2 Samuel 7:18-29

2 Samuel 7:18-29 AFR20

Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, HERE, my Heer; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, HERE, my Heer, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms, en dit as voorskrif vir mense, HERE, my Heer. Maar wat kan Dawid verder vir U sê? U ken self u dienskneg, HERE, my Heer. Ter wille van u belofte en volgens u wil het U hierdie hele groot saak so bewerk dat dit aan u dienskneg bekend kon word. Daarom, U is groot, HERE, my Heer; ja, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir Homself naam te maak deur aan hulle grootse en wonderlike dade te doen, en aan u land, ter wille van u volk wat U vir U vrygekoop het van Egipte, van die nasies en die gode van Egipte? U het u volk Israel vir U as volk gevestig vir altyd. U, HERE, U het hulle God geword. HERE, God, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, vir altyd; doen wat U gesê het, sodat u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘Die HERE, Heerser oor alle magte, is God oor Israel.’ En wat die huis van u dienskneg Dawid betref, mag dit voor U in stand bly, want U, HERE, Heerser oor alle magte, God van Israel, het aan u dienskneg dit geopenbaar, en gesê, ‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’ Daarom het u dienskneg die moed om hierdie gebed tot U te bid. En nou, HERE, my Heer, U is God, en u woorde is betroubaar. U het hierdie goeie woord oor u dienskneg uitgespreek. Wees dan nou bereid om die huis van u dienskneg te seën, sodat dit vir altyd voor U sal wees. U, HERE, my Heer, het dit immers self gesê, en deur u seën sal die huis van u dienskneg altyd geseënd wees.”