2 SAMUEL 23:1-23
2 SAMUEL 23:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier volg die laaste woorde van Dawid: “Dit is Dawid seun van Isai wat praat. Dit is 'n man wat praat, een wat hoog geplaas is, die gesalfde van die God van Jakob, die gevierde in die liedere van Israel: “Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Hy wat regverdig oor mense heers, wat regeer in eerbied teenoor God, is soos die môrelig as die son opkom op 'n oggend sonder wolke; dit skitter na die reën; die gras skiet op uit die grond.’ “God het my koningskap goed gevestig, Hy het aan my 'n verbond vir altyd gegee, behoorlik opgestel en goed bewaar. Al my hulp, al my vreugde, dit kom van Hom af. Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word; niemand vat met die hand daaraan nie. Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout. In 'n vuur brand hulle heeltemal uit.” Die volgende dapper manne was by Dawid: Joseb-Bassebet die Tagkemoner was hoof van die driemanskap. Hy het met sy spies ag honderd man in een veldslag laat sneuwel. Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het om te veg. Toe die Israeliete teen die hange uit vlug, het hy bly staan en Filistyne afgemaai totdat hy later nie meer sy hand kon oopmaak om sy swaard te los nie. Daardie dag het die Here groot uitkoms gegee. En toe eers het die manskappe vir Eleasar gevolg, net om te plunder. Onder hom was Agee se seun Samma, uit Harar. Die Filistyne het bymekaargekom by Legi waar 'n land vol lensies was. Toe die leër vir die Filistyne vlug, het hy by daardie akker gaan stelling inneem en dit beskerm. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het groot uitkoms gegee. Op 'n keer het drie van die dertig leiers afgetrek en in die oestyd by die Adullamgrot by Dawid aangekom. Die kamp van die Filistyne was in die Spooklaagte. Dawid was toe in 'n bergskuiling, en die Filistyne het Betlehem beset. Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!” Die drie helde het toe deur die Filistynse kamp geglip en water uit die put in Betlehem se poort vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Is dit nie so goed as die bloed van die manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?” Daarom wou hy dit nie drink nie. Dit het die drie helde gedoen. Seruja se seun Abisai, die broer van Joab, was die leier van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. Hy was beroemd onder die dertigtal. Ja, onder die dertig was hy hoog geëer, sodat hy hulle aanvoerder geword het. Maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Benaja seun van Jojada, seun van Isgai, was afkomstig uit Kabseël. Hy was 'n man van baie dade en het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op 'n sneeudag het hy in 'n droë put afgeklim en 'n leeu daar doodgemaak. Hy het ook 'n frisgeboude Egiptenaar doodgeslaan. Die Egiptenaar het nogal 'n spies in sy hand gehad, terwyl Benaja hom net met 'n stok gepak het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies van kant gemaak. Dit het Benaja seun van Jojada gedoen. Hy was beroemd onder die dertig helde. Hy het 'n hoër rang gehad as die res van die dertig, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.
2 SAMUEL 23:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die laaste woorde van Dawid: “Die uitspraak van Dawid, seun van Isai, die uitspraak van die man wat hoog geplaas is, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde van die liedere van Israel. Die Gees van die HERE spreek deur my, sy woord is op my tong. “Die God van Israel het met my gepraat, die Rots van Israel het gesê, ‘Hy wat regverdig heers onder mense, hy wat in die vrees van die HERE heers, is soos die môrelig teen sonop op 'n wolklose oggend; deur die helderheid wat die reën bring, spruit groen gras uit die aarde.’ “Ja, is dit nie soos my huis by God is nie? Want Hy het 'n ewige verbond met my gevestig, in alle opsigte georden en beskerm. Ja, al my heil en alle wense, sal Hy dit dan nie laat uitspruit nie? “Maar skurke – soos dorings word hulle almal uitmekaar gewaai; want mens vat nie met die hand daaraan nie. Wie aan hulle raak, het in sy hand 'n yster, of die steel van 'n vegspies; en hulle word net daar heeltemal verbrand.” Dit is die name van Dawid se helde: Joseb-Bassebet uit Tagkemon. Hy was die hoof van die drie. Hy het sy spies geswaai oor agthonderd man wat by een geleentheid deurboor is. Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, seun van 'n man uit Agoag. As een van die drie, die helde, was hy by Dawid toe hulle die Filistyne uitgetart het wat daar vir die geveg byeen was. Toe die manne van Israel teruggetrek het, het hy vasgestaan en die Filistyne neergevel totdat sy hand so moeg was dat dit aan die swaard vasgekramp was. Die HERE het daardie dag 'n groot oorwinning bewerk. Die manskappe het teruggedraai na Eleasar – net om die dooies te plunder. Ná hom was daar Samma, seun van Agee, uit Harar. Die Filistyne het byeengekom in 'n kamp waar daar 'n stuk land vol lensies was. Toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, het Samma stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hy het die Filistyne verslaan, en die HERE het 'n groot oorwinning bewerk. 'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan en in die oestyd by Dawid aangekom in die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm. Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem. Dawid was vol heimwee en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!” Die drie helde het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar hy wou dit nie drink nie, en het dit vir die HERE uitgegiet. Hy het gesê: “Mag die HERE my daarvan weerhou om hierdie water te drink! Is dit nie die bloed van die manne wat hulle lewens gewaag het nie?” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drietal helde gedoen het. Abisai, seun van Seruja en Joab se broer, was hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai en hy het vir hom naam gemaak onder die drie. Was hy dan nie meer geëerd as die drie nie? Hy was vir hulle 'n •aanvoerder, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dan was daar Benaja, seun van Jojada, 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het. Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n indrukwekkende man, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies in sy hand gehad, en Benaja het na hom afgegaan met 'n stok. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak. Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het vir hom naam gemaak onder die drie helde. Hy was meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel by sy lyfwag.
2 SAMUEL 23:1-23 Die Boodskap (DB)
Hierdie is ’n lied wat genoem is “Dawid se laaste woorde”. ’n Profesie van Dawid, Isai se seun, ’n profesie van iemand vir wie God ’n hoë posisie gegee het, vir wie die God van Jakob uitgekies het, die digter van Israel se mooiste liedere. Die Gees van die Here praat deur my; Hy sê vir my wat ek moet sê. Die God van Israel het gepraat; Israel se God by wie ’n mens veilig is, het vir my gesê: As iemand ’n regverdige koning is en respek het vir die Here, is hy soos die helder son op ’n wolklose môre wat die gras laat groei na die reën. Dis hoe God wil hê my regering moet wees, want Hy het vir my ’n belofte gemaak wat vir altyd bly staan. Hy het self die belofte gemaak en Hy sal sy belofte hou. Hy help my in alles wat ek wil doen; Hy sorg dat dit voorspoedig gaan. Maar slegte mense is soos droë doringtakke wat die wind uitmekaargewaai het: ’n mens raak nie aan hulle nie. Al wat ’n mens daarmee kan doen, is om hulle bymekaar te krap met die punt of handvatsel van ’n spies en hulle net daar te verbrand. Hier is die name van Dawid se dapperste soldate: Joseb-Bassebet van die Tagkemon-familie was die leier van die beroemde drie. Hy het in een geveg met sy oorlogsbyl wat hy so bokant sy kop swaai, 800 man kafgeloop. Eleasar, Dodo se seun, was die tweede van die drie beroemde helde van Dawid. Hy was van die Agoagfamilie. Hy was by toe hulle die keer die Filistyne uitgetart het wat reg was vir die geveg. Toe die Filistyne storm, het die manne van Israel teruggeval, maar Eleasar het bly staan en teen die Filistyne geveg tot hy ’n kramp in sy hand gekry het en nie sy swaard kon los nie. Die Here het daardie dag ’n groot slag vir die Israeliete geslaan. Die manskappe het hom later gaan help, maar eintlik was dit maar net om die klere en wapens van die lyke af te haal. Die derde een was Samma. Hy was Agee, wat van Harar af gekom het, se seun. Die Filistyne het eenkeer by Legi saamgetrek. Daar was ’n land vol lensies en die manskappe het vir die Filistyne gevlug. Samma het in die middel van die land gaan staan om dit te verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het so vir die Israeliete ’n groot slag geslaan. Drie van Dawid se 30 helde het eenkeer in die oestyd na Dawid toe gegaan waar hy in die Adullamgrot was. Die Filistyne se leër het in die Spooklaagte kamp opgeslaan. Dawid het toe in die berg weggekruip omdat die Filistyne ’n afdeling soldate in Betlehem gehad het. Dawid het gesug en gesê: “Ai, ek wens darem iemand kon nou vir my water gee uit die put van Betlehem, daar nes jy in die dorp ingaan.” Die drie heldhaftige mans het toe by al die Filistyne se wagte verbygegaan en water gaan skep uit die put waar jy in Betlehem ingaan. Hulle het dit vir Dawid gevat, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here op die grond uitgegooi en gesê: “Ek sal dit nooit drink nie, Here! Dis so goed soos die bloed van dié mans wat hulle lewe gewaag het om dit te