ek is 'n Joodse man, afkomstig van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n nie te onbelangrike stad nie. Ek versoek u: Laat my toe om die volk toe te spreek.” Hy het dit toegelaat, en Paulus het op die trappe gaan staan en 'n handgebaar gemaak vir die volk. Toe het 'n groot stilte neergedaal en hy het hulle in die Hebreeuse taal toegespreek

HANDELINGE 21:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur dat, nadat ons van hulle af weggeneem is, en ons te water gelaat het, het ons met 'n reguit koers na Coos gekom en die volgende dag na Rhodos en daarvandaan na Patara. En toe ons 'n skip gevind het wat oorvaar na Fenisië, het ons aan boord gegaan en vertrek. En toe ons Ciprus ontdek het, het ons dit aan die linkerkant gelaat en Sirië binnegevaar en by Tirus geland, want daar moes die skip haar las los. En toe ons dissipels gevind het, het ons sewe dae lank daar gebly, wat deur die Gees vir Paulus gesê het dat hy nie na Jerusalem moes optrek nie. En toe ons daardie dae voleindig het, het ons vertrek en weggegaan; en hulle het ons almal saam met vroue en kinders op pad gebring totdat ons uit die stad was; en ons het op die strand neergekniel en gebid. En toe ons van mekaar afskeid geneem het, het ons die skip gevat; en hulle het weer teruggekeer huis toe. En toe ons ons weg van Tirus af voltooi het, het ons by Ptolemais gekom en die broers gegroet en eendag by hulle gebly. En die volgende dag het ons uit die geselskap van Paulus vertrek en in Cesaréa gekom; en ons het in die huis van Filippus, die evangelis, ingegaan, wat een van die sewe was; en by hom gebly. En dieselfde man het vier dogters gehad, maagde, wat geprofeteer het. En terwyl ons baie dae daar gebly het, het daar 'n sekere profeet met die naam van Agabus van Judéa afgekom. En toe hy na ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: So spreek die Heilige Gees: So sal die Jode in Jerusalem die man wat hierdie gordel besit, bind en hom in die hande van die heidene. En toe ons hierdie dinge hoor, het ons sowel as dié van daardie plek Hom gesmeek om nie na Jerusalem op te gaan nie. Toe antwoord Paulus: Wat bedoel julle om te ween en my hart te breek? want ek is gereed om nie alleen gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe ter wille van die Naam van die Here Jesus. En toe hy nie wou oortuig nie, het ons opgehou en gesê: Die wil van die Here geskied! En ná daardie dae het ons ons waens opgetel en opgegaan na Jerusalem. Daar het ook sommige van die dissipels van Cesaréa saam met ons gegaan en een Mnason van Ciprus, 'n ou dissipel, saam met hulle gebring, by wie ons sou vernag. En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. En die volgende dag het Paulus saam met ons ingegaan na Jakobus; en al die oudstes was teenwoordig. En nadat hy hulle gegroet het, het hy veral vertel wat God deur sy bediening onder die heidene bewerk het. En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir Hom gesê: Jy sien, broer, hoeveel duisende Jode daar is wat glo; en hulle is almal ywerig vir die wet. En hulle is van jou meegedeel dat jy al die Jode wat onder die heidene is, leer om Moses te verlaat, deur te sê dat hulle hulle kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die gebruike moet wandel nie. Wat is dit dan? die skare moet saamkom, want hulle sal hoor dat U gekom het. Doen dan dit wat ons vir jou sê: Ons het vier manne wat 'n gelofte op hulle het; Hulle neem en reinig Uself met hulle, en hou 'n aanklag met hulle, dat hulle hulle hoof kan skeer; maar dat jy self ook ordelik wandel en die wet onderhou. Wat die heidene aangaan wat glo, het ons geskryf en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle nie so iets onderhou nie, behalwe dat hulle hulleself bewaar van afgodeoffers en van bloed en van verwurgdes en van hoerery. Toe het Paulus die manne geneem en hom die volgende dag saam met hulle gereinig in die tempel ingegaan om die voleinding van die reinigingsdae aan te dui, totdat 'n offer vir elkeen van hulle gebring sou word. En toe die sewe dae amper verby was, het die Jode uit Asië, toe hulle Hom in die