2 KONINGS 19:1-19

2 KONINGS 19:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en na die tempel gegaan. Die koning het die amptenare Eljakim en Sebna, en die leiers van die priesters na die profeet Jesaja toe gestuur. Jesaja was die seun van Amos. Hulle het rouklere aangehad. Hulle het vir Jesaja gesê: “Hiskia sê hierdie dag is 'n slegte dag, die Here straf ons vandag. Dit lyk of die Here ons gelos het. Dit is soos wanneer 'n baba al amper gebore word, maar sy ma is te swak om die baba te kry. Miskien het jou God die Here gehoor wat die hoof-offisier gesê het. Dit is sy koning, die koning van Assirië, wat hom gestuur het om sleg te praat oor die God wat lewe. Miskien sal jou God die Here die koning van Assirië straf oor wat die koning gesê het. Ons wat nog lewe, is min, maar bid asseblief vir ons.” Toe die amptenare van koning Hiskia by Jesaja kom, sê Jesaja vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê die Here sê: Hiskia, jy het gehoor toe die offisiere van die koning van Assirië sleg gepraat het oor My, maar jy moenie bang wees daaroor nie. Ek sal die koning van Assirië bang laat word. Hy sal 'n boodskap kry en hy sal teruggaan na sy eie land. Daar in sy land sal iemand hom doodsteek.” Die hoof-offisier het teruggegaan. Hy het gehoor dat die koning van Assirië weggegaan het van die stad Lakis en dat hy teen die stad Libna oorlog maak. Die hoof-offisier het die koning by Libna gekry. Die koning het gehoor dat Tirhaka, die koning van die land Kus, kom om oorlog te maak teen hom. Toe die koning dit hoor, het hy boodskappers na Hiskia toe gestuur. Hy het vir die boodskappers gesê hulle moet vir koning Hiskia van Juda sê: “Hiskia, jy glo in jou God, maar jy moenie dat Hy jou bedrieg nie. Jou God sê die koning van Assirië sal nie Jerusalem oorwin nie. Dit is nie waar nie. Jy het self gehoor wat die koning van Assirië gedoen het met al die ander lande. Hy het daardie lande verwoes. Wie sal jou red? Het die ander volke se gode hulle gered toe my voorvaders hulle oorwin het? Nee. My voorvaders het al die mense van die stede Gosan en Haran oorwin, en ook die mense van die stad Resef en die mense van die land Eden wat in Telassar woon. Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa? Hulle is nie meer daar nie.” Hiskia het die briewe geneem wat die boodskappers gebring het, en hy het dit gelees. Toe het Hiskia na die tempel gegaan en hy het die briewe neergesit voor die Here. Hiskia het tot die Here gebid en gesê: “Here, God van Israel, u troon is bokant die gerubs. U alleen is God van al die lande op die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. U moet asseblief luister, U moet hoor, U moet kyk en sien en hoor wat Sanherib sê. Hy het boodskappe gestuur om sleg te praat oor U, die God wat lewe. Here, die konings van Assirië het al die ander volke en hulle lande verwoes, dit is waar. Hulle het die volke se gode in die vuur gegooi. Maar daardie gode was nie waarlik gode nie, mense het hulle gemaak van hout en klip. Daarom het die gode verdwyn. En nou, Here, ons God, beskerm ons asseblief teen die koning van Assirië. Doen dit, sodat al die volke op die aarde kan weet dat U alleen Here is.”

2 KONINGS 19:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met 'n roukleed bedek en in die huis van die HERE gegaan. Daarna stuur hy Éljakim wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos. En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is 'n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te baar nie. Miskien sal die HERE u God al die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan 'n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is. En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom, sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die HERE: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie. Kyk, Ek sal 'n gees in hom gee, dat hy 'n gerug hoor en na sy land terugtrek, en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val. Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl hy besig was om te veg teen Libna; want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. En toe hy van Tirháka, die koning van Kus, hoor sê: Kyk, hy het uitgetrek om teen u te veg — stuur hy weer boodskappers na Hiskía met die opdrag: So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie. Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref, en sou u gered word? Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was? Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa? En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die HERE; en Hiskía het dit voor die aangesig van die HERE uitgesprei. En Hiskía het voor die aangesig van die HERE gebid en gesê: HERE, God van Israel, wat op die gérubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, Ú het die hemel en die aarde gemaak! O HERE, neig u oor en luister. Open u oë, HERE, en kyk; en hoor die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad! Waarlik, HERE, die konings van Assirië het die nasies en hulle land verwoes en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip; daarom kon hulle dit vernietig. Verlos ons dan nou tog uit sy hand, HERE onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is.

2 KONINGS 19:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is 'n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie. Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.” Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan 'n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.” Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met 'n aanval op Libna besig was. Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap: “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?” Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei. Toe het hy tot die Here gebid: “Here, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! “Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig! Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”

2 KONINGS 19:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur, 'n roukleed omgehang en na die huis van die HERE gegaan. Hy stuur toe vir Eljakim, hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en die oudstes van die priesters, in hulle rouklere na die profeet Jesaja, seun van Amos. Hulle het vir hom gesê: “So sê Hiskia, ‘Hierdie dag is 'n dag van benoudheid en straf en vernedering; want die kinders het tot by die opening van die baarmoeder gekom, maar daar is geen krag om geboorte te gee nie. Miskien hoor die HERE u God al die woorde van die rabsakee vir wie die koning van Assirië, sy heer, gestuur het om die lewende God uit te tart, en miskien sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het. Begin dan bid ter wille van die res wat nog oorgebly het. ’ ” Toe die dienaars van koning Hiskia by Jesaja aankom, sê Jesaja vir hulle: “So moet julle vir julle heer sê, ‘So sê die HERE: “Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die onderdane van die koning van Assirië My belaster het nie. Kyk, Ek gaan 'n gees van hom besit laat neem, en hy sal 'n gerug hoor en terugkeer na sy land. Dan sal Ek hom in sy eie land deur die swaard laat val.” ’ ” Die rabsakee het teruggegaan en die koning van Assirië aangetref waar hy besig was om teen Libna te veg. Hy het immers gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. Die koning van Assirië het egter 'n berig gekry oor Tirhaka, die koning van Kus, wat lui: “Kyk, hy het uitgetrek om teen u te veg!” Hy stuur toe weer boodskappers na Hiskia, met die woorde: “So moet julle vir Hiskia, die koning van Juda sê, ‘Moenie dat jou God, op wie jy vertrou, jou bedrieg met die woorde: “Jerusalem sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” Kyk, jy het self gehoor wat die konings van Assirië gedoen het aan al die lande deur hulle aan volledige vernietiging oor te gee. Sal jy dan gered word? Het die gode van die nasies wat deur my voorvaders uitgedelg is, hulle gered – Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van Laïr, Sefarwajim, Hena en Awwa?’ ” Nadat Hiskia die briewe uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die HERE. Hiskia het dit daar voor die HERE oopgesprei. Hiskia het toe voor die HERE gebid en gesê: “HERE, God van Israel wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Draai u oor na my, HERE, en luister! HERE, maak u oë oop en kyk! Hoor die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! Dit is inderdaad so, HERE, dat die konings van Assirië die nasies en hulle lande verwoes en hulle gode in die vuur gegooi het. Want dit was nie gode nie, maar net die werk van mensehande, hout en klip, en hulle het dit vernietig. Daarom, HERE ons God, verlos ons asseblief uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is. ”

2 KONINGS 19:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met 'n roukleed bedek en in die huis van die HERE ingegaan. En hy het Eljakim, wat oor die huis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, bedek met rouklere, na die profeet Jesaja, die seun van Amos, gestuur. En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is 'n dag van benoudheid en van bestraffing en lastering, want die kinders het by die geboorte gekom, en daar is geen krag om te baar nie. Miskien sal die HERE jou God al die woorde hoor van die rábsake, wat die koning van Assirië, sy heer, gestuur het om die lewende God te smaad; en Hy sal die woorde bestraf wat die HERE jou God gehoor het. Die dienaars van koning Hiskia het toe na Jesaja gekom. En Jesaja sê vir hulle: So moet julle aan julle heer sê: So spreek die HERE: Moenie bevrees wees vir die woorde wat jy gehoor het waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie. Kyk, Ek sal 'n blaas op hom stuur, en hy sal 'n gerug hoor en na sy eie land terugkeer; en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val. Daarop het die rábsake teruggekeer en die koning van Assirië gevind wat teen Libna oorlog voer, want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. En toe hy van Tirhaka, die koning van Kus, hoor sê: Kyk, hy het uitgetrek om teen jou te veg; hy het weer boodskappers na Hiskía gestuur om te sê: So moet julle met Hiskía, die koning van Juda, spreek en sê: Laat jou God op wie jy vertrou jou nie mislei deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie. Kyk, jy het gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur hulle met die banvloek te tref; en sal jy gered word? Het die gode van die nasies hulle gered wat my vaders vernietig het; soos Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Thelasar was? Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarvaim, van Hena en Iwa? En Hiskía het die handbrief van die boodskappers ontvang en dit gelees; en Hiskía het opgegaan in die huis van die HERE en dit voor die aangesig van die HERE uitgesprei. En Hiskía het voor die aangesig van die HERE gebid en gesê: HERE, God van Israel, wat tussen die gérubs woon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het hemel en aarde gemaak. HERE, buig u oor en luister; open, HERE, u oë en kyk, en hoor die woorde van Sanherib wat hom gestuur het om die lewende God te smaad. Waarlik, HERE, die konings van Assirië het die nasies en hulle lande vernietig, en hulle het hulle gode in die vuur gegooi, want hulle was geen gode nie, maar die werk van mensehande, hout en klip; daarom het hulle hulle vernietig. Nou dan, HERE onse God, verlos ons tog uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U alleen die HERE God is.

2 KONINGS 19:1-19 Die Boodskap (DB)

Toe koning Hiskia die boodskap hoor, het hy ook van ontsteltenis sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en tempel toe gegaan. Daarop stuur hy toe vir Eljakim, Sebna en die leiers van die priesters na die profeet Jesaja, Amos se seun. Die hele afvaardiging het rouklere aangehad. Hulle het vir Jesaja gesê: “Hier is die koning se boodskap: ‘Vandag is hier net moeilikheid. Ons is beledig en verneder. Die situasie is so kritiek soos dié van ’n vrou wat in kraam is, maar wat nie krag het vir die geboorte nie. Miskien sal die Here, u God, reageer op die neerhalende boodskap wat Assirië se koning deur sy hoofgesant vir ons gestuur het. Hy het die Here self beledig. Miskien sal die Here, u God, hulle straf vir hulle verwaandheid. Maar u moet asseblief bid vir ons klein klompie wat nog oorgebly het.’” Hiskia se amptenare het die boodskap vir Jesaja gegee. Hy sê toe vir hulle: “Hierdie boodskap van God is vir koning Hiskia bedoel. Die Here sê: ‘Moenie bekommerd wees oor die manier waarop die Assiriese afvaardiging met My gespot het nie. Jy kan maar weet Ek gaan teen hulle optree. Die Assiriese koning gaan ’n boodskap van die huis af kry wat hom sal laat besluit om huis toe te gaan. Ek sal dan sorg dat hy daar in sy eie land vermoor word.’” Die Assiriese hoofgesant het intussen teruggegaan na sy koning toe. Hy was nie meer by Lagis nie, maar het die dorp Libna aangeval. Kort daarna het koning Sanherib ’n boodskap gekry dat koning Tirhaka van Etiopië op pad was om hom aan te val. Voordat hy daarop gereageer het, het hy nog gou weer die volgende boodskap vir Hiskia in Jerusalem gestuur: “Dié boodskap is vir koning Hiskia van Juda bedoel: Moenie dat die God op wie jy vertrou jou mislei as Hy jou belowe dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie. Jy weet mos dat die Assiriërs elke land wat hulle aangeval het, oorwin het. Waarom sal dit nou anders wees met julle? Het die gode van die ander volke hulle miskien gered? Dink maar aan Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar! My voorgangers het hulle almal oorwin. Wat het van die konings van Hamat en Arpad geword? Wat het met die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa gebeur?” Toe Hiskia die brief van die boodskappers af kry, het hy dit gelees. Daarna het hy tempel toe gegaan en dit voor die Here oopgesprei. Toe bid hy: “O Here wat die Groot Bevelvoerder is, God van Israel, U regeer oor alles. U is die God van alle koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Luister asseblief tog na my gebed! Kyk bietjie, Here. Hoor net wat Sanherib alles sê, hoe hy die lewende God beledig! “Dit is natuurlik waar wat hy in sy brief sê, Here: die Assiriërs hét al die volke wat hy noem, oorwin. En hulle hét al die volke se gode omgegooi en verbrand. Maar hulle kon dit doen, want daardie gode is nie regtig gode nie! Daardie gode was sommer afgode wat mense uit hout en klip gemaak het. Ag, Here! Red ons tog uit die koning van Assirië se mag. As U dit doen, sal al die regerings op aarde weet dat U die enigste God is.”

