2 SAMUEL 3:6-39
2 SAMUEL 3:6-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Onderwyl die oorlog tussen Saul se huis en dié van Dawid aan die gang was, het Abner geprobeer om sy posisie in Saul se huis te verstewig deur 'n verbintenis met 'n byvrou van Saul. Haar naam was Rispa dogter van Aja. Toe Is-Boset hom vra: “Waarom het jy my pa se byvrou gevat?” het Abner hom gruwelik oor dié woorde vererg en gesê: “Dink jy dan ek is 'n lae hond wat Juda se saak wil aanhelp? Tot nou toe was ek getrou aan die huis van Saul en aan sy broers én sy vriende. Ek het verhoed dat jy in Dawid se mag val, en nou spreek jy my aan oor 'n vergryp met hierdie vrou! Mag God my om die lewe bring as ek nie nou vir Dawid gaan help om te doen wat die Here hom met 'n eed beloof het nie, naamlik om die koningskap van die nageslag van Saul weg te vat en die heerskappy van Dawid oor Israel en Juda te bevestig, van noord tot suid.” So bang was Is-Boset vir Abner dat hy nie 'n woord kon terugsê nie. Hierna het Abner boodskappers na Dawid toe gestuur om te sê: “Behoort die land nie aan u nie? Sluit tog 'n ooreenkoms met my en u sal sien dat ek by u staan deur die hele Israel na u kant toe oor te haal.” Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal 'n ooreenkoms met jou sluit. Ek verwag net een ding van jou, en dit is dat jy nie met my moet kom onderhandel sonder om Saul se dogter Mikal saam te bring nie.” Dawid het ook boodskappers na Saul se seun Is-Boset toe gestuur om te sê: “Gee my vrou Mikal terug wat ek as vrou verkry het in ruil vir honderd Filistynse voorhuide.” Is-Boset het gestuur en haar laat wegvat van haar man, Palti seun van Lajis. Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: “Gee pad! Loop terug!” Hy het toe maar omgedraai. Daarna het Abner met die leiers van Israel gepraat: “Julle probeer mos lankal om vir Dawid koning te maak. Doen dit nou, want die Here het vir Dawid gesê: Deur my dienaar Dawid sal Ek my volk Israel red uit die mag van die Filistyne en van al sy vyande.” Abner het self ook vertroulik met die Benjaminiete gaan onderhandel. Dit was ook hy wat vertroulik aan Dawid in Hebron gaan vertel het watter voorwaardes vir Israel en die Benjaminstam aanneemlik sou wees. Vervolgens het Abner saam met twintig man na Dawid toe gegaan in Hebron, en Dawid het vir hulle 'n eetmaal aangebied. Abner sê toe vir Dawid: “Met u verlof gaan ek nou die hele Israel by u, die koning, bymekaarbring sodat hulle met u 'n verdrag kan sluit; dan sal u koning wees volgens u hartsbegeerte.” Dawid het daartoe ingestem en Abner het ongehinderd vertrek. En toe gebeur die onvoorsiene! Joab en die soldate van Dawid het net van 'n rooftog af teruggekom en 'n groot buit saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie: Abner het met die instemming van die koning ongehinderd vertrek. Dit was toe dat Joab en al sy soldate tuis gekom het en daar vir hom gesê is: “Abner seun van Ner het by die koning gekom, en hy het hom ongehinderd laat vertrek.” Joab het na die koning toe gegaan en gesê: “Wat het u nou aangevang? Hier kom Abner na u toe, en u laat hom weer loop? U ken tog vir Abner seun van Ner! Hy het net gekom om u vir die gek te hou, ja, om uit te vind wat u bewegings en u doen en late is.” Joab is toe van Dawid af weg en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die watergat langs die doringboom laat omdraai sonder dat Dawid dit geweet het. Abner het teruggekom na Hebron toe, en Joab het hom na die poort se kant toe weggelei asof hy vertroulik met hom wou praat. Uit weerwraak oor die dood van sy broer Asael het Joab hom toe net daar in die maag gesteek, sodat hy gesterf het. Dawid het dit agterna eers verneem en gesê: “Ek is vir altyd voor die Here onskuldig aan die moord op Abner seun van Ner, ek en my koningshuis. Mag die straf daarvoor op Joab se kop afkom en op sy hele familie. Mag daar altyd in sy familie een wees wat bloei of melaats is of op krukke loop of deur die swaard omkom of broodsgebrek ly.” Joab en sy broer Abisai het vir Abner doodgemaak omdat hy hulle broer Asael tydens die oorlog in Gibeon doodgemaak het. Aan Joab en die hele leër by hom het Dawid gesê: “Skeur julle klere; trek rouklere aan en rou oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar gestap. Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by die graf, en die hele leër het ook gehuil. Die koning het 'n klaaglied oor Abner gesing: “Moes Abner dan so 'n eerlose dood sterwe? Jou hande was nie geboei nie, jou voete nie met kettings gebind nie. Jy het omgekom soos een wat deur misdadigers omkom.” Toe het die leër se gehuil oor hom eens so erg geword. Die hele leër het Dawid probeer oorreed om iets te eet terwyl dit nog dag was, maar hy het 'n eed afgelê: “Mag God my om die lewe bring as ek voor sononder brood of ander kos eet!” Almal het opgemerk dat hy nie eet nie en hulle het dit goedgevind. Hulle was tevrede met alles wat die koning gedoen het. Die hele leër en die ganse Israel was toe oortuig dat die koning niks met Abner seun van Ner se dood te doen gehad het nie. Die koning het aan die onderdane by hom gesê: “Besef julle nie dat daar vandag 'n leier, ja, 'n groot man, in Israel om die lewe gebring is nie? Ek is wel tot koning gesalf, maar my posisie is nog nie sterk genoeg teenoor hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is vir my te hard. Mag die Here daarom self die saak regstel deur die moordenaar vir sy misdaad te straf.”
