Toe het koning Dawid ingegaan en voor die HERE gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige HERE, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het? En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige HERE, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige HERE!
“Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige HERE. Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak.
“Daarom is U groot, oppermagtige HERE! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie. En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het. U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, HERE, het hulle God geword.
“En nou, HERE God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die HERE, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan.
“HERE, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou!
“Nou, oppermagtige HERE, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe. Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige HERE, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”