2 KORINTIËRS 9:1-15

2 KORINTIËRS 9:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Ek wil nie vir julle skryf oor die geld wat ons kollekteer vir die gelowiges in Jerusalem nie, maar ek doen dit. Want ek weet hoe graag julle iets wil gee vir hulle. Ek spog daaroor by die gemeentes in die provinsie Masedonië. Ek weet dat julle, die gelowiges in die provinsie Agaje, van verlede jaar af gereed is om te gee. Die meeste gelowiges in Masedonië het gehoor dat julle graag wou gee, en toe wou hulle ook graag gee. Ek stuur vir Titus en die ander twee persone na julle toe. Hulle moet kyk dat julle gereed is om julle geld te gee. Dan sal almal kan sien dat ons nie verkeerd was toe ons gespog het oor julle nie. Ek het dit al klaar gesê: Ons het gespog en gesê dat julle verlede jaar al klaar gereed was. Want as ek en die ander gelowiges van Masedonië by julle kom, en hulle sien julle is nog nie gereed om te gee nie, dan sal ons skaam wees. Julle sal ook skaam wees as die geld nie gereed is nie. Daarom het ek gedink dit is baie belangrik dat ek vir Titus en die ander twee persone vra om vóór ons na julle toe te gaan. Dan kan hulle seker maak dat die geld wat julle voorheen belowe het, gereed is voordat ons daar kom. En dan sal julle ook voel dat julle dit gee omdat julle graag wil gee, nie omdat ons sê julle móét dit gee nie. Julle moet onthou: As iemand min saai, dan kry hy min, en as hy baie saai, dan kry hy baie. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het. Dit moenie vir hom swaar wees om te gee nie, en hy moenie gee omdat iemand sê hy móét gee nie. Onthou, God is lief vir mense wat bly is wanneer hulle gee. God kan vir julle baie goeie dinge gee, sodat julle meer as genoeg sal hê. En dan sal julle altyd genoeg hê van alles wat julle nodig het. Maar dan sal julle ook meer as genoeg hê om te gee vir mense wat nie genoeg het nie. In die Ou Testament is geskryf: Hy gee graag, hy gee vir die arm mense, hy doen wat God wil hê, en hy hou nooit op nie. God is die Een wat saad gee vir die persoon wat saai, en Hy gee kos om te eet. Hy sal ook vir julle saad gee en Hy sal dit meer laat word. As julle doen wat God wil hê, dan sal Hy dit meer en meer laat word. God sal vir julle genoeg gee van alles sodat julle altyd graag vir ander mense sal wil gee. En dan sal die gelowiges in Jerusalem vir God dankie sê wanneer ons die geld vir hulle gee wat julle gekollekteer het. As ons die geld wat julle bymekaargemaak het, gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan sal hulle genoeg hê om te lewe. En dan sal die ander gelowiges ook meer en meer vir God wil dankie sê. As julle hierdie geld gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan het julle die toets geslaag. Dan wys dit dat julle gehoorsaam is wanneer julle sê dat julle die goeie boodskap van Christus glo. Dit wys ook dat julle jammer is vir die gemeente in Jerusalem en vir al die gemeentes. En dan sal die gelowiges vir God prys. En wanneer die gelowiges in Jerusalem vir julle bid, dan verlang hulle na julle. Want hulle sien dat God ook genadig was vir julle. Ons sê vir God dankie vir sy groot present. Dit is so groot dat 'n mens nie kan sê hoe groot dit is nie.

2 KORINTIËRS 9:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT wat die diensbetoning aan die heiliges betref, is dit vir my oorbodig om aan julle te skrywe. Want ek ken julle bereidwilligheid waarop ek oor julle by die Macedóniërs roem, dat Acháje 'n jaar gelede gereed was, en dat die ywer wat van julle uitgegaan het, baie ander aangespoor het. Maar ek het die broeders gestuur, sodat ons roem oor julle in hierdie geval nie verydel mag word nie, dat, soos ek gesê het, julle gereed kan wees, sodat nie miskien, as daar Macedóniërs saam met my kom en julle nie gereed vind nie, ons, om nie te sê julle nie, beskaam word in hierdie vertroue van ons roem nie. Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as 'n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie. Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid. En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk. Want die bediening van hierdie hulpbetoning voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God, omdat hulle deur die bewys van hierdie diens God verheerlik oor die onderwerping van julle belydenis aan die evangelie van Christus en oor die milddadigheid van die bydrae aan hulle en aan almal, terwyl hulle ook in die gebed vir julle na julle verlang vanweë die uitnemende genade van God aan julle. Maar God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe.

2 KORINTIËRS 9:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Eintlik is dit oorbodig dat ek aan julle skrywe oor die hulpverlening aan die gelowiges in Judea. Ek weet dat julle graag wil help, en ek het al by die Masedoniërs met lof oor julle gepraat. “Agaje,” het ek gesê, “is al 'n jaar lank reg om te help.” Julle ywer het ook die meeste ander aangespoor. Nou stuur ek hierdie broers sodat ons woorde van lof oor julle in hierdie aangeleentheid nie leë woorde sal wees nie. Ons wil hê dat, soos ons die ander vertel het, julle klaar reg sal wees om te help. Anders, as daar Masedoniërs saam met my kom en hulle sien julle is nog nie gereed nie, sal ons ons skaam oor ons vertroue in julle – om nie eens te praat van julle eie skaamkry nie. Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer wat julle vroeër beloof het, vooraf in orde bring. Dan sal dit daar gereed wees as 'n werklike offer van dankbaarheid, en nie as iets wat afgepers is nie. Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer. Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee. Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was. Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.

2 KORINTIËRS 9:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Eintlik is dit vir my onnodig om aan julle oor die dienslewering aan die •heiliges te skryf. Want ek ken julle bereidwilligheid, waarmee ek oor julle by die Macedoniërs spog – dat Agaje al sedert 'n jaar gelede gereed is, en dat julle ywer die meeste van hulle aangespoor het. Maar ek het die broers gestuur, sodat ons gespog oor julle in hierdie saak nie verydel sal word nie, en julle gereed sal wees soos ek gesê het julle sal wees – en ook sodat, indien daar dalk Macedoniërs saam met my sou kom en julle in hierdie saak onvoorbereid sou aantref, ons ons nie sal hoef te skaam nie, om nie eers van julle te praat nie. Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle te gaan, en die •dankoffer wat julle vroeër beloof het, in orde te kry, sodat dit gereed sal wees as 'n werklike dankoffer, en nie as iets wat afgedwing is nie. Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes. Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het – nie met droefheid of onder dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk. Soos daar geskryf staan: “Hy het wyd uitgestrooi; Hy het aan die armes gegee; sy •geregtigheid bly vir ewig.” En Hy wat saad aan die saaier voorsien en ook brood as voedsel, sal aan julle saad verskaf en dit vermeerder, en Hy sal die vrug van julle geregtigheid laat toeneem. So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees, en dit loop deur ons bemiddeling uit op danksegging aan God. Want die hulp van hierdie bediening voorsien nie net in die •heiliges se behoeftes nie, maar lei ook tot 'n oorvloed van baie uitinge van danksegging aan God. Op grond van die bewys wat deur hierdie diensbetoning gelewer word, verheerlik hulle God oor julle gehoorsaamheid aan julle belydenis van die evangelie van •Christus, en oor die vrygewigheid van julle bydrae aan hulle en aan almal. Terselfdertyd verlang hulle, in hulle gebede vir julle, vuriglik na julle, weens die oortreffende genade wat God aan julle bewys het. Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe!

2 KORINTIËRS 9:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want met betrekking tot die bediening van die heiliges is dit vir my oorbodig om aan julle te skrywe: Want ek ken die voortvarendheid van julle verstand, waaroor ek oor julle roem by die van Masedonië, dat Achaje 'n jaar gelede gereed was; en julle ywer het baie baie gewek. Tog het Ek die broeders gestuur, sodat ons roem op julle nie tevergeefs hieroor sou wees nie; sodat, soos ek gesê het, julle gereed kan wees: As hulle van Masedonië nie saam met my kom en julle onvoorbereid vind nie, sal ons (dat ons nie sê nie, julle nie) beskaamd staan in hierdie selfversekerde grootpratery. Daarom het ek dit nodig geag om die broers te vermaan, dat hulle na julle toe sou vooruitgaan, en vooraf julle oorvloed, waarvan julle tevore opgemerk het, sou opmaak, sodat dit gereed kan wees, as 'n saak van oorvloed, en nie as van hebsug nie. Maar dit sê Ek: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en hy wat volop saai, sal ook volop maai. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorneem; nie teësinnig of uit nood nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. En God is magtig om alle genade oorvloedig oor jou te laat wees; sodat julle, wat altyd in alles genoegsaam is, oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. (Soos geskrywe is: Hy het verstrooi, Hy het aan die armes gegee; sy geregtigheid bly vir ewig. En hy wat saad bedien vir die saaier, bedien ook brood vir jou voedsel en vermeerder jou saad wat gesaai is, en vermeerder die vrugte van jou geregtigheid.) Deur in alles verryk te word tot alle oorvloed, wat deur ons danksegging aan God bewerk. Want die bediening van hierdie diens voorsien nie alleen in die gebrek van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God; Terwyl hulle deur die beproewing van hierdie bediening God verheerlik vir julle belyde onderdanigheid aan die evangelie van Christus en vir julle vrygewige verspreiding aan hulle en aan alle mense; En deur hulle gebed vir jou wat na jou verlang om die uitnemende genade van God in jou. Dank aan God vir sy onuitspreeklike gawe.

2 KORINTIËRS 9:1-15 Die Boodskap (DB)

Eintlik hoef ek glad nie aan julle te skryf oor die kollekte waarmee ons die gelowiges in Jerusalem wil dien nie. Ek weet mos hoe graag julle daarby wil inskakel. Daarom het ek oral by die gelowiges in Masedonië oor julle gespog. “Die gelowiges in die provinsie Agaje is al sedert verlede jaar betrokke by hierdie projek,” het ek vir hulle almal vertel. Julle ywer het teen hierdie tyd al die ander gelowiges ook aangesteek. Ek stuur nou hierdie broers na julle toe sodat my spoggery oor julle nie net ’n klomp leë woorde sal bly nie. Ek het vir hulle gesê dat julle bydraes gereed sal wees as hulle daar aankom. Sorg asseblief dat dit so is. Moenie my nou in die steek laat nie. Dink net hoe skaam julle sal kry as ek later self daar by julle opdaag (saam met die afgevaardigdes van Masedonië) en ek dan moet uitvind dat julle toe nooit die nodige fondse bymekaargemaak het nie. Dan sal my vertroue in julle sommer ’n ernstige knou kry. Om seker te maak dat die insameling van die kollekte daar by julle glad verloop, het ek besluit om hierdie broers solank na julle toe te stuur. Hulle sal julle kom help om julle offer vir Jerusalem betyds gereed te kry. Julle het immers al lankal belowe dat julle dit sal gee. Maar dink asseblief eers goed oor die saak na en maak julle bydraes op die regte manier bymekaar. Onthou, dit moet regtig ’n dankoffer wees, nie iets wat van julle afgepers is nie. Ek gaan nie aan julle voorskryf hoeveel julle moet gee nie, maar ek gee wel vir julle die volgende riglyn: ’n boer wat min plant, kry ’n klein oes, en ’n boer wat baie plant, kry ’n groot oes. Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee. God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke. Hoor net wat een van die psalms hieroor sê: “Iemand wat God liefhet, klou nooit krampagtig aan sy besittings vas nie. Hy deel dit met die armes. Hy hou nooit op om goed te doen nie.” God is baie goed vir ons almal. Hy sorg dat daar elke jaar goeie oeste op die lande is en dat daar altyd genoeg brood op die tafel is om te eet. Net so sal Hy ook vir julle die regte soort saad gee om te saai en sorg dat dit baie vrug dra. Wat ek bedoel, is dat God sal sorg dat al die goeie dinge wat julle doen ’n reuse-oes oplewer. So sal julle en ander mense selfs nog meer van die Here se goedheid in julle lewe beleef. God sal sorg dat julle altyd meer as genoeg het om van te leef. Hy maak julle ryk genoeg om altyd vrygewig te wees. Daarom sal julle geldelike bydraes, wat ons binnekort na die gelowiges in Jerusalem neem, tot gevolg hê dat daar sommer baie dankgebede na God toe opgestuur word. Weet julle, hierdie geldelike offers waarmee julle die gelowiges in Jerusalem dien, gaan nie net help om hulle armoede te verlig nie. Dit natuurlik ook, maar julle bydraes sal maak dat God regtig gedank word. Wanneer die gelowiges in Jerusalem sien dat julle bereid is om hulle met julle geld te dien, sal hulle God eer omdat julle so gehoorsaam is aan Christus. Hulle sal sien julle geloof is nie net lippetaal nie. Hulle sal God loof omdat julle so ’n groot klomp geld gee aan hulle en aan ander wat swaarkry om te wys dat julle een is voor God. As bewys dat hulle ook vir julle omgee, sal daardie gelowiges vir julle bid en vir God dankie sê omdat Hy so ongelooflik goed is vir julle. Prys God vir sy ongelooflike groot geskenk aan ons almal!

2 KORINTIËRS 9:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is eintlik oorbodig dat ek aan julle skryf oor die bediening aan die gelowiges in Jerusalem. Ek ken julle gewilligheid en ek het al by die Masedoniërs oor julle gespog. “Agaje,” het ek opgemerk, “het al ’n jaar gelede voorbereidings begin tref.” En julle ywer het ook die meeste ander aangespoor. Ek het hier-die broers gestuur sodat ons woorde van lof oor jul-le in hierdie saak nie leë woorde sal wees nie, en so-dat julle gereed kan wees, soos ek reeds gesê het dat jul-le al is. So nie, as daar Masedoniërs saam met my kom, en sien dat julle nog nie gereed is nie, sal ons ons skaam oor ons vertroue in julle – om nie eers te praat van julle eie skaamte nie. Daarom beskou ek dit as noodsaaklik om die broers aan te spoor om voor-uit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer ge-reedmaak wat julle vroeër reeds beloof het. Dan sal dit gereed wees as ’n vrywillige dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie. Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee so-dat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk. Soos daar geskryf staan: “Hy het uitgedeel en gegee aan die armes; sy goedhartigheid bly vir altyd staan.” God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons toedoen bring julle vrygewigheid mee dat God gedank word. Die bediening van hierdie hulp voorsien nie net in die behoeftes van die gelowiges in Jerusalem nie, maar word ’n stroom van danksegging teenoor God. Deur hierdie diensbetoning sal hulle aan God die eer gee. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en ook oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. Hulle sal ook vir julle bid en na julle verlang omdat die genade van God oor julle só groot was. Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!