tempel sien, die hele volk opgewek en Hom die hande opgelê. Skreeu, manne van Israel, help: Dit is die man wat almal oral leer teen die volk en die wet en hierdie plek, en verder ook Grieke in die tempel ingebring het en hierdie heiligdom verontreinig het. (Want hulle het tevore saam met hom Trofimus, 'n Efesiër in die stad gesien, wat hulle gemeen het dat Paulus in die tempel ingebring het.) En die hele stad het geruk, en die skare het saamgehardloop; en hulle het Paulus geneem en hom uit die tempel getrek, en dadelik is die deure gesluit. En terwyl hulle op pad was om hom dood te maak, het die boodskap by die owerste owerste van die bende gekom dat die hele Jerusalem in oproer was. Hulle het dadelik soldate en hoofman oor honderd geneem en na hulle afgehardloop; en toe hulle die owerste owerste en die soldate sien, het hulle Paulus laat slaan. Toe het die owerste nader gekom en hom geneem en bevel gegee dat hy met twee kettings gebind moes word; en gevra wie hy is en wat hy gedoen het. En sommige het onder die skare een en ander uitgeroep; en toe hy nie die sekerheid van die rumoer kon weet nie, het hy bevel gegee dat hy na die kasteel gedra moes word. En toe hy op die trappe kom, het dit gebeur dat hy van die soldate gedra is weens die geweld van die volk. Want die menigte van die volk het agterna gegaan en geroep: Weg met hom! En terwyl Paulus na die kasteel gelei sou word, sê hy vir die owerste owerste: Mag ek met jou praat? Wie het gesê: Kan jy Grieks praat? Is jy nie die Egiptenaar wat voor hierdie dae oproer gemaak en vierduisend man moordenaars in die woestyn uitgelei het nie? Maar Paulus sê: Ek is 'n man wat 'n Jood is van Tarsus, 'n stad in Cilicië, 'n burger van geen geringe stad nie; en laat my toe om met die volk te praat. En nadat hy hom die lisensie gegee het, het Paulus op die trappe gaan staan en met die hand vir die mense beduie. En toe daar 'n groot stilte gekom het, het Hy met hulle in Hebreeuse taal gespreek en gesê

HANDELINGE 21:1-40 Die Boodskap (DB)

Dit was bitter moeilik om van Efese se ouderlinge afskeid te neem. Nadat ons dit gedoen het, het ons tot by die eiland Kos gevaar. Daar het ons die aand oorgeslaap. Die volgende dag het ons tot in Rodos en van daar af na Patara gevaar.Daar aangekom, het ons ’n boot gehaal wat ons tot in Fenisië geneem het. Van daar af is ons na Siprus toe, waar ons oor Sirië tot in Tirus gevaar het. Die skip het daar anker gegooi. Terwyl ons gewag het dat die skip se vrag afgelaai word, het ons besluit om by die gelowiges in die stad te gaan oorbly.Ons het toe sewe dae by hulle deurgebring. Terwyl ons daar in Tirus was, het die Heilige Gees ’n paar gelowiges gelei om vir Paulus te sê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Later, toe ons skip reg was om te vertrek, het die hele gemeente ons kom groet. Mans, vroue en kinders, almal was daar. Hulle het saam met ons tot by die hawe gestap. Dit was net buitekant die stad. Daar op die strand het ons almal eers neergekniel en saamgebid.Toe het ons mekaar gegroet en op die skip geklim. Ons het van Tirus af na Ptolemaïs gevaar. Daar het ons die gemeente besoek. Hulle het gereël dat ons sommer ook daar by hulle oorslaap. Die volgende dag het ons na Sesarea vertrek, waar ons ’n ruk lank by Filippus gebly het. Hy is een van die sewe mans wat vroeër daar in die Jerusalemgemeente gehelp het om die armes te versorg.Hy het nou in Sesarea gebly, waar hy die goeie nuus oor Jesus verkondig het. Filippus het vier dogters gehad wat nog nie getroud was nie. God het aan hulle die gawe gegee om as profete op te tree en sy wil aan ander mense bekend te maak. Terwyl ons by Filippus gebly het, het ’n profeet uit Judea met die naam Agabus ook daar aangekom. Daar voor almal kom vat hy Paulus se belt en maak dit om sy hande en voete vas. Toe sê hy: “Luister wat die Heilige Gees vir julle sê: ‘Die man aan wie hierdie belt behoort, gaan op presies dieselfde manier in Jerusalem deur die Jode vasgebind word. Dan gaan hulle hom aan die Romeine uitlewer.’” Toe ons dit hoor, was ons baie omgekrap. Ons het Paulus oor en oor gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie, maar hy wou nie na ons luister nie. “Hoekom probeer julle om my van my plan te laat afsien?” het hy ons gevra. “Netnou oorreed al julle gehuil my om nie meer Jerusalem toe te gaan nie. Kom ek sê reguit vir julle: dis glad nie vir my ’n probleem as ek in Jerusalem in die tronk beland nie. Ek gee nie eens om as hulle my doodmaak ter wille van die Here Jesus nie!” Toe ons besef dat ons Paulus nie kon oorreed om weg te bly uit Jerusalem nie, het ons besluit om nie verder met hom daaroor te praat nie. “Ons bid net dat God se wil in jou lewe sal geskied. Mag al sy planne met jou lewe waar word,” het ons vir hom gesê. ’n Paar dae later het ons Jerusalem toe vertrek. ’n Klompie van die gelowiges in Sesarea het saam met ons soontoe gereis. Langs die pad het ons by ’n gelowige met die naam Mnason oorgebly. Hy was al oud. Hy het ons goed ontvang omdat hy goeie vriende was met die gelowiges in Sesarea wat saam met ons gereis het. In Jerusalem was die gelowiges van die stad bly om ons te sien.Die volgende dag het ons en Paulus vir Jakobus gaan kuier. Toe ons by sy huis aankom, was die ander leiers van die gemeente ook daar. Paulus het hulle almal vriendelik gegroet. Hy het dadelik begin om hulle te vertel waar hy oral was en wat hy alles gedoen het. Hy het verduidelik hoe God deur hom gewerk het onder mense wat nie aan die Joodse volk behoort nie. Toe Jakobus en die ander mense dit hoor, het hulle die Here geprys. Toe Paulus klaar was, sê hulle: “Ons het ook goeie nuus. Hier in Jerusalem het duisende Jode ook in Jesus begin glo. Maar hulle onderhou steeds die wet van Moses.” “Paulus, nou het ons ook ’n bietjie slegte nuus. Dit gaan oor jou. Ons moet jou waarsku. Daar word gesê dat jy oral vir die Jode vertel dat hulle nie meer na die wet van Moses hoef te luister nie. Hulle sê dat jy sê Joodse kinders hoef nie meer besny te word nie. Hulle hoef ook nie meer te leef soos ons godsdienstige wet voorskryf nie. “Nou sit ons met ’n groot probleem. Almal in die stad sal binnekort weet jy is hier. En dan gaan hulle die lewe vir ons bitter moeilik maak. Ons eie gemeentelede gaan ons ook daarvan beskuldig dat ons vriendelik is met iemand wat ’n dwaalleer verkondig. Maar ons het ’n oplossing vir die probleem. In ons gemeente is daar vier mans wat ’n ruk terug ’n belofte aan die Here afgelê het. Nou het die tyd aangebreek dat hulle hulle hare moet afskeer. Dis die bewys dat hulle hulle belofte teenoor God nagekom het. Soos jy weet, moet hulle nou na die tempel toe gaan om hulle daar aan die Here te gaan toewy. Hulle moet ook ’n offer aan Hom bring, wat ’n klompie geld kos. Ons wil hê jy moet saam met hulle na die tempel toe gaan. Betaal die geld vir hulle offers. “Gaan eers na ’n priester toe in die tempel. Hy sal jou elke paar dae met ’n bietjie water besprinkel. Dit vat ’n week. Na hierdie tyd kan jy dan die offers namens daardie vier mans betaal. Dan sal almal sien dat jy nog steeds luister na die wet van Moses. “Toe jy die vorige keer in Jerusalem was, het ons vir jou gesê dat Joodse gebruike slegs vir die Jode geld. Ons staan nog steeds daarby. Gelowiges wat nie Jode is nie, hoef glad nie hierdie voorskrif te gehoorsaam nie. Al wat hulle moet doen, is om te sorg dat hulle nie kos eet wat aan die afgode opgedra is nie. Hulle moet ook nie bloed drink of vleis eet van diere wat verwurg is nie. En laastens moet hulle nie seksuele verhoudings buite die huwelik aangaan nie.” Die volgende dag het Paulus die vier mans saam met hom na die tempel toe gevat. Daar het hy hom saam met hulle aan die Here toegewy. Volgens Joodse voorskrif sou daardie tyd van reiniging sewe dae lank aanhou. Toe die sewe dae amper verby was, het ’n groepie Jode uit Asië op ’n dag vir Paulus in die tempel raakgesien. Hulle was geskok en het dadelik begin skree: “Help! Kom help ons om hierdie man te vang! Dit is hy wat oral sulke verskriklike dinge teen die wet en teen die tempel kwytraak. Hy het nie ’n goeie woord vir ons volk nie. Boonop het ’n klompie Grieke saam met hom hier in die binnehof van die tempel ingekom. Hy maak