2 TIMOTEUS 2:14-26
2 TIMOTEUS 2:14-26 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die gelowiges te sê. Jy moet hulle ernstig waarsku, jy moet vir hulle sê dat God hoor wat jy sê. Jy moet hulle waarsku dat hulle nie met mekaar moet baklei oor woorde nie. Dit help niks wanneer mense so stry nie, en dit is sleg vir die mense wat hoor hoe hulle stry. Jy moet hard probeer om God só te dien dat Hy tevrede sal wees met jou werk. Jy moet só werk dat jy nie skaam sal wees daaroor nie. Jy moet op die regte manier vir die mense vertel van die waarheid. Jy moenie luister na die stories van mense wat niks weet van God nie. Mense wat daardie dinge sê, sal meer en meer verkeerde dinge doen. En die dinge wat hulle sê, sal verder en verder groei, soos kanker. Himeneus en Filetus het ook dieselfde dinge gesê. Hulle het gesê dat God die mense wat dood is, klaar weer laat lewe het. So het hulle opgehou om die waarheid te vertel en hulle het party mense laat ophou glo in Christus. Maar God het 'n fondament gebou wat vas staan. Daar is op die fondament geskryf: Die Here ken die mense wat aan Hom behoort en Elkeen wat die Naam van die Here gebruik en tot Hom bid, moet ophou om verkeerde dinge te doen. In 'n groot huis is daar borde en bakke van goud en silwer, maar daar is ook dinge van hout en klei. 'n Mens gebruik party dinge wanneer daar 'n spesiale fees is, en 'n mens gebruik party dinge elke dag. 'n Mens moet jouself reinig van al die verkeerde dinge, jy moet wegbly van die verkeerde dinge. Dan sal jy wees soos 'n spesiale bord of bak. Jy sal dan gewy wees, en jou Eienaar sal jou goed kan gebruik, want jy sal dan enige iets kan doen wat goed is. Daarom, jy moet wegvlug van die verkeerde dinge wat jongmense graag wil doen. Jy moet aanhou probeer om te doen wat reg is, jy moet in Christus glo, jy moet lief wees vir mense en jy moet in vrede lewe met ander mense. Jy moet dit doen saam met die mense wat net die Here dien. Jy moenie soos party ander mense stry oor dwase dinge nie. Die mense wat nog niks geleer het nie, doen dit. Jy weet dat hierdie dinge mense laat baklei. 'n Dienaar van die Here moenie twis met ander mense nie, hy moet vriendelik wees met almal. Die dienaar moet vir ander mense kan leer en hy moet geduldig wees, ook wanneer hy swaarkry. As mense vir die gelowiges ander dinge leer as wat die dienaar van die Here vir hulle leer, dan moet die dienaar vir hulle sê dat hulle verkeerd is, maar hy moet dit mooi vir hulle sê. Miskien sal God hulle harte verander sodat hulle sal lewe soos Hy wil hê en sodat hulle die waarheid sal leer ken. Die duiwel het hierdie mense gevang om te doen wat hy wil hê. Miskien sal hulle weer reg kan dink en kan loskom uit die duiwel se vangstrik.
2 TIMOTEUS 2:14-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HERINNER aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders. Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om. Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid. Maar in 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep. En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek; en 'n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.
2 TIMOTEUS 2:14-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.” In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens. Vermy die begeertes wat 'n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit 'n rein hart die Here aanroep. Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. 'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.
2 TIMOTEUS 2:14-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Herinner hulle aan hierdie dinge, en waarsku hulle ernstig voor God om nie te stry oor nuttelose woorde, wat dié wat dit aanhoor, ten gronde rig nie. Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as 'n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui. Vermy die goddelose, leë praatjies van mense, onder wie Himeneus en Filetus, want hulle sal toenemend goddeloos word, en hulle woorde sal soos 'n kanker versprei. Hulle het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het, en sodoende gooi hulle sommige se geloof omver. Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort” en, “Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.” In 'n groot huis is daar nie net goue en silwervoorwerpe nie, maar ook voorwerpe van hout en klei – sommige is vir fatsoenlike gebruik, ander onfatsoenlik. As iemand homself dan gereinig het van hierdie dinge, sal hy 'n fatsoenlike voorwerp wees: afgesonder, bruikbaar vir die Eienaar, geskik vir elke goeie werk. Vlug weg van die begeertes van die jeug en streef, saam met diegene wat die Here met 'n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede; maar vermy die dwase en afbrekende twisgesprekke, omdat jy weet dat dit aanleiding gee tot rusies. 'n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, en hulle tot hulle sinne laat kom – vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê.
