HANDELINGE 13:13-52

HANDELINGE 13:13-52 NLV

Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en by Perge in Pamfilië vasgemeer. Daar het Johannes hulle verlaat en teruggegaan Jerusalem toe. Barnabas en Paulus het egter die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië aangekom. Op die Sabbatdag het hulle die sinagoge binnegegaan en gaan sit. Ná die gebruiklike voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir ons ’n woord van bemoediging het, kom praat!” Paulus het opgestaan en met ’n handbeweging aandag gevra en gesê: “Geagte Israeliete en julle ander wat vir die ware God ontsag het, luister. “Die God van hierdie volk Israel het ons voorgeslag uitgekies en hulle voorspoedig gemaak toe hulle in Egipte as uitlanders gewoon het. Hy het hulle kragtig daarvandaan uitgelei. Hy het hulle in die woestyn ongeveer 40 jaar lank geduldig verdra. Daarna het Hy sewe nasies in Kanaän uitgewis en hulle land as erfporsie aan die Israeliete gegee. Dit alles het ongeveer 450 jaar geneem. Daarna het Hy rigters voorsien tot die tyd van die profeet Samuel. Toe wou hulle ’n koning hê, en God het Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam Benjamin, vir 40 jaar aan hulle gegee. Nadat God hom verwyder het, het Hy Dawid vir hulle as koning voorsien. Van hom het God getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai, gekry; hy is ’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’ “Uit hierdie man se nageslag het God die beloofde Verlosser vir Israel, Jesus, laat voortkom! Voor sy koms het Johannes die bekeringsdoop aan die hele volk Israel verkondig. En toe Johannes aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Dink julle miskien ek is die Messias? Nee, ek is nie! Die Messias kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy sandale los te maak nie.’ “Geagte volksgenote, seuns uit die geslag van Abraham, en julle ander wat vir God ontsag het, aan óns het God die boodskap van hierdie verlossing gestuur! Die mense in Jerusalem en hulle leiers het die uitsprake van die profete in vervulling laat gaan deur Jesus tot die dood te veroordeel. Hulle het Hom nie herken nie en ook nie besef dat dit Hy is oor wie die profete geskryf het nie, al word dit elke Sabbatdag voorgelees. Hulle kon geen grond vir die doodvonnis kry nie, maar nogtans het hulle Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak. “Nadat hulle alles gedoen het wat oor sy lyding in die Skrif geskryf staan, het hulle Hom van die kruis afgehaal en in ’n grafkamer neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek! Jesus het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. “En nou verkondig ek en Barnabas hierdie Goeie Nuus aan julle: God het die belofte aan ons voorgeslagte waar laat word. Hy het dit vir ons, hulle nageslag, vervul deur Jesus te laat opstaan. So staan dit dan ook in die tweede psalm oor Jesus geskryf: ‘Jy is my Seun; Ék het jou vandag verwek.’ “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit tot niet gaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: ‘Ek sal vir julle die beloftes vervul wat Ek betroubaar aan Dawid toegesê het.’ “Daarom sê God ook elders: ‘U sal nie toelaat dat die Een wat aan U toegewy is tot niet gaan nie.’ Dit verwys nie na Dawid nie, want hy het tog gesterf nadat hy die mense van sy eie tyd gedien het soos God beskik het. Hy is by sy voorgeslagte begrawe, en sy liggaam hét tot niet gegaan. Nee, die verwysing is na Iemand anders: Hóm het God opgewek, sý liggaam het nie tot niet gegaan nie. “Daarom, geagte volksgenote, moet julle goed weet wat nou aan julle verkondig word: vergewing van sondes deur Jesus! Julle kon nie deur die wet van Moses God se vryspraak verkry nie, maar deur Jesus word elkeen wat glo, deur God vrygespreek. Pas dan op dat wat in die profete gesê is, nie op julle van toepassing word nie: ‘Sien dit tog raak, julle veragters! Staan verstom en gaan te gronde! Want in julle tyd doen Ek iets, iets wat julle beslis nie sal glo nie, selfs nie as iemand dit vir julle vertel nie.’” Terwyl Paulus en Barnabas die sinagoge verlaat, het die mense hulle gevra om die volgende Sabbatdag meer van dié dinge te vertel. Ná die sinagogediens het baie van die Jode en van die nie-Jode wat proseliete geword het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié twee het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. Die volgende Sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om hulle die woord van die Here te hoor preek. Toe die Jode die skares sien, het hulle jaloers geword. Hulle het Paulus beledig en alles teengestaan wat hy gesê het. Paulus en Barnabas het toe reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, wend ons ons nou tot die nie-Jode. “Immers met hierdie woorde het die Here ons ’n opdrag gegee: ‘Ek het Jou gegee as ’n lig vir die nie-Joodse nasies sodat Jy verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.’” Toe die nie-Jode dit hoor, was hulle baie bly en hulle het die woord van die Here toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur daardie hele streek versprei. Maar die Jode het vooraanstaande vroue wat vir die ware God ontsag gehad het, asook toonaangewende burgers van die stad, opgesweep. Hulle het ’n betoging teen Paulus en Barnabas bewerk, en hulle uit die streek weggejaag. Hulle het toe, as protes teen die stad, die stof van hulle voete afgeskud en Ikonium toe gegaan. Die gelowiges was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.