die tempel onrein. Almal weet mos dat heidene nie hier mag inkom nie.” (Terloops, hierdie Jode het vroeër vir Trofimus, een van Paulus se metgeselle uit Efese, saam met hom sien rondstap. Hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingevat het. Maar Paulus het nie so iets gedoen nie.) Hierdie woorde het die skare in rep en roer gehad. Soos een man het hulle op Paulus afgestorm en hom gevang. Die nuus dat Paulus in die tempel gevang is, het soos ’n veldbrand deur die stad versprei. ’n Groot aantal mense het na die tempel toe gehardloop. Hulle het Paulus hardhandig tot buite die tempel gesleep. Die priesters het die deure van die tempel haastig agter die woedende skare toegesluit omdat hulle bang was vir ’n bakleiery op die tempelterrein. Terwyl die mense Paulus aangerand en hom probeer doodmaak het, is ’n boodskap na die aanvoerder van die Romeinse garnisoen gestuur. Hy het gehoor wat buite die tempel aangaan. Die bevelvoerder het toe dadelik sy offisiere en manskappe bymekaargemaak en na die tempel gehardloop om die skare onder beheer te kry. Toe die skare die Romeinse soldate sien aankom, het hulle opgehou om Paulus te slaan en te skop. Die bevelvoerder het die soldate beveel om hom met twee kettings vas te maak. Toe het hy probeer vasstel wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het. Die skare het egter so geraas en deurmekaar gepraat dat die aanvoerder nie kon verstaan wat aan die gang was nie.Hy het toe vir sy soldate gesê om Paulus na die Romeinse kaserne toe te bring. Die skare was egter so gewelddadig dat die soldate Paulus moes dra. Hulle het agter die soldate aangeloop en geskree:“Weg met hom!” Toe die Romeine by hulle hoofkwartier aankom, vra Paulus vir hulle aanvoerder: “Mag ek asseblief iets sê?” “Hoe praat jy dan Grieks?” vra die bevelvoerder hom. “Ek dog jy is daardie Egiptenaar wat ’n ruk terug hier amok gemaak het en daarna met 4 000 volgelinge die woestyn in is.” “Nee, ek is ’n Jood,” antwoord Paulus. “Ek kom van daardie beroemde stad Tarsus in Silisië af. Mag ek asseblief die skare toespreek?” Die aanvoerder het geknik. Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die skare beduie om stil te bly. Almal het doodstil geword toe hy met hulle in Hebreeus begin praat.

HANDELINGE 21:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat ons van die Efese-ouderlinge afskeid geneem het, het ons reguit na die eiland Kos gevaar. Die volgende dag is ons na Rodos en daarvandaan na Patara. Toe het ons ’n skip gekry na Fenisië. Ons het die eiland Siprus in sig gekry en is Sirië toe terwyl ons Siprus aan ons linkerkant verbygevaar het. In Tirus het ons afgeklim, want die skip moes sy vrag daar aflaai. Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae gebly. Deur die Gees gedring het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Ná ’n week moes ons vertrek en verder reis. Die hele gemeente, vroue en kinders ingesluit, is saam met ons strand toe, buitekant die stad. Daar het ons gekniel en gebid en mekaar gegroet. Ons het toe aan boord gegaan, en hulle is terug huis toe. Ons het van Tirus af die seereis voortgesit na Ptolemaïs. Daar het ons die gelowiges gegroet en ’n dag by hulle gebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het by die evangelis Filippus, een van die sewe, tuisgegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer. Ons was reeds ’n hele paar dae daar toe ’n profeet met die naam Agabus van Judea af daar aankom. Toe hy ons kom opsoek, het hy Paulus se belt gevat en sy eie voete en hande daarmee vasgebind. Toe sê hy: “Só sê die Heilige Gees: ‘Die man wie se belt dit is hierdie – die Jode in Jerusalem sal hom net so vasbind en hom in die hande van nie-Jode uitlewer.’” Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike gelowiges Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. Sy reaksie was egter: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle huilery? Julle weet mos ek is bereid om ter wille van die Naam van die Here Jesus nie net in Jerusalem gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterf.” Toe hy nie tot ander insigte gebring kon word nie, het ons met dié woorde berus: “Laat dan die wil van die Here geskied.” Hierna het ons opgepak en Jerusalem toe vertrek. Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons na Mnason toe gevat, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was, en wat reeds van vroeg af ’n gelowige was. By hom sou ons tuisgaan. Die gelowiges in Jerusalem het ons hartlik ontvang. Die volgende dag is Paulus saam met ons na Jakobus toe. Al die ouderlinge was by. Ná Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God onder die nie-Jode deur sy bediening gedoen het. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys. Hulle het egter vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, daar is hoeveel duisende van dié wat gelowiges geword het wat Jode is, en hulle is almal ywerige toepassers van die wet. Die gelowiges hier in Jerusalem het gehoor dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om die wet van Moses te ignoreer. Hulle beweer jy leer hulle om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die ander Joodse gebruike te onderhou nie. Wat nou? Hulle sal beslis te hore kom dat jy nou hier is. “Ons het ’n voorstel. Ons het vier mans hier wat ’n gelofte afgelê het en nou die nodige by die tempel moet gaan doen. Vat hulle tempel toe en gaan saam met hulle deur die reinigingshandeling en betaal vir hulle haarsny. Dan sal almal weet dat die stories wat oor jou versprei word, nie waar is nie, maar dat jy self die Joodse wet nakom en onderhou. “Wat betref die gelowiges wat vroeër nie-Jode was – ons het laat weet dat ons besluit het hulle moet hulle onthou van afgodsoffers, bloed, van iets wat verwurg is, en van seksuele sondes.” Paulus het toe die voorstel opgevolg en die volgende dag saam met die mans die reinigingshandeling verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee van die datum waarop die reinigingstydperk verby sou wees, en die offer vir elkeen van hulle gebring sou word. Die sewe dae reinigingstyd was amper om toe Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel sien en ’n hele skare teen hom aanhits. Hulle het Paulus gegryp en geskreeu: “Al julle Israeliete, kom help! Hier is die man wat deur sy onderrig almal oral teen ons volk en teen ons wet en teen die tempel beïnvloed. Nou het hy boonop nog Grieke hier ingebring en hierdie tempel wat aan God gewy is, ontheilig!” (Hulle het kort tevore Trofimus, ’n nie-Jood van Efese, saam met Paulus in die stad gesien en verkeerdelik die afleiding gemaak dat Paulus hom in die tempel ingebring het.) Die hele stad het in beroering gekom en ’n betoging het begin. Hulle het Paulus by die tempel uitgesleep, en die deure is dadelik toegesluit. Hulle het hom probeer vermoor toe die offisier oor duisend man van die Romeinse garnisoen hoor dat die hele Jerusalem in oproer is. Hy het onmiddellik met soldate en offisiere op hulle afgestorm. Toe die betogers die offisier oor duisend man en sy soldate sien kom, het hulle opgehou om Paulus aan te rand. Die offisier het Paulus toe gearresteer en hom met twee kettings laat boei. Hy vra toe die betogers wie die man is en wat hy gedoen het. Sommige het dít en ander weer dát geskreeu. Daar was só ’n rumoer dat hy nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Gevolglik het hy beveel dat Paulus kaserne toe gevat moes word. Toe Paulus by die trappe kom, moes die soldate hom dra, só gewelddadig het die skare geword. ’n Klomp is agterna en het geskreeu: “Weg met hom!” Net voor Paulus die barakke ingebring is, sê hy vir die offisier: “Verskoon my, kan ek u iets vra?” “Ken jy tog nie Grieks nie!” reageer die offisier. “Dan is jý nie die Egiptenaar wat onlangs ’n opstand gelei en met 4 000 ekstremiste die woestyn in getrek het nie?” “Ek,” het Paulus geantwoord, “is ’n Jood van Tarsus in Silisië, ’n burger van ’n belangrike stad. Ek versoek u: Laat my toe om die mense toe te spreek.” Die offisier het ingewillig, en Paulus het op die trappe gaan staan en met sy hand vir die mense beduie om stil te bly. Dit het doodstil geword, en hy het hulle in Aramees, hulle moedertaal, toegespreek.