2 Konings 10:1-31

2 Konings 10:1-31 AFR20

Agab het sewentig seuns in Samaria gehad. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria, na die •hoë amptenare van Jisreël, die oudstes, en na die voogde van Agab se seuns, met hierdie woorde: “Nou, sodra hierdie brief by julle uitkom – die seuns van julle heer is mos by julle, en by julle is ook die strydwamag en perde, 'n versterkte stad en die toerusting – moet julle die beste en geskikste van julle heer se seuns uitsoek en hom op sy vader se troon sit. Dan moet julle veg vir die huis van julle heer.” Hulle het ontsettend bang geword en gesê: “Kyk, twee konings het nie voor hom stand gehou nie. Hoe kan ons dan standhou?” Die hoof van die hofhouding, die stadsbestuurder, die oudstes en die voogde het vir Jehu laat weet: “Ons is u dienaars. Alles wat u vir ons sê, sal ons doen. Ons sal niemand koning maak nie. Wat u goedvind – doen dit!” Hy skryf aan hulle toe 'n tweede brief met die woorde: “As julle aan my kant is en aan my gehoorsaam is, neem dan die koppe van die manne, van die seuns van julle heer, en bring dit môre teen hierdie tyd na my in Jisreël. ” Die seuns van die koning, sewentig man, was by vername mense van die stad, wat hulle grootgemaak het. Toe die brief by hulle kom, het hulle dadelik die koning se seuns geneem en die sewentig man onthoof. Hulle het die koppe in dramandjies gesit en na Jehu in Jisreël gestuur. Toe die boodskapper binnegaan en hom meedeel: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring,” het hy gesê: “Sit hulle neer in twee hope by die ingang na die stadspoort tot môreoggend.” Die volgende oggend het hy uitgegaan, daar gaan staan en vir die hele volk gesê: “Julle is onskuldig. Kyk, ek is die een wat teen my heer 'n komplot gesmee en hom om die lewe gebring het. Maar wie het al hierdie mense neergevel? Weet dan dat daar niks onvervuld sal bly van die HERE se woord wat die HERE oor die huis van Agab gespreek het nie. Die HERE self het gedoen wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, gespreek het.” Jehu het almal wat van die huis van Agab in Jisreël oorgebly het, neergevel – al sy vername mense, sy vertrouelinge en sy priesters – totdat hy niemand van Agab laat vrykom het nie. Toe het Jehu opgestaan, die stad binnegegaan en na Samaria vertrek. Terwyl hy op pad was by Bet-Eked-Roïm, het Jehu die broers van Ahasia, die koning van Juda, teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die koninginmoeder te groet,” het hulle geantwoord. “Gryp hulle lewendig!” het Jehu gesê. Hulle het hulle toe lewendig gegryp en onthoof by die opgaarput van Bet-Eked – twee-en-veertig man. Hy het niemand van hulle laat vrykom nie. Toe hy daarvandaan weggaan, kom hy af op Jonadab, seun van Regab, wat na hom toe op pad was. Hy groet hom toe en sê vir hom: “Is jy dit heelhartig met my eens, soos ek dit met jou is?” Jonadab het geantwoord: “Ek is.” Daarop sê Jehu: “Indien wel, gee jou hand!” Toe hy sy hand gee, help Jehu hom op die strydwa by hom en sê: “Gaan saam met my en aanskou my ywer vir die HERE.” So het hulle hom op sy strydwa laat ry. Toe hy in Samaria kom, het hy almal neergevel wat van Agab in Samaria oorgebly het, totdat hy hom uitgeroei het ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy met Elia gespreek het. Jehu het die hele volk byeengebring en vir hulle gesê: “Agab het Baäl maar min gedien; Jehu gaan hom baie dien. Daarom, wat al die profete van Baäl betref, al sy dienaars en al sy priesters, ontbied hulle hier na my toe. Niemand mag ontbreek nie, want ek het 'n groot maaltydoffer vir Baäl gereedgemaak. Niemand wat ontbreek, sal bly leef nie.” Jehu het dit egter met lis gedoen, sodat hy Baäl se dienaars kon vernietig. Jehu sê toe: “Kondig 'n heilige feesgeleentheid af vir Baäl.” Hulle het dit toe uitgeroep. Daarop het Jehu boodskappers deur die hele Israel gestuur, en al die dienaars van Baäl het gekom. Daar was niemand in die land oor wat nie gekom het nie. Hulle het toe in Baäl se tempel ingegaan. Die tempel van Baäl was van hoek tot kant gevul. Jehu sê toe vir die een wat in beheer was van die klerekamer: “Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl.” Hy het vir hulle die feesklere uitgebring. Jehu en Jonadab, seun van Regab, het die tempel van Baäl binnegegaan. Toe sê hy vir die dienaars van Baäl: “Maak doodseker en sien toe dat hier nie dienaars van die HERE saam met julle is nie, maar alleen die dienaars van Baäl.” Toe hulle ingegaan het om maaltydoffers en •brandoffers te bring, het Jehu buite vir hom tagtig man opgestel en gesê: “Die man wat enige van die manne wat ek in julle hande oorlewer, laat vrykom – sy lewe sal geneem word in die plek van die een wat vrykom.” Toe hy klaar die brandoffer gebring het, sê Jehu vir die hardlopers en die adjudante: “Gaan in, vel hulle neer! Niemand mag uitgaan nie!” Hulle het hulle toe neergevel met die skerpte van die swaard. Die hardlopers en adjudante het hulle uitgegooi en deurgedring tot in die woondeel van die tempelkompleks van Baäl. Hulle het die gedenkstene uit die tempel van Baäl uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die gedenksteen van Baäl afgebreek, ook die tempel van Baäl afgebreek en dit plekke vir ontlasting gemaak; dit is vandag nog so. Jehu het Baäl uit Israel verdelg. Maar die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, die sondes waarmee hy Israel laat sondig het, daarvan het Jehu nie afgewyk nie – die goue kalwers wat in Bet-El en Dan was. Die HERE het toe vir Jehu gesê: “Jy het goed gedoen deur uit te voer wat reg is in my oë. Alles wat Ek in gedagte gehad het vir die huis van Agab, het jy uitgevoer. Daarom sal daar vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. ” Jehu het egter nie daarby gehou om die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart te volg nie. Hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam waarmee hy Israel laat sondig het nie.