HANDELINGE 19:1-20
HANDELINGE 19:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy 'n groepie gelowiges gekry vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” “Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord. “Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe. “Die doop van Johannes,” antwoord hulle. Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.” Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. Hulle was altesaam omtrent twaalf. Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het. God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen. Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan. Party Jode wat rondgegaan het om bose geeste te besweer, het dit ook gewaag om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” Dit was die sewe seuns van 'n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het. Maar een van die bose geeste het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het. Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys. Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak. Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was. So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.
HANDELINGE 19:1-20 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl Apollos in die stad Korinte was, het Paulus deur ander plekke in die provinsie Asië gegaan en hy het in die stad Efese gekom. Daar het hy 'n paar gelowiges gekry en hy het vir hulle gevra: “Het die Heilige Gees in julle gekom toe julle in Jesus begin glo het?” Hulle antwoord toe vir Paulus: “Nee, ons het nie die Heilige Gees gekry nie en ons het ook nog nie gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.” Paulus vra toe vir hulle: “Met watter doop is julle gedoop?” Hulle het vir Paulus gesê: “Ons is gedoop met die doop van Johannes die Doper.” Maar Paulus het gesê: “Johannes het mense gedoop sodat hulle sal verander en sal lewe soos God wil hê. Johannes het ook vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat later sal kom. Daardie Persoon is Jesus.” En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. Paulus het sy hande op hulle gesit, en toe het die Heilige Gees in hulle gekom. Hulle het begin om in tale te praat en om die boodskap van God te bring. Hulle almal saam was omtrent twaalf mans. Paulus het toe na die sinagoge gegaan en hy het drie maande lank elke dag met die Jode gepraat. Hy was nie bang nie, hy het vir hulle gesê dat God Koning is oor almal. Hy het hard probeer dat hulle dit ook moet glo, soos hy. Maar party van die Jode het hardkoppig gebly en hulle het ongelowiges gebly. Hulle het aangehou om sleg te praat van “ Die Pad,” hulle het dit gedoen waar al die mense dit kon hoor. Paulus het toe weggegaan van die Jode en hy het die gelowiges weggeneem saam met hom. Hy het toe elke dag met hulle gepraat in die skool van Tirannus. Paulus het dit twee jaar lank gedoen. So het al die mense wat in die provinsie Asië woon, al die Jode en die Grieke, die boodskap oor die Here gehoor. God het vir Paulus wonderwerke laat doen, en die mense was verbaas daaroor. Daarom het party mense lappe en klere wat Paulus gedra het, op siek mense gesit. Dan het die mense gesond geword en die bose geeste het uit hulle uitgegaan. Daar was ook Jode wat na verskillende stede gegaan het om bose geeste uit mense te jaag. Wanneer hulle dit probeer doen het, dan het hulle die Here Jesus se Naam gesê. Hulle het gesê: “Julle moet uitgaan uit hierdie persoon, ons sê dit vir julle. Jesus het gesê ons mag dit sê. Dit is dieselfde Jesus oor wie Paulus preek.” Daar was 'n Joodse priesterleier, Skeva. Hy het sewe seuns gehad. Hulle het ook só probeer om die bose geeste uit mense te jaag. Maar die bose gees het hulle geantwoord en gesê: “Jesus, ja ek ken Hom, en ek weet van Paulus, maar júlle, ek ken julle nie.” En die man wat die bose gees in hom gehad het, spring toe op hulle. Hy het hulle almal aangeval en hy het hulle baie geslaan. Hulle het uit daardie huis gevlug en hulle was kaal en vol seerplekke. Al die Jode en die Grieke wat in die stad Efese gewoon het, het gehoor wat gebeur het. Toe het hulle almal bang geword, en hulle het die Naam van die Here Jesus geprys. Baie van die mense het gelowiges geword. Hulle het gekom en hulle het bely dat hulle verkeerde dinge gedoen het. Hulle het vir almal vertel wat hulle alles gedoen het. Baie van die mense wat voorheen getoor het, het hulle boekrolle gebring en hulle het dit verbrand waar al die mense dit kon sien. Die mense het getel hoeveel al die boeke gekos het, en dit was 50 000 silwer geldstukke. Omdat hierdie dinge gebeur het, het meer en meer mense die boodskap van die Here gehoor en dit geglo.
HANDELINGE 19:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer. En altesaam was hulle omtrent twaalf manne. En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan. Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van 'n sekere Tiránnus samesprekinge gehou. En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke. En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het. En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig! Dit was sekere sewe seuns van Skeva, 'n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het. Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle? Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het. En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak. En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak; en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was. So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.
