2 KONINGS 10:1-31

2 KONINGS 10:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Agab het 70 seuns gehad wat in Samaria gewoon het. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria toe, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die oppassers van koning Agab se seuns. In die brief sê hy: “Die koning se seuns is daar by julle en julle het strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Sodra julle hierdie brief ontvang, moet julle die beste en bekwaamste van koning Agab se seuns as koning aanwys. Wees dan gereed om vir Agab se koningshuis te veg.” Maar hulle was doodbang en sê: “Twee konings kon nie teen hierdie man weerstand bied nie! Hoe sal ons dit kan doen?” Gevolglik het die paleisbestuurder en die persoon in beheer van die stad, asook die ander leiers en die oppassers van die koning se seuns die volgende brief aan Jehu gestuur: “Ons is u dienaars en sal enigiets doen wat u ons beveel. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat u dink die beste is.” Jehu het ’n tweede brief gestuur: “As julle aan my kant is en vir my wil luister, moet julle môre teen hierdie tyd die koppe van die koning se seuns na my toe bring in Jisreël.” Die 70 seuns van die koning is versorg deur vooraanstaandes van die stad wat hulle moes grootmaak. Toe die leiers die brief ontvang, het hulle die koning se seuns geneem en al 70 doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en dit na Jehu in Jisreël gestuur. Die boodskapper het gekom en gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” Jehu beveel toe: “Sit dit in twee hope by die poort van die stad en los dit daar tot môre-oggend.” Die volgende oggend gaan hy buitentoe en gaan staan daar in die poort. Hy sê vir die groeiende skare: “Julle is onskuldig. Kyk, dis ek wat teen die koning saamgesweer en hom doodgemaak het. Maar wie het al hierdie mense doodgemaak? Weet dan dat niks van wat die HERE aangaande Agab se familie gesê het, onvervul sal bly nie. Die HERE het gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia aangekondig het.” Daarna het Jehu al Agab se bloedverwante wat nog in Jisreël oor was, doodgemaak, asook al die vooraanstaandes, sy vriende en sy priesters. So het dit gebeur dat daar vir Agab niemand oorgebly het nie. Toe het Jehu na Samaria toe vertrek. Op pad, by Bet-Eked-Roïm, kom hy bloedverwante van koning Ahasia van Juda teë. “Wie is julle?” vra hy. Hulle antwoord hom: “Ons is naasbestaandes van koning Ahasia. Ons is op pad om die seuns van die koning en van die koninginmoeder te besoek.” “Vang hulle lewendig!” beveel Jehu. Hulle het toe al 42 gevang en net daar by die put van Bet-Eked doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab wat hom tegemoetkom. Nadat hy hom gegroet het, sê Jehu vir hom: “Is jy lojaal aan my soos ek lojaal is aan jou?” “Ja, ek is,” antwoord Jonadab. “As jy is,” sê Jehu, “gee my dan jou hand.” Jonadab gee hom toe sy hand en Jehu het hom op sy wa laat klim. Daarna sê Jehu: “Kom saam met my en jy sal my toewyding aan die HERE sien.” Jonadab het toe saam met hom gery. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy almal doodgemaak wat nog oor was van Agab se bloedverwante. Hy het hulle uitgeroei soos die HERE deur Elia gesê het. Daarna het Jehu al die inwoners van die stad bymekaargeroep en gesê: “Agab se verering van Baäl is niks in vergelyking met wat ek sal doen nie! Roep nou al die profete en aanbidders van Baäl, asook al die priesters na my toe. Niemand mag wegbly nie, want ek gaan ’n groot offer aan Baäl bring. Enigeen wat nie opdaag nie, sal doodgemaak word.” Maar eintlik was Jehu van plan om al die Baälaanbidders uit te roei. Toe beveel Jehu: “Heilig ’n byeenkoms ter ere van Baäl!” Hulle het dit gedoen. Hy het boodskappers deur die hele Israel gestuur om die Baälaanbidders op te roep. Hulle almal het gekom; niemand het weggebly nie. Hulle het ingegaan in die Baältempel sodat dit van hoek tot kant vol was. Jehu het aan die persoon in bevel van die klerekamer gesê: “Maak seker dat elke aanbidder van Baäl een van hierdie kledingstukke aanhet.” Daar is toe aan hulle klere uitgedeel. Daarna het Jehu saam met Jonadab seun van Rekab die tempel binnegegaan. Toe sê Jehu vir die Baälaanbidders: “Kyk goed dat net aanbidders van Baäl hier is. Sorg dat geen aanbidder van die HERE hier inkom nie!” Toe hulle ingaan in die tempel om offers en brandoffers te bring, het Jehu 80 van sy manne buitekant opgestel. Hy het hulle beveel: “As julle enigeen toelaat om te vlug, sal julle met julle eie lewens daarvoor boet.” Net nadat Jehu die brandoffer gebring het, beveel hy die hardlopers en offisiere: “Gaan in en maak hulle almal dood. Nie een van hulle mag uitkom nie!” Hulle het hulle toe met die swaard doodgemaak en die wagte en offisiere het die liggame buitentoe gesleep. Daarna het hulle ingegaan in die binneste heiligdom van die Baältempel, die Asjerapaal uit die Baältempel uitgebring en verbrand. Hulle het die heilige klippilaar van Baäl stukkend geslaan, die tempel van Baäl verwoes en dit omskep in toilette, soos dit vandag nog is. So het Jehu elke teken van Baälaanbidding in Israel uitgeroei. Hy het egter nie die goue kalwers in Bet-El en Dan vernietig nie. Daarom het Israel die verering daarvan voortgesit, net soos Jerobeam seun van Nebat gedoen het. Nogtans het die HERE vir