2 Konings 19:1-19

2 Konings 19:1-19 AFR20

Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur, 'n roukleed omgehang en na die huis van die HERE gegaan. Hy stuur toe vir Eljakim, hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en die oudstes van die priesters, in hulle rouklere na die profeet Jesaja, seun van Amos. Hulle het vir hom gesê: “So sê Hiskia, ‘Hierdie dag is 'n dag van benoudheid en straf en vernedering; want die kinders het tot by die opening van die baarmoeder gekom, maar daar is geen krag om geboorte te gee nie. Miskien hoor die HERE u God al die woorde van die rabsakee vir wie die koning van Assirië, sy heer, gestuur het om die lewende God uit te tart, en miskien sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het. Begin dan bid ter wille van die res wat nog oorgebly het. ’ ” Toe die dienaars van koning Hiskia by Jesaja aankom, sê Jesaja vir hulle: “So moet julle vir julle heer sê, ‘So sê die HERE: “Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die onderdane van die koning van Assirië My belaster het nie. Kyk, Ek gaan 'n gees van hom besit laat neem, en hy sal 'n gerug hoor en terugkeer na sy land. Dan sal Ek hom in sy eie land deur die swaard laat val.” ’ ” Die rabsakee het teruggegaan en die koning van Assirië aangetref waar hy besig was om teen Libna te veg. Hy het immers gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. Die koning van Assirië het egter 'n berig gekry oor Tirhaka, die koning van Kus, wat lui: “Kyk, hy het uitgetrek om teen u te veg!” Hy stuur toe weer boodskappers na Hiskia, met die woorde: “So moet julle vir Hiskia, die koning van Juda sê, ‘Moenie dat jou God, op wie jy vertrou, jou bedrieg met die woorde: “Jerusalem sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” Kyk, jy het self gehoor wat die konings van Assirië gedoen het aan al die lande deur hulle aan volledige vernietiging oor te gee. Sal jy dan gered word? Het die gode van die nasies wat deur my voorvaders uitgedelg is, hulle gered – Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van Laïr, Sefarwajim, Hena en Awwa?’ ” Nadat Hiskia die briewe uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die HERE. Hiskia het dit daar voor die HERE oopgesprei. Hiskia het toe voor die HERE gebid en gesê: “HERE, God van Israel wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Draai u oor na my, HERE, en luister! HERE, maak u oë oop en kyk! Hoor die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! Dit is inderdaad so, HERE, dat die konings van Assirië die nasies en hulle lande verwoes en hulle gode in die vuur gegooi het. Want dit was nie gode nie, maar net die werk van mensehande, hout en klip, en hulle het dit vernietig. Daarom, HERE ons God, verlos ons asseblief uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is. ”