2 Samuel 23:1-23

2 Samuel 23:1-23 AFR20

Dit is die laaste woorde van Dawid: “Die uitspraak van Dawid, seun van Isai, die uitspraak van die man wat hoog geplaas is, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde van die liedere van Israel. Die Gees van die HERE spreek deur my, sy woord is op my tong. “Die God van Israel het met my gepraat, die Rots van Israel het gesê, ‘Hy wat regverdig heers onder mense, hy wat in die vrees van die HERE heers, is soos die môrelig teen sonop op 'n wolklose oggend; deur die helderheid wat die reën bring, spruit groen gras uit die aarde.’ “Ja, is dit nie soos my huis by God is nie? Want Hy het 'n ewige verbond met my gevestig, in alle opsigte georden en beskerm. Ja, al my heil en alle wense, sal Hy dit dan nie laat uitspruit nie? “Maar skurke – soos dorings word hulle almal uitmekaar gewaai; want mens vat nie met die hand daaraan nie. Wie aan hulle raak, het in sy hand 'n yster, of die steel van 'n vegspies; en hulle word net daar heeltemal verbrand.” Dit is die name van Dawid se helde: Joseb-Bassebet uit Tagkemon. Hy was die hoof van die drie. Hy het sy spies geswaai oor agthonderd man wat by een geleentheid deurboor is. Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, seun van 'n man uit Agoag. As een van die drie, die helde, was hy by Dawid toe hulle die Filistyne uitgetart het wat daar vir die geveg byeen was. Toe die manne van Israel teruggetrek het, het hy vasgestaan en die Filistyne neergevel totdat sy hand so moeg was dat dit aan die swaard vasgekramp was. Die HERE het daardie dag 'n groot oorwinning bewerk. Die manskappe het teruggedraai na Eleasar – net om die dooies te plunder. Ná hom was daar Samma, seun van Agee, uit Harar. Die Filistyne het byeengekom in 'n kamp waar daar 'n stuk land vol lensies was. Toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, het Samma stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hy het die Filistyne verslaan, en die HERE het 'n groot oorwinning bewerk. 'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan en in die oestyd by Dawid aangekom in die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm. Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem. Dawid was vol heimwee en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!” Die drie helde het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar hy wou dit nie drink nie, en het dit vir die HERE uitgegiet. Hy het gesê: “Mag die HERE my daarvan weerhou om hierdie water te drink! Is dit nie die bloed van die manne wat hulle lewens gewaag het nie?” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drietal helde gedoen het. Abisai, seun van Seruja en Joab se broer, was hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai en hy het vir hom naam gemaak onder die drie. Was hy dan nie meer geëerd as die drie nie? Hy was vir hulle 'n •aanvoerder, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dan was daar Benaja, seun van Jojada, 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het. Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n indrukwekkende man, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies in sy hand gehad, en Benaja het na hom afgegaan met 'n stok. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak. Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het vir hom naam gemaak onder die drie helde. Hy was meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel by sy lyfwag.