Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en Perge in Pamfilië bereik. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. Hulle het van Perge verder gegaan en by Antiogië in Pisidië aangekom, en op die Sabbat die •sinagoge binnegegaan en gaan sit. Ná die voorlesing van die Wet en die Profete, het die leiers van die sinagoge 'n boodskap na hulle gestuur met die woorde: “Broers, as julle 'n woord van bemoediging vir die volk het, sê dit!” Paulus het opgestaan, 'n handgebaar gemaak en gesê:
“Israeliete en godvresendes, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers uitverkies, en het hulle tydens hulle verblyf as •vreemdelinge in Egipteland tot 'n volk verhef, hulle met 'n uitgestrekte arm daar uitgelei, en hulle ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur. In die land Kanaän het Hy sewe nasies uitgedelg en hulle land as erfdeel aan ons voorouers gegee. Dit het ongeveer vierhonderd-en-vyftig jaar geduur. En daarna het Hy rigters gegee, tot by die profeet Samuel. Hierna het hulle aangedring op 'n koning, en God het Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar aan hulle gegee. Nadat God hom as koning verwyder het, het Hy Dawid tot hulle koning gemaak. Oor hom het Hy soos volg getuig, ‘In Dawid, die seun van Isai, het Ek 'n man na my hart gevind, wat al my wilsbesluite sal uitvoer. ’ Uit hierdie man se nageslag het God vir Israel, in ooreenstemming met sy belofte, Jesus as Verlosser voortgebring. Voor Jesus se openbare optrede het Johannes aan die hele volk Israel die doop van bekering verkondig. Toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê, ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk, ná my kom iemand wie se sandale ek nie werd is om van sy voete los te maak nie. ’
“Broers, kinders van Abraham se geslag, en die godvresendes onder julle, aan ons is die boodskap van hierdie verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan. Alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon vind nie, het hulle tog by •Pilatus daarop aangedring dat Hy tereggestel word. Toe hulle alles uitgevoer het wat oor Hom geskryf staan, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek. In die loop van baie dae het Hy verskyn aan hulle wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gereis het en wat nou as sy getuies teenoor die volk optree. En ons verkondig aan julle die goeie boodskap dat God die belofte wat aan die voorvaders gemaak is, vir ons, hulle kinders, vervul het deurdat Hy Jesus laat opstaan het, soos daar in die tweede psalm geskryf staan:
“ ‘Jy is my Seun;
vandag het Ek jou verwek.’
“En omdat Hy Hom uit die dood sou opwek, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie, het Hy soos volg gesê:
“ ‘Ek sal aan julle die heilige
en betroubare beloftes van Dawid gee.’
“Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm:
“ ‘U sal u Heilige nie ontbinding
laat beleef nie.’
“Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag volgens God se raadsbesluit gedien het, gesterf, en is by sy voorvaders begrawe – en hy het ontbinding beleef; maar Hy vir wie God opgewek het, het nie ontbinding beleef nie. Julle moet dus weet, broers, dat dit deur hierdie Man is dat die vergewing van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die •Wet van Moses nie geregverdig kon word nie. Sorg dat wat in die Profete gesê is, nie met julle gebeur nie:
“ ‘Kyk, julle spotters,
staan verstom en gaan ten gronde!
Want in julle tyd doen Ek iets,
'n daad wat julle beslis nie sal glo
as iemand dit vir julle vertel nie.’ ”
Toe Paulus en Barnabas buite kom, het die mense gesmeek dat hierdie dinge op die volgende Sabbat ook aan hulle vertel word. Toe die sinagoge verdaag het, het baie van die Jode en die godsdienstige proseliete Paulus en Barnabas gevolg, wat met hulle gepraat en hulle oortuig het om in die genade van God te bly leef.
Die volgende Sabbat het byna die hele stad byeengekom om die woord van die Here te hoor. Toe die Jode die skare sien, is hulle vervul met naywer, en het hulle dit wat Paulus gesê het, teengestaan en belaster. Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies. Want so het die Here dit aan ons opgedra:
“ ‘Ek het jou aangewys
as 'n lig vir die nasies,
sodat jy verlossing kan bring
tot aan die uiteindes van die aarde.’ ”
Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei. Die Jode het egter die godsdienstige vroue uit die vooraanstaande kringe en ook die leiers van die stad aangehits, en hulle het 'n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf. Hulle het toe die stof van hulle voete afgeskud as getuienis teen die stad en na Ikonium vertrek. Die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.