Herinner hulle aan hierdie dinge, en waarsku hulle ernstig voor God om nie te stry oor nuttelose woorde, wat dié wat dit aanhoor, ten gronde rig nie. Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as 'n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui. Vermy die goddelose, leë praatjies van mense, onder wie Himeneus en Filetus, want hulle sal toenemend goddeloos word, en hulle woorde sal soos 'n kanker versprei. Hulle het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het, en sodoende gooi hulle sommige se geloof omver. Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort” en, “Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.” In 'n groot huis is daar nie net goue en silwervoorwerpe nie, maar ook voorwerpe van hout en klei – sommige is vir fatsoenlike gebruik, ander onfatsoenlik.
As iemand homself dan gereinig het van hierdie dinge, sal hy 'n fatsoenlike voorwerp wees: afgesonder, bruikbaar vir die Eienaar, geskik vir elke goeie werk. Vlug weg van die begeertes van die jeug en streef, saam met diegene wat die Here met 'n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede; maar vermy die dwase en afbrekende twisgesprekke, omdat jy weet dat dit aanleiding gee tot rusies. 'n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, en hulle tot hulle sinne laat kom – vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê.