2 SAMUEL 7:18-29
2 SAMUEL 7:18-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het koning Dawid ingegaan en voor die HERE gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige HERE, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het? En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige HERE, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige HERE! “Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige HERE. Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak. “Daarom is U groot, oppermagtige HERE! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie. En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het. U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, HERE, het hulle God geword. “En nou, HERE God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die HERE, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan. “HERE, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou! “Nou, oppermagtige HERE, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe. Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige HERE, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”
2 SAMUEL 7:18-29 Bybel vir almal (ABA)
Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen? En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, 'n mens. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar. U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê. Daarom, Here, my Here, U is groot, niemand is soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van 'n ander God nie. En wie is soos u volk, soos Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het vir Uself 'n groot Naam gemaak, want U het groot en wonderlike dinge gedoen vir u land toe U vir Uself hierdie volk uit Egipte vrygemaak het van ander volke en gode. U het u volk Israel 'n volk gemaak wat baie lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword. En nou, Here, U het dinge belowe oor my, u dienaar, en oor my koningshuis. U moet nou daardie dinge waar laat word, dit moet nog lank so wees. U moet doen wat U gesê het. U moet altyd belangrik wees, en die mense moet sê: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, is God oor Israel.’ En die koningshuis van u dienaar Dawid moet altyd regeer en hulle moet vir U dien. Want U, Here wat oor alles regeer, God van Israel, dit is U wat dit vir u dienaar gesê het. U het gesê U sal vir my 'n koningshuis bou. Dit is hoekom u dienaar hierdie gebed tot U kon bid. En nou, Here, my Here, U alleen is God, en U sal doen wat U gesê het. U het hierdie goeie ding gesê oor u dienaar. Begin nou asseblief en laat dit goed gaan met u dienaar se koningshuis, U moet altyd by die koningshuis wees. Want U, Here, my Here, het gepraat. U het gesê dit sal goed gaan, en daarom sál dit altyd goed gaan met die koningshuis van u dienaar.”
2 SAMUEL 7:18-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die HERE gebly en gesê: Wie is ek, Here HERE, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog te gering in u oë, Here HERE, sodat U ook aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek het; en dit is die wet vir mense, Here HERE! Maar wat sal Dawid nog verder met U spreek? want U ken u kneg, Here HERE. Ter wille van u woord en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen, om dit aan u kneg bekend te maak. Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, 'n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as 'n volk gaan verlos het, en om vir Hom 'n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle en vreeslike dinge aan u land voor u volk uit wat U verlos het vir U van Egipte, van die heidene en hulle gode? En U het u volk Israel vir U bevestig as 'n volk vir U tot in ewigheid; en U, HERE, het vir hulle 'n God geword. Laat dan nou, HERE God, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, in vervulling gaan tot in ewigheid, en doen soos U gespreek het; sodat u Naam groot kan wees tot in ewigheid deurdat hulle sê: Die HERE van die leërskare is God oor Israel; en die huis van u kneg Dawid sal voor u aangesig bestendig wees. Want U, HERE van die leërskare, God van Israel, het die oor van u kneg geopen en gesê: Ek sal vir jou 'n huis bou; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om hierdie gebed tot U te bid. En nou, Here HERE, U is God en u woorde is waarheid; en U het u kneg hierdie goeie saak toegesê. Laat dit U dan nou behaag en seën die huis van u kneg, sodat dit vir ewig voor u aangesig kan wees; want U, Here HERE, het dit gespreek, en deur u seën sal die huis van u kneg vir ewig geseënd wees.
2 SAMUEL 7:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het? Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God! “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here. U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak. Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vrygemaak het. U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword. En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het, sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: “ ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel.’ “Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan. Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig. “En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak. Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”
2 SAMUEL 7:18-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, HERE, my Heer; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, HERE, my Heer, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms, en dit as voorskrif vir mense, HERE, my Heer. Maar wat kan Dawid verder vir U sê? U ken self u dienskneg, HERE, my Heer. Ter wille van u belofte en volgens u wil het U hierdie hele groot saak so bewerk dat dit aan u dienskneg bekend kon word. Daarom, U is groot, HERE, my Heer; ja, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir Homself naam te maak deur aan hulle grootse en wonderlike dade te doen, en aan u land, ter wille van u volk wat U vir U vrygekoop het van Egipte, van die nasies en die gode van Egipte? U het u volk Israel vir U as volk gevestig vir altyd. U, HERE, U het hulle God geword. HERE, God, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, vir altyd; doen wat U gesê het, sodat u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘Die HERE, Heerser oor alle magte, is God oor Israel.’ En wat die huis van u dienskneg Dawid betref, mag dit voor U in stand bly, want U, HERE, Heerser oor alle magte, God van Israel, het aan u dienskneg dit geopenbaar, en gesê, ‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’ Daarom het u dienskneg die moed om hierdie gebed tot U te bid. En nou, HERE, my Heer, U is God, en u woorde is betroubaar. U het hierdie goeie woord oor u dienskneg uitgespreek. Wees dan nou bereid om die huis van u dienskneg te seën, sodat dit vir altyd voor U sal wees. U, HERE, my Heer, het dit immers self gesê, en deur u seën sal die huis van u dienskneg altyd geseënd wees.”
2 SAMUEL 7:18-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het koning Dawid ingegaan en voor die aangesig van die HERE gaan sit en gesê: Wie is ek, HERE HERE? en wat is my huis dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog 'n klein ding in u oë, HERE HERE; maar jy het ook nog lank oor die huis van u kneg gespreek. En is dit die manier van die mens, HERE HERE? En wat kan Dawid meer vir jou sê? want U, HERE HERE, ken u kneg. Ter wille van u woord en na u eie hart het u al hierdie groot dinge gedoen om u dienaar dit te leer ken. Daarom is U groot, HERE God, want daar is niemand soos U nie, en daar is geen God buiten U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. En watter een nasie op die aarde is soos u volk, soos Israel, wat God gegaan het om vir Hom as 'n volk te verlos en vir hom 'n naam te maak en om vir jou groot en verskriklike dinge te doen vir jou land, voor jou volk wat jy vir jou losgekoop het uit Egipte, van die nasies en hulle gode? Want U het u volk Israel vir U bevestig om vir U 'n volk te wees tot in ewigheid; en U, HERE, het hulle God geword. En nou, HERE God, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, bevestig dit vir ewig, en doen soos U gespreek het. En laat u Naam tot in ewigheid groot wees deur te sê: Die HERE van die leërskare is die God oor Israel, en laat die huis van u kneg Dawid voor jou vasstaan. Want U, HERE van die leërskare, God van Israel, het dit aan u kneg geopenbaar deur te sê: Ek sal vir jou 'n huis bou; daarom het u dienaar in sy hart gevind om hierdie gebed tot U te bid. En nou, HERE HERE, is U daardie God, en u woorde is waar, en U het hierdie goedheid aan u kneg belowe. Laat dit U dan nou behaag om die huis van u kneg te seën, dat dit vir ewig voor u aangesig kan bestaan, want U, HERE HERE, het dit gespreek; en laat die huis van u kneg met u seën vir ewig geseën word.
2 SAMUEL 7:18-29 Die Boodskap (DB)
Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het? Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here? Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here. U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel! U is regtig groot, Here my God. Daar is niemand soos U nie, en behalwe U is daar geen god nie. Dit weet ons vir seker. “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het. U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God. “Nou vra ek, Here my God, dat U asseblief die belofte wat U gemaak het vir hierdie werker van U en vir sy familie, vir altyd waar sal maak; ja, dat U sal doen wat U gesê het U gaan doen. Mense sal dan altyd met groot respek van U praat en sê: ‘Die magtige Here is Israel se God.’ “En laat die koningshuis van Dawid u werker asseblief nie tot niet gaan nie. Magtige Here, God van Israel, U het tog self vir my gesê dat U vir my ’n huis sal bou. Dit is hoekom ek die moed gehad het om te bid soos ek gebid het. Groot Here, U alleen is God. U woorde word waar; ook hierdie mooi woorde wat U vir my gesê het. Maak dan nou asseblief my koningshuis voorspoedig. Gee tog dat my nageslag altyd naby U sal wees. Groot Here, U het ’n belofte gemaak en as U ons help, sal dit altyd met ons goed gaan.”