2 SAMUEL 19:9-43

2 SAMUEL 19:9-43 NLV

Al die stamme van Israel het onder mekaar begin praat. Die volk het gesê: “Die koning het ons verlos van ons vyande, die Filistyne, maar Absalom het hom uit die land verjaag. Nou is Absalom wat ons gesalf het om oor ons te regeer, dood. Laat ons Dawid vra om terug te kom en weer ons koning te wees.” Die koning het verneem wat oral in Israel gesê word. Toe stuur hy die priesters Sadok en Abjatar om vir die leiers in Juda te sê: “Hoekom sou julle die heel laaste wees om die koning weer in sy amp te herstel? Julle is tog my familie, my bloedverwante. Hoekom is julle die laaste om die koning terug te bring?” Dawid laat weet toe vir Amasa: “Is jy dan nie bloedfamilie van my nie? Voor God beloof ek dat ek jou permanent sal aanstel as aanvoerder van die leër in die plek van Joab.” Op hierdie manier het hy almal in Juda oortuig en hulle het eenparig vir Dawid laat weet: “Kom terug na ons toe en bring almal saam wat by u is!” Die koning het teruggekom en die Jordaanrivier bereik. Die mense van Juda het by Gilgal bymekaargekom om die koning terug te verwelkom en hom oor die rivier te begelei. Simeï seun van Gera die Benjaminiet uit Bagurim het hom gehaas om koning Dawid saam met die mense van Juda te ontmoet. ’n Afdeling soldate uit die stam van Benjamin was saam met hom, en ook Siba, die bestuurder van Saul se eiendomme, saam met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het hulle na die Jordaanrivier gehaas om voor die koning daar te wees. Hulle het deur die drif gegaan om die koning en sy huishouding deur die rivier te bring en hom op allerlei maniere te help. Die koning was op die punt om deur die rivier te gaan, toe val Simeï voor hom neer. “Vergewe tog my oortreding, my heer,” pleit hy. “Moet asseblief tog nie dink aan die verskriklike ding wat ek gedoen het toe u Jerusalem verlaat het nie. Ek weet dat ek baie gesondig het. Dis hoekom ek vandag die heel eerste persoon uit Israel is wat u kom ontmoet.” Abisai seun van Seruja sê toe: “Moet Simeï nie net hier doodgemaak word nie? Het hy dan nie die gesalfde van die HERE gevloek nie?” Maar Dawid sê: “Wat moet ek met julle maak, seuns van Seruja, dat julle vandag soos ’n teenstander geword het? Dis nie ’n dag van teregstelling in Israel nie, want ek weet ek is weereens koning van Israel!” Toe het hy vir Simeï met ’n eed belowe: “Jou lewe sal gespaar word.” Mefiboset, Saul se kleinkind, het ook gekom om die koning te ontmoet. Hy het nie sy voete of sy klere gewas of sy baard geknip vanaf die dag dat die koning uit Jerusalem weg is totdat hy veilig teruggekom het nie. Toe hy die koning in Jerusalem gaan ontmoet, vra die koning hom: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” Mefiboset het geantwoord: “My heer die koning, my dienaar het my in die steek gelaat. Omdat ek kreupel is, het ek vir hom gesê: ‘Jy moet vir my die donkie opsaal sodat ek saam met die koning kan gaan.’ Hy het my boonop vals beskuldig, maar ek weet dat u soos ’n engel van God is. Doen dus met my wat u goedvind. My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie. Tog het u my aan u tafel laat eet. Watter reg het ek dan om nog meer van die koning te verwag?” “Dis nie nodig dat jy nog iets sê nie,” sê Dawid. “Ek oordeel dat jy en Siba die grond tussen julle moet verdeel.” “Noudat u weer veilig tuis is, kan hy ook maar alles kry, my heer!” sê Mefiboset. Barsillai die Gileadiet het uit Rogelim daar aangekom om die koning oor die Jordaan te help. Hy was baie oud, 80 jaar oud. Hy was welgesteld en kon die koning gedurende sy verblyf in Maganajim onderhou. “Kom saam met my oor en kom woon in Jerusalem,” sê die koning vir Barsillai. “Ek sal daar vir jou sorg.” “Nee dankie,” antwoord hy. “Ek is heeltemal te oud om saam met die koning Jerusalem toe te gaan. Ek is 80 jaar oud en kan nie meer baie geniet nie. Ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie. Ek kan ook nie meer die stemme van sangers en sangeresse waardeer nie. Ek sal net ’n oorlas wees vir my heer die koning. U dienaar het maar ’n klein entjie saam met die koning gekom. Hoekom sou die koning my met so ’n beloning wou vergoed? Laat my teruggaan om in my eie dorp te sterf, daar waar my pa en ma begrawe is. Maar hier is my seun Kimham. Laat hy saam met u gaan en doen aan hom soos wat u verkies.” “Dis goed so,” sê die koning. “Kimham kan saam met my gaan. Ek sal vir hom doen wat ek dink goed is, en ook enigiets wat jy van my verwag.” Daarna het die soldate saam met die koning die Jordaanrivier oorgesteek. Nadat Dawid hom omhels en geseën het, het Barsillai na sy huis toe teruggegaan. Die koning het toe deurgetrek en is na Gilgal toe en Kimham het saam met hom gegaan. Die hele leër van Juda en die helfte van die leër van Israel het saam met die koning getrek. Maar toe kom al die manne van Israel na die koning toe en sê vir die koning: “Hoekom het ons broers, die manne van Juda, u geskaak? Hulle het die koning en sy huishouding en al die manskappe van Dawid deur die Jordaanrivier gebring.” “Hoekom nie?” het die mense uit Juda geantwoord. “Die koning is tog ons familie. Hoekom word julle daaroor kwaad? Het ons dalk op sy rekening geëet of het ons daarvoor vergoeding gekry?” “Maar daar is tien stamme in Israel,” sê die ander stamme. “Ons het dus tien keer meer reg op die koning. Hoekom het julle ons nie in die saak geken nie? Het ons nie eerste gepraat oor die terugbring van ons koning nie?” Verwyte is heen en weer geslinger en die manne van Juda was meer bitsig in hulle antwoord.