Handelinge 10:1-16

Handelinge 10:1-16 AFR20

Daar was 'n man in Caesarea bekend as Cornelius, 'n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. Hy het teen die negende uur van die dag in 'n visioen duidelik 'n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!” Hy het stip na hom gestaar en beangs gevra: “Wat is dit, Meneer?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot 'n gedenkoffer voor God opgestyg. Stuur dan nou mans na Joppe om iemand met die naam Simon, ook bekend as •Petrus, te gaan haal. Hy gaan tuis by 'n sekere Simon, die leerlooier, wie se huis langs die see staan.” Toe die engel wat met hom gepraat het weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n godvresende soldaat, een van hulle wat hom dien, en nadat hy hulle alles vertel het, stuur hy hulle na Joppe. Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 10:1-16

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid