In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, 'n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.
So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees gestuur, en hulle het afgereis na Seleukië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. Toe hulle in Salamis aankom, het hulle die woord van God in die Joodse •sinagoges verkondig, met Johannes as hulle helper. Hulle het deur die hele eiland gereis tot in Pafos, waar hulle 'n sekere Joodse towenaar aangetref het, 'n vals profeet met die naam Barjesus. Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor. Maar die towenaar Elimas – want so word die naam Barjesus vertaal – het hulle teengestaan, omdat hy die prokonsul van die geloof wou weghou. Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees, gesê: “O, kind van die Duiwel, vyand van alle •geregtigheid, en vol allerlei listighede en elke soort bedrog – sal jy nie ophou om die reguit paaie van die Here te verdraai nie? Maar kyk, nou gaan die hand van die Here jou tref en jy sal 'n ruk lank blind wees en die son nie sien nie.” Onmiddellik het 'n mistigheid en duisternis hom oorval en hy het rondgestrompel en mense gesoek om hom aan die hand te lei. Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy, verstom oor die leer van die Here, gelowig geword.
Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en Perge in Pamfilië bereik. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. Hulle het van Perge verder gegaan en by Antiogië in Pisidië aangekom, en op die Sabbat die •sinagoge binnegegaan en gaan sit. Ná die voorlesing van die Wet en die Profete, het die leiers van die sinagoge 'n boodskap na hulle gestuur met die woorde: “Broers, as julle 'n woord van bemoediging vir die volk het, sê dit!”