Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende gebiede gereis en afgegaan na Efese, waar hy 'n aantal dissipels aangetref het. Hy het hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hulle het hom geantwoord: “Nee, ons het nie eers gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.” Toe vra hy: “Met watter doop is julle dan gedoop?” “Met die doop van Johannes ”, het hulle geantwoord. Daarop het Paulus gesê: “Johannes het gedoop met 'n bekeringsdoop, toe hy vir die volk gesê het om te glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Jesus.” Nadat hulle dit gehoor het, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop. Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het oor hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en geprofeteer. Altesaam was daar ongeveer twaalf mans.
Paulus het toe na die •sinagoge gegaan en daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek, geredeneer en hulle probeer oortuig aangaande die •koninkryk van God. Maar aangesien sommige van hulle hardkoppig was en nie wou glo nie, en die Weg voor die menigte beswadder het, het hy weggegaan, die dissipels van hulle afgesonder en daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou. Dit het twee jaar lank aangehou, sodat al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het.
God het deur die hande van Paulus besonder kragtige dade verrig, sodat selfs wanneer sweetdoeke en voorskote wat aan sy lyf was, na siekes geneem is, hulle siektes verdwyn en die bose geeste uitgewyk het. Sommige van die rondreisende Joodse geestebesweerders het ook probeer om die Naam van die Here Jesus uit te spreek oor mense met bose geeste deur te sê: “Ek besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!” Dit was Skeva, 'n Joodse leierpriester, se sewe seuns wat dit gedoen het. Maar die bose gees het hulle geantwoord: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die man in wie die bose gees was, het hulle bespring en hulle almal oorweldig en die oorhand oor hulle gekry, sodat hulle kaal en gewond uit daardie huis gevlug het. Dit het bekend geword onder al die Joodse en Griekse inwoners van Efese, en vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is verheerlik. Baie van diegene wat gelowig geword het, het na vore gekom, belydenis gedoen en hulle praktyke in die openbaar bekend gemaak. 'n Hele aantal van hulle wat towery bedryf het, het hulle •boekrolle saamgebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken, en bevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was. So het die woord van die Here kragtig bly groei en steeds sterker geword.