HANDELINGE 19:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende gebiede gereis en afgegaan na Efese, waar hy 'n aantal dissipels aangetref het. Hy het hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hulle het hom geantwoord: “Nee, ons het nie eers gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.” Toe vra hy: “Met watter doop is julle dan gedoop?” “Met die doop van Johannes ”, het hulle geantwoord. Daarop het Paulus gesê: “Johannes het gedoop met 'n bekeringsdoop, toe hy vir die volk gesê het om te glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Jesus.” Nadat hulle dit gehoor het, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop. Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het oor hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en geprofeteer. Altesaam was daar ongeveer twaalf mans. Paulus het toe na die •sinagoge gegaan en daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek, geredeneer en hulle probeer oortuig aangaande die •koninkryk van God. Maar aangesien sommige van hulle hardkoppig was en nie wou glo nie, en die Weg voor die menigte beswadder het, het hy weggegaan, die dissipels van hulle afgesonder en daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou. Dit het twee jaar lank aangehou, sodat al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het. God het deur die hande van Paulus besonder kragtige dade verrig, sodat selfs wanneer sweetdoeke en voorskote wat aan sy lyf was, na siekes geneem is, hulle siektes verdwyn en die bose geeste uitgewyk het. Sommige van die rondreisende Joodse geestebesweerders het ook probeer om die Naam van die Here Jesus uit te spreek oor mense met bose geeste deur te sê: “Ek besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!” Dit was Skeva, 'n Joodse leierpriester, se sewe seuns wat dit gedoen het. Maar die bose gees het hulle geantwoord: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die man in wie die bose gees was, het hulle bespring en hulle almal oorweldig en die oorhand oor hulle gekry, sodat hulle kaal en gewond uit daardie huis gevlug het. Dit het bekend geword onder al die Joodse en Griekse inwoners van Efese, en vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is verheerlik. Baie van diegene wat gelowig geword het, het na vore gekom, belydenis gedoen en hulle praktyke in die openbaar bekend gemaak. 'n Hele aantal van hulle wat towery bedryf het, het hulle •boekrolle saamgebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken, en bevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was. So het die woord van die Here kragtig bly groei en steeds sterker geword.
HANDELINGE 19:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl Apollos in Korinthe was, kom Paulus deur die boonste gebiede in Éfese, en hy het sekere dissipels gevind, Hy sê vir hulle: Het julle die Heilige Gees ontvang vandat julle geglo het? En hulle sê vir hom: Ons het nie soseer gehoor of daar 'n Heilige Gees is nie. En Hy sê vir hulle: Waartoe is julle dan gedoop? En hulle sê: By die doop van Johannes. Toe sê Paulus: Johannes het voorwaar gedoop met die doop van bekering en aan die volk gesê dat hulle moet glo in Hom wat ná hom sou kom, dit is in Christus Jesus. Toe hulle dit hoor, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop. En toe Paulus hulle die hande opgelê het, het die Heilige Gees oor hulle gekom; en hulle het in tale gespreek en geprofeteer. En al die manne was omtrent twaalf. En hy het in die sinagoge ingegaan en drie maande lank met vrymoedigheid gepraat en die dinge aangaande die koninkryk van God betwis en oortuig. Maar toe die duikers verhard was en nie geglo het nie, maar so kwaad gepraat het voor die skare, het Hy van hulle gewyk en die dissipels geskei en daagliks in die skool van ene Tirannus gestry. En dit het voortgeduur met die verloop van twee jaar; sodat almal wat in Asië gewoon het, die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke. En God het besondere wonderwerke deur die hande van Paulus gedoen: Sodat daar uit sy liggaam sakdoeke of voorskote na die siekes gebring is, en die siektes het van hulle gewyk, en die bose geeste het uit hulle uitgegaan. En sommige van die rondloper Jode, bedrywers, het op hulle geneem om die Naam van die Here Jesus oor die wat bose geeste gehad het, aan te roep en gesê: Ons besweer julle by Jesus wat Paulus verkondig. En daar was sewe seuns van een Skeva, 'n Jood en owerstes van die priesters, wat dit gedoen het. En die bose gees antwoord en sê: Jesus ken ek, en Paulus ken ek; maar wie is julle? En die man in wie die bose gees was, het op hulle opgespring en hulle oorwin en hulle oorwin, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het. En dit was bekend aan al die Jode en Grieke wat ook in Éfese gewoon het; en vrees het op almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot geword. En baie wat geglo het, het gekom en belydenis afgelê en hulle werke bekend gemaak. Ook het baie van hulle wat met snaakse kuns gebruik gemaak het, hulle boeke bymekaargebring en dit voor alle mense verbrand; en hulle het die prys daarvan getel en dit vyftigduisend silwerstukke gevind. So het die woord van God kragtig gegroei en die oorhand gekry.
