Nadat ons van die Efese-ouderlinge afskeid geneem het, het ons reguit na die eiland Kos gevaar. Die volgende dag is ons na Rodos en daarvandaan na Patara. Toe het ons ’n skip gekry na Fenisië. Ons het die eiland Siprus in sig gekry en is Sirië toe terwyl ons Siprus aan ons linkerkant verbygevaar het. In Tirus het ons afgeklim, want die skip moes sy vrag daar aflaai. Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae gebly. Deur die Gees gedring het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Ná ’n week moes ons vertrek en verder reis. Die hele gemeente, vroue en kinders ingesluit, is saam met ons strand toe, buitekant die stad. Daar het ons gekniel en gebid en mekaar gegroet. Ons het toe aan boord gegaan, en hulle is terug huis toe.
Ons het van Tirus af die seereis voortgesit na Ptolemaïs. Daar het ons die gelowiges gegroet en ’n dag by hulle gebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het by die evangelis Filippus, een van die sewe, tuisgegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer.
Ons was reeds ’n hele paar dae daar toe ’n profeet met die naam Agabus van Judea af daar aankom. Toe hy ons kom opsoek, het hy Paulus se belt gevat en sy eie voete en hande daarmee vasgebind. Toe sê hy: “Só sê die Heilige Gees: ‘Die man wie se belt dit is hierdie – die Jode in Jerusalem sal hom net so vasbind en hom in die hande van nie-Jode uitlewer.’” Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike gelowiges Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.
Sy reaksie was egter: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle huilery? Julle weet mos ek is bereid om ter wille van die Naam van die Here Jesus nie net in Jerusalem gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterf.” Toe hy nie tot ander insigte gebring kon word nie, het ons met dié woorde berus: “Laat dan die wil van die Here geskied.”
Hierna het ons opgepak en Jerusalem toe vertrek. Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons na Mnason toe gevat, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was, en wat reeds van vroeg af ’n gelowige was. By hom sou ons tuisgaan. Die gelowiges in Jerusalem het ons hartlik ontvang.
Die volgende dag is Paulus saam met ons na Jakobus toe. Al die ouderlinge was by. Ná Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God onder die nie-Jode deur sy bediening gedoen het.
Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys. Hulle het egter vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, daar is hoeveel duisende van dié wat gelowiges geword het wat Jode is, en hulle is almal ywerige toepassers van die wet. Die gelowiges hier in Jerusalem het gehoor dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om die wet van Moses te ignoreer. Hulle beweer jy leer hulle om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die ander Joodse gebruike te onderhou nie. Wat nou? Hulle sal beslis te hore kom dat jy nou hier is.
“Ons het ’n voorstel. Ons het vier mans hier wat ’n gelofte afgelê het en nou die nodige by die tempel moet gaan doen. Vat hulle tempel toe en gaan saam met hulle deur die reinigingshandeling en betaal vir hulle haarsny. Dan sal almal weet dat die stories wat oor jou versprei word, nie waar is nie, maar dat jy self die Joodse wet nakom en onderhou.
“Wat betref die gelowiges wat vroeër nie-Jode was – ons het laat weet dat ons besluit het hulle moet hulle onthou van afgodsoffers, bloed, van iets wat verwurg is, en van seksuele sondes.”
Paulus het toe die voorstel opgevolg en die volgende dag saam met die mans die reinigingshandeling verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee van die datum waarop die reinigingstydperk verby sou wees, en die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.
Die sewe dae reinigingstyd was amper om toe Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel sien en ’n hele skare teen hom aanhits. Hulle het Paulus gegryp en geskreeu: “Al julle Israeliete, kom help! Hier is die man wat deur sy onderrig almal oral teen ons volk en teen ons wet en teen die tempel beïnvloed. Nou het hy boonop nog Grieke hier ingebring en hierdie tempel wat aan God gewy is, ontheilig!” (Hulle het kort tevore Trofimus, ’n nie-Jood van Efese, saam met Paulus in die stad gesien en verkeerdelik die afleiding gemaak dat Paulus hom in die tempel ingebring het.)
Die hele stad het in beroering gekom en ’n betoging het begin. Hulle het Paulus by die tempel uitgesleep, en die deure is dadelik toegesluit. Hulle het hom probeer vermoor toe die offisier oor duisend man van die Romeinse garnisoen hoor dat die hele Jerusalem in oproer is. Hy het onmiddellik met soldate en offisiere op hulle afgestorm. Toe die betogers die offisier oor duisend man en sy soldate sien kom, het hulle opgehou om Paulus aan te rand. Die offisier het Paulus toe gearresteer en hom met twee kettings laat boei. Hy vra toe die betogers wie die man is en wat hy gedoen het. Sommige het dít en ander weer dát geskreeu. Daar was só ’n rumoer dat hy nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Gevolglik het hy beveel dat Paulus kaserne toe gevat moes word. Toe Paulus by die trappe kom, moes die soldate hom dra, só gewelddadig het die skare geword. ’n Klomp is agterna en het geskreeu: “Weg met hom!”
Net voor Paulus die barakke ingebring is, sê hy vir die offisier: “Verskoon my, kan ek u iets vra?”
“Ken jy tog nie Grieks nie!” reageer die offisier. “Dan is jý nie die Egiptenaar wat onlangs ’n opstand gelei en met 4 000 ekstremiste die woestyn in getrek het nie?”
“Ek,” het Paulus geantwoord, “is ’n Jood van Tarsus in Silisië, ’n burger van ’n belangrike stad. Ek versoek u: Laat my toe om die mense toe te spreek.” Die offisier het ingewillig, en Paulus het op die trappe gaan staan en met sy hand vir die mense beduie om stil te bly. Dit het doodstil geword, en hy het hulle in Aramees, hulle moedertaal, toegespreek.