2 Korinthiërs 9:1-15

2 Korinthiërs 9:1-15 AFR20

Eintlik is dit vir my onnodig om aan julle oor die dienslewering aan die •heiliges te skryf. Want ek ken julle bereidwilligheid, waarmee ek oor julle by die Macedoniërs spog – dat Agaje al sedert 'n jaar gelede gereed is, en dat julle ywer die meeste van hulle aangespoor het. Maar ek het die broers gestuur, sodat ons gespog oor julle in hierdie saak nie verydel sal word nie, en julle gereed sal wees soos ek gesê het julle sal wees – en ook sodat, indien daar dalk Macedoniërs saam met my sou kom en julle in hierdie saak onvoorbereid sou aantref, ons ons nie sal hoef te skaam nie, om nie eers van julle te praat nie. Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle te gaan, en die •dankoffer wat julle vroeër beloof het, in orde te kry, sodat dit gereed sal wees as 'n werklike dankoffer, en nie as iets wat afgedwing is nie. Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes. Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het – nie met droefheid of onder dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk. Soos daar geskryf staan: “Hy het wyd uitgestrooi; Hy het aan die armes gegee; sy •geregtigheid bly vir ewig.” En Hy wat saad aan die saaier voorsien en ook brood as voedsel, sal aan julle saad verskaf en dit vermeerder, en Hy sal die vrug van julle geregtigheid laat toeneem. So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees, en dit loop deur ons bemiddeling uit op danksegging aan God. Want die hulp van hierdie bediening voorsien nie net in die •heiliges se behoeftes nie, maar lei ook tot 'n oorvloed van baie uitinge van danksegging aan God. Op grond van die bewys wat deur hierdie diensbetoning gelewer word, verheerlik hulle God oor julle gehoorsaamheid aan julle belydenis van die evangelie van •Christus, en oor die vrygewigheid van julle bydrae aan hulle en aan almal. Terselfdertyd verlang hulle, in hulle gebede vir julle, vuriglik na julle, weens die oortreffende genade wat God aan julle bewys het. Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe!

Video for 2 Korinthiërs 9:1-15

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Korinthiërs 9:1-15