Jehu gesê: “Jy het goedgedoen deur my bevele uit te voer, naamlik om die familie van Agab uit te roei. Omdat jy reg gedoen het, sal Ek toesien dat jou kinders tot in die vierde geslag konings van Israel sal wees.” Maar Jehu het nie die bevele van die HERE, die God van Israel, heelhartig gehoorsaam nie. Hy het nie weggedoen met die afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Samaria was daar sewentig prinse uit Agab se geslag. Jehu het briewe geskryf en dit na Samaria toe gestuur, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die opvoeders van Agab se nakomelinge. Dit het so gelui: “As julle hierdie brief kry – julle het daar by julle die prinse, die strydwaens en perde, 'n versterkte stad en wapentuig – soek dan die beste en knapste prins uit en sit hom op die troon van sy pa. Maar julle sal moet veg vir julle koningshuis.” Hulle het bang geword, want hulle het gedink: twee konings moes die onderspit teen hom delf, hoe sal ons ons kan handhaaf? Die amptenaar in beheer van die paleis en die een in beheer van die stad, die leiers en die opvoeders het vir Jehu laat weet: “Ons wil u onderdane wees. Ons wil niemand koning maak nie. Alles wat u aan ons opdra, sal ons uitvoer. Doen wat u goedvind.” Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.” Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak. Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur. Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.” Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.” Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak? Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.” Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie. Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.” Jehu het beveel: “Vang hulle.” Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie. Toe hy daar weg is, kom hy vir Jonadab seun van Rekab op die pad teë. Nadat hy hom gegroet het, vra hy vir hom: “Kan ek op jou reken soos jy op my?” Jonadab het geantwoord: “Ja.” “As dit ja is,” sê Jehu, “gee my jou hand.” Hulle het mekaar die hand gegee en Jehu het hom by hom op die wa laat klim. Jehu het gesê: “Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.” Jehu het hom saam met hom laat ry, en toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het. Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl maar net 'n bietjie gedien, maar ek wat Jehu is, gaan hom baie meer dien. Roep nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters. Nie een mag wegbly nie, want ek wil 'n groot offer aan Baäl bring. Nie een wat wegbly, sal bly leef nie.” Jehu het dit met lis beplan om die vereerders van Baäl te kan vernietig. Jehu het beveel: “Sonder vir Baäl 'n feesdag af.” So 'n feesdag is uitgeroep, en Jehu het oral in Israel boodskappers gestuur, sodat al die vereerders van Baäl gekom het; daar was nie 'n enkele wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel naderhand van hoek tot kant vol was. Aan die persoon wat oor die klerekamer toesig gehou het, het hy gesê: “Bring klere vir al die vereerders van Baäl.” Hy het vir hulle die klere gebring. Jehu en Jonadab seun van Rekab het saam in die tempel van Baäl ingegaan, en Jehu het vir die vereerders van Baäl gesê: “Sorg dat hier nie vereerders van die Here saam met julle is nie; net die vereerders van Baäl moet hier wees.” Toe hulle ingaan om die brandoffers en ander diereoffers te bring, was daar buite tagtig man wat deur Jehu opgestel is met die bevel: “Die persoon wat een van die manne wat ek in julle mag gee, laat wegkom, sal met sy eie lewe daarvoor boet.” Net toe Jehu klaar die brandoffer gebring het, het hy vir die hardlopers en die adjudante gesê: “Gaan in en maak hulle dood. Niemand mag daar uitkom nie.” Hulle het hulle doodgesteek en die liggame uitgegooi. Hulle het in die binneste heiligdom van die Baälstempel ingedring, die klippilaar uit die Baälstempel uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die klippilaar stukkend geslaan en die tempel van Baäl afgebreek en daarvan kleinhuisies gebou, wat dit vandag nog is. So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg. Jehu het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie: die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, is nog vereer. Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam vir Israel laat doen het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 70 seuns van Agab in die stad Samaria. Jehu het briewe gestuur na die leiers in Samaria en na die mense wat Agab se kinders moes grootmaak. Hy het die briewe ook gestuur vir die leiers van die stad Jisreël. In die briewe het hy geskryf: “Julle koning se seuns is by julle, en ook sy oorlogkarre en perde en wapens, en julle is in 'n stad wat sterk mure het. Wanneer julle hierdie brief kry, dan moet julle kyk watter seun van julle koning is die beste om die werk te doen. Dan moet julle hom op die troon van sy pa laat sit en julle moet veg vir die familie van julle koning.” Die leiers het baie bang geword en gesê: “Twee konings kon nie teen Jehu wen nie, ons sal ook nie teen hom kan wen nie.” Die bestuurder van die paleis en die burgemeester en die leiers en die mense wat die koning se kinders moes grootmaak, het toe vir Jehu 'n boodskap gestuur en gesê: “Ons wil vir jou werk, ons sal alles doen wat jy sê. Ons wil nie vir iemand anders koning maak nie. Jy moet doen wat jy dink is reg.” Jehu skryf toe weer 'n brief en hy sê in die brief: “As julle kies om my te help en as julle wil doen wat ek sê, dan moet julle môre hierdie selfde tyd die koppe van die prinse vir my na Jisreël bring.” Die 70 prinse was in die stad by belangrike mense wat die kinders moes grootmaak. Toe die brief by hierdie belangrike mense kom, het hulle die 70 prinse almal doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en hulle het dit vir Jehu in Jisreël gestuur. Toe Jehu die boodskap kry dat hulle die prinse se koppe gebring het, het hy gesê: “Sit die koppe bymekaar in twee hope voor die poort en laat dit daar bly tot môre.” Die volgende oggend het Jehu uitgegaan. Hy het by die poort gaan staan en vir al die mense gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat planne gemaak het teen my koning, en ék het hom doodgemaak. Maar wie het al hierdie prinse doodgemaak? Julle moet dit weet: Alles het gebeur wat die Here gesê het oor die familie van Agab. Die Here het sy dienaar Elia gestuur om die boodskap te bring, en die Here het gedoen wat Hy gesê het.” Jehu het almal doodgemaak wat nog oor was van die familie van Agab in die stad Jisreël, ook al die belangrike amptenare van Agab, en sy vriende en sy priesters. Jehu het nie een laat aanhou lewe nie. Daarna het hy gereedgemaak en na Samaria gegaan. Langs die pad by die stad Bet-Eked-Roïm het hy koning Ahasia van Juda se broers gekry. Hy het gevra: “Wie is julle?” Hulle het gesê: “Ons is Ahasia se broers en ons gaan om te hoor hoe dit gaan met die prinse en met die seuns van die koning se ma.” Jehu sê toe: “Vang hulle lewendig!” Sy manne het Ahasia se broers gevang en doodgemaak by die watergat van Bet-Eked. Hulle was 42 mans, almal het gesterf, nie een het aangehou lewe nie. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab en hy groet hom en vra: “Jonadab, ek is jou vriend en ek wil jou help. Wil jy ook vir my help?” Jonadab het gesê: “Ja, ek wil jou help, gee vir my jou hand.” Jonadab het sy hand vir hom gegee en Jehu het vir Jonadab gehelp om op die oorlogkar te klim. Hy het vir Jonadab gesê: “Jy moet saam met my kom, dan kan jy sien hoe werk ek vir die Here.” Jonadab het saamgery op die oorlogkar. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy al die familie van Agab wat nog gelewe het in Samaria, doodgemaak. Nie een het aangehou lewe nie. Dit was soos die Here vir Elia gesê het. Jehu het daarna al die mense laat bymekaarkom en hy het vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl net 'n bietjie gedien, maar ek, Jehu, gaan vir Baäl baie dien. Daarom, roep al die profete van Baäl en almal wat hom dien en al sy priesters. Julle moenie een laat wegbly nie, want ek wil vir Baäl 'n groot offer bring. Ek sal almal laat doodmaak wat nie kom nie.” Jehu het dit gesê omdat hy almal wou doodmaak wat vir Baäl gedien het. Hy het gesê hulle moet vir almal sê daar sal 'n feesdag vir Baäl wees. Hulle het dit gedoen, en Jehu het dit vir al die mense van Israel laat weet. Almal wat vir Baäl gedien het, het gekom. Niemand het by die huis gebly nie. Hulle het na die tempel van Baäl gekom, en die tempel was heeltemal vol, van die een kant tot by die ander kant. Toe sê Jehu vir die amptenaar wat die klerekamer moes oppas: “Jy moet klere bring vir almal wat vir Baäl dien.” Die amptenaar se mense het die klere uitgebring, en Jehu en Jonadab seun van Rekab het in die tempel van Baäl ingegaan en hulle het vir die mense wat vir Baäl gedien het, gesê: “Julle moet kyk, hier moenie dienaars van die Here tussen julle wees nie. Hier moet net mense wees wat vir Baäl dien.” Hulle het toe ingegaan om die brand-offers en ander offers te bring. Jehu het 80 manne buite laat staan en hy het vir hulle gesê: “Julle moet hierdie mense doodmaak. As een van julle iemand hier vry laat wegkom, dan sal hy sterf.” Dadelik nadat Jehu klaar die brand-offer ge-offer het, het hy vir die wagte en die offisiere gesê: “Gaan in en maak hulle almal dood, niemand moet uitkom nie.” Hulle het toe die mense wat vir Baäl gedien het, doodgesteek met swaarde. Die wagte en die offisiere het die dooie liggame uitgegooi. Toe het hulle in die agterste kamer van die tempel ingegaan en hulle het die klip-pale uit die tempel van Baäl gebring en in die vuur gegooi. Hulle het Baäl se klip-paal stukkend geslaan en hulle het die tempel van Baäl afgebreek. Hulle het 'n toilet daarvan gemaak. Dit is vandag nog so. Party mense in Israel het voorheen vir Baäl gedien. Jehu het dit nou gestop. Maar hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat die Israeliete laat doen het. Die goue kalfbeelde was nog in die stede Bet-El en in Dan. Die Here het vir Jehu gesê: “Jy het dinge gedoen waarvan Ek hou, en jy het met die familie van Agab gedoen wat Ek wil hê. Daarom sal jou nageslag nog vier geslagte lank op die troon van Israel sit.” Maar Jehu het nie met sy hele hart gedoen wat die wette van die Here sê nie, hy het nie opgehou om die sondes te doen wat Jerobeam die Israeliete laat doen het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Agab het sewentig seuns gehad in Samaría. Toe skryf Jehu 'n brief, en hy stuur dit na Samaría aan die owerstes van Jísreël, die oudstes, en aan die opvoeders van die seuns van Agab, en sê: As hierdie brief dan nou by julle kom, terwyl die seuns van jul heer by julle is, en die strydwaens en die perde by julle is, en 'n versterkte stad en wapens, kyk dan uit na die beste en betroubaarste van die seuns van julle heer, en sit hom op die troon van sy vader en veg vir die huis van julle heer. Maar hulle het vreeslik bang geword en gesê: Kyk, twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe sou ons dan kan standhou? Toe laat die owerste oor die paleis en die owerste oor die stad en die oudstes en die opvoeders aan Jehu dít weet: Ons is u dienaars, en alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë. Daarop het hy vir die tweede maal 'n brief aan hulle geskrywe en gesê: As julle vir my is en my gehoorsaam wil wees, neem dan die hoofde van die manne, die seuns van julle heer, en kom môre omtrent sulke tyd na my in Jísreël; want die seuns van die koning, sewentig man, was by die grotes van die stad wat hulle grootgemaak het. En toe die brief by hulle kom, het hulle die seuns van die koning geneem en hulle gedood, sewentig man, en hulle hoofde in mandjies gesit en aan hom na Jísreël gestuur. En toe die boodskapper kom en hom berig bring en sê: Hulle het die hoofde van die koning se seuns gebring, sê hy: Sit hulle in twee hope neer by die ingang van die poort tot môre toe. En in die môre het hy uitgegaan en gaan staan en aan die hele volk gesê: Julle is onskuldig. Kyk, ék het 'n sameswering gesmee teen my heer en hom vermoor, maar wie het al hierdie manne doodgeslaan? Erken dan dat niks onvervuld bly van die woord van die HERE wat die HERE gespreek het teen die huis van Agab nie — die HERE het gedoen wat Hy deur die diens van sy kneg Elía gespreek het. Toe slaan Jehu almal dood van die huis van Agab wat in Jísreël oor was, en al sy grotes en sy vertroudes en sy priesters, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie. En hy het hom gereedgemaak en gegaan en na Samaría getrek. Terwyl hy op pad by Bet-Eked van die herders was en Jehu die broers van Ahásia, die koning van Juda, aantref, sê hy: Wie is julle? En hulle antwoord: Ons is die broers van Ahásia, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die gebiedster te groet. En hy sê: Gryp hulle lewendig! En hulle het hul lewendig gegryp en gedood by die put van Bet-Eked, twee-en-veertig man; en hy het niemand van hulle laat oorbly nie. En vandaar het hy gegaan en Jónadab, die seun van Regab, gevind wat hom tegemoetkom. En hy groet hom en sê vir hom: Is jou hart reg soos my hart met jou hart is? En Jónadab antwoord: Ja. So ja, gee jou hand, sê Jehu. Toe gee hy sy hand; en hy het hom by hom op die wa laat klim en gesê: Gaan saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die HERE. En hulle het hom op sy wa laat ry. En toe hy in Samaría aankom, het hy almal omgebring wat van Agab in Samaría oor was, totdat hy hom verdelg het volgens die woord van die HERE wat Hy tot Elía gespreek het. En Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Agab het Baäl 'n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien. Roep dan nou al die profete van Baäl, al sy dienaars en al sy priesters na my toe; niemand moet gemis word nie, want ek het 'n groot offer aan Baäl. Elkeen wat gemis word, sal nie leef nie. Maar Jehu het dit met lis gedoen om die dienaars van Baäl te kan vernietig. Verder sê Jehu: Heilig 'n feestyd vir Baäl; en hulle het dit uitgeroep. Jehu het ook deur die hele Israel gestuur; en al die dienaars van Baäl het gekom — sodat daar niemand oor was wat nie gekom het nie — en in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel van Baäl vol was van end tot end. En hy sê aan die een wat oor die klerekamer was: Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl. En hy het vir hulle klere uitgebring. Daarop gaan Jehu saam met Jónadab, die seun van Regab, in die tempel van Baäl in en sê aan die dienaars van Baäl: Ondersoek en kyk of nie miskien van die dienaars van die HERE hier by julle is nie, net die dienaars van Baäl alleen. En hulle het ingegaan om slagoffers en brandoffers toe te berei; maar Jehu het vir hom buitekant tagtig man opgestel en gesê: Hy wat een van die manne wat ek in julle hande lewer, laat vryraak, sy lewe sal in die plek van dié se lewe wees. En toe hy gereed was met die aanbieding van die brandoffer, sê Jehu aan die hardlopers en die adjudante: Kom in, slaan hulle dood, laat niemand uitkom nie! En hulle het hul met die skerpte van die swaard doodgeslaan, en die hardlopers en die adjudante het hulle uitgegooi en na die stadsdeel van die Baälstempel gegaan. En hulle het die pilare van die Baälstempel uitgebring en dit verbrand en die klippilaar van Baäl afgebreek en Baäl se tempel afgebreek en daar gemakhuisies van gemaak, tot vandag toe. So het Jehu dan Baäl uit Israel uit verdelg. MAAR die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het — daar het Jehu nie van afgewyk nie, van die goue kalwers wat in Bet-el en in Dan was. Toe sê die HERE vir Jehu: Omdat jy goed gehandel het deur te doen wat reg is in my oë — volgens alles wat in my hart was, aan die huis van Agab gedoen het — sal jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. Maar Jehu het nie sorgvuldig in die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart gewandel nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Samaria was daar sewentig prinse uit Agab se geslag. Jehu het briewe geskryf en dit na Samaria toe gestuur, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die opvoeders van Agab se nakomelinge. Dit het so gelui: “As julle hierdie brief kry – julle het daar by julle die prinse, die strydwaens en perde, 'n versterkte stad en wapentuig – soek dan die beste en knapste prins uit en sit hom op die troon van sy pa. Maar julle sal moet veg vir julle koningshuis.” Hulle het bang geword, want hulle het gedink: twee konings moes die onderspit teen hom delf, hoe sal ons ons kan handhaaf? Die amptenaar in beheer van die paleis en die een in beheer van die stad, die leiers en die opvoeders het vir Jehu laat weet: “Ons wil u onderdane wees. Ons wil niemand koning maak nie. Alles wat u aan ons opdra, sal ons uitvoer. Doen wat u goedvind.” Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.” Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak. Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur. Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.” Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.” Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak? Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.” Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie. Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.” Jehu het beveel: “Vang hulle.” Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie. Toe hy daar weg is, kom hy vir Jonadab seun van Rekab op die pad teë. Nadat hy hom gegroet het, vra hy vir hom: “Kan ek op jou reken soos jy op my?” Jonadab het geantwoord: “Ja.” “As dit ja is,” sê Jehu, “gee my jou hand.” Hulle het mekaar die hand gegee en Jehu het hom by hom op die wa laat klim. Jehu het gesê: “Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.” Jehu het hom saam met hom laat ry, en toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het. Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl maar net 'n bietjie gedien, maar ek wat Jehu is, gaan hom baie meer dien. Roep nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters. Nie een mag wegbly nie, want ek wil 'n groot offer aan Baäl bring. Nie een wat wegbly, sal bly leef nie.” Jehu het dit met lis beplan om die vereerders van Baäl te kan vernietig. Jehu het beveel: “Sonder vir Baäl 'n feesdag af.” So 'n feesdag is uitgeroep, en Jehu het oral in Israel boodskappers gestuur, sodat al die vereerders van Baäl gekom het; daar was nie 'n enkele wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel naderhand van hoek tot kant vol was. Aan die persoon wat oor die klerekamer toesig gehou het, het hy gesê: “Bring klere vir al die vereerders van Baäl.” Hy het vir hulle die klere gebring. Jehu en Jonadab seun van Rekab het saam in die tempel van Baäl ingegaan, en Jehu het vir die vereerders van Baäl gesê: “Sorg dat hier nie vereerders van die Here saam met julle is nie; net die vereerders van Baäl moet hier wees.” Toe hulle ingaan om die brandoffers en ander diereoffers te bring, was daar buite tagtig man wat deur Jehu opgestel is met die bevel: “Die persoon wat een van die manne wat ek in julle mag gee, laat wegkom, sal met sy eie lewe daarvoor boet.” Net toe Jehu klaar die brandoffer gebring het, het hy vir die hardlopers en die adjudante gesê: “Gaan in en maak hulle dood. Niemand mag daar uitkom nie.” Hulle het hulle doodgesteek en die liggame uitgegooi. Hulle het in die binneste heiligdom van die Baälstempel ingedring, die klippilaar uit die Baälstempel uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die klippilaar stukkend geslaan en die tempel van Baäl afgebreek en daarvan kleinhuisies gebou, wat dit vandag nog is. So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg. Jehu het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie: die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, is nog vereer. Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam vir Israel laat doen het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Agab het sewentig seuns in Samaria gehad. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria, na die •hoë amptenare van Jisreël, die oudstes, en na die voogde van Agab se seuns, met hierdie woorde: “Nou, sodra hierdie brief by julle uitkom – die seuns van julle heer is mos by julle, en by julle is ook die strydwamag en perde, 'n versterkte stad en die toerusting – moet julle die beste en geskikste van julle heer se seuns uitsoek en hom op sy vader se troon sit. Dan moet julle veg vir die huis van julle heer.” Hulle het ontsettend bang geword en gesê: “Kyk, twee konings het nie voor hom stand gehou nie. Hoe kan ons dan standhou?” Die hoof van die hofhouding, die stadsbestuurder, die oudstes en die voogde het vir Jehu laat weet: “Ons is u dienaars. Alles wat u vir ons sê, sal ons doen. Ons sal niemand koning maak nie. Wat u goedvind – doen dit!” Hy skryf aan hulle toe 'n tweede brief met die woorde: “As julle aan my kant is en aan my gehoorsaam is, neem dan die koppe van die manne, van die seuns van julle heer, en bring dit môre teen hierdie tyd na my in Jisreël. ” Die seuns van die koning, sewentig man, was by vername mense van die stad, wat hulle grootgemaak het. Toe die brief by hulle kom, het hulle dadelik die koning se seuns geneem en die sewentig man onthoof. Hulle het die koppe in dramandjies gesit en na Jehu in Jisreël gestuur. Toe die boodskapper binnegaan en hom meedeel: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring,” het hy gesê: “Sit hulle neer in twee hope by die ingang na die stadspoort tot môreoggend.” Die volgende oggend het hy uitgegaan, daar gaan staan en vir die hele volk gesê: “Julle is onskuldig. Kyk, ek is die een wat teen my heer 'n komplot gesmee en hom om die lewe gebring het. Maar wie het al hierdie mense neergevel? Weet dan dat daar niks onvervuld sal bly van die HERE se woord wat die HERE oor die huis van Agab gespreek het nie. Die HERE self het gedoen wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, gespreek het.” Jehu het almal wat van die huis van Agab in Jisreël oorgebly het, neergevel – al sy vername mense, sy vertrouelinge en sy priesters – totdat hy niemand van Agab laat vrykom het nie. Toe het Jehu opgestaan, die stad binnegegaan en na Samaria vertrek. Terwyl hy op pad was by Bet-Eked-Roïm, het Jehu die broers van Ahasia, die koning van Juda, teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die koninginmoeder te groet,” het hulle geantwoord. “Gryp hulle lewendig!” het Jehu gesê. Hulle het hulle toe lewendig gegryp en onthoof by die opgaarput van Bet-Eked – twee-en-veertig man. Hy het niemand van hulle laat vrykom nie. Toe hy daarvandaan weggaan, kom hy af op Jonadab, seun van Regab, wat na hom toe op pad was. Hy groet hom toe en sê vir hom: “Is jy dit heelhartig met my eens, soos ek dit met jou is?” Jonadab het geantwoord: “Ek is.” Daarop sê Jehu: “Indien wel, gee jou hand!” Toe hy sy hand gee, help Jehu hom op die strydwa by hom en sê: “Gaan saam met my en aanskou my ywer vir die HERE.” So het hulle hom op sy strydwa laat ry. Toe hy in Samaria kom, het hy almal neergevel wat van Agab in Samaria oorgebly het, totdat hy hom uitgeroei het ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy met Elia gespreek het. Jehu het die hele volk byeengebring en vir hulle gesê: “Agab het Baäl maar min gedien; Jehu gaan hom baie dien. Daarom, wat al die profete van Baäl betref, al sy dienaars en al sy priesters, ontbied hulle hier na my toe. Niemand mag ontbreek nie, want ek het 'n groot maaltydoffer vir Baäl gereedgemaak. Niemand wat ontbreek, sal bly leef nie.” Jehu het dit egter met lis gedoen, sodat hy Baäl se dienaars kon vernietig. Jehu sê toe: “Kondig 'n heilige feesgeleentheid af vir Baäl.” Hulle het dit toe uitgeroep. Daarop het Jehu boodskappers deur die hele Israel gestuur, en al die dienaars van Baäl het gekom. Daar was niemand in die land oor wat nie gekom het nie. Hulle het toe in Baäl se tempel ingegaan. Die tempel van Baäl was van hoek tot kant gevul. Jehu sê toe vir die een wat in beheer was van die klerekamer: “Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl.” Hy het vir hulle die feesklere uitgebring. Jehu en Jonadab, seun van Regab, het die tempel van Baäl binnegegaan. Toe sê hy vir die dienaars van Baäl: “Maak doodseker en sien toe dat hier nie dienaars van die HERE saam met julle is nie, maar alleen die dienaars van Baäl.” Toe hulle ingegaan het om maaltydoffers en •brandoffers te bring, het Jehu buite vir hom tagtig man opgestel en gesê: “Die man wat enige van die manne wat ek in julle hande oorlewer, laat vrykom – sy lewe sal geneem word in die plek van die een wat vrykom.” Toe hy klaar die brandoffer gebring het, sê Jehu vir die hardlopers en die adjudante: “Gaan in, vel hulle neer! Niemand mag uitgaan nie!” Hulle het hulle toe neergevel met die skerpte van die swaard. Die hardlopers en adjudante het hulle uitgegooi en deurgedring tot in die woondeel van die tempelkompleks van Baäl. Hulle het die gedenkstene uit die tempel van Baäl uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die gedenksteen van Baäl afgebreek, ook die tempel van Baäl afgebreek en dit plekke vir ontlasting gemaak; dit is vandag nog so. Jehu het Baäl uit Israel verdelg. Maar die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, die sondes waarmee hy Israel laat sondig het, daarvan het Jehu nie afgewyk nie – die goue kalwers wat in Bet-El en Dan was. Die HERE het toe vir Jehu gesê: “Jy het goed gedoen deur uit te voer wat reg is in my oë. Alles wat Ek in gedagte gehad het vir die huis van Agab, het jy uitgevoer. Daarom sal daar vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. ” Jehu het egter nie daarby gehou om die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart te volg nie. Hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam waarmee hy Israel laat sondig het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Agab het in Samaria sewentig seuns gehad. En Jehu het briewe geskrywe en na Samaria gestuur, aan die owerstes van Jísreël, aan die oudstes en aan die wat die kinders van Agab grootgemaak het, om te sê: En sodra hierdie brief aan jou kom, aangesien die seuns van jou heer by jou is, en daar by jou strydwaens en perde is, ook 'n omheinde stad en wapenrusting; Kyk ook na die beste en beste van die seuns van jou heer, en sit hom op sy vader se troon en veg vir die huis van jou heer. Maar hulle het baie bang geword en gesê: Kyk, twee konings staan nie voor hom nie; hoe sal ons dan staande bly? En hy wat oor die huis was, en hy wat oor die stad was, ook die oudstes en die opvoeders van die kinders, het na Jehu gestuur en gesê: Ons is u dienaars en sal alles doen wat u ons beveel; ons sal geen koning maak nie; doen wat goed is in jou oë. Toe het hy vir die tweede keer 'n brief aan hulle geskryf en gesê: As julle myne is en na my stem luister, neem dan die hoofde van die manne, die seuns van julle heer, en kom môre hierdie keer na my na Jísreël. En die seuns van die koning, wat sewentig man was, was saam met die groot manne van die stad wat hulle grootgemaak het. En toe die brief aan hulle kom, het hulle die seuns van die koning geneem en sewentig man gedood en hulle koppe in mandjies gesit en hom na Jísreël gestuur. En daar het 'n boodskapper gekom en hom meegedeel en gesê: Hulle het die hoofde van die koning se seuns gebring. En hy sê: Sit dit op twee hope neer by die ingang van die poort tot die môre toe. En in die môre het hy uitgegaan en gaan staan en aan die hele volk gesê: Julle is regverdig; kyk, ek het 'n sameswering teen my heer gemaak en hom gedood; maar wie het al hierdie mense gedood? Weet nou dat daar niks op die aarde sal val van die woord van die HERE wat die HERE oor die huis van Agab gespreek het nie, want die HERE het gedoen wat Hy deur sy kneg Elía gespreek het. En Jehu het almal wat oorgebly het van die huis van Agab in Jísreël, en al sy groot manne en sy familie en sy priesters gedood, totdat hy hom nie laat oorbly het nie. En hy het opgestaan en weggegaan en in Samaria gekom. En terwyl hy by die skeerhuis in die pad was, Jehu het die broers van Ahásia, die koning van Juda, ontmoet en gesê: Wie is julle? En hulle antwoord: Ons is die broers van Ahásia; en ons gaan af om die kinders van die koning en die kinders van die koningin te groet. En hy sê: Neem hulle lewendig. En hulle het hulle lewendig geneem en hulle gedood by die kuil van die skeerhuis, twee-en-veertig man; en hy het nie een van hulle verlaat nie. En toe hy daarvandaan weggegaan het, het hy Jonadab, die seun van Regab, aangesteek wat hom tegemoet gekom het; en hy het hom gegroet en vir hom gesê: Is jou hart reg, soos my hart met jou hart is? En Jónadab antwoord: Dit is. As dit is, gee my jou hand. En hy het hom sy hand gegee; en hy het hom na hom toe op die wa geneem. En hy sê: Kom saam met my en sien my ywer vir die HERE. Daarom het hulle hom in sy wa laat ry. En toe hy in Samaría kom, het hy almal gedood wat vir Agab in Samaría oorgebly het, totdat hy hom verdelg het, volgens die woord van die HERE wat Hy met Elía gespreek het. En Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Agab het Baäl 'n bietjie gedien; maar Jehu sal hom baie dien. Roep dan nou na my al die profete van Baäl, al sy dienaars en al sy priesters; laat niemand ontbreek nie, want ek het 'n groot offer om aan Baäl te bring; elkeen wat gebrek kry, hy sal nie lewe nie. Maar Jehu het dit op listigheid gedoen, met die doel om die dienaars van Baäl te vernietig. Toe sê Jehu: Roep 'n feestyd vir Baäl uit. En hulle het dit verkondig. En Jehu het deur die hele Israel gestuur, en al die aanbidders van Baäl het gekom, sodat daar nie 'n man oorgebly het wat nie gekom het nie. En hulle het in die huis van Baäl gekom; en die huis van Baäl was vol van die een kant tot die ander. En hy sê vir hom wat oor die klerekas was: Bring klere uit vir al die aanbidders van Baäl. En hy het vir hulle klere uitgebring. En Jehu het saam met Jónadab, die seun van Regab, in die huis van Baäl gegaan en aan die dienaars van Baäl gesê: Ondersoek en kyk of hier by julle niemand van die dienaars van die HERE is nie, maar die dienaars van Baäl alleen. En toe hulle ingaan om slagoffers en brandoffers te bring, het Jehu tagtig manne daarbuite aangestel en gesê: As een van die manne wat ek in julle hand gebring het, ontkom, hy wat hom laat gaan, sal sy lewe vir sy lewe wees. En toe hy klaar was met die offer van die brandoffer, sê Jehu aan die lyfwag en die owerstes: Gaan in en maak hulle dood; laat niemand uitkom nie. En hulle het hulle met die skerpte van die swaard verslaan; en die lyfwag en die owerstes het hulle uitgedryf en na die stad van die huis van Baäl gegaan. En hulle het die beelde uit die huis van Baäl uitgebring en dit verbrand. En hulle het die beeld van Baäl afgebreek en die huis van Baäl afgebreek en dit tot vandag toe 'n ontwerphuis gemaak. So het Jehu Baäl uit Israel verdelg. Maar van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, het Jehu nie agter hulle afgewyk nie, naamlik die goue kalwers wat in Bet-el was en wat in Dan was. En die HERE het vir Jehu gesê: Omdat jy goed gedoen het deur te doen wat reg is in my oë en aan die huis van Agab gedoen het volgens alles wat in my hart was, sal jou kinders van die vierde geslag op die troon sit van Israel. Maar Jehu het nie opgelet om met sy hele hart in die wet van die HERE, die God van Israel, te wandel nie, want hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie.

2 KONINGS 10:1-31 Die Boodskap (DB)

Daar het 70 prinse uit Agab se familie in Samaria gewoon. Jehu het vir die leiers in Samaria en vir die mense wat die prinse grootgemaak en geleer het ’n brief geskryf. Hy het geskryf: “Die koning se seuns is almal by julle en julle het strydwaens, perde, wapens en ’n versterkte stad tot julle beskikking. Kies nou die beste kandidaat uit die seuns as sy pa se opvolger. Maak dan reg om Agab se koningshuis te verdedig.” Die leiers was baie bang vir Jehu en het vir mekaar gesê: “Hy het nou al klaar twee konings doodgemaak. Hoe sal ons ooit teen hom kan wen?” Hulle het eenparig vir Jehu laat weet: “U kan maar sê wat ons moet doen en ons sal dit doen. Ons wil nie een van die seuns koning maak nie. U is nou ons leier en ons wag op u bevele.” Jehu skryf toe ’n tweede brief en sê vir die leiers: “As julle regtig aan my kant is, maak dan al die prinse dood en kom môre na my toe. Maar bring die koppe saam, dat ek kan sien dat hulle regtig dood is. Die seuns was tuis by leiers wat hulle moes opvoed.” Toe die leiers die brief kry, het hulle gedoen wat Jehu geëis het. Hulle het al 70 die prinse doodgemaak, elkeen se kop afgekap en in mandjies gesit en na Jehu in Jisreël toe gestuur. Daar het toe boodskappers vir Jehu kom sê: “Die leiers van Samaria het die koppe van die 70 prinse hier laat aflewer.” “Dis goed so,” het Jehu geantwoord. “Pak hulle nou op twee hope buite die stadspoort en los dit tot môre daar.” Die volgende oggend het Jehu buite die stadspoort met die mense wat daar saamgedrom het, gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat teen die koning in opstand gekom het en ék wat hom doodgemaak het. Maar wie het hierdie klomp mense doodgemaak? Julle moet net weet dat alles waar sal word wat die Here oor Agab en sy familie gesê het. Wat julle hier sien, is die manier waarop die Here dit wat Elia aangekondig het, laat gebeur het.” Daarna het Jehu al Agab se familielede in Jisreël doodgemaak. Ná hulle het hy Agab se hoë amptenare, asook sy vriende, vertrouelinge en priesters laat doodmaak. Daar het niemand uit Agab se familie oorgebly nie. Jehu is toe weg na Samaria toe. Op pad, by Bet-Eked van die skaapwagters, het hy ’n groep mense raakgeloop. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, van Jerusalem af,” het hulle geantwoord. “Ons is op pad om te gaan kyk hoe dit met die prinse en die koning se ma gaan.” “Vang hulle lewendig!” het Jehu vir sy manne geskree. Hulle het toe al 42 prinse van Juda gevang en hulle by ’n put daar naby gaan doodmaak. Op pad daarvandaan het Jehu vir Jonadab, die seun van Rekab, raakgeloop wat na hom toe gekom het. Nadat hulle mekaar gegroet het, het Jehu vir Jonadab gevra: “Is jy so lojaal aan my soos ek aan jou?” “Ja, ek is,” het Jonadab geantwoord. “Nou gee my dan jou hand!” het Jehu gesê en sy hand uitgesteek en vir Jonadab op sy strydwa gehelp. Jehu sê toe vir hom: “Kom nou saam met my. Kom kyk hoe ywerig kan ek vir die Here werk!” Jonadab het saam met Jehu Samaria toe gery. In Samaria het Jehu almal doodgemaak wat nog van Agab se familie oor was. Dit was soos wat die Here deur Elia gesê het dit sou gebeur. Jehu het ’n baie groot vergadering belê en vir die mense gesê: “As julle dink dat Agab baie lief was vir Baäl, moet julle sien wat ék alles gaan doen om Baäl te vereer! Roep al die profete van Baäl bymekaar, ook al die mense wat lief is vir hom en die priesters wat in sy tempel werk. Almal moet daar wees, want ek wil ’n baie groot fees ter ere van Baäl hou. Wie nie kom nie, sal ek laat doodmaak.” Jehu se plan was egter om al die Baälaanbidders dood te maak. Jehu het beveel: “Roep ’n feesdag vir Baäl uit!” Hulle het dit gedoen en Jehu het boodskappers reg deur die land gestuur om almal bymekaar te maak. Baäl se mense het in groot getalle opgedaag en die Baältempel van hoek tot kant volgemaak. Jehu het vir die toesighouer oor die klerekamer gesê: “Jy moet sorg dat elke feesganger feesklere dra.” Die klere is toe aan hulle uitgedeel. Jehu en Jonadab het saam met die Baälvereerders in die tempel ingegaan en vir hulle gesê: “Maak seker dat hier nie mense onder ons is wat eintlik die Here dien nie. Hulle is glad nie deel van hierdie fees nie.” Almal was in die tempel saam om vir Baäl diere te slag en hom met offers te vereer. Jehu het egter gereël dat daar buite die tempel 80 soldate gereed staan. Hy het hulle met hulle lewe gedreig en gesê: “Die een van julle wat ’n enkele een van hierdie feesgangers lewendig laat wegkom, sal met sy lewe boet!” Toe Jehu klaar was met die offer, het hy vir die wagte en offisiere gesê: “Gaan in en maak almal dood. Niemand mag oorbly nie!” Die soldate is toe die tempel in en het die mense met swaarde doodgesteek en die lyke uitgegooi. Hulle het tot in die binneste heiligdom van die tempel ingegaan en het die pilaar wat daar binne was, uitgebring en in die vuur gegooi. Daarna het hulle die gedenksteen ter ere van Baäl stukkend gebreek en die hele gebou afgebreek. Hulle het openbare toilette daarvan gemaak, en dit is waarvoor die plek nog steeds gebruik word. So het Jehu alle tekens van Baälverering in Israel uitgeroei. Jehu het egter nie opgehou om die verkeerde dinge te doen wat die Israeliete sedert die tyd van Jerobeam, die seun van Nebat, gedoen het nie. Hy het niks aan die goue bulbeelde gedoen wat in Bet-El en Dan gestaan het nie. Ten spyte daarvan het die Here vir hom gesê: “Jy het goed gedoen om die familie van Agab heeltemal uit te roei. Dit is wat Ek wou gehad het moes gebeur. Daarom het Ek besluit dat jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders vier geslagte lank in Israel sal regeer.” Maar Jehu was nie heeltemal getrou aan die Here, die God van Israel, se wette nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam in Israel ingebring het nie.