2 Konings 18:1-12

2 Konings 18:1-12 AFR20

In die derde regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskia, seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy is die een wat die offerhoogtes verwyder het, die gedenkstene stukkend gebreek en die asjera afgekap het. Hy het die koperslang wat Moses gemaak het, verbrysel, want tot in daardie tyd het die Israeliete daarvoor offers verbrand. Die mense het dit Negustan genoem. Op die HERE, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. Hy het aan die HERE vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die HERE Moses beveel het, nagekom. Die HERE was met hom. In al die veldtogte wat hy onderneem het, het hy sukses behaal. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia – dit was die sewende regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel – het Salmaneser, die koning van Assirië, teen Samaria opgetrek en dit beleër. En ná verloop van drie jaar het hy dit ingeneem. In die sesde regeringsjaar van Hiskia – dit was die negende regeringsjaar van Hosea, die koning van Israel – is Samaria ingeneem. Die koning van Assirië het Israel weggevoer in ballingskap na Assirië, en hulle in Galag en aan die Gabor, die rivier van Gosan, hervestig, en ook in die dorpe van Medië. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die stem van die HERE hulle God nie en sy verbond oortree het – alles wat Moses, die dienskneg van die HERE beveel het. Hulle het nie geluister nie en dit nie uitgevoer nie.