2 Samuel 19:9-43

2 Samuel 19:9-43 AFR20

Al die manskappe in al die stamme van Israel het aan die stry geraak en gesê: “Die koning het ons gered uit die greep van ons vyande; ja, hy is die een wat ons laat ontsnap het uit die greep van die Filistyne. Maar nou het hy oor Absalom landuit gevlug, en Absalom, vir wie ons as koning oor ons gesalf het, is dood in die oorlog. Waarom swyg julle dan nou oor die terugbring van die koning?” Koning Dawid stuur toe 'n boodskap na die priesters Sadok en Abjatar om te laat weet: “Spreek die oudstes van Juda aan en sê, ‘Waarom moet julle die laaste wees om die koning na sy paleis terug te bring?’ ” Die gesprek van die hele Israel het immers die koning in sy verblyfplek bereik. Hy het gesê: “ ‘Julle is my broers, my bloedfamilie. Waarom moet julle die laaste wees om die koning terug te bring?’ En vir Amasa moet julle sê, ‘Is jy nie my bloedfamilie nie? Mag God my swaar straf as jy nie vir goed in my diens die bevelvoerder van die leër word in die plek van Joab nie!’ ” So het hy sonder uitsondering die harte gewen van al die manne van Juda. Hulle het toe vir die koning 'n boodskap gestuur: “Kom terug, u en al u dienaars!” Die koning het toe teruggegaan en by die Jordaan aangekom. Juda het tot by Gilgal gekom om die koning tegemoet te gaan, om die koning oor die Jordaan te begelei. Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet wat uit Bagurim kom, het gou gemaak en saam met die manne van Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet. 'n Duisend man uit Benjamin was saam met hom, asook Siba, 'n hofdienaar van Saul met sy vyftien seuns en twintig slawe by hom. Hulle het voor die koning op die Jordaan afgestorm en die drif deurgegaan om die koning se huisgesin deur te help en om te doen wat hy nodig ag. Simeï, seun van Gera, het, toe hy die Jordaan oorsteek, voor die koning neergeval. Hy het vir die koning gesê: “My heer moet my nie die skuld toereken nie. Moet tog nie daaraan bly dink dat u dienaar die spoor byster geraak het die dag toe my heer die koning uit Jerusalem vertrek het nie. Die koning moet dit nie ter harte neem nie, want ek, u dienaar, besef dat ek die een is wat gesondig het. Maar kyk, vandag het ek, van die hele huis van Josef, eerste afgekom om my heer die koning te ontmoet.” Abisai, seun van Seruja, het daarop gereageer en gesê: “Moet Simeï nie hiervoor doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die HERE uitgeskel.” Dawid het egter gesê: “Hoe moet ek julle verstaan, seuns van Seruja? Want julle word vandag vir my teenstanders. Moet iemand vandag in Israel doodgemaak word? Weet ek dan nie dat ek vandag koning is oor Israel nie?” Toe sê die koning vir Simeï: “Jy sal nie sterf nie.” En die koning het dit vir hom met 'n eed bevestig. Ook Mefiboset, die kleinseun van Saul, het afgegaan om die koning te ontmoet. Hy het sy voete nie versorg, sy snor nie geknip en selfs sy klere nie gewas nie, van die dag af dat die koning weggegaan het totdat hy weer ongedeerd daar aangekom het. Toe hy in Jerusalem ingaan om die koning te ontmoet, vra die koning vir hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” Daarop het hy geantwoord: “My heer die koning, my slaaf het my mislei. U dienaar het gedink, ek gaan vir my die donkie opsaal en daarop ry en met die koning saamgaan, want u dienaar is mos kreupel. My slaaf het egter u dienaar by my heer die koning gaan beskinder. Maar my heer die koning is soos 'n engel van God; doen maar wat goed is in u oë. Die hele huis van my vader het immers, wat my heer die koning betref, net die dood verdien. En tog het u u dienaar geplaas by dié wat aan u tafel eet. Watter reg het ek dan nog om weer 'n keer na die koning om hulp te roep?” Die koning het vir hom gesê: “Waarom moet jy nog verder jou saak stel? Ek het klaar gepraat: Jy en Siba moet die grond deel. ” Daarop sê Mefiboset vir die koning: “Hy kan ook maar alles neem nadat my heer die koning ongedeerd by sy paleis aangekom het.” Ook Barsillai, 'n man uit Gilead, het van Rogelim af afgegaan en saam met die koning na die Jordaan getrek om hom daar by die Jordaan af te sien. Barsillai was al baie oud, 'n man van tagtig jaar; maar hy het die koning van kos voorsien tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was 'n baie ryk man. Die koning het vir Barsillai gesê: “Trek jy saam met my oor, dan sal ek jou by my in Jerusalem van kos voorsien.” Maar Barsillai het vir die koning gesê: “Hoeveel dae van my lewensjare is nog oor dat ek saam met die koning na Jerusalem kan opgaan? Ek is nou tagtig jaar oud. Ken ek nog die verskil tussen goed en sleg, of sal ek, u dienaar, nog kan proe wat ek eet of drink, of sal ek nog kan luister na die stemme van sangers en sangeresse? Waarom moet u dienaar nog vir my heer die koning 'n las wees? U dienaar kan nouliks oor die Jordaan gaan saam met die koning, en waarom sou die koning my dan op dié wyse vergoed? Laat ek, u dienaar, asseblief maar omdraai, sodat ek in my tuisdorp naby die graf van my vader en moeder kan sterf. Maar kyk, hier is u dienaar Kimham; laat hy saam met my heer die koning oorgaan. Doen dan aan hom wat goed is in u oë.” Die koning het gesê: “Saam met my sal Kimham dan oorgaan, en ek sal persoonlik aan hom doen wat goed is in jou oë. Alles wat jy van my verwag, sal ek vir jou doen.” Al die manskappe het die Jordaan oorgesteek, en toe het die koning oorgegaan. Die koning het Barsillai gesoen en hom seën toegewens. Hy is terug na sy woonplek. Die koning het verder oorgegaan na Gilgal, en Kimham het saam met hom oorgegaan. Al die manskappe van Juda en ook die helfte van die manskappe van Israel het die koning met die deurtog begelei. Al die manne van Israel kom toe onverwags na die koning en sê vir die koning: “Waarom het ons broers, die manne van Juda, die koning ontvoer en die koning, sy huishouding en al die manne van Dawid saam met hom oor die Jordaan geneem?” Al die manne van Juda het toe teenoor die manne van Israel gereageer: “Omdat die koning na aan ons is! Maar waarom word julle nou kwaad oor hierdie saak? Het ons enigiets van die koning geëet, of enigiets vir onsself weggedra?” Daarop antwoord die manne van Israel die manne van Juda en sê: “Ons het 'n tienvoudige aandeel in die koning, en ook op Dawid het ons groter aanspraak as julle. Waarom verkleineer julle ons dan? Het ons nie eerste voorgestel om ons koning terug te bring nie?” Die reaksie van die manne van Juda was egter heftiger as dié van die manne van Israel.