2 SAMUEL 3:6-39 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl die oorlog tussen Is-Boset en Dawid aangehou het, het Abner probeer om 'n belangrike persoon te word in die familie van Saul. Saul het 'n byvrou gehad, sy was Rispa dogter van Aja. Is-Boset het vir Abner gevra: “Hoekom slaap jy by my pa se byvrou?” Abner het baie kwaad geword omdat Is-Boset dit gesê het. Abner het gesê: “Dink jy ek wil teen jou veg saam met die mense van Juda? Ek het gebly by jou pa Saul se familie, by sy broers en sy vriende, en ek het jou beskerm teen Dawid. Hoekom is jy nou kwaad vir my? Hoekom sê jy ek het iets verkeerd gedoen met die vrou? Die Here het vir Dawid belowe dat hy koning sal word oor Israel en Juda, koning oor die hele land, van die stad Dan tot by die stad Berseba. God sal my straf as ek nie nou sal help om dit te laat gebeur nie. Dan sal daar nie meer 'n koning uit die familie van Saul wees nie.” Is-Boset was so bang vir Abner dat hy niks kon sê nie. Abner het dadelik vir Dawid 'n boodskap gestuur en gesê: “Die hele land behoort aan jou. As jy 'n ooreenkoms maak met my, dan sal ek jou help om koning te word oor die hele Israel.” Dawid het geantwoord en gesê: “Goed, ek sal 'n ooreenkoms maak met jou, maar ek vra vir jou een ding: Jy moet vir Mikal, dogter van Saul, saambring. As jy haar nie saambring nie, dan moet jy nie na my toe kom nie.” Dawid het ook vir Is-Boset 'n boodskap gestuur en gesê: “Jy moet my vrou Mikal vir my teruggee. Ek het 100 Filistyne doodgemaak om haar te kry.” Is-Boset het iemand gestuur en hy het Mikal weggevat van haar man Paltiël seun van Lus. Haar man het saam met haar gegaan en hy het geloop en huil tot by die stad Bagurim. Maar toe Abner vir hom sê hy moet teruggaan, het hy omgedraai en teruggegaan. Abner het vir die leiers van Israel gesê: “Julle wou lankal hê dat Dawid julle koning moet word. Daarom, maak hom nou julle koning. Want die Here het gesê: “Ek sal my volk Israel red van die Filistyne, van al hulle vyande. My dienaar Dawid sal dit doen.” Abner het ook met die Benjamin-mense gepraat. Toe het hy vir Dawid in Hebron gaan sê die mense van Israel en die hele Benjamin-stam is gereed. Abner het by Dawid in Hebron gekom, en daar was twintig manne saam met hom. Dawid het 'n groot ete gegee vir Abner en die manne by hom. Toe het Abner vir Dawid gesê: “Ek wil nou gereedmaak en ek wil al die leiers van Israel bymekaarbring by Meneer die koning sodat hulle 'n ooreenkoms kan maak met jou. Dan sal jy koning wees van al die mense. Ek weet jy wil hulle koning wees.” Dawid het gesê Abner mag gaan, en niemand het vir Abner probeer keer nie. Maar Joab en die manne van Dawid het vyande gaan aanval, en hulle kom toe in hierdie tyd terug. Hulle het baie goed saamgebring wat hulle gevat het. Abner was toe nie meer in Hebron nie, want Dawid het hom laat gaan en niemand het hom probeer keer nie. Toe Joab en al sy manne in Hebron kom, het iemand vir Joab gesê: “Abner seun van Ner was hier by die koning, en die koning het hom laat gaan en niemand het hom probeer keer nie.” Joab het na die koning toe gegaan en hy het vir hom gevra: “Wat het jy gedoen? Abner het hier by jou aangekom, en jy het gesê hy mag gaan. Hoekom? Jy ken vir Abner seun van Ner. Hy het gekom om jou te bedrieg en te kyk wat hier by jou gebeur en wat jy alles doen.” Nadat Joab by die koning was, het hy vir Abner 'n boodskap gestuur en hy het Abner laat omdraai by Siras-put. Dawid het dit nie geweet nie. Toe Abner terugkom in Hebron, het Joab hom eenkant toe geneem in die poort. Hy het gesê hy wil alleen met Abner praat. Maar toe steek Joab vir Abner in sy maag omdat Abner vir Asael, Joab se broer, doodgemaak het. Abner het gesterf. Toe Dawid dit later hoor, het hy gesê: “Die Here sal altyd weet dat ek en my familie onskuldig is, ons het nie vir Abner seun van Ner vermoor nie. Ek bid dat die Here vir Joab en sy hele familie sal straf oor hierdie moord. Ek bid dat daar altyd mense in die familie van Joab sal wees wat hulle doodbloei, of wat melaats is of kreupel, of wat in oorlog sterf of wat honger ly.” Joab en sy broer Abisai het vir Abner vermoor omdat hy hulle broer Asael doodgemaak het in die oorlog by Gibeon. Dawid het vir Joab en al die manne by hom gesê: “Julle moet julle klere skeur en rouklere aantrek, julle moet rou oor Abner.” Hulle het vir Abner in Hebron begrawe. Koning Dawid het geloop agter die mense wat Abner se lyk gedra het. Die koning het hard gehuil by Abner se graf, en al die manne het