Handelinge 19:1-6

Handelinge 19:1-6 AFR20

Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende gebiede gereis en afgegaan na Efese, waar hy 'n aantal dissipels aangetref het. Hy het hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hulle het hom geantwoord: “Nee, ons het nie eers gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.” Toe vra hy: “Met watter doop is julle dan gedoop?” “Met die doop van Johannes ”, het hulle geantwoord. Daarop het Paulus gesê: “Johannes het gedoop met 'n bekeringsdoop, toe hy vir die volk gesê het om te glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Jesus.” Nadat hulle dit gehoor het, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop. Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het oor hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en geprofeteer.