Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binnelandse gebiede van Klein-Asië Efese toe gereis. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry. Hy het vir hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?” “Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie,” het hulle hom geantwoord. “Met watter doop is julle dan gedoop?” het hy gevra. Hulle het geantwoord: “Met die doop van Johannes.” Paulus sê toe: “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ’n mens jou van jou sonde bekeer het tot God. Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.” Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer. Altesaam was dit ongeveer twaalf mans. Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God. Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”. Toe het Paulus die sinagoge verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou. So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap van die Here gehoor het. God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen. Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan. Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was: “Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!” Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva. Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?” Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het. Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak. Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely. Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke. So het die woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword.
Lees HANDELINGE 19
Luister na HANDELINGE 19
Deel
Vergelyk alle weergawes: HANDELINGE 19:1-20
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's