2 KONINGS 19:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe koning Hiskia dit hoor, skeur hy sy klere, trek rouklere aan en gaan na die HERE se tempel toe. Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leierpriesters, almal met rouklere aan, na die profeet Jesaja seun van Amos. Hulle het hom vertel: “So sê koning Hiskia: Dit is ’n dag van benoudheid, teregwysing en skande. Dit is soos ’n kind wat gereed is om gebore te word, maar die moeder het geen krag om geboorte te gee nie. Maar miskien het die HERE jou God gehoor hoe die hoofadjudant van die Assiriese koning die lewende God gespot het. Dalk sal die HERE jou God hom straf oor wat Hy gehoor het. Bid tog vir ons wat nog oorgebly het!” Nadat koning Hiskia se amptenare die boodskap by Jesaja afgelewer het, antwoord die profeet: “Sê vir julle koning: Dit is wat die HERE sê: ‘Moenie bang wees oor die woorde van die boodskappers van die Assiriese koning, en hoe hulle My belaster het nie. Luister! Ek sal teen hom optree sodat die koning ’n gerug sal kry en hy na sy land toe sal teruggaan. Dan sal Ek sorg dat hy daar met ’n swaard doodgemaak word.’” Die hoofadjudant het toe na die koning van Assirië teruggegaan, maar gehoor dat hy vanaf Lakis verskuif het en besig was om Libna aan te val. Kort daarna kry koning Sanherib van Assirië berig dat koning Tirhaka van Kus met ’n leër op pad is om hom aan te val. Voordat hy vertrek om die aanval te weerstaan, stuur hy die volgende brief met boodskappers aan Hiskia in Jerusalem: “Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda. Moenie toelaat dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met beloftes dat die koning van Assirië nie Jerusalem sal inneem nie. Jy weet alte goed wat die konings van Assirië gedoen het waar hulle ook al gegaan het. Hulle het elkeen wat in hulle pad was, vernietig! Hoekom sou jy dit vryspring? Het die gode van ander nasies hulle kom red, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die inwoners van Eden wat in Telassar was? My voorgangers het hulle almal vernietig! Wat het gebeur met die koning van Hamat en die koning van Arpad? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?” Nadat Hiskia die brief van die boodskappers ontvang en gelees het, gaan hy op na die HERE se tempel toe en sprei dit oop voor die HERE. Toe bid hy voor die HERE soos volg: “O HERE, God van Israel, U wat oor die serafs troon! U alleen is God oor al die koninkryke op die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Luister tog na my, o HERE, en hoor wat ek sê. Maak tog u oë oop en kyk, HERE! Luister hoe Sanherib die lewende God beledig! “Dit is waar, HERE, die konings van Assirië het al hierdie nasies met hulle grondgebiede verwoes. Dis waar dat hulle die gode van hierdie nasies verbrand het. Maar natuurlik kon die Assiriërs hulle vernietig! Hulle was glad nie gode nie, net maar beelde van hout en klip, die werk van mensehande. Nou, o HERE, ons God, red ons uit die mag van Assirië! Dan sal al die koninkryke op die aarde weet dat U alleen, o HERE, God is.”