gaan haal!” Hy wou dit glad nie drink nie. Dit is hoe dapper daardie drie was. Abisai (Joab se broer en die seun van Seruja) was die leier van die 30 helde van Dawid. Hy het met sy spies 300 manne doodgesteek. Sy naam word saam met die drie mans genoem wat vir Dawid water gaan haal het. Hy was beroemder as die 30 helde en hy het hulle leier geword, maar hy kom nie naby die beroemde drie nie. Benaja, die dapper Jojada se seun, wat van Kabseël af gekom het, is vir baie dinge bekend. Hy het die twee mans wat “die leeus van Moab” genoem is, doodgemaak. Dis hý wat eendag toe dit gesneeu het in ’n ondergrondse reservoir ingegaan en ’n leeu daar doodgemaak het. Dis ook hy wat daardie lang Egiptenaar doodgesteek het. Die Egiptenaar het ’n spies in sy hand gehad en Benaja het net ’n stok gehad. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek. Dit is hoe dapper Benaja, seun van Jojada, was. Sy naam word ook saam met die drie helde genoem wat vir Dawid water gaan haal het. Hy was beroemder as die 30 helde, maar hy kom ook nie naby die beroemde drie nie. Dawid het hom die leier van sy lyfwag gemaak.
2 SAMUEL 23:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier volg die laaste woorde van Dawid: “Dit is Dawid seun van Isai wat praat, dis woorde van die man vir wie God aansien gegee het, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde psalmdigter van Israel. “Die Gees van die HERE het deur my gepraat; sy woorde was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Die mens wat regeer met regverdigheid, wat regeer in eerbied teenoor God, hy is soos die môrelig wanneer die son in die oggend verskyn in ’n wolklose hemel, soos helderheid ná die reën wat jong gras uit die aarde laat groei.’ “Staan my huis nie by God nie? Het Hy dan nie ’n blywende verbond met my gemaak, een wat in elke opsig bevestig, gewaarborg is nie? Al my redding, al my vreugde – kom net van Hom af. “Maar bose mense is soos dorings wat weggegooi word en nie met kaal hande hanteer moet word nie. Wie dit aanraak, moet dit doen met yster of met die steel van ’n spies. In ’n vuur brand dit uit.” Hier volg die name van Dawid se helde. Die eerste was Joseb-Bassebet die Tagkemoner, leier van die Driemanskap. Hy het op ’n keer met sy spies 800 vyandige soldate tydens een veldslag doodgemaak. Na hom was daar Eleasar seun van Dodo, die Agoagiet. Hy was een van die Driemanskap by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het vir oorlog. Die Israeliete het gevlug, maar hy het bly staan en die Filistyne afgemaai totdat sy hand so moeg geword het dat hy nie sy hand kon oopmaak en sy swaard kon los nie. Daardie dag het die HERE ’n groot oorwinning gegee. Toe eers het die leër Eleasar gevolg, maar net om te plunder. Die volgende in rang van die Driemanskap, was Samma seun van Agee uit Harar. Die Filistyne het op ’n keer by Legi versamel naby ’n landery vol lensies. Die Israeliete het gevlug, maar Samma het vasgestaan in die landery, dit verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die HERE het aan hulle ’n groot oorwinning gegee. Drie van die Dertigtal het eenkeer tydens die oestyd by Dawid by die Adullamgrot aangekom. Die Filistyne het in die Spooklaagte kamp opgeslaan. Dawid was toe in die bergskuiling, terwyl ’n afdeling Filistyne die dorp Betlehem beset het. Dawid het teenoor sy manskappe opgemerk: “Ag! As iemand my net ’n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!” Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit as ’n offer voor die HERE uitgegiet en gesê: “Mag die HERE my daarvan bewaar dat ek hiervan drink! Is dit nie soos die bloed van hierdie manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?” Dawid het dit dus nie gedrink nie. Dis die soort heldedade van die drie krygsmanne. Abisai seun van Seruja en broer van Joab, was die leier van die Dertigtal. Hy het eenkeer met sy spies 300 man in een geveg doodgemaak. Dis waarom hy beroemd geword het by die Dertigtal. Abisai was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle bevelvoerder, maar hy was nie een van die Driemanskap nie. Dan was daar Benaja seun van Jojada, ’n dapper vegter uit Kabseël. Hy het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op ’n dag toe dit gesneeu het, het hy in ’n droë put geklim en ’n leeu daar doodgemaak. ’n Ander keer het hy ’n sterk Egiptenaar doodgemaak. Die Egiptenaar was gewapen met ’n spies, terwyl Benaja net ’n stok gehad het. Maar Benaja het die spies uit die man se hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak. Dit is sommige van die dade wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Hy was beroemd onder die Dertigtal. Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertigtal, maar het nie een van die Driemanskap geword nie. Dawid het hom bevelvoerder van sy lyfwag gemaak.
2 SAMUEL 23:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Hier is die laaste dinge wat Dawid gesê het: “Dawid seun van Isai het gepraat. Die Here het hom 'n belangrike man gemaak, en dit is hý wat gepraat het, hy, die gesalfde van die God van Jakob, die Sterk God van Israel was lief vir hom. Dit is die Gees van die Here wat in my praat, Hy gee vir my die woorde wat ek sê. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: Iemand wat regverdig regeer oor mense en wat vir God dien, is soos die oggendlig wanneer die son opkom en daar nie wolke is nie, en die reën blink op die groen plante wat uit die aarde groei. Dit is hoe ek en my nageslag by God is, want Hy het 'n verbond gemaak met my, 'n verbond wat altyd sal wees, sodat ek alles sal doen soos dit moet wees, en sodat ek veilig sal wees. Hy help my en Hy gee vir my wat ek graag wil hê, alles kom van Hom. Maar slegte mense is soos dorings wat jy weggooi, jy raak nie daaraan met jou kaal hand nie. Iemand wat met die dorings moet werk, gebruik 'n yster of 'n spies se steel, en hy verbrand die dorings daar waar dit lê.” Dawid het spesiale manne gehad wat goed oorlog kon maak. Hier is hulle name: Joseb-Bassebet van die stad Tagkemon was die leier van die eerste drie manne. Hy het 800 manne op een plek doodgemaak met sy spies. Die volgende man van die eerste drie manne was Eleasar seun van Dodi van die stad Agoag. Eleasar was by Dawid toe hulle die Filistyne aangeval het wat bymekaargekom het om oorlog te maak. Die manne van Israel het gevlug, maar Eleasar het bly staan en hy het Filistyne plat geslaan. Hy het aangehou totdat sy arm moeg was en sy hand vasgesit het aan die swaard. Die Here het hom laat wen teen al die Filistyne, en die ander manne van Israel het teruggekom net om die Filistyne se goed te vat. Die derde man van die eerste drie manne was Samma seun van Age van die stad Harar. Die Filistyne het bymekaargekom by die plek Legi. Daar was 'n stuk grond waar lensies gegroei het. Die manne van Israel het gevlug vir die Filistyne, maar Samma het in die lensieland gaan staan en hy het gekeer sodat die vyande dit nie kon vat nie. Hy het die Filistyne plat geslaan, en die Here het hom laat wen teen al die Filistyne. Eendag het drie van die 30 leiers afgegaan na Dawid toe. Dawid was by die Adullam-grot. Dit was in die tyd toe die mense die koring afgesny het. 'n Groep Filistyne se tente was in Spook-laagte. Dawid was in 'n veilige plek in die berge, en die Filistyne het manne in die stad Betlehem laat bly om die stad op te pas. Dawid het dors geword en gesê: “Ek wens iemand bring vir my water uit die watergat in die poort van Betlehem.” Die drie manne het tussen die tente van die Filistyne deurgeloop en hulle het water geskep uit die watergat in die poort van Betlehem. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here gegee, dit was 'n drank-offer. Dawid het gesê: “Here, ek kan nie hierdie water drink nie. As hierdie manne gesterf het, dan was dit my skuld.” Dawid wou nie die water drink nie, maar dit is wat die drie manne gedoen het. Abisai broer van Joab en seun van Seruja was die leier van die 30 manne. Hy het 300 manne doodgemaak met sy spies. Mense het gedink hy is net so belangrik soos die eerste drie manne. Hy was die belangrikste van die 30 manne en hy was hulle leier, maar hy het nie een van die eerste drie manne geword nie. Benaja seun van Jojada van die stad Kabseël was 'n dapper man wat groot dinge gedoen het. Dit is hý wat daardie twee baie sterk manne van Moab oorwin het. En eendag toe dit gesneeu het, het hy afgegaan in 'n gat en hy het 'n leeu doodgemaak. Dit is ook hý wat die Egiptenaar oorwin het. Die Egiptenaar was 'n mooi man en hy het 'n spies in sy hand gehad. Benaja het net 'n stok saamgeneem toe hy afgegaan het na die Egiptenaar toe. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand gevat en hy het die Egiptenaar met sy eie spies doodgemaak. Dit is wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Die 30 spesiale manne het toe gedink Benaja is baie belangrik. Hy was die belangrikste van die 30 manne, maar hy het nie een van die eerste drie manne geword nie. Dawid het hom gekies en aangestel om die hoof te wees van die manne wat die koning moes oppas.
2 SAMUEL 23:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dit is die laaste woorde van Dawid: Dawid spreek, die seun van Ísai, en die man wat hoog geplaas was, spreek, die gesalfde van die God van Jakob en die lieflike in die sange van Israel: Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong. Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: 'n Heerser oor mense, 'n regverdige, 'n heerser in die vrees van God, is soos die môrelig by sonsopgang, 'n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom. Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het 'n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie? Maar deugniete, hulle almal is soos weggegooide dorings, want 'n mens vat dit nie met die hand nie; en elkeen wat hulle wil aanraak, wapen homself met 'n yster of die steel van 'n spies, en met vuur word hulle op daardie plek heeltemal verbrand. DIT is die name van die helde wat Dawid gehad het: Joseb-Bassebet, 'n Tagkemoniet, die hoof van die adjudante; hy was Adino, die Esniet, teen agthonderd wat op een keer gesneuwel het. En ná hom was Eleásar, die seun van Dodo, die Ahohiet, onder die drie helde by Dawid; toe hulle die Filistyne uitgedaag het wat daar bymekaar was om te veg, en die manne van Israel weggetrek het, het hy opgestaan en onder die Filistyne geslaan totdat sy hand moeg geword en sy hand aan die swaard gekleef het, sodat die HERE daardie dag 'n groot oorwinning bewerk het. En die manskappe het teruggekom agter hom aan net om te buit. En ná hom was Samma, die seun van Age, die Harariet. Toe die Filistyne by Legi bymekaarkom, waar 'n stuk land was vol lensies en die volk vir die Filistyne gevlug het, het hy hom opgestel in die middel van die stuk land en dit afgeneem en die Filistyne verslaan, sodat die HERE 'n groot oorwinning bewerk het. En drie van die dertig hoofde het afgetrek en teen die oestyd by Dawid by die spelonk van Adúllam aangekom, terwyl 'n hoop Filistyne in die laer staan in die dal Refáim. En Dawid was toe in die bergvesting; en 'n besetting van die Filistyne was toe in Betlehem. En Dawid het 'n begeerte voel opkom en gesê: Wie sal vir my water gee om te drink uit die put van Betlehem wat by die poort is? Toe het die drie helde deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar hy wou dit nie drink nie, en het dit tot eer van die HERE uitgegiet en gesê: Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het? En hy wou dit nie drink nie. Dit het die drie helde gedoen. En Abísai, die broer van Joab, die seun van Serúja, hy was hoof van die drie, en hy het sy spies geswaai oor driehonderd wat gesneuwel het, en het 'n naam gehad onder die drie. Was hy onder die drie nie geëer nie? sodat hy hulle owerste geword het, maar tot by die eerste drie het hy nie gekom nie. Verder Benája, die seun van Jójada, 'n sterk man, groot van daad, uit Kábseël; hy het die twee groot helde van Moab verslaan; en hy het afgegaan en 'n leeu binne-in 'n kuil doodgeslaan op 'n sneeudag. Hy het ook 'n Egiptenaar verslaan, 'n mooi man; en in die hand van die Egiptenaar was 'n spies; maar hy het na hom afgegaan met 'n stok en die spies uit die hand van die Egiptenaar geruk en hom met sy eie spies doodgesteek. Dit het Benája, die seun van Jójada, gedoen; en hy het 'n naam gehad onder die drie helde. Hy was geëerd onder die dertig, maar tot by die drie het hy nie gekom nie; en Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag.
2 SAMUEL 23:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou is dit die laaste woorde van Dawid. Dawid, die seun van Isai, het gesê, en die man wat in die hoogte opgewek is, die gesalfde van die God van Jakob en die lieflike psalmis van Israel, het gesê: Die Gees van die HERE het deur my gespreek, en sy woord was op my tong. Die God van Israel het gesê: Die Rots van Israel het met my gespreek: Hy wat oor die mense heers, moet regverdig wees en heers in die vrees van God. En hy sal wees soos die lig van die môre as die son opkom, 'n môre sonder wolke; soos die sagte gras wat uit die aarde spring deur helder skyn na reën. Al is my huis nie so by God nie; nogtans het Hy met My 'n ewige verbond gesluit, in alles georden en seker; want dit is al my heil en al my begeerte, al laat Hy dit nie groei nie. Maar die seuns van Belial sal almal wees soos weggestoot dorings, omdat hulle nie met die hande gevat kan word nie. Maar die man wat hulle aanraak, moet met yster en die staf van 'n spies omhein wees; en hulle sal op dieselfde plek met vuur verbrand word. Dit is die name van die magtige manne wat Dawid gehad het: Die Tagmoniet wat op die troon gesit het, die hoof van die owerstes; dit was Adino, die Esniet; hy het sy spies opgehef teen aghonderd wat hy op een slag gedood het. En ná hom was Eleasar, die seun van Dodo, die Ahohiet, een van die drie helde saam met Dawid, toe hulle die Filistyne uitgedaag het wat daar was om te veg, en die manne van Israel het weggegaan. Hy het opgestaan en die Filistyne verslaan totdat sy hand moeg was en sy hand aan die swaard gekleef het; en die HERE het daardie dag 'n groot oorwinning bewerk; en die manskappe het agter hom aan teruggekeer net om te plunder. En ná hom was Samma, die seun van Agee, die Harariet. En die Filistyne het bymekaargekom in 'n bende, waar 'n stuk grond vol lensies was, en die manskappe het vir die Filistyne gevlug. Maar hy het in die middel van die grond gaan staan en dit verdedig en die Filistyne gedood, en die HERE het 'n groot oorwinning bewerk. En drie van die dertig owerstes het afgetrek en in die oestyd by Dawid aangekom in die spelonk van Adullam; En Dawid was toe in die bergvesting, en die wagpos van die Filistyne was toe in Betlehem. En Dawid het verlang en gesê: Ag, as iemand my wil laat drink van die water van die put van Betlehem wat by die poort is! En die drie helde het die leër van die Filistyne deurgebreek en water uit die put van Betlehem wat by die poort was, geput en dit ingeneem en na Dawid gebring; maar hy wou nie daarvan drink nie, maar het dit uitgegooi aan die HERE. En hy sê: Laat dit ver van my wees, o HERE, dat ek dit sou doen: is dit nie die bloed van die manne wat in gevaar van hulle lewe gegaan het nie? daarom wou hy dit nie drink nie. Hierdie dinge het hierdie drie magtige manne gedoen. En Abisai, die broer van Joab, die seun van Seruja, was die hoof onder drie. En hy het sy spies opgehef teen drie honderd en hulle gedood, en hy het die naam onder drie gehad. Was hy nie die mees eerbare van drie nie? daarom was hy hulle owerste; maar hy het nie by die eerste drie uitgekom nie. En Benaja, die seun van Jójada, die seun van 'n dapper man, van Kabseel, wat baie dade gedoen het, hy het twee leeuagtige manne van Moab gedood; En hy het 'n Egiptenaar, 'n mooi man, gedood; en die Egiptenaar het 'n spies in sy hand gehad; maar hy het met 'n staf na hom afgegaan en die spies uit die hand van die Egiptenaar geruk en hom met sy eie spies gedood. Dit het Benaja, die seun van Jójada, gedoen, en hy het die naam gehad onder drie helde. Hy was meer eerbaar as die dertig, maar hy het nie by die eerste drie uitgekom nie. En Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.