saam gehuil. Die koning het 'n klaaglied gesing oor Abner. Hy het gesê: “Hoekom moes Abner sterf soos 'n dwaas sterf? Niemand het jou hande vasgebind nie, niemand het jou voete vasgemaak met kettings nie, maar jy het gesterf soos iemand sterf wanneer skelms hom doodmaak.” Al die manne het weer gehuil oor Abner. Dit was nog dag, en al die manne het vir Dawid gesê hy moet eet. Maar hy het gesê: “Die Here moet my straf as ek enige iets eet of drink voordat die son ondergaan.” Al die manne het dit gehoor, en hulle het gedink dit is reg. Alles wat die koning gedoen het, was altyd reg vir al die mense. Al die manne en al die mense van Israel het daardie dag geweet en hulle was seker dat dit nie die koning was wat vir Abner seun van Ner laat doodmaak het nie. Die koning het vir sy manne gesê: “Julle moet dit weet, dit is 'n leier en 'n belangrike man wat vandag in die land Israel gesterf het. Ek is die gesalfde koning, maar ek is swak. Hierdie manne, die seuns van Seruja, is sterker as ek. Ek bid dat die Here die skelms sal straf oor dit wat hulle gedoen het.”
2 SAMUEL 3:6-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN onderwyl daar oorlog was tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, was Abner besig om homself te versterk in die huis van Saul. Saul het naamlik 'n byvrou gehad wie se naam Rispa was, die dogter van Aja; en Isbóset het vir Abner gesê: Waarom het jy by die byvrou van my vader ingegaan? Toe word Abner baie kwaad oor die woorde van Isbóset en sê: Is ek dan die hondskop wat aan Juda behoort? Vandag bewys ek guns aan die huis van Saul, jou vader, aan sy broers en aan sy vriende; en ek het jou nie in die hand van Dawid laat raak nie, en tog verwyt jy my vandag die oortreding met 'n vrou? Mag God so aan Abner doen en so daaraan toedoen, sekerlik, soos die HERE Dawid met 'n eed beloof het, net so sal ek aan hom doen deur die koningskap aan die huis van Saul te ontneem en die troon van Dawid op te rig oor Israel en oor Juda, van Dan tot Berséba. En hy kon Abner verder geen antwoord gee nie, omdat hy vir hom bang was. Daarop het Abner boodskappers na Dawid in sy plek gestuur om te sê: Aan wie behoort die land? en: Sluit u verbond met my; en kyk, my hand sal met u wees om die hele Israel na u toe oor te bring. En hy het gesê: Goed, ék sal met u 'n verbond sluit, maar een ding eis ek van u, naamlik: U mag my aangesig nie sien nie, of u moet eers Migal, die dogter van Saul, saambring as u kom om my aangesig te sien. Dawid het ook boodskappers gestuur na Isbóset, die seun van Saul, om te sê: Gee my vrou Migal met wie ek my verloof het vir honderd voorhuide van die Filistyne. En Isbóset het gestuur en haar van die man, van Páltiël, die seun van Lais, afgeneem. En haar man het saam met haar gegaan, terwyl hy agter haar aan loop en ween tot by Bahúrim. Toe sê Abner vir hom: Gaan terug. En hy het teruggegaan. En Abner het met die oudstes van Israel onderhandel en gesê: Gister sowel as eergister het julle aldeur Dawid as koning oor julle begeer. Voer dit dan nou uit, want die HERE het van Dawid gespreek en gesê: Deur die hand van my kneg Dawid sal Ek my volk Israel uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande verlos. En Abner het ook voor die ore van Benjamin gespreek; en Abner het ook gegaan om voor die ore van Dawid in Hebron te spreek alles wat goed was in die oë van Israel en in die oë van die hele huis van Benjamin. Toe Abner by Dawid in Hebron kom, en twintig man saam met hom, het Dawid vir Abner en die manne wat by hom was, 'n maaltyd aangerig. En Abner sê vir Dawid: Ek wil my klaarmaak en die hele Israel by my heer die koning gaan versamel, dat hulle met u 'n verbond sluit; dan kan u heers oor alles wat u siel begeer. Daarop het Dawid Abner laat gaan, en hy het in vrede weggegaan. Intussen kom die dienaars van Dawid en Joab juis van 'n rooftog af, en hulle bring 'n groot buit met hulle saam. Maar Abner was nie meer by Dawid in Hebron nie, want dié het hom laat gaan, en hy het in vrede vertrek. Toe Joab en die hele kommando wat saam met hom was, tuis kom, deel hulle aan Joab mee en sê: Abner, die seun van Ner, het na die koning gekom, en dié het hom laat gaan, en hy het in vrede vertrek. Daarop kom Joab by die koning en sê: Wat het u gedoen? Kyk, Abner het by u gekom; waarom het u hom tog laat loop, dat hy sommer weggegaan het? U ken Abner, die seun van Ner, dat hy gekom het om u te mislei en om u uitgang en u ingang te weet, ja, om alles te weet wat u doen. En Joab het van Dawid af weggegaan en boodskappers agter Abner aan gestuur, wat hom teruggebring het van die put Hassira af sonder dat Dawid dit geweet het. Toe Abner dan in Hebron terugkom, het Joab hom eenkant toe gelei in die middel van die poort om vertroulik met hom te praat en hom daar in die onderlyf gesteek, sodat hy gesterf het, oor die bloed van sy broer Ásahel. Toe Dawid dit daarna hoor, sê hy: Ek en my koninkryk is voor die HERE vir ewig onskuldig aan die bloed van Abner, die seun van Ner. Mag dit losbreek op die hoof van Joab en op sy hele familie, en mag die huis van Joab nie vry wees van een wat 'n vloeiing het of wat melaats is of wat op krukke loop of wat deur die swaard val of gebrek aan brood het nie. Joab dan en Abísai, sy broer, het Abner vermoor, omdat hy hulle broer Ásahel by Gíbeon in die geveg gedood het. Verder het Dawid aan Joab en al die mense wat by hom was, gesê: Skeur julle klere en gord rouklere aan en rouklaag voor Abner uit! En koning Dawid het agter die baar aan gegaan. Toe hulle Abner in Hebron begrawe, het die koning sy stem verhef en geween by die graf van Abner; die hele volk het ook geween. En die koning het 'n klaaglied oor Abner aangehef en gesê: Moes Abner sterwe soos 'n dwaas sterwe? Jou hande was nie gebind en jou voete nie aangeraak met koperkettings nie. Soos 'n mens voor kwaaddoeners val, het jy geval. En die hele volk het nog meer oor hom geween. Daarop kom die hele volk om Dawid te beweeg dat hy brood moet eet terwyl dit nog dag was; maar Dawid het gesweer en gesê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen as ek voor sonsondergang brood of enigiets proe. En die hele volk het dit opgemerk, en dit was goed in hulle oë: soos alles wat die koning gedoen het, was dit goed in die oë van die hele volk. En die hele volk en die hele Israel het dieselfde dag gemerk dat dit nie van die koning gekom het om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie. Verder het die koning aan sy dienaars gesê: Weet julle nie dat vandag 'n vors en 'n groot man in Israel geval het nie? Maar ek is vandag swak, alhoewel ek as koning gesalf is, terwyl hierdie manne, die seuns van Serúja, harder is as ek. Mag die HERE die kwaaddoener vergelde na sy boosheid!
2 SAMUEL 3:6-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl die stryd tussen die huis van Saul en die huis van Dawid voortgeduur het, het Abner sy posisie in die huis van Saul versterk. Saul het 'n byvrou gehad met die naam Rispa, dogter van Aja. Is-Boset sê toe vir Abner: “Waarom het jy by my pa se byvrou ingegaan?” Abner was baie kwaad oor die woorde van Is-Boset. Hy sê toe: “Is ek dan 'n hond wat aan Juda behoort? Vandag nog bewys ek trou aan die huis van Saul, jou pa, aan sy familie en sy vriende. Ek het jou nie in die hand van Dawid laat beland nie, en jy roep my vandag tot verantwoording oor 'n misstap met hierdie vrou! Mag God my, Abner, swaar straf as ek nie vir Dawid presies doen wat die HERE hom met 'n eed beloof het nie – om die koningskap van die huis van Saul af na hom te laat oorgaan, en om die troon van Dawid oor Israel en Juda te vestig van Dan tot Berseba.” Is-Boset kon Abner nie met 'n verdere woord antwoord nie, want hy was bang vir hom. Abner het daarna boodskappers na Dawid gestuur om namens hom te vra, “Aan wie behoort die land eintlik?” en ook om te sê: “Sluit 'n ooreenkoms met my; kyk, dan sal ek met jou saamwerk om die hele Israel na jou oor te haal.” “Dis goed,” het Dawid gesê. “Ek sal self met jou 'n ooreenkoms sluit. Daar is egter een saak wat ek van jou vra: Jy kry my nie te sien nie, tensy jy Migal, die dogter van Saul, saambring wanneer jy kom om my te sien.” Dawid het toe boodskappers na Is-Boset, Saul se seun, gestuur om vir hom te sê: “Oorhandig my vrou, Migal, wat ek met honderd voorhuide van Filistyne vir my as verloofde verkry het.” Is-Boset het haar laat haal by haar man, by Paltiël, seun van Lajis. Haar man het saam met haar geloop, al huilende agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom, “Gaan terug!” en hy het teruggegaan. Die boodskap van Abner aan die oudstes van Israel was: “Vir 'n geruime tyd al wou julle Dawid as koning oor julle hê. Tree dan nou op, want die HERE het aan Dawid gesê, ‘Deur die hand van my dienskneg Dawid sal Ek my volk Israel verlos uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande.’ ” Abner het ook persoonlik met die mense van Benjamin onderhandel. Daarna het hy self gegaan om aan Dawid in Hebron alles oor te dra wat vir die Israeliete en vir die hele huis van Benjamin aanvaarbaar is. Abner het by Dawid in Hebron aangekom met twintig man by hom. Dawid het vir Abner en die manne wat by hom was, 'n feesmaal voorberei. Abner sê toe vir Dawid: “Ek wil gereedmaak en gaan; ek wil die hele Israel by my heer die koning byeenbring, sodat hulle met u 'n ooreenkoms kan sluit, en sodat u oor alles wat u hart begeer, kan regeer.” Dawid het Abner weggestuur en hy het in vrede vertrek. Juis toe het Joab en die volgelinge van Dawid teruggekom van 'n strooptog af. Hulle het baie buit met hulle saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie, want Dawid het hom weggestuur, en hy het in vrede vertrek. Toe Joab en die hele leër wat by hom was, daar aankom, het die mense vir Joab vertel: “Abner, seun van Ner, het na die koning toe gekom, maar die koning het hom laat gaan, en hy is in vrede hier weg.” Joab gaan toe na die koning en sê: “Wat het jy gedoen? Abner het sowaar na jou toe gekom; waarom het jy hom dan laat gaan? Hy het nou weggekom. Jy ken Abner, seun van Ner: Dit is om jou om die bos te lei dat hy gekom het, om te wete te kom wat jou bewegings is en om uit te vind wat jy alles doen.” Joab het van Dawid af vertrek en boodskappers agter Abner aan gestuur. Hulle het hom van die opgaarput by Sira af teruggebring. Dawid het dit egter nie geweet nie. Toe Abner na Hebron terugkeer, het Joab hom eenkant toe geneem in die stadspoort om vertroulik met hom te praat. Daar het hy hom in die maag gesteek. Hy het gesterf oor die bloed van Asael, Joab se broer. Toe Dawid agterna daarvan hoor, het hy gesê: “Ek en my koninkryk is by die HERE vir altyd onskuldig aan die bloed van Abner, seun van Ner. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy vader se hele familie. Mag daar in Joab se familie nooit iemand ontbreek wat 'n afskeiding of 'n velsiekte het, of 'n man wat 'n spinspoel vashou, of deur die swaard val, of broodgebrek ly nie.” Joab en sy broer Abisai het Abner immers om die lewe gebring omdat hy hulle broer Asael doodgemaak het in die geveg by Gibeon. Dawid het vir Joab en al die manskappe wat by hom was, gesê: “Skeur julle klere, trek rouklere aan en weeklaag voor Abner uit.” Koning Dawid het agter die draagbaar geloop. Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by Abner se graf. Al die manskappe het ook gehuil. Die koning het 'n klaaglied gesing vir Abner. Hy het gesê: “Moes Abner die dood van 'n dwaas sterf? Jou hande – dit was nie vasgebind nie; en jou voete – naby bronskettings het dit nie gekom nie. Soos een wat voor skurke val, het jy geval.” Toe het al die manskappe nog meer oor hom gehuil. Al die manskappe het gekom om vir Dawid brood aan te bied terwyl dit nog dag was. Maar Dawid het 'n eed afgelê: “Mag God my swaar straf as ek aan brood of enigiets proe voordat die son ondergaan!” Al die manskappe het daarvan kennis geneem en dit goedgevind. Alles wat die koning gedoen het, het al die manskappe se goedkeuring weggedra. Al die manskappe en die hele Israel het daardie dag besef dat dit nie 'n opdrag van die koning was om Abner, seun van Ner, dood te maak nie. Die koning het vir sy dienaars gesê: “Besef julle nie dat 'n •aanvoerder en groot man op hierdie dag in Israel geval het nie? Maar ek is vandag magteloos, alhoewel ek die gesalfde koning is. Hierdie manne, die seuns van Seruja, is te gewelddadig vir my. Mag die HERE die een wat kwaad doen, vergeld volgens die kwaad wat hy doen. ”
2 SAMUEL 3:6-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl daar oorlog was tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, het Abner hom sterk gemaak vir die huis van Saul. En Saul het 'n byvrou gehad met die naam van Rispa, die dogter van Aja; en Isboset het vir Abner gesê: Waarom het jy by my vader se byvrou ingegaan? Toe het Abner baie kwaad geword oor die woorde van Isboset en gesê: Is ek 'n hondekop wat teen Juda vandag guns bewys aan die huis van jou vader Saul, aan sy broers en aan sy vriende en jou nie verlos het nie in die hand van Dawid, dat jy my vandag 'n skuld aangaande hierdie vrou aankla? So doen God met Abner en meer ook, behalwe soos die HERE aan Dawid met 'n eed beloof het, so doen Ek aan hom; om die koninkryk van die huis van Saul te vertaal en die troon van Dawid oor Israel en oor Juda op te rig, van Dan tot Berseba. En hy kon Abner nie weer 'n woord antwoord nie, omdat hy hom gevrees het. En Abner het boodskappers na Dawid namens hom gestuur om te sê: Wie s'n is die land? en sê ook: Sluit jou verbond met my, en kyk, my hand sal met jou wees om die hele Israel na jou te bring. En hy sê: Goed; Ek sal 'n verbond met jou sluit, maar een ding eis ek van jou, dit is: Jy sal my aangesig nie sien nie, as jy eers Mikal, die dogter van Saul, bring as jy kom om my aangesig te sien. Dawid het toe boodskappers gestuur na Isboset, die seun van Saul, om te sê: Bevry my vrou Migal wat ek aan my verloof het vir honderd voorhuide van die Filistyne. En Isboset het gestuur en haar van haar man geneem, van Paltiël, die seun van Lais. En haar man het saam met haar gegaan en huil agter haar aan na Bahurim. Toe sê Abner vir hom: Gaan, keer terug. En hy het teruggekeer. En Abner het met die oudstes van Israel gepraat en gesê: Julle het vroeër na Dawid gesoek om koning oor julle te word. Doen dit dan nou, want die HERE het van Dawid gespreek en gesê: Deur die hand van my kneg Dawid sal Ek my volk Israel verlos uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande. En Abner het ook voor die ore van Benjamin gespreek, en Abner het ook gegaan om voor die ore van Dawid in Hebron te spreek alles wat goed was vir Israel en wat goed gelyk het vir die hele huis van Benjamin. Abner het toe na Dawid in Hebron gekom, en twintig man saam met hom. En Dawid het vir Abner en die manne wat by hom was 'n maaltyd berei. Daarop sê Abner vir Dawid: Ek sal opstaan en gaan en die hele Israel by my heer die koning versamel, dat hulle 'n verbond met jou kan sluit en jy kan heers oor alles wat jou hart begeer. En Dawid het Abner weggestuur; en hy het in vrede gegaan. En kyk, die dienaars van Dawid en Joab het gekom van die agtervolging van 'n bende en het 'n groot buit saam met hulle ingebring, maar Abner was nie by Dawid in Hebron nie; want hy het hom weggestuur, en hy het in vrede weggegaan. Toe Joab en die hele leër wat by hom was, aankom, het hulle vir Joab meegedeel en gesê: Abner, die seun van Ner, het na die koning gekom, en hy het hom weggestuur, en hy het in vrede weggegaan. Toe kom Joab na die koning en sê: Wat het jy gedoen? kyk, Abner het na jou gekom; waarom het jy hom weggestuur, en hy is heeltemal weg? Jy ken Abner, die seun van Ner, dat hy gekom het om jou te mislei en jou uitgang en jou ingang te ken en alles te weet wat jy doen. En toe Joab van Dawid af uitgetrek het, het hy boodskappers agter Abner aan gestuur, wat hom teruggebring het uit die put van Sira; maar Dawid het dit nie geweet nie. En toe Abner na Hebron teruggekeer het, het Joab hom in die poort eenkant toe geneem om rustig met hom te praat en hom daar onder die vyfde rib geslaan, sodat hy gesterf het weens die bloed van sy broer Asahel. En toe Dawid dit daarna hoor, sê hy: Ek en my koninkryk is vir ewig ongestraf voor die aangesig van die HERE van die bloed van Abner, die seun van Ner. Laat dit rus op die hoof van Joab en op die hele huis van sy vader; en laat uit die huis van Joab nie ontbreek iemand wat 'n vloeiing het of wat melaats is, of wat op 'n staf steun of op die swaard val of wat brood kortkom nie. Daarop het Joab en sy broer Abisai vir Abner gedood, omdat hy hulle broer Asahel in Gibeon in die geveg gedood het. Toe sê Dawid vir Joab en aan al die manskappe wat by hom was: Skeur julle klere en omgord julle met rouklere en treur voor Abner. En koning Dawid self het die baar gevolg. En hulle het Abner in Hebron begrawe, en die koning het sy stem verhef en geween by die graf van Abner; en die hele volk het geween. En die koning het oor Abner geweeklaag en gesê: Het Abner gesterf soos 'n dwaas? Jou hande was nie vasgebind en jou voete nie in boeie gesit nie; soos 'n man voor goddelose mense val, so het jy geval. En die hele volk het weer oor hom geween. En toe die hele volk gekom het om vir Dawid vleis te laat eet terwyl dit nog dag was, het Dawid gesweer en gesê: So doen God aan my, en so ook, as ek brood proe, of iets anders, totdat sononder is. En die hele volk het dit opgemerk, en dit het hulle behaag, soos alles wat die koning gedoen het, die hele volk behaag het. Want die hele volk en die hele Israel het daardie dag besef dat dit nie van die koning was om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie. Toe sê die koning aan sy dienaars: Weet julle nie dat daar vandag 'n vors en 'n groot man in Israel geval het nie? En ek is vandag swak, al is ek as koning gesalf; en hierdie manne, die seuns van Serúja, word te hard vir my: die HERE sal die kwaaddoener vergelde na sy boosheid.
2 SAMUEL 3:6-39 Die Boodskap (DB)
Toe die gevegte tussen Saul se mense en Dawid se mense aanhou, het Abner al hoe belangriker geword in die regering van Saul se seun. Saul het ’n vrou in sy harem gehad met die naam Rispa. Sy was ’n dogter van Aja. Op ’n dag vra Is-Boset vir Abner: “Hoekom het jy by Rispa, een van my pa se haremvroue, geslaap?” Hieroor het Abner hom bloedig vererg. Hy sê toe vir Is-Boset: “Dink jy miskien ek is ’n skelm hond wat jou koningskap wil afneem omdat ek aan Juda se kant is? Ek was nog altyd getrou aan Saul, jou pa, se regering, aan sy familie en aan sy vriende. Ek het ook gekeer dat Dawid jou in die hande kry. En nou kom beskuldig jy my dat ek met hierdie vrou gelol het! God kan my maar baie swaar straf as ek nie doen wat ek nou vir jou gaan sê nie: Ék sal sorg dat die koningskap van Saul se familie af weggevat en aan Dawid gegee word soos die Here hom belowe het. Dan sal hy koning wees oor die hele Israel en Juda, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide.” Is-Boset was so bang vir Abner, hy het nie ’n woord gesê nie. Abner het mense na Dawid gestuur om vir hom te gaan sê: “Eintlik behoort die land aan jou. As jy met my ’n ooreenkoms maak, sal ek sorg dat al die Israeliete jou kant kies.” Dawid se antwoord was: “Dis goed so, ek sal ’n ooreenkoms met jou maak; maar op een voorwaarde: jy kom nie hier by my aan sonder Mikal, Saul se dogter, nie.” Dawid stuur toe ook ’n boodskap vir Is-Boset, Saul se seun: “Gee my vrou Mikal vir my terug. Sy is my wettige vrou; ek het vir haar met die voorhuide van 100 Filistyne betaal.” Is-Boset het haar laat haal by Paltiël, die seun van Lajis. Haar man wou haar nie laat gaan nie. Hy het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe Abner vir hom sê: “Gaan terug!” het hy maar omgedraai. Abner het intussen met die leiers van Israel gepraat en vir hulle gesê: “Dis mos nou al ’n hele ruk wat julle graag wil hê Dawid moet julle koning wees. Dis nóú julle kans! Onthou, die Here het gesê Hy gaan Dawid gebruik om sy volk, die Israeliete, vry te maak van die Filistyne en van al hulle ander vyande.” Abner het ook self met die mense van die Benjaminstam gaan praat. Daarna het hy Hebron toe gegaan om self vir Dawid te sê dat die Israeliete en al die mense van die Benjaminstam tevrede was met die reëling. Abner het in Hebron by Dawid aangekom met twintig manne saam met hom. Dawid het vir hom en sy manne ’n groot ete reggemaak. By die ete sê Abner vir Dawid: “U Majesteit, ek gaan die leiers van al die Israeliete hier na u toe bring sodat hulle met u ’n ooreenkoms kan maak. Dan kan u wens waar word en kan u koning wees oor die hele land.” Na die tyd het Dawid vir Abner laat gaan. Hulle is as goeie vriende uitmekaar. Net nadat Abner so sonder dat iets aan hom gedoen is, weg is uit Hebron, het Joab saam met Dawid se soldate daar aangekom. Hulle was weer op ’n strooptog en het sommer baie goed by hulle gehad. Toe hulle daar aankom, vertel die mense vir Joab dat Abner, Ner se seun, by die koning was en dat die koning hom laat gaan het sonder om iets aan hom te doen. Joab is dadelik na die koning toe. “Wat het jy nou aangevang?” vra hy vir Dawid. “Abner kom hier na jou toe en jy laat hom sowaar gaan sonder om enigiets aan hom te doen! Jy ken tog vir Abner, daardie seun van Ner! Hy het jou lekker om die bos gelei: hy het net hiernatoe gekom om uit te vind wat jou planne is en wat jy doen.” Joab het van Dawid af weggegaan en, sonder dat Dawid dit weet, manne agter Abner aangestuur om hom terug te roep. Hulle het Abner by Doringputs ingehaal en hom teruggebring. Toe hy in Hebron kom, het Joab hom eenkant toe in die poort van die dorp gevat om kamma vertroulik met hom te praat. Maar net daar het Joab hom met ’n mes in die maag gesteek. Hy is op die plek dood. Joab het dit gedoen om sy broer Asael se dood te wreek. Dawid het agterna eers gehoor wat gebeur het. Hy het gesê: “Die Here is my getuie dat ek en my regering nooit verantwoordelik gehou kan word vir die moord op Abner, Ner se seun, nie. Joab en sy hele familie sal daarvoor betaal: daar sal altyd van sy familielede wees wat vuilsiekte of ’n velsiekte het, of wat met krukke loop of doodgesteek word of honger ly.” (Joab en sy broer Abisai het Abner natuurlik vermoor omdat hy hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgesteek het.) Daarna sê Dawid vir Joab en al die mense by hom: “Skeur julle klere en bind swart bokhaardoeke om julle lywe en loop in die stoet voor Abner se lyk.” Koning Dawid het self reg agter die draagbaar geloop. Hulle het Abner in Hebron begrawe. Dawid het kliphard by die graf gehuil. Almal het saamgehuil. Die koning het dié klaaglied vir Abner gesing: Abner, waarom moes jy doodgemaak word? Asof jy niks werd is, is jou hande nie geboei, jou voete nie vasgemaak nie; is jy dood soos iemand wat deur straatboewe aangeval is. Toe die mense die lied hoor, het hulle nog meer gehuil oor Abner. Die mense het Dawid probeer ompraat om daardie dag iets te eet, maar Dawid het voor God gesweer hy sal nie sy mond aan iets sit voor die dag om is nie. Al die mense het daarvan te hore gekom en dit waardeer. Om die waarheid te sê, hulle was gelukkig met alles wat die koning gedoen het. Almal by die begrafnis, ja, al die mense in die land het daardie dag besef die koning het niks te doen gehad met Abner se moord nie. Ná die tyd het Dawid vir sy amptenare gesê: “Julle weet natuurlik ’n groot leier van Israel is vandag dood. Ek is nou wel die koning, maar ek kan nog niks doen aan hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is nog te sterk vir my. Maar die Here sal sorg dat die een wat hierdie verkeerde ding gedoen het, sy verdiende loon kry.”