HANDELINGE 19:1-20 Die Boodskap (DB)
Apollos het ook in Korinte vir die mense van Jesus vertel. Terwyl hy daarmee besig was, het Paulus intussen deur ’n aantal ander gebiede gereis. Toe Paulus in Efese aankom, het hy sowat twaalf volgelinge van Jesus daar raakgeloop. Hy vra toe vir hulle: “Het julle ook die Gees se krag in julle lewens ontvang toe julle tot bekering gekom het?” “Wie is dit? Ons het nog nooit eens van Hom gehoor nie,” vra hulle verbaas. “Hoe is julle dan gedoop? In wie se naam het dit gebeur?” vra Paulus verbaas. “Met die doop van Johannes die Doper,” antwoord hulle. “Johannes het mense gedoop wat bereid was om op te hou met hulle sonde,” sê Paulus toe. “Johannes het ook vir elkeen wat hy gedoop het, gesê dat hulle moes glo in die Een wat na hom op die toneel sou verskyn. Daardie Een is Jesus. Daarom geld Johannes se doop nou nie meer nie.” Toe die gelowiges hoor wat Paulus sê, was hulle vuur en vlam om in die Naam van die Here Jesus gedoop te word. Paulus het dit toe ook gedoen. Nadat hy hulle gedoop het, het hy sy hande op hulle gesit terwyl hy vir hulle bid. Dadelik het die groot krag van die Heilige Gees in hulle begin werk. Hulle het ook in ander tale gepraat. Boonop het hulle nou ook oor die vermoë beskik om te profeteer en God se wil bekend te maak. Hulle was omtrent twaalf persone. Paulus het daarna by die sinagoge in Efese gaan besoek aflê. Hy het die volgende drie maande gereeld soontoe gegaan. Keer op keer het hy met die mense gaan redeneer. Hy het hard probeer om hulle te oortuig dat hulle slegs in God se nuwe wêreld kon kom as hulle in Jesus glo. Maar baie van hulle het volstrek geweier om in Jesus te glo. Later het hulle met Paulus begin spot en lelike dinge oor Jesus daar voor almal kwytgeraak. Paulus was baie ontevrede. Paulus het hulle verlaat en ’n skoolgebou by ’n man met die naam Tirannus bekom. Daar het hy elke dag saam met die gelowiges bymekaargekom en vir hulle van Jesus vertel. Die volgende twee jaar het Paulus die skool gebruik om die mense te leer waaroor die evangelie presies gaan. Later het omtrent almal in Asië, Jode en Grieke inkluis, geweet wie die Here Jesus is. God het Paulus ook in staat gestel om groot wonderwerke te doen. Paulus het oor soveel krag beskik dat siekes slegs van sy klere op hulle kon neersit, dan het hulle op die plek gesond geword. Selfs bose magte het padgegee uit die lewens van mense wat in aanraking met Paulus se klere was. In daardie tyd was daar baie Jode wat van plek tot plek rondgetrek en duiwels uit mense gedryf het. Die sewe seuns van Skeva, ’n belangrike Joodse priester, was so ’n groep. Hulle het allerhande dinge gedoen om mense van duiwels te probeer bevry. Op ’n dag toe hulle in Efese was, het hulle vir ’n bose gees gesê wat in iemand was: “Ons dryf jou uit in die Naam van daardie Jesus van wie Paulus praat.” Die bose gees het geantwoord: “Kyk, ek weet baie goed wie Jesus is. En ek ken ook vir Paulus. Maar julle spul ken ek van geen kant af nie!” Dadelik het die man in wie die bose mag was, hulle wreedaardig aangeval. Hy was so sterk dat hulle niks teen hom kon doen nie. Hulle klere is van hulle afgeskeur. Op die ou end het hulle daarin geslaag om weg te kom, kaal en bebloed. Gou-gou het almal in Efese gehoor wat met die seuns van Skeva gebeur het. Die inwoners het baie bang geword. Almal het met groot eerbied oor die Here Jesus gepraat. Baie nuwe bekeerlinge het in die openbaar vertel hoe hulle vroeër in sonde geleef en hoe Jesus hulle lewens verander het. ’n Klompie hekse en towenaars het ook tot bekering gekom. Daar voor almal het hulle hulle boeke verbrand waarin al hulle towerformules opgeskryf was. Hierdie boeke was peperduur. Dit was sowat 50 000 silwermuntstukke werd. (Dit was sowat 137 jaar se salaris vir ’n gewone werker!) Die Woord van die Here het in Efese van krag tot krag gegaan. Al hoe meer mense het geglo.
HANDELINGE 19:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binnelandse gebiede van Klein-Asië Efese toe gereis. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry. Hy het vir hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?” “Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie,” het hulle hom geantwoord. “Met watter doop is julle dan gedoop?” het hy gevra. Hulle het geantwoord: “Met die doop van Johannes.” Paulus sê toe: “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ’n mens jou van jou sonde bekeer het tot God. Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.” Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer. Altesaam was dit ongeveer twaalf mans. Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God. Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”. Toe het Paulus die sinagoge verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou. So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap van die Here gehoor het. God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen. Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan. Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was: “Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!” Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva. Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?” Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het. Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak. Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely. Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke. So het die woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword.