Terwyl die stryd tussen die huis van Saul en die huis van Dawid voortgeduur het, het Abner sy posisie in die huis van Saul versterk. Saul het 'n byvrou gehad met die naam Rispa, dogter van Aja. Is-Boset sê toe vir Abner: “Waarom het jy by my pa se byvrou ingegaan?” Abner was baie kwaad oor die woorde van Is-Boset. Hy sê toe: “Is ek dan 'n hond wat aan Juda behoort? Vandag nog bewys ek trou aan die huis van Saul, jou pa, aan sy familie en sy vriende. Ek het jou nie in die hand van Dawid laat beland nie, en jy roep my vandag tot verantwoording oor 'n misstap met hierdie vrou! Mag God my, Abner, swaar straf as ek nie vir Dawid presies doen wat die HERE hom met 'n eed beloof het nie – om die koningskap van die huis van Saul af na hom te laat oorgaan, en om die troon van Dawid oor Israel en Juda te vestig van Dan tot Berseba.” Is-Boset kon Abner nie met 'n verdere woord antwoord nie, want hy was bang vir hom.
Abner het daarna boodskappers na Dawid gestuur om namens hom te vra, “Aan wie behoort die land eintlik?” en ook om te sê: “Sluit 'n ooreenkoms met my; kyk, dan sal ek met jou saamwerk om die hele Israel na jou oor te haal.” “Dis goed,” het Dawid gesê. “Ek sal self met jou 'n ooreenkoms sluit. Daar is egter een saak wat ek van jou vra: Jy kry my nie te sien nie, tensy jy Migal, die dogter van Saul, saambring wanneer jy kom om my te sien.”
Dawid het toe boodskappers na Is-Boset, Saul se seun, gestuur om vir hom te sê: “Oorhandig my vrou, Migal, wat ek met honderd voorhuide van Filistyne vir my as verloofde verkry het.” Is-Boset het haar laat haal by haar man, by Paltiël, seun van Lajis. Haar man het saam met haar geloop, al huilende agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom, “Gaan terug!” en hy het teruggegaan.
Die boodskap van Abner aan die oudstes van Israel was: “Vir 'n geruime tyd al wou julle Dawid as koning oor julle hê. Tree dan nou op, want die HERE het aan Dawid gesê, ‘Deur die hand van my dienskneg Dawid sal Ek my volk Israel verlos uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande.’ ”
Abner het ook persoonlik met die mense van Benjamin onderhandel. Daarna het hy self gegaan om aan Dawid in Hebron alles oor te dra wat vir die Israeliete en vir die hele huis van Benjamin aanvaarbaar is. Abner het by Dawid in Hebron aangekom met twintig man by hom. Dawid het vir Abner en die manne wat by hom was, 'n feesmaal voorberei. Abner sê toe vir Dawid: “Ek wil gereedmaak en gaan; ek wil die hele Israel by my heer die koning byeenbring, sodat hulle met u 'n ooreenkoms kan sluit, en sodat u oor alles wat u hart begeer, kan regeer.”
Dawid het Abner weggestuur en hy het in vrede vertrek.
Juis toe het Joab en die volgelinge van Dawid teruggekom van 'n strooptog af. Hulle het baie buit met hulle saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie, want Dawid het hom weggestuur, en hy het in vrede vertrek.
Toe Joab en die hele leër wat by hom was, daar aankom, het die mense vir Joab vertel: “Abner, seun van Ner, het na die koning toe gekom, maar die koning het hom laat gaan, en hy is in vrede hier weg.” Joab gaan toe na die koning en sê: “Wat het jy gedoen? Abner het sowaar na jou toe gekom; waarom het jy hom dan laat gaan? Hy het nou weggekom. Jy ken Abner, seun van Ner: Dit is om jou om die bos te lei dat hy gekom het, om te wete te kom wat jou bewegings is en om uit te vind wat jy alles doen.”
Joab het van Dawid af vertrek en boodskappers agter Abner aan gestuur. Hulle het hom van die opgaarput by Sira af teruggebring. Dawid het dit egter nie geweet nie. Toe Abner na Hebron terugkeer, het Joab hom eenkant toe geneem in die stadspoort om vertroulik met hom te praat. Daar het hy hom in die maag gesteek. Hy het gesterf oor die bloed van Asael, Joab se broer.
Toe Dawid agterna daarvan hoor, het hy gesê: “Ek en my koninkryk is by die HERE vir altyd onskuldig aan die bloed van Abner, seun van Ner. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy vader se hele familie. Mag daar in Joab se familie nooit iemand ontbreek wat 'n afskeiding of 'n velsiekte het, of 'n man wat 'n spinspoel vashou, of deur die swaard val, of broodgebrek ly nie.” Joab en sy broer Abisai het Abner immers om die lewe gebring omdat hy hulle broer Asael doodgemaak het in die geveg by Gibeon.
Dawid het vir Joab en al die manskappe wat by hom was, gesê: “Skeur julle klere, trek rouklere aan en weeklaag voor Abner uit.” Koning Dawid het agter die draagbaar geloop. Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by Abner se graf. Al die manskappe het ook gehuil. Die koning het 'n klaaglied gesing vir Abner. Hy het gesê:
“Moes Abner die dood
van 'n dwaas sterf?
Jou hande –
dit was nie vasgebind nie;
en jou voete –
naby bronskettings
het dit nie gekom nie.
Soos een wat voor skurke val,
het jy geval.”
Toe het al die manskappe nog meer oor hom gehuil.
Al die manskappe het gekom om vir Dawid brood aan te bied terwyl dit nog dag was. Maar Dawid het 'n eed afgelê: “Mag God my swaar straf as ek aan brood of enigiets proe voordat die son ondergaan!” Al die manskappe het daarvan kennis geneem en dit goedgevind. Alles wat die koning gedoen het, het al die manskappe se goedkeuring weggedra.
Al die manskappe en die hele Israel het daardie dag besef dat dit nie 'n opdrag van die koning was om Abner, seun van Ner, dood te maak nie. Die koning het vir sy dienaars gesê: “Besef julle nie dat 'n •aanvoerder en groot man op hierdie dag in Israel geval het nie? Maar ek is vandag magteloos, alhoewel ek die gesalfde koning is. Hierdie manne, die seuns van Seruja, is te gewelddadig vir my. Mag die HERE die een wat kwaad doen, vergeld volgens die kwaad wat hy doen. ”