2 SAMUEL 3:6-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl die oorlog tussen die twee koningshuise van Saul en Dawid voortgeduur het, het Abner algaande sterker geword in die Saulshuis. Saul het ’n byvrou met die naam Rispa, dogter van Aja, gehad. Op ’n dag het Saul se seun Is-Boset vir Abner beskuldig: “Hoekom het jy my pa se byvrou Rispa gevat?” Abner het hom gruwelik vir Is-Boset vererg. “Is ek dan ’n hond wat Juda wil help?” skree hy. “Is dit die beloning wat ek kry ná alles wat ek vir jou pa se huis gedoen het deur julle nie aan Dawid uit te lewer nie? Nou vind jy fout met my oor hierdie vrou! Mag God my straf as ek nie tog vir Dawid help om alles te kry wat die HERE hom belowe het nie, dit is om die koningskap van die Saulshuis weg te neem en Dawid se heerskappy te vestig oor sowel Israel as Juda, vanaf Dan tot Berseba.” Is-Boset het nie gewaag om nog ’n woord te sê nie omdat hy bang was vir Abner. Toe stuur Abner boodskappers na Dawid toe en sê: “Aan wie behoort die land? Kom ons sluit ’n ooreenkoms, en ek sal die hele Israel na u toe oorhaal.” “Nou goed,” antwoord Dawid, “maar op voorwaarde dat jy Mikal, Saul se dogter, saambring wanneer jy my kom ontmoet.” Dawid het toe ook die volgende boodskap aan Is-Boset, Saul se seun, gestuur: “Gee my vrou Mikal terug. Om met haar te trou, moes ek die voorhuide van 100 Filistyne lewer.” Is-Boset neem toe vir Mikal weg van haar man Palti, seun van Lajis. Palti het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: “Gaan terug huis toe!” Palti het toe maar so gemaak. Intussen het Abner met die leiers van Israel beraadslaag. “Julle wou mos al vir Dawid koning maak. Die tyd is nou ryp daarvoor, want die HERE het gesê: ‘Ek het Dawid my dienaar gekies om my volk Israel van die mag van die Filistyne en die mag van al sy vyande te verlos.’” Abner het ook vertroulik met die leiers van Benjamin gepraat. Daarna het hy na Hebron toe gegaan om vir Dawid vertroulik te sê wat vir Israel en Benjamin aanvaarbaar is. Abner het saam met twintig man in Hebron aangekom, en Dawid het hulle op ’n fees onthaal. Toe sê Abner vir Dawid: “Laat my toe om die hele Israel na u kant toe oor te haal om ’n ooreenkoms met u te sluit sodat u kan heers oor alles wat u hart begeer.” Daarna het Dawid vir Abner ongehinderd laat gaan. Kort nadat Abner ongehinderd daar weg is, kom Joab en Dawid se manskappe met baie buit terug van ’n rooftog. Toe Joab hoor dat Abner die koning besoek het en dat hy ongedeerd daar weg is, haas hy hom na die koning toe. “Wat het u nou gedoen?” vra hy. “Wat het u besiel om Abner te laat wegkom? U weet tog dat Abner seun van Ner net gekom het om u te mislei en op u doen en late te spioeneer!” Joab is weg van Dawid af en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die put van Sira ingehaal en hom saam met hulle teruggebring. Maar Dawid het niks hiervan geweet nie. Toe Abner terug is by Hebron, neem Joab hom eenkant na die poort toe asof hy vertroulik met hom wou praat. Toe pluk hy sy dolk uit en steek hom in die maag sodat hy sterf. Dit het hy gedoen uit weerwraak omdat Abner sy broer Asael doodgemaak het. Toe Dawid dit agterna eers hoor, sê hy: “Ek en my koninkryk is onskuldig voor die HERE oor die bloed van Abner seun van Ner. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy familie. Mag sy familie in elke geslag vervloek wees deurdat hulle nooit sonder iemand sal wees wat bloei of ’n velaandoening het of wat met krukke loop of wat deur die swaard omkom of wat bedel vir kos nie!” So het Joab en sy broer Abisai vir Abner doodgemaak omdat Abner hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgemaak het. Toe sê Dawid vir Joab en almal wat by hom was: “Skeur julle klere en trek rouklere aan. Rou oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar in die begrafnisstoet na die graf toe geloop. Hulle het Abner begrawe in Hebron. Die koning en al sy mense het by die graf gehuil. Die koning het hierdie klaaglied vir Abner gesing: “Moes Abner sterf soos ’n dwaas? Jou hande was nie vasgemaak nie; jou voete nie in kettings nie! Nee, jy is vermoor – ’n slagoffer van bose mense.” Die hele volk het weer oor Abner gehuil. Almal het Dawid op dié dag gesmeek om te eet terwyl dit dag was, maar hy het ’n eed afgelê: “Mag God my straf as ek enigiets voor sononder eet.” Die hele volk het dit raakgesien en dit goedgekeur. Trouens, hulle het alles wat die koning gedoen het, goedgekeur. Toe het almal, ook die hele Israel, besef dat Dawid nie vir Abner se dood verantwoordelik was nie. Toe sê koning Dawid vir die volk: “Besef julle dat ’n leier, ’n groot man in Israel, vandag geval het? Alhoewel ek die gesalfde koning is, is ek swak, want hierdie twee seuns van Seruja is te sterk vir my. Mag die HERE met die bose man afreken vir sy bose daad.”