2 KONINGS 18:1-12

2 KONINGS 18:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Hiskia seun van koning Agas van Juda het koning geword in die derde jaar nadat Hosea seun van Ela koning van Israel geword het. Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Abi dogter van Sagaria. Hiskia het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het. Dit is hy wat die offer-plekke laat afbreek het. Hy het die klip-pale stukkend gebreek en die gewyde pale afgekap. Hy het ook die brons slang stukkend laat slaan wat Moses in die woestyn gemaak het, want die Israeliete het nog altyd vir die slang wierook gebrand. Hulle het die slang “Negustan” genoem. Hiskia het geglo dat die Here, die God van Israel, sal doen wat Hy gesê het. Daar was voor die tyd van Hiskia en ná sy tyd nie nog 'n koning van Juda soos Hiskia nie. Hy het aangehou om die Here te dien, hy het nie opgehou om dit te doen nie en hy was gehoorsaam aan die wette wat die Here vir Moses gegee het. Die Here was by Hiskia, en dit het goed gegaan met alles wat hy gedoen het. Hiskia het opstandig geword teen die koning van Assirië en hy het opgehou doen wat die koning van Assirië wou hê. Hiskia het die Filistyne oorwin tot by die stad Gasa en die plekke daar naby, hy het elke stad oorwin. In die vierde jaar nadat Hiskia koning geword het, in die sewende jaar nadat Hosea seun van Ela koning van Israel geword het, het koning Salmaneser van Assirië gekom en hy het Samaria van al die kante aangeval. Hy het die stad ná drie jaar oorwin. Dit was in die sesde jaar nadat Hiskia koning geword het, en in die negende jaar nadat Hosea koning van Israel geword het. Die koning van Assirië het die mense van Israel gevang en weggevat na Assirië. Hy het hulle laat woon in die stad Galag en by die Gabor-rivier in die land Gosan en in die stede van Medië. Dit het gebeur omdat die mense van Israel nie gehoorsaam was aan hulle God die Here nie. Hulle het nie gedoen wat die Here in sy verbond gesê het nie. Hulle het ook nie gedoen wat Moses, die dienaar van die Here, gesê het nie. Hulle was ongehoorsaam en hulle het nie gedoen wat hulle moes doen nie.

2 KONINGS 18:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die derde jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskía, die seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en negen-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abi, 'n dogter van Sagaría. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid gedoen het. Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem. Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie. Ja, hy het die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het. En die HERE was met hom; waar hy ook heen uittrek, was hy voorspoedig; en hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en hom nie gedien nie. Hy het die Filistyne verslaan tot by Gasa en sy grondgebied, van wagtoring af tot versterkte stad. Maar in die vierde jaar van koning Hiskía — dit was die sewende jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel — het Salmanéser, die koning van Assirië, teen Samaría opgetrek en dit beleër; en hulle het dit ingeneem aan die einde van drie jaar; in die sesde jaar van Hiskía — dit was die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel — is Samaría ingeneem. En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat bly in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië; omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die HERE hulle God nie, maar sy verbond oortree het — alles wat Moses, die kneg van die HERE, beveel het — sonder om daarna te luister en te handel.

2 KONINGS 18:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die derde regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het Hiskia seun van koning Agas van Juda op die troon gekom. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg. Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem. Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het. Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het. Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie. Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër. Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower. Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië. Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie.

2 KONINGS 18:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die derde regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskia, seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy is die een wat die offerhoogtes verwyder het, die gedenkstene stukkend gebreek en die asjera afgekap het. Hy het die koperslang wat Moses gemaak het, verbrysel, want tot in daardie tyd het die Israeliete daarvoor offers verbrand. Die mense het dit Negustan genoem. Op die HERE, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. Hy het aan die HERE vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die HERE Moses beveel het, nagekom. Die HERE was met hom. In al die veldtogte wat hy onderneem het, het hy sukses behaal. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia – dit was die sewende regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel – het Salmaneser, die koning van Assirië, teen Samaria opgetrek en dit beleër. En ná verloop van drie jaar het hy dit ingeneem. In die sesde regeringsjaar van Hiskia – dit was die negende regeringsjaar van Hosea, die koning van Israel – is Samaria ingeneem. Die koning van Assirië het Israel weggevoer in ballingskap na Assirië, en hulle in Galag en aan die Gabor, die rivier van Gosan, hervestig, en ook in die dorpe van Medië. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die stem van die HERE hulle God nie en sy verbond oortree het – alles wat Moses, die dienskneg van die HERE beveel het. Hulle het nie geluister nie en dit nie uitgevoer nie.

2 KONINGS 18:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die derde jaar van Hoséa, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskía, die seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Vyf en twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het; en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. En die naam van sy moeder was Abi, die dogter van Sagaria. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Dawid gedoen het. Hy het die hoogtes verwyder en die beelde verbreek en die bosse afgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan, want tot op daardie dae het die kinders van Israel daarvoor rook laat opgaan, en hy het dit Nehustan genoem. Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou; sodat ná hom niemand soos hy was onder al die konings van Juda en ook al die wat voor hom was nie. Want hy het die HERE aangehang en nie van Hom afgewyk nie, maar sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het. En die HERE was met hom; en hy was voorspoedig oral waar hy uitgetrek het, en hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en hom nie gedien nie. Hy het die Filistyne verslaan, tot by Gasa en sy grense, van die wagtoring af tot by die omheinde stad. En in die vierde jaar van koning Hiskía, dit was die sewende jaar van Hoséa seun van Ela, die koning van Israel, het Salmaneser, die koning van Assirië, opgetrek teen Samaría en dit beleër. En aan die einde van drie jaar het hulle dit ingeneem: in die sesde jaar van Hiskía, dit is die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel, is Samaria ingeneem. En die koning van Assirië het Israel na Assirië weggevoer en hulle in Hala en in Habor by die rivier van Gosan en in die stede van die Meders gesit. Omdat hulle nie na die stem van die HERE hulle God geluister het nie, maar sy verbond oortree het en alles wat Moses, die kneg van die HERE, beveel het, en hulle nie geluister en hulle nie gedoen het nie.

2 KONINGS 18:1-12 Die Boodskap (DB)

In die derde jaar wat koning Hosea seun van Ela in Israel regeer het, het Hiskia, die seun van Agas, koning in Juda geword. Hiskia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi, ’n dogter van Sagaria. Die Here was net so tevrede met sy optrede as wat Hy met koning Dawid was. Hiskia het: die heidense heiligdomme verwoes; die klippilare omgegooi en gebreek; die Asjerastompe uitmekaargeslaan; die bronsslang, wat Moses nog gemaak het, vernietig. Dit was nodig om die slang tot niet te maak omdat die Israeliete dit as ’n afgod begin vereer het deur offers daarvoor te bring. Hulle het die bronsslang Negustan genoem. Hiskia het die Here, Israel se God, vertrou. Daar was nie vóór hom of ná hom so ’n koning in Juda soos hy nie. Hy was baie lojaal aan die Here en het getrou al die wette nagekom wat die Here aan Moses gegee het. Die Here het Hiskia ook bygestaan sodat hy suksesvol was in alles wat hy aangepak het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en geweier om aan hom belasting te betaal. Hy het ook teen die Filistyne geveg en hulle verslaan. Hiskia het Gasa met sy hele gebied ingeneem: van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad. Gedurende die vierde jaar wat Hiskia regeer het (dit was in Hosea van Israel se sewende jaar), het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die hoofstad Samaria van die buitewêreld afgesny. Drie jaar later, in Hiskia se sesde jaar en Hosea se negende jaar, het hulle Samaria ingeneem. Die Assiriese koning het die Israeliete as gevangenes na Assirië weggevoer. Hulle is in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië hervestig. Dit het gebeur omdat hulle nie gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. Hulle het die ooreenkoms wat die Here deur sy dienaar Moses met hulle gesluit het, verbreek. Hulle het hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie.

2 KONINGS 18:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die derde jaar van koning Hosea seun van Ela se bewind in Israel het Hiskia seun van Agas koning van Juda geword. Hy was 25 toe hy koning geword het en het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi dogter van Sagaria. Hy het gedoen wat reg was vir die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy het die heidense hoogtes verwyder, die heilige klippilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hy het ook die bronsslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan omdat die Israeliete dit tot op daardie stadium met brandoffers vereer het. Die bronsslang is Negustan genoem. Hiskia het op die HERE, die God van Israel, vertrou. Daar was nie ’n koning in Juda soos hy nie, nie vóór hom of ná hom nie. Hy het in alles getrou gebly aan die HERE sonder dat hy afgedwaal het. Hy het al die gebooie wat die HERE vir Moses gegee het, gehoorsaam. Die HERE was met Hiskia en hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Hy het ook die Filistyne verslaan, of dit buitepos was of vestingstad, en hulle tot so ver as Gasa en sy grondgebied onderwerp. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia was Hosea seun van Ela in sy sewende regeringsjaar in Israel. In daardie jaar het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die stad Samaria beleër. Na drie jaar, gedurende die sesde jaar van koning Hiskia se bewind en die negende jaar van koning Hosea se regering in Israel, is Samaria verower. Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die HERE hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die HERE deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.