2 TIMOTEUS 2:14-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hieraan moet jy hulle in gedagtenis bring en hulle voor die aangesig van die Here besweer dat hulle nie stry oor woorde sonder nut nie, maar tot die ondergang van die hoorders. Leer om jou beproef voor God te stel, 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg verdeel. Maar vermy onheilige en ydele praatjies, want dit sal vermeerder tot meer goddeloosheid. En hulle woord sal eet soos 'n kanker; van wie is Himeneus en Filetus; wat hulle met betrekking tot die waarheid gedwaal het deur te sê dat die opstanding reeds verby is; en die geloof van sommige omverwerp. Maar die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is. En: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, van die ongeregtigheid afwyk. Maar in 'n groot huis is daar nie net voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en grond; en sommige tot eer en sommige tot oneer. As iemand hom dan hiervan reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en geskik vir die heer se gebruik, en voorberei vir elke goeie werk. Vlug ook van die begeerlikhede van die jeug, maar jaag geregtigheid, geloof, liefde, vrede na saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep. Maar dwase en ongeleerde vrae vermy, omdat hulle weet dat hulle geslagsstryd voer. En die kneg van die Here mag nie twis nie; maar wees sag teenoor alle mense, bekwaam om te leer, geduldig, In sagmoedigheid onderrig die wat hulleself teëstaan; as God hulle dalk bekering sal gee tot die erkenning van die waarheid; En dat hulle hulself kan herstel uit die strik van die duiwel, wat deur hom gevange geneem is na sy wil.
2 TIMOTEUS 2:14-26 Die Boodskap (DB)
Herinner die gelowiges gedurig aan hierdie dinge. Waarsku hulle met God as getuie dat die stryery oor wat sekere woorde kwansuis sou beteken ’n einde moet kry. Dit bring ’n mens nêrens nie en bou nie dié wat daarna luister op nie, maar breek hulle eerder af. Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou. Dan sal jy nie skaam hoef te voel omdat jy die boodskap van die Here so vir ander vertel dat hulle kan leer wat die waarheid regtig is nie. Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal. Die dinge wat hulle vertel, sal mense geestelik baie seermaak, soos iemand wat kanker kry en al hoe sieker word. Himeneus en Filetus is so, want hulle het ook die spoor heeltemal byster geraak en ken nie meer die waarheid nie. Hulle kom met die storie dat mense al klaar uit die dood opgestaan het. So breek hulle party mense se geloof tot in die grond af. Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.” In ’n spoggerige huis kry ’n mens allerhande voorwerpe. Daar is pragtige goue of silwerbakke. Hulle word net by spesiale geleenthede uitgehaal en gebruik. Daar is ook bakke wat sommer van hout of klei gemaak is en wat elke dag gebruik word. Net so gaan dit in die geestelike lewe. As iemand ontslae geraak het van al die verkeerde dinge in sy lewe en God het hom vergewe, is hy so spesiaal soos een van daardie mooi, duur bakke. Hy sal net aan die Here behoort en sal reg staan sodat sy Here hom vir enigiets kan gebruik, net waarvoor sy Here hom nodig het. Maak dat jy wegkom van al die verkeerde dinge wat vir ’n jongmens so lekker lyk en wat hy dan so graag wil doen. Gebruik liewer jou energie op ’n ander manier. Probeer liewer reg lewe, op God vertrou en lojaal wees teenoor Hom en die ander Christene. Bewaar die vrede en werk saam met almal wat in ’n opregte verhouding met die Here staan. Moenie in belaglike argumente betrokke raak en met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle aan die baklei raak. Iemand wat vir die Here werk, moet nie baklei nie. Nee, hy moet liewer gaaf wees met almal. Hy moet liewer ’n goeie onderwyser van God se dinge wees en hom nie vererg as ander iets verkeerds teen hom doen nie. As ander met hom wil stry oor wat God sê, moet hy hulle mooi op die regte pad help. Dit kan wees dat God hulle hulle foute sal laat insien sodat hulle van opinie verander en dan aan die kant van die waarheid sal kom staan. Hulle sal besef dat hulle op die verkeerde pad was. Hulle sal die boeie breek waarmee Satan hulle geestelik gedwing het om net te doen wat hy wou gehad het.
2 TIMOTEUS 2:14-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Herinner almal aan hierdie dinge, en vermaan hulle in God se Naam om op te hou met ’n bakleiery oor woorde. Sulke argumente is nutteloos en kan die mense ruïneer wat dit aanhoor. Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ’n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik. Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. Himeneus en Filetus is voorbeelde hiervan. Hulle het die pad van die waarheid verlaat met hulle bewering dat die opstanding van die dooies alreeds plaasgevind het. Daarmee het hulle die geloof van sommige ondermyn. Maar God se waarheid staan vas soos ’n fondamentsteen met die volgende inskripsie: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Dié wat beweer dat hulle aan die Here behoort, moet wegdraai van alle boosheid.” In ’n rykmanshuis is sommige gebruiksartikels van goud en silwer, en ander weer van hout en klei. Die kosbare artikels word by spesiale geleenthede gebruik en die goedkoperes is vir gewone gebruik. As jy jouself skoon hou van die verkeerde, sal jy ’n kosbare item wees, ’n spesiale besitting van die Huiseienaar, een wat Hy nuttig kan gebruik en wat gereed is vir enige goeie taak. Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker. Spits jou daarop toe om reg voor God te lewe. Streef na geregtigheid, geloof, liefde en vrede saam met dié wat die Here met rein harte aanroep. Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie. Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense. Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig. Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle die waarheid leer ken. Dan sal hulle tot hulle sinne kom en uit die duiwel se strik ontsnap. Want hulle word deur hom gevange gehou om net te doen wat hy wil hê.