HANDELINGE 10:1-16

HANDELINGE 10:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man in die hawestad Sesarea. Sy naam was Kornelius. Hy was 'n offisier van 'n groep Italiaanse soldate. Hy en almal in sy huis het God gedien en gerespekteer. Hy het baie goeie dinge gedoen om die arm mense in die Joodse volk te help, en hy het elke dag tot God gebid. Een middag omtrent drie-uur het God iets vir Kornelius gewys: 'n Engel van God het na Kornelius toe gekom en vir hom gesê: “Kornelius!” Kornelius was bang. Hy het na die engel gekyk en gesê: “Wat is dit, Meneer?” Die engel sê toe vir hom: “God het gehoor toe jy elke dag tot Hom gebid het en Hy het die goeie dinge gesien wat jy doen. Jy moet 'n paar mans na die hawestad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Petrus bly by 'n man, sy naam is ook Simon. Hy is 'n leerlooier en hy het 'n huis by die see.” Die engel wat met Kornelius gepraat het, het weggegaan. Kornelius het twee van sy slawe wat in sy huis gewerk het, geroep en ook 'n soldaat wat vir hom gewerk het. Nadat Kornelius alles vir hulle vertel het, het hy hulle na Joppe gestuur. Terwyl hulle die volgende dag op die pad na Joppe was en nader kom na die stad, het Petrus op die huis se plat dak geklim om te bid. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy het honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense besig was om kos te maak, het die Here vir hom iets gewys, dit was soos in 'n droom. Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos 'n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak. In die groot stuk lap was van al die soorte diere: diere wat vier pote het, diere wat op die aarde kruip en voëls. Petrus hoor toe dat Iemand vir hom sê: “Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.” Maar Petrus het gesê: “Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is nie, of iets wat onrein is nie.” Maar die Persoon het die tweede maal vir hom gesê: “God het hierdie diere rein gemaak. Jy moenie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap opgetrek in die hemel in.

HANDELINGE 10:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was in Cesaréa 'n man met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n sekere Simon, 'n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe. En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom: hy sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.

HANDELINGE 10:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Sesarea was daar 'n man met die naam Kornelius, 'n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!” Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.” Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.

HANDELINGE 10:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was 'n man in Caesarea bekend as Cornelius, 'n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. Hy het teen die negende uur van die dag in 'n visioen duidelik 'n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!” Hy het stip na hom gestaar en beangs gevra: “Wat is dit, Meneer?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot 'n gedenkoffer voor God opgestyg. Stuur dan nou mans na Joppe om iemand met die naam Simon, ook bekend as •Petrus, te gaan haal. Hy gaan tuis by 'n sekere Simon, die leerlooier, wie se huis langs die see staan.” Toe die engel wat met hom gepraat het weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n godvresende soldaat, een van hulle wat hom dien, en nadat hy hulle alles vertel het, stuur hy hulle na Joppe. Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.

HANDELINGE 10:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was 'n sekere man in Cesarea met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die bende wat die Italiaanse bende genoem word, 'n Vroom man en een wat God vrees met sy hele huis, wat baie aalmoese aan die volk gegee het en altyd tot God gebid het. Hy het in 'n gesig blykbaar omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Kornelius! En toe hy na hom kyk, was hy bang en sê: Wat is dit, Here? En hy sê vir hom: Jou gebede en jou aalmoese het opgekom om voor God te gedenk. En stuur nou manne na Joppe en roep een Simon, wie se van Petrus is. Hy vernag by Simon, 'n leerlooier, wie se huis langs die see is; hy sal jou vertel wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weggegaan het, het hy twee van sy huisbediendes geroep en 'n vroom soldaat van die wat gedurig op hom gewag het; En nadat hy al hierdie dinge aan hulle verkondig het, het hy hulle na Joppe gestuur. Die volgende dag, terwyl hulle op reis en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid. En hy het baie honger geword en sou geëet het, maar terwyl hulle gereed gemaak het, het hy in 'n beswyming geraak, En hy het die hemel oop gesien en 'n sekere voorwerp na hom toe sien neerdaal, soos dit 'n groot laken was wat aan die vier hoeke gebreid is en op die aarde neergelaat is. Waarin was allerhande viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere en voëls van die hemel. En daar het 'n stem na hom gekom: Staan op, Petrus! doodmaak en eet. Maar Petrus sê: Nie so nie, Here; want ek het nog nooit iets geëet wat onrein of onrein is nie. En die stem het weer vir die tweede keer met hom gesê: Wat God gereinig het, moet jy nie onheilig ag nie. Dit is drie maal gedoen, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.

HANDELINGE 10:1-16 Die Boodskap (DB)

In Sesarea het daar ’n man gebly met die naam Kornelius. Hy was die bevelvoerder van die Italiaanse regiment wat daar gestasioneer was. Hy was ’n goeie mens. Kornelius en almal in sy huis het groot respek vir God gehad. Sy hand was altyd oop vir ander mense wat swaargekry het. Hy het ook baie tyd aan gebed afgestaan. Een middag teen drie-uur, terwyl Kornelius besig was om te bid, het hy ’n visioen gesien. ’n Engel van die Here het na hom toe gekom en gesê: “Kornelius!” Kornelius het groot geskrik. Hy het die engel aangestaar en gesê: “Wat is dit, Meneer?” “God het jou gebede gehoor,” het die engel geantwoord. “Al die goeie dinge wat jy vir die armes doen, het Hy ook raakgesien. Daarom wil Hy hê dat jy ’n paar manne Joppe toe moet stuur. Daar bly ’n man met die naam Simon. Hy word ook Petrus genoem. Jy moet hom laat haal. Hy bly daar by Simon wat leergoedere verkoop in ’n huis teen die see.” Nadat die engel vertrek het, het Kornelius twee van sy huiswerkers en ’n soldaat wat ook godsdienstig was, laat haal. Hy het vir hulle vertel wat gebeur het en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.Toe het hy skielik ’n visioen gesien. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!” “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.” Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in.

HANDELINGE 10:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In Sesarea was daar ’n Romeinse weermagoffisier met die naam Kornelius, ’n offisier oor honderd man van die Italiaanse Regiment. Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad, hy en sy hele huishouding. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk gegee en hy het deurentyd tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!” Kornelius het hom aangestaar en bang geword en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel het hom geantwoord: “Jou gebede en wat jy vir die armes doen, het God opgeval! Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal. Sy noemnaam is Petrus. Hy is ’n gas by ’n ander Simon, ’n leerlooier. Sy huis is by die see.” Toe die engel wat met hom gepraat het, vertrek, het Kornelius twee van sy huiswerkers en een van sy lyfwagte, self ’n soldaat wat aan God toegewy geleef het, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag, en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe. In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls. ